EKSODUS 30:11-16
EKSODUS 30:11-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het verder vir Moses gesê: “Wanneer jy die Israeliete tel, moet elkeen wanneer hy getel word, 'n versoeningsoffer vir sy lewe aan My, die Here, offer. Dan sal hy nie deur 'n ramp getref word wanneer hy getel word nie. “Elkeen wat kom om getel te word, moet met silwer betaal, ses gram volgens die standaardgewig van die heiligdom. Die ses gram is 'n offergawe vir My, die Here. Elkeen van twintig jaar en ouer wat kom om getel te word, moet die offergawe vir My bring. “Die ryke moet nie meer en die arme nie minder as die offergawe van ses gram silwer vir My bring as versoeningsoffer vir sy lewe nie. Jy moet die versoeningsgeld by die Israeliete insamel en dit aan die priesters gee vir die diens in die tent van ontmoeting. Die versoeningsgeld sal My, die Here, laat dink aan die Israeliete en sal hulle lewens loskoop.”
EKSODUS 30:11-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het met Moses gepraat en vir hom gesê: “Wanneer jy 'n hoofdelike telling hou van die Israeliete, van dié wat ingeskryf is, moet elkeen van hulle vir die HERE losgeld vir sy lewe gee wanneer hulle getel word, sodat wanneer hulle getel word, daar geen plaag onder hulle sal uitbreek nie. Dit is wat elkeen moet gee wanneer hy getel is: 'n halwe sikkel volgens die standaardgewig van die heiligdom, – twintig gera is 'n sikkel. Die halwe sikkel is 'n •wydingsgeskenk aan die HERE. Elkeen wat getel is, van twintig jaar en ouer, moet die HERE se wydingsgeskenk gee. Rykes moet nie meer gee nie, en armes nie minder nie as die halwe sikkel wat gegee moet word as die HERE se wydingsgeskenk om versoening te doen vir julle lewens. Jy moet die silwer vir die versoening van die Israeliete in ontvangs neem, en dit gebruik vir die dienswerk in die Tent van Ontmoeting. Dit sal vir die Israeliete dien as herinnering voor die HERE om versoening te doen vir julle lewens.”
EKSODUS 30:11-16 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer julle die Israeliete tel, dan moet elkeen 'n offer vir die Here gee. Dan sal Ek hulle nie siek maak en hulle laat sterf wanneer julle hulle tel nie. Elkeen vir wie julle tel, moet 'n halwe tempel-sikkel silwer gee. Dit is 'n present vir My. Julle moet almal tel wat 20 jaar oud en ouer is, en hulle elkeen moet vir My 'n present gee. Die ryk mense moenie meer as 'n halwe tempel-sikkel silwer gee nie, en die arm mense moenie minder gee nie. Dan sal Ek hulle sonde vergewe. Julle moet hierdie geld neem wat die Israeliete gegee het omdat Ek hulle sonde vergewe het, en julle moet dit vir die priesters gee. Die priesters moet dit gebruik vir die werk in die tent waar Ek aan julle verskyn. Dan sal Ek aan julle dink en julle sonde vergewe.”
EKSODUS 30:11-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: As jy die volle getal van die kinders van Israel opneem volgens hulle geteldes, moet hulle, elkeen vir sy lewe, losgeld aan die HERE gee as hulle getel word, sodat geen plaag onder hulle mag wees as hulle getel word nie. Dit moet hulle gee, elkeen wat na die geteldes oorgaan: 'n halfsikkel volgens die sikkel van die heiligdom — die sikkel is twintig gera — 'n halfsikkel as offergawe aan die HERE. Elkeen wat oorgaan na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, moet die offergawe van die HERE gee. Die ryke moet nie meer en die arme moet nie minder as 'n halfsikkel bring nie, as hulle die offergawe van die HERE gee om vir julle siele versoening te doen. Neem dan die versoeningsgeld van die kinders van Israel en bestee dit aan die bediening van die tent van samekoms, dat dit die kinders van Israel in gedagtenis kan bring voor die aangesig van die HERE, om vir julle siele versoening te doen.
EKSODUS 30:11-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Wanneer jy die som van die kinders van Israel volgens hulle getal neem, dan moet hulle elkeen 'n losprys vir sy siel aan die HERE gee as jy hulle tel; dat daar geen plaag onder hulle sal wees as U hulle tel nie. Dit moet hulle gee, elkeen wat tussen die geteldes deurgaan, 'n halwe sikkel volgens die sikkel van die heiligdom: 'n sikkel is twintig gera; 'n halwe sikkel moet die offer van die HERE wees. Elkeen wat tussen die geteldes deurgaan, van twintig jaar oud en ouer, moet 'n offer aan die HERE gee. Die rykes mag nie meer gee nie, en die armes mag nie minder as 'n halwe sikkel gee as hulle 'n offer aan die HERE gee om vir julle siele versoening te doen nie. En jy moet die versoeningsgeld van die kinders van Israel neem en dit bestem vir die diens van die tent van samekoms; dat dit vir die kinders van Israel 'n gedagtenis kan wees voor die aangesig van die HERE, om vir julle siele versoening te doen.
EKSODUS 30:11-16 Die Boodskap (DB)
Die Here het ook verder vir Moses gesê: “Wanneer jy die Israeliete tel, moet elkeen wat klaar getel is, belasting betaal. As hy dit nie doen nie, kan ’n ramp hom miskien tref. Sodra hy getel is, moet hy ses gram silwer by die tent kom inbetaal. Hy moet dit afweeg op die skaal wat by die tent gebruik word. Sy belasting is ’n offer wat hy vir die Here bring. Elkeen wat twintig jaar en ouer is, moet getel word en die belasting betaal. Die bedrag geld is vir almal dieselfde, of hy nou ryk is of arm. Die geld wat jy op hierdie manier van die Israeliete kry, moet jy gebruik om te betaal vir alles wat daar by my tent gedoen moet word. Ek sal onthou dat die Israeliete betaal het en dat daar nie rampe oor hulle moet kom wanneer die volk getel word nie.”
EKSODUS 30:11-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het ook vir Moses gesê: “Wanneer jy die Israeliete tel, moet elkeen wat getel is ’n afkoopsom vir homself aan die HERE betaal. Geen ramp sal hulle dan tref wanneer jy hulle tel nie. “Elkeen wat getel word, moet ses gram silwer vir die HERE betaal. Dit is volgens die eenheid wat by die heiligdom gebruik word. Elkeen bo twintig jaar oud moet hierdie afkoopsom vir die HERE betaal. Wanneer hulle hierdie afkoopsom vir hulleself betaal, moet dié wat ryk is nie meer gee en dié wat arm is nie minder betaal nie. Gebruik hierdie geld vir die diens by die tabernakel. Dit sal die Israeliete daaraan herinner dat die HERE hulle lewens losgekoop het.”