EKSODUS 34:1-7
EKSODUS 34:1-7 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Moses gesê: “Kap twee plat klippe soos die twee klippe wat jy stukkend gegooi het. Dan sal Ek op hierdie klippe dieselfde woorde skryf wat Ek op die eerste twee klippe geskryf het. Jy moet môre-oggend gereed wees. Gaan dan teen Sinai-berg op en gaan wag daar bo-op die berg vir My. Maar niemand mag saam met jou opklim nie. Daar mag niemand op die berg wees nie. Die bokke en skape en beeste mag ook nie naby hierdie berg wei nie.” Moses het toe twee plat klippe gekap wat soos die eerste twee klippe gelyk het. Hy het vroeg die oggend opgestaan en teen Sinai-berg opgegaan soos die Here vir hom gesê het. Hy het die twee plat klippe saam met hom geneem. Die Here het toe in 'n wolk afgekom na die berg. Hy het by Moses gaan staan en Hy het sy Naam “die Here” hard gesê. Die Here het voor Moses verbygegaan en Hy het hard gesê: “Ek is die Here! Ek is 'n God wat goed is vir mense wat swaarkry en Ek is genadig. Ek is baie geduldig en vol liefde. Ek doen wat Ek belowe het. Ná 1 000 geslagte sal Ek nog altyd lief wees vir mense. Ek vergewe mense wanneer hulle verkeerd doen en opstandig is en sonde doen. Maar as Ek wil, dan sal Ek iemand straf wat skuldig is. As die pa verkeerd gedoen het, dan straf Ek ook sy kinders en kleinkinders en hulle kinders.”
EKSODUS 34:1-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het die HERE aan Moses gesê: Kap vir jou twee kliptafels soos die eerstes; dan sal Ek op die tafels die woorde skrywe wat op die eerste tafels was, wat jy verbrysel het. En hou jou gereed teen die môre, en klim in die môre op die berg Sinai en gaan daar staan by My op die top van die berg. Maar niemand mag saam met jou opklim nie; laat daar ook niemand op die hele berg gesien word nie; laat ook geen kleinvee of beeste teen hierdie berg wei nie. Toe het hy twee kliptafels gekap soos die eerstes, en Moses het die môre vroeg klaargemaak en op die berg Sinai geklim, soos die HERE hom beveel het, en die twee kliptafels in sy hand geneem. En die HERE het neergedaal in die wolk en daar by hom gestaan. En Hy het die Naam van die HERE uitgeroep. En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.
EKSODUS 34:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het vir Moses gesê: “Kap vir jou twee plat klippe net soos die voriges. Ek sal op die klippe die gebooie skryf wat op die voriges was wat jy stukkend gegooi het. Maak môreoggend klaar en klim die oggend nog Sinaiberg uit. Wag vir My daar op die top van die berg. “Niemand mag saam met jou opklim nie. Nêrens op die berg mag daar selfs iemand gesien word nie. Die kleinvee en beeste mag ook nie naby die berg wei nie.” Moses het toe twee plat klippe soos die voriges gekap. Nadat hy vroeg die oggend opgestaan het, het hy net soos die Here hom beveel het, Sinaiberg uitgeklim met die twee plat klippe in sy hand. Die Here het in 'n wolk afgekom en daar by Moses kom staan en die Naam “die Here” uitgeroep. Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.”
