Eksodus 34:1-7

Eksodus 34:1-7 AFR20

Die HERE het vir Moses gesê: “Kap vir jou twee kliptafels uit, soos die eerstes. Ek sal op die tafels die woorde skryf wat op die eerste tafels was, wat jy aan stukke gebreek het. Wees teen die oggend gereed. Klim dan die berg Sinai in die oggend uit, en staan gereed vir My daar op die kruin van die berg. Niemand mag saam met jou opklim nie. Ook mag niemand op die hele berg te sien wees nie. Selfs kleinvee of grootvee mag nie voor hierdie berg wei nie.” Nadat hy twee kliptafels soos die eerstes uitgekap het, het Moses vroeg die oggend opgestaan en teen die berg Sinai uitgeklim, net soos die HERE hom beveel het. Hy het die twee kliptafels met hom saamgeneem. Die HERE het in die wolk neergedaal en daar by hom plek ingeneem en die Naam “die HERE” uitgeroep. Die HERE het reg voor hom verbygegaan en uitgeroep: “Die HERE, die HERE, 'n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar wat beslis niks ongestraf laat nie, wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet, ook die derde en vierde geslag. ”

Video for Eksodus 34:1-7