EKSODUS 33:18-23
EKSODUS 33:18-23 Bybel vir almal (ABA)
Toe sê Moses: “Ek wil U asseblief sien wanneer U, die Koning, verskyn.” Maar die Here het gesê: “Dit sal blink as Ek voor jou verbygaan en Ek sal my Naam ‘die Here’ hard sê sodat jy dit hoor. Ek besluit self vir wie Ek genadig en goed wil wees. Maar jy mag nie my gesig sien nie, want as iemand My sien, dan sal hy sterf.” Die Here het ook gesê: “Hier is 'n plek by My waar jy op 'n rots kan staan. Wanneer die lig verbykom, die lig wat om My, die Koning, is wanneer Ek verskyn, dan sal Ek jou in 'n skeur in die rots sit en jou met my hand toemaak totdat Ek verby is. Dan sal Ek my hand wegneem, en jy sal my rug sien, maar nie my gesig nie. Niemand mag my gesig sien nie.”
EKSODUS 33:18-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarop vra hy: Laat my tog u heerlikheid sien. Maar Hy antwoord: Ek sal al my majesteit by jou laat verbygaan en voor jou die Naam van die HERE uitroep; maar Ek sal genadig wees vir wie Ek genadig wil wees, en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. Verder het Hy gesê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie. Ook het die HERE gesê: Kyk, hier is 'n plek by My waar jy op die rots kan gaan staan. En as my heerlikheid verbygaan, sal Ek jou in die skeur van die rots stel en jou met my hand oordek totdat Ek verbygegaan het. En as Ek my hand wegneem, sal jy My van agter sien; maar my aangesig kan nie gesien word nie.
EKSODUS 33:18-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê Moses: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!” Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is 'n plek waar jy op die rots kan staan. As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in 'n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is. Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie.”
EKSODUS 33:18-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Moses sê toe: “Toon asseblief u heerlikheid aan my.” Maar Hy het geantwoord: “Ek sal al my goedheid reg voor jou laat verbygaan, en Ek self sal die Naam ‘die HERE’ uitroep. Ek is genadig oor wie Ek genadig wil wees, en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.” Hy het verder gesê: “Jy kan nie my gesig sien nie, want 'n mens kan My nie sien en bly leef nie.” Toe sê die HERE: “Hier is 'n plek by My waar jy kan gereedstaan op die rots. Wanneer my heerlikheid dan verbygaan, sal Ek jou in die rotsskeur sit en Ek sal jou met die palm van my hand toehou, totdat Ek verby is. Dan sal Ek my handpalm wegneem, en jy sal My van agter sien. Maar my gesig mag nie gesien word nie. ”
EKSODUS 33:18-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy sê: Ek bid U, laat my U heerlikheid sien. En hy sê: Ek sal al my goedheid voor jou laat verbygaan en die Naam van die HERE voor jou uitroep; en sal genadig wees aan wie Ek genadig wil wees, en Ek sal barmhartig wees oor wie Ek My wil ontferm. En hy sê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want niemand sal My sien en lewe nie. Toe sê die HERE: Kyk, daar is 'n plek by My, en jy sal op 'n rots staan. En terwyl my heerlikheid verbygaan, sal Ek jou in 'n rotshang sit en jou met my hand bedek terwyl Ek verbygaan. En Ek sal my hand wegneem, en jy sal my rugdele sien, maar my aangesig sal nie gesien word nie.
EKSODUS 33:18-23 Die Boodskap (DB)
Toe vra Moses: “Kan ek maar asseblief sien hoe U lyk?” Die Here sê toe vir hom: “Ek doen graag iets vir iemand as Ek dit self besluit. Ek bederf graag mense wat Ek ’n guns wil bewys. Ek sal jou wel iets van my grootheid laat sien. Ek sal dat jy my stem hoor wanneer Ek my Naam ‘Here’ voor jou sê. Jy mag egter nie my gesig sien nie. Geen mens sal bly lewe as hy die Here se gesig moet sien nie. Kom, hier is ’n rots waarby jy kan staan. Wanneer Ek met my Goddelike grootheid hier verbygaan, sal Ek jou tussen die rotse laat staan en jou met my hand beskerm totdat Ek verby is. Wanneer Ek verby is en my hand wegvat, sal jy My van agter af kan sien. Niemand mag My egter van voor af sien nie.”
EKSODUS 33:18-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe vra Moses: “Kan ek nie maar u heerlikheid sien nie?” Die HERE sê vir hom: “Ek sal jou iets van my goedheid laat sien en Ek sal jou my stem laat hoor wanneer Ek my Naam ‘die HERE’ uitroep. Ek gee genade aan dié wat Ek wil, en ontferming aan dié wat Ek wil.” Hy sê toe vir hom: “Jy durf nie my gesig sien nie. Geen mens sal bly leef as hy sien hoe die HERE lyk nie.” Die HERE sê verder vir hom: “Kom staan by hierdie rotse, hier by My. Wanneer Ek in my majesteit hier verbykom, sal Ek jou tussen die rotse laat staan en jou met my hand beskerm terwyl Ek verbygaan. Wanneer Ek verby is, sal Ek my hand wegvat en dan sal jy My van agter kan sien. Niemand mag My van voor af sien nie.”