EKSODUS 34:1-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het vir Moses gesê: “Kap vir jou twee kliptafels uit, soos die eerstes. Ek sal op die tafels die woorde skryf wat op die eerste tafels was, wat jy aan stukke gebreek het. Wees teen die oggend gereed. Klim dan die berg Sinai in die oggend uit, en staan gereed vir My daar op die kruin van die berg. Niemand mag saam met jou opklim nie. Ook mag niemand op die hele berg te sien wees nie. Selfs kleinvee of grootvee mag nie voor hierdie berg wei nie.” Nadat hy twee kliptafels soos die eerstes uitgekap het, het Moses vroeg die oggend opgestaan en teen die berg Sinai uitgeklim, net soos die HERE hom beveel het. Hy het die twee kliptafels met hom saamgeneem. Die HERE het in die wolk neergedaal en daar by hom plek ingeneem en die Naam “die HERE” uitgeroep. Die HERE het reg voor hom verbygegaan en uitgeroep: “Die HERE, die HERE, 'n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar wat beslis niks ongestraf laat nie, wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet, ook die derde en vierde geslag. ”
EKSODUS 34:1-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê die HERE vir Moses: Kap vir jou twee kliptafels soos die eerstes, en Ek sal op hierdie tafels die woorde skrywe wat op die eerste tafels was wat jy verbreek het. En wees gereed in die môre en klim in die môre op na die berg Sinai, en stel jou daar voor my op die top van die berg. En niemand mag saam met jou optrek nie, en niemand mag op die hele berg gesien word nie; en laat die kleinvee of beeste voor daardie berg nie wei nie. En hy het twee kliptafels gekap soos die eerstes; En Moses het die môre vroeg opgestaan en op die berg Sinai geklim, soos die HERE hom beveel het, en die twee kliptafels in sy hand geneem. En die HERE het in die wolk neergedaal en daar by hom gaan staan en die Naam van die HERE uitgeroep. En die HERE het voor hom verbygegaan en uitgeroep: Die HERE, die HERE God, barmhartig en genadig, lankmoedig en oorvloedig van goedheid en waarheid! Bewaar barmhartigheid vir duisende, vergewe ongeregtigheid en oortreding en sonde, en dit sal geensins die skuldiges skoonmaak nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.
EKSODUS 34:1-7 Die Boodskap (DB)
Die Here sê toe vir Moses: “Gaan kap vir jou twee plat klippe wat net so lyk soos die twee wat jy stukkend gegooi het. Ek sal weer alles daarop skryf wat op die eerste twee was. Jy moet dit teen môreoggend reg hê sodat jy in die oggend teen die berg kan uitklim en by My bo-op die berg kan kom staan. Daar mag nie nog iemand anders saam met jou teen die berg uitklim nie. Daar mag nêrens op die berg enigiemand anders te siene wees nie. Daar mag ook nie enige vee of beeste teen die hang van die berg wei nie.” Moses het toe twee plat klippe uitgekap wat net soos die eerstes gelyk het. Hy het gemaak soos die Here vir hom gesê het en die oggend vroeg opgestaan. Hy het teen Sinaiberg uitgeklim met die klippe in sy hand. Die Here het in ’n wolk afgekom en by Moses gaan staan. Hy het sy Naam “Die Here” uitgeroep. Terwyl die Here by Moses verbygaan, roep Hy uit: “Ek is die Here. Ek is die God wat mense help. Ek is jammer vir mense en geduldig met hulle. Ek bly altyd getrou. Jy kan op My reken. Ek bly getrou aan derduisende mense. Ek vergeet alles wat hulle verkeerd gedoen het. Maar Ek laat nie met My mors nie. Ek straf die kinders en die agterkleinkinders vir oortredings van die ouers wat nie na My wou luister nie. Ek onthou wat hulle verkeerd gedoen het vir ’n hele paar geslagte daarna.”
EKSODUS 34:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het vir Moses gesê: “Kry twee plat klippe gereed. Ek sal weer al die woorde wat op die klippe was wat jy stukkend gegooi het, daarop skryf. Wees môre-oggend vroeg gereed daarmee sodat jy die berg kan uitklim. Ontmoet My bo-op die berg. Niemand anders mag saam met jou teen die berg uitklim nie. Daar mag nêrens op die berg iemand anders wees nie. Daar mag selfs nie enige beeste of vee teen die berg wei nie.” Moses het toe twee plat klippe soos die eerstes gereed gekry. Hy het vroeg die oggend opgestaan en teen die berg begin uitklim, soos die HERE vir hom gesê het. Hy het die twee plat klippe in sy hande gedra. Die HERE kom toe in ’n wolk af, gaan staan by Moses en roep hardop sy eie Naam, “die HERE”, uit. Terwyl Hy by Moses verbybeweeg, het Hy uitgeroep: “Ek is die HERE. Ek is ’n God wat barmhartig en genadig is. Ek het geduld met mense. Ek is lojaal. Ek bly getrou. Ek bly vol liefde oor al die geslagte. Ek vergeef alles wat hulle verkeerd gedoen het. Ek laat sonde egter nie sommer verbygaan nie. Ek straf selfs die kinders tot in die derde en vierde geslag daarna vir die sonde wat hulle voorouers gedoen het.”