ESTER 5:1-9

ESTER 5:1-9 Bybel vir almal (ABA)

Drie dae later het Ester haar koningin-klere aangetrek en sy het op die oop stuk grond binne-in die paleis gaan staan. Dit was oorkant die kamer van die koning. Die koning het op sy troon gesit oorkant die deur van die kamer. Toe die koning vir koningin Ester daar op die oop stuk grond sien staan, was hy dadelik vriendelik met haar. Hy het 'n goue septer in sy hand gehad, en hy het dit na haar toe uitgesteek. Sy het nader gekom en aan die punt van die septer geraak. Die koning vra toe vir haar: “Koningin Ester, wat is dit, wat wil jy vir my vra? Jy mag enige iets vir my vra. As jy die helfte van die lande vra waaroor ek regeer, dan sal ek dit ook vir jou gee.” Ester het gesê: “As die koning dink dit is reg, dan moet die koning en Haman vandag saam met my kom eet.” Die koning het dadelik vir Haman laat roep, sodat hulle kon doen wat Ester gevra het. Hulle het saam gegaan om die kos te gaan eet wat Ester gereedgemaak het. Terwyl hulle wyn gedrink het, het die koning weer vir Ester gesê: “Ek sal vir jou alles gee wat jy wil vra, ek sal doen wat jy wil hê, ook as jy die helfte van die lande vra waaroor ek regeer.” Ester het geantwoord: “As die koning van my hou en as die koning wil doen wat ek wil hê, dan moet die koning en Haman môre weer saam met my kom eet. Ek sal dan vir die koning sê wat ek wil hê.” Haman was bly en gelukkig toe hy daardie dag uit die paleis gaan. Maar toe sien hy dat Mordegai voor die paleis sit, en Mordegai het nie opgestaan en gewys dat hy vir Haman respekteer nie. Haman was baie kwaad vir Mordegai

ESTER 5:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

OP die derde dag het Ester haar koninklik aangetrek en gaan staan in die binneste voorhof van die paleis van die koning, teenoor die saal van die koning, terwyl die koning op sy koninklike troon sit in die koninklike saal, teenoor die ingang van die saal. En net toe die koning koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy genade in sy oë gevind; en die koning het die goue septer wat in sy hand was, na Ester uitgesteek; en Ester het nader gekom en die punt van die septer aangeraak. Toe sê die koning vir haar: Wat wil jy hê, koningin Ester, of wat is jou versoek? Al was dit ook die helfte van die koninkryk — dit sal jou gegee word. Daarop antwoord Ester: As die koning dit goedvind, laat die koning dan vandag met Haman na die maaltyd kom wat ek vir hom berei het. En die koning sê: Bring Haman gou, dat ons kan handel volgens die woord van Ester! En die koning en Haman het gegaan na die maaltyd wat Ester berei het. En terwyl hulle wyn drink, sê die koning vir Ester: Wat is jou bede? — dit sal jou toegestaan word. En wat is jou versoek? Al was dit ook die helfte van die koninkryk — daaraan sal voldoen word. Daarop antwoord Ester en sê: My bede en my versoek is: As ek genade gevind het in die oë van die koning, en as die koning dit goedvind om my bede toe te staan en aan my versoek te voldoen, laat die koning en Haman na die maaltyd kom wat ek vir hulle sal berei, dan sal ek môre na die wens van die koning handel. En op dié dag het Haman bly en opgeruimd heengegaan; maar toe Haman Mórdegai in die poort van die koning sien en dat hy nie opstaan of vir hom bevrees is nie, was Haman met woede vervul teen Mórdegai.

ESTER 5:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

Op die derde dag het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof van die paleis gaan staan, regoor die ontvangsaal van die koning. Die koning was op die troon in die ontvangsaal regoor die ingang. Toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy hom so bekoor dat hy die goue septer wat in sy hand was, na haar toe uitgesteek het. Ester het nader gekom en die punt van die septer aangeraak. Die koning sê toe vir haar: “Wat kan ek vir jou doen, koningin Ester? Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van my koninkryk, dit sal vir jou gegee word.” Toe sê Ester: “As u dit goedvind, kom dan vandag saam met Haman na 'n maaltyd toe wat ek vir u voorberei het.” Die koning beveel toe: “Bring gou vir Haman dat ons kan doen wat Ester vra.” Die koning en Haman is toe na die maaltyd toe wat Ester voorberei het. Terwyl hulle wyn drink, vra die koning vir Ester: “Wat is dit wat jy wil vra? Dit sal vir jou gegee word. Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van my koninkryk, dit sal toegestaan word.” Ester het geantwoord: “My wens en my versoek is soos volg: as die koning my goedgesind is, en as die koning dit goedvind om aan my wens te voldoen en my versoek toe te staan, kom dan môre saam met Haman na die maaltyd toe wat ek vir u sal berei. Dán sal ek my wens aan die koning bekend maak.” Haman het dié dag bly en opgeruimd weggegaan, maar toe hy vir Mordegai in die poort van die paleis sien sit, en Mordegai staan weer nie op om aan hom eer te bewys nie, was hy woedend vir Mordegai.

