ESTER 5:1-5
ESTER 5:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op die derde dag het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof van die koninklike paleis voor die troonsaal gaan staan, terwyl hy op sy koninklike troon in die troonsaal regoor die ingang sit. Die oomblik toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy guns gevind in sy oë. Hy het die goue septer in sy hand na haar uitgesteek. Sy het nader gegaan en die punt van die septer aangeraak. Die koning sê toe vir haar: “Wat is dit, koningin Ester? Wat jou wens ook al is, al is dit die helfte van my koninkryk, dit sal vir jou gegee word.” Ester het geantwoord: “As die koning dit goedvind, laat u en Haman vandag na die feesmaal kom wat ek vir u voorberei het.” Die koning het beveel: “Laat Haman dadelik kom sodat ons kan voldoen aan Ester se versoek.” Die koning en Haman het toe na die feesmaal gegaan wat Ester voorberei het.
ESTER 5:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Drie dae later het Ester haar koningin-klere aangetrek en sy het op die oop stuk grond binne-in die paleis gaan staan. Dit was oorkant die kamer van die koning. Die koning het op sy troon gesit oorkant die deur van die kamer. Toe die koning vir koningin Ester daar op die oop stuk grond sien staan, was hy dadelik vriendelik met haar. Hy het 'n goue septer in sy hand gehad, en hy het dit na haar toe uitgesteek. Sy het nader gekom en aan die punt van die septer geraak. Die koning vra toe vir haar: “Koningin Ester, wat is dit, wat wil jy vir my vra? Jy mag enige iets vir my vra. As jy die helfte van die lande vra waaroor ek regeer, dan sal ek dit ook vir jou gee.” Ester het gesê: “As die koning dink dit is reg, dan moet die koning en Haman vandag saam met my kom eet.” Die koning het dadelik vir Haman laat roep, sodat hulle kon doen wat Ester gevra het. Hulle het saam gegaan om die kos te gaan eet wat Ester gereedgemaak het.
ESTER 5:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
OP die derde dag het Ester haar koninklik aangetrek en gaan staan in die binneste voorhof van die paleis van die koning, teenoor die saal van die koning, terwyl die koning op sy koninklike troon sit in die koninklike saal, teenoor die ingang van die saal. En net toe die koning koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy genade in sy oë gevind; en die koning het die goue septer wat in sy hand was, na Ester uitgesteek; en Ester het nader gekom en die punt van die septer aangeraak. Toe sê die koning vir haar: Wat wil jy hê, koningin Ester, of wat is jou versoek? Al was dit ook die helfte van die koninkryk — dit sal jou gegee word. Daarop antwoord Ester: As die koning dit goedvind, laat die koning dan vandag met Haman na die maaltyd kom wat ek vir hom berei het. En die koning sê: Bring Haman gou, dat ons kan handel volgens die woord van Ester! En die koning en Haman het gegaan na die maaltyd wat Ester berei het.
ESTER 5:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op die derde dag het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof van die paleis gaan staan, regoor die ontvangsaal van die koning. Die koning was op die troon in die ontvangsaal regoor die ingang. Toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy hom so bekoor dat hy die goue septer wat in sy hand was, na haar toe uitgesteek het. Ester het nader gekom en die punt van die septer aangeraak. Die koning sê toe vir haar: “Wat kan ek vir jou doen, koningin Ester? Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van my koninkryk, dit sal vir jou gegee word.” Toe sê Ester: “As u dit goedvind, kom dan vandag saam met Haman na 'n maaltyd toe wat ek vir u voorberei het.” Die koning beveel toe: “Bring gou vir Haman dat ons kan doen wat Ester vra.” Die koning en Haman is toe na die maaltyd toe wat Ester voorberei het.
ESTER 5:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op die derde dag het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof van die koninklike paleis voor die troonsaal gaan staan, terwyl hy op sy koninklike troon in die troonsaal regoor die ingang sit. Die oomblik toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy guns gevind in sy oë. Hy het die goue septer in sy hand na haar uitgesteek. Sy het nader gegaan en die punt van die septer aangeraak. Die koning sê toe vir haar: “Wat is dit, koningin Ester? Wat jou wens ook al is, al is dit die helfte van my koninkryk, dit sal vir jou gegee word.” Ester het geantwoord: “As die koning dit goedvind, laat u en Haman vandag na die feesmaal kom wat ek vir u voorberei het.” Die koning het beveel: “Laat Haman dadelik kom sodat ons kan voldoen aan Ester se versoek.” Die koning en Haman het toe na die feesmaal gegaan wat Ester voorberei het.
ESTER 5:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En op die derde dag het Ester haar koninklike kleed aangetrek en in die binneste voorhof van die koning se huis gaan staan, teenoor die koning se huis; en die koning het op sy koninklike troon in die koningshuis gaan sit, teenoor die poort van die huis. En toe die koning koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy guns in sy oë verkry; en die koning het die goue septer wat in sy hand was, na Ester uitgesteek. Toe het Ester nader gekom en die top van die septer aangeraak. Toe sê die koning vir haar: Wat wil jy hê, koningin Ester? en wat is u versoek? dit sal aan jou gegee word tot die helfte van die koninkryk. En Ester antwoord: As dit in die oë van die koning goed lyk, laat die koning en Haman vandag kom na die maaltyd wat ek vir hom berei het. Toe sê die koning: Laat Haman gou maak, dat hy kan doen soos Ester gesê het. Toe het die koning en Haman na die maaltyd gekom wat Ester voorberei het.
ESTER 5:1-5 Die Boodskap (DB)
Drie dae later het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die voorportaal van die paleis regoor die troonsaal van die koning gaan staan. Die koning het regoor die ingang op sy troon gesit. Toe hy koningin Ester daar in die voorportaal sien staan, was hy so oorrompel deur haar skoonheid dat hy dadelik sy goue septer na haar toe uitgesteek het. Ester het toe nader gekom en aan die punt van die septer geraak. “Wat is dit, koningin Ester?” wou die koning weet. “Sê vir my wat jy wil hê en ek sal dit vir jou gee, al is dit ook die helfte van my koninkryk.” “As dit met u reg is,” sê sy toe, “wil ek graag hê dat u en Haman vanaand my gaste sal wees by ’n ete wat ek vir u voorberei het.” Toe sê die koning: “Gaan haal dadelik vir Haman dat ons kan doen wat Ester vra.” So is die koning en Haman toe daar weg na Ester se ete toe.
ESTER 5:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Drie dae later het Ester haar koninklike klere aangetrek. Sy het in die binneste voorhof van die paleis gaan staan, regoor die saal waar die koning se troon is. Die koning was toe juis op sy troon met sy gesig na die ingang. Die koning was bly toe hy koningin Ester daar in die voorhof sien staan. Hy het die goue septer wat in sy hand was, na haar toe uitgesteek om haar te verwelkom. Ester het nadergekom en aan die punt van die septer gevat. Die koning vra haar toe: “Wat het jy op die hart, koningin Ester? Wat is jou versoek? Jy sal dit kry, selfs al is dit die helfte van my koninkryk.” Toe sê Ester: “As dit die koning behaag, sal hy en Haman dan asseblief vandag na die onthaal kom wat ek vir u voorberei het?” Die koning sê toe: “Gaan kry gou vir Haman dat ons kan doen wat koningin Ester vra.” Die koning en Haman is na die onthaal toe wat Ester voorberei het.