EKSODUS 30:1-10

EKSODUS 30:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ Jy moet 'n altaar maak vir die brand van reukwerk; van doringhout moet jy dit maak. Dit moet 'n el lank en 'n el breed wees. Dit moet vierkantig en twee el hoog wees. Die horings moet deel daarvan wees. Jy moet dit met suiwer goud oortrek – die bokant, die kante reg rondom en die horings daarvan. Jy moet daarvoor 'n goue rand maak, reg rondom. Twee goue ringe moet jy daarvoor maak, aan die twee sykante onder die rand. Jy moet dit aan weerskante maak, sodat dit kan dien as houers vir die draaghoute waarmee dit gedra word. Jy moet die draaghoute van doringhout maak en dit met goud oortrek. Jy moet die altaar neersit voor die voorhangsel wat by die ark met die Getuienis is, voor die versoendeksel wat oor die Getuienis is, waar Ek jou sal ontmoet. “ Aäron moet die geurige reukwerk op die altaar laat brand. Elke oggend wanneer hy die lampe versorg, moet hy dit laat brand. As Aäron laatmiddag die lampe opsteek, moet hy dit as reukwerk voortdurend voor die HERE laat brand. Dit geld ook vir julle nageslagte. “Julle mag nie vreemde reukwerk laat brand, 'n •brandoffer of 'n •graanoffer daarop bring nie. 'n •Drankoffer mag julle ook nie daarop uitgiet nie. “Aäron moet een keer per jaar op die horings daarvan versoening doen. Met die bloed van die •reinigingsoffer vir die versoening moet hy een keer per jaar daarop versoening doen. Dit geld ook vir julle nageslagte. Die altaar is besonder heilig vir die HERE.”

EKSODUS 30:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet 'n altaar maak om wierook op te brand. Julle moet dit van doringhout maak. Die altaar moet vierkantig wees, een el lank en een el breed en twee el hoog. Daar moet horings aan die altaar wees en julle moet die horings en die altaar van een stuk hout maak. Julle moet die altaar oortrek met skoon goud, die bokant van die altaar, die kante rondom die altaar, en die horings. Julle moet 'n goue rand rondom die altaar maak. Maak twee goue ringe vas onder aan die rand aan elke kant van die altaar. Dan kan julle die dra-pale deur die ringe steek om die altaar te dra. Julle moet die dra-pale van doringhout maak en julle moet hulle oortrek met goud. Julle moet die altaar neersit voor die gordyn wat hang voor die kis waarin die tien gebooie moet kom. Sit dit neer voor die deksel van die kis waar Ek altyd aan julle sal verskyn. Aäron moet elke oggend wierook op die altaar brand, Ek hou daarvan. Hy moet dit doen wanneer hy die lampe skoonmaak. Aäron moet ook elke aand wanneer hy die lampe aansteek, wierook op die altaar brand. Julle en julle nageslag moet altyd vir My 'n wierook-offer bring. Op hierdie altaar mag julle net wierook brand wat reg is vir My. Julle mag nie brand-offers of koring-offers op hierdie altaar brand nie, en julle mag ook nie 'n drank-offer daarop uitgooi nie. Aäron moet een maal elke jaar 'n spesiale offer vir My bring om te vra dat Ek julle nageslag se sondes moet vergewe. Hy moet dan 'n bietjie bloed neem van die dier wat hy offer vir die sonde van die volk. Hy moet dit smeer aan die horings van die altaar. Die altaar is hoog-gewy aan My.”

EKSODUS 30:1-10 Die Boodskap (DB)

“Maak ook ’n kleiner staander as ’n altaartjie waarop jy geurige wierook kan brand. Maak dit van akasiahout. Dit moet vierkantig wees: 45 sentimeter breed en lank en 90 sentimeter hoog. Dit moet op die hoeke arms hê wat soos horings lyk. Die plat vlak bo-op en sy vier sye sowel as die horings moet jy met suiwer goud oortrek. Sit ook ’n randjie van goud reg rondom. Maak draringe van goud vir die altaar. Sit hulle aan die twee teenoorstaande kante vas, net onder die randjie, om die drastokke daardeur te kan sit waaraan die altaar gedra word. Maak die drastokke van akasiahout en trek dit oor met goud. Gaan sit die altaar voor die gordyn neer waaragter die ark met die bewys van die ooreenkoms en sy deksel is, die plek waar Ek jou ontmoet. “Elke oggend wanneer Aäron die lampe kom uitdoof, moet hy geurige wierook op die altaar aan die brand steek. Ook wanneer hy teen die aand se kant die lampe kom aansteek, moet hy wierook daarop brand. Daar moet deur die jare altyd wierook voor die Here gebrand word. Geen ander soort offer mag op hierdie altaar geoffer word nie. Daar mag nie vreemde goed op gebrand word nie. Julle mag ook nooit ’n offer van vleis daarop verbrand of offers daarop bring waarvan julle self ’n deel kan eet nie. Daar mag ook nie iets daarop uitgegooi word om dit te offer nie. Net een keer per jaar, op die dag wat julle sake met God reggestel word, mag Aäron van die bloed van die sondeoffer wat op daardie dag gebring word, aan die altaar se horings kom smeer om daarop vrede vir julle te maak. Almal moet onthou dat dit ’n altaar is wat net vir die wierookoffer gebruik mag word. Dit behoort aan God alleen.”