ESTER 5:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Op die derde dag het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof van die koninklike paleis voor die troonsaal gaan staan, terwyl hy op sy koninklike troon in die troonsaal regoor die ingang sit. Die oomblik toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy guns gevind in sy oë. Hy het die goue septer in sy hand na haar uitgesteek. Sy het nader gegaan en die punt van die septer aangeraak. Die koning sê toe vir haar: “Wat is dit, koningin Ester? Wat jou wens ook al is, al is dit die helfte van my koninkryk, dit sal vir jou gegee word.” Ester het geantwoord: “As die koning dit goedvind, laat u en Haman vandag na die feesmaal kom wat ek vir u voorberei het.” Die koning het beveel: “Laat Haman dadelik kom sodat ons kan voldoen aan Ester se versoek.” Die koning en Haman het toe na die feesmaal gegaan wat Ester voorberei het. Terwyl hulle wyn drink, sê die koning vir Ester: “Wat jou versoek ook al is, dit sal vir jou gegee word. En wat jou wens ook al is, al is dit die helfte van my koninkryk, dit sal toegestaan word.” Ester het toe geantwoord en gesê: “My versoek en my wens is: As die koning my goedgesind is, en as u dit goedvind om aan my versoek te voldoen en my wens toe te staan, laat die koning en Haman kom na die feesmaal wat ek vir hulle sal voorberei. Môre sal ek doen wat die koning vra.” Haman het op daardie dag bly en in 'n opgeruimde stemming weggegaan. Maar toe Haman vir Mordegai in die koningspoort gewaar en sien dat Mordegai nie uit respek vir hom opstaan en bewe van vrees vir hom nie, het Haman woedend geword vir Mordegai.

ESTER 5:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En op die derde dag het Ester haar koninklike kleed aangetrek en in die binneste voorhof van die koning se huis gaan staan, teenoor die koning se huis; en die koning het op sy koninklike troon in die koningshuis gaan sit, teenoor die poort van die huis. En toe die koning koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy guns in sy oë verkry; en die koning het die goue septer wat in sy hand was, na Ester uitgesteek. Toe het Ester nader gekom en die top van die septer aangeraak. Toe sê die koning vir haar: Wat wil jy hê, koningin Ester? en wat is u versoek? dit sal aan jou gegee word tot die helfte van die koninkryk. En Ester antwoord: As dit in die oë van die koning goed lyk, laat die koning en Haman vandag kom na die maaltyd wat ek vir hom berei het. Toe sê die koning: Laat Haman gou maak, dat hy kan doen soos Ester gesê het. Toe het die koning en Haman na die maaltyd gekom wat Ester voorberei het. Toe sê die koning vir Ester by die wynmaaltyd: Wat is jou bede? en wat is jou versoek? tot die helfte van die koninkryk sal dit voltrek word. Toe antwoord Ester en sê: My versoek en my versoek is; As ek guns in die oë van die koning gevind het, en as dit die koning behaag om my bede toe te staan en my versoek uit te voer, laat die koning en Haman na die maaltyd kom wat ek vir hulle sal berei, en ek sal doen om môre soos die koning gesê het. Toe het Haman daardie dag vrolik en met 'n blye hart uitgegaan, maar toe Haman vir Mordegai in die koning se poort sien dat hy nie opstaan en vir hom nie bewe nie, was hy vol verontwaardiging teen Mordegai.

ESTER 5:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Drie dae later het Ester haar koninklike klere aangetrek. Sy het in die binneste voorhof van die paleis gaan staan, regoor die saal waar die koning se troon is. Die koning was toe juis op sy troon met sy gesig na die ingang. Die koning was bly toe hy koningin Ester daar in die voorhof sien staan. Hy het die goue septer wat in sy hand was, na haar toe uitgesteek om haar te verwelkom. Ester het nadergekom en aan die punt van die septer gevat. Die koning vra haar toe: “Wat het jy op die hart, koningin Ester? Wat is jou versoek? Jy sal dit kry, selfs al is dit die helfte van my koninkryk.” Toe sê Ester: “As dit die koning behaag, sal hy en Haman dan asseblief vandag na die onthaal kom wat ek vir u voorberei het?” Die koning sê toe: “Gaan kry gou vir Haman dat ons kan doen wat koningin Ester vra.” Die koning en Haman is na die onthaal toe wat Ester voorberei het. Terwyl hulle besig was om wyn te drink, vra die koning vir Ester: “Wat is jou versoek? Jy sal dit kry. Wat het jy nodig? Al is dit ook die helfte van my koninkryk wat jy nodig het, sal ek dit vir jou gee.” Ester het geantwoord: “My wens en my versoek is soos volg: As die koning my goedgesind is en bereid is om te gee wat ek vra deur my versoek toe te staan, kom dan môre saam met Haman na die maaltyd toe wat ek vir u sal voorberei. Dan sal ek my wens aan die koning bekendmaak.” Haman is daardie dag in ’n goeie bui en vrolik daar weg. Toe hy egter by die ingang van die paleis op Mordegai afkom en hy weer nie opstaan om aan hom eer te bewys nie, of glad nie wys dat hy bang is vir hom nie, het hy woedend geword vir Mordegai.