EKSODUS 36:1-5
EKSODUS 36:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Besaleël, Oholiab en al die ander vakmanne vir wie die Here die vaardigheid en verstand gegee het om te weet hoe om al die werk aan die heiligdom uit te voer, moet die werk doen soos die Here beveel het.” Moses het toe vir Besaleël en Oholiab geroep en al die ander vakmanne vir wie die Here die vaardigheid gegee het, almal wat aangebied het om die werk te doen. Hulle het van Moses al die offergawes ontvang wat deur die Israeliete gebring is om die heiligdom op te rig. Die volk het elke oggend nog vrywillige offers na Moses toe gebring. Toe het al die vakmanne wat die werk aan die heiligdom moes doen, elkeen van sy afdeling van die werk af, vir Moses kom sê: “Die volk bring meer as wat nodig is om die werk te doen wat die Here beveel het.”
EKSODUS 36:1-5 Die Boodskap (DB)
“Besaleël, Oholiab en al die ander mense vir wie die Here die aanleg gegee het en die kundigheid om die tent te maak, moet dit vir ons bou soos die Here dit wil hê.” Moses het Besaleël en Oholiab laat kom en almal wat bekwaam was en daarvoor kans gesien het om die werk te doen. Moses het die boumateriaal wat die Israeliete gegee het, vir hulle beskikbaar gestel om met die werk te begin. Die volk het egter aangehou om elke oggend weer nuwe voorraad te bring. Die mense wat die tent maak, het toe een vir een van die werk waarmee hulle besig was, na Moses gekom en vir hom gesê: “Die volk bring nou meer goed as wat ons nodig het om die dinge te maak wat die Here gesê het.”
EKSODUS 36:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Besaleël, Oholiab en al die ander persone vir wie die HERE die kennis, verstand en vaardigheid gegee het om die werk by die tabernakel te doen, moet alles maak soos die HERE gesê het.” Moses het toe Besaleël en Oholiab laat kom saam met al die ander vir wie God toegerus het en wat gewillig was om die werk te doen. Hulle het by Moses alles gekry wat die Israeliete gegee het om die heiligdom te bou. Die volk het elke oggend nog meer vrywillige offers gebring. Die mense wat aan die heiligdom gewerk het, het naderhand hulle werk gestaak en met Moses kom praat. “Die volk bring nou meer as wat ons nodig het om die werk te doen wat die HERE vir ons gegee het,” het hulle gesê.
EKSODUS 36:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Moses het ook gesê: “Die Here het vir Besaleël en Oholiab en al die ander ambagsmanne wysheid en verstand gegee sodat hulle al die werk by die tempel kan doen. Hulle moet dit doen soos die Here gesê het.” Moses het vir Besaleël en Oholiab geroep, en ook al die ander ambagsmanne vir wie die Here vaardig gemaak het, elkeen wat wou help om te werk. Moses het hulle geroep om nader te kom om die werk te kom doen. Moses het vir hulle al die presente gegee wat die Israeliete gebring het vir die werk by die tempel. Die Israeliete het elke oggend nog presente na Moses toe gebring. Die ambagsmanne wat die werk by die tempel gedoen het, het almal gekom, elkeen het gekom van die plek waar hy gewerk het. Hulle het vir Moses gesê: “Die mense bring meer as wat nodig is vir die werk wat die Here gesê het ons moet doen.”
EKSODUS 36:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
SO moet dan Besáleël en Ohóliab en elkeen wat kunsvaardig is, in wie die HERE wysheid en verstand gegee het om met kennis al die werk tot vervaardiging van die heiligdom te verrig, dit maak net soos die HERE beveel het. En Moses het Besáleël en Ohóliab geroep en elkeen wat kunsvaardig was, in wie se hart die HERE wysheid gegee het; elkeen wie se hart hom opgewek het om aan die werk te gaan om dit klaar te maak. En hulle het voor die oë van Moses ontvang al die offergawes wat die kinders van Israel vir die verrigting van die werk by die vervaardiging van die heiligdom gebring het. Maar húlle het vir hom nog elke môre vrywillige offergawes gebring. Toe het al die kunsvaardige manne wat met al die werk by die heiligdom besig was, man vir man, van die werk af gekom waar hulle mee besig was, en hulle het met Moses gespreek en gesê: Die volk bring meer as wat nodig is vir die uitvoering van die werk waarvan die HERE die vervaardiging beveel het.
EKSODUS 36:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Besaleël, Oholiab en elke vaardige persoon vir wie die HERE wysheid gegee het, en ook die insig om te verstaan hoe om al die werk aan die oprigting van die heiligdom te verrig, moet dit doen in ooreenstemming met alles wat die HERE beveel het.” Moses het Besaleël en Oholiab toe ontbied, en ook elke vaardige persoon in wie se hart die HERE wysheid gegee het, elkeen wie se hart hom daartoe gebring het om aan te meld vir die uitvoering van die taak. Om dit te kon doen, het hulle elke •wydingsgeskenk wat die Israeliete gebring het vir die werk aan die oprigting van die heiligdom, van Moses ontvang. Die Israeliete het steeds elke oggend vrywillige offers vir hom gebring. Al dié wat vaardig is en wat besig was met die werk aan die heiligdom, elkeen wat met 'n eie taak belas was, het gekom en vir Moses kom sê: “Die volk bring nou meer as wat nodig is vir die uitvoering van die werk wat die HERE hulle beveel het om te doen.”
EKSODUS 36:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het Besáleël en Oholíab en elke wyse man van hart aan wie die HERE wysheid en insig gegee het om te weet hoe om allerhande werk te doen vir die diens van die heiligdom, volgens alles wat die HERE beveel het. En Moses het Besáleël en Oholiab geroep en elke wyse van hart in wie se hart die HERE wysheid gegee het, elkeen wie se hart hom aangespoor het om na die werk te gaan om dit te doen. En hulle het van Moses al die offer ontvang wat die kinders van Israel gebring het vir die werk van die diens van die heiligdom, om dit mee te maak. En hulle het nog elke môre gratis-offers vir hom gebring. En al die wyse manne wat al die werk van die heiligdom gedoen het, het elkeen gekom van sy werk wat hulle gemaak het; En hulle het met Moses gespreek en gesê: Die volk bring baie meer as genoeg vir die diens van die werk wat die HERE beveel het om te maak.