DEUTERONOMIUM 5:1-17

DEUTERONOMIUM 5:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Moses het al die Israeliete geroep en vir hulle gesê: “Israeliete, julle moet luister na die wette wat ek vandag vir julle gee, julle kan dit self hier hoor. Julle moet die wette leer en julle moet doen wat die wette sê. Ons God die Here het by Horeb-berg 'n verbond gemaak met ons. Hy het hierdie verbond met óns gemaak, ons almal wat vandag hier lewe, Hy het nie die verbond met ons voorvaders gemaak nie. Die Here self het met julle gepraat uit die vuur op die berg. Ek het daardie dag tussen die Here en julle gestaan om vir julle te sê wat die Here sê, want julle was bang vir die vuur, julle het nie teen die berg opgegaan nie. Die Here het gesê: ‘Ek is jou God die Here. Ek het jou uit Egipte gebring, uit die plek waar jy 'n slaaf was. “ ‘Jy mag nie ander gode aanbid nie. Ek is die enigste God. “ ‘Jy mag nie vir jou 'n beeld maak en voor hom buig en hom dien nie. Jy mag nie 'n beeld maak wat lyk soos iets bo in die hemel of soos iets onder op die aarde of soos iets in die water onder die aarde nie. Ek is jou God die Here, jy moet net vir My aanbid. Ek straf die kinders as die pa sonde gedoen het. Ek straf ook sy kinders en kleinkinders as hy My haat en ongehoorsaam is aan My. Maar as iemand lief is vir My en gehoorsaam is aan My, dan sal Ek goed wees vir hom en sy kinders, 1 000 geslagte lank. “ ‘Jy mag die Naam van jou God die Here nie gebruik vir iets wat verkeerd is nie, want die Here sal elkeen straf wat sy Naam gebruik vir iets wat verkeerd is. “ ‘Jy moet onthou dat die Sabbatdag 'n gewyde dag is, jou God die Here het dit vir jou gesê. Jy moet ses dae lank werk en alles doen wat jy moet doen, maar die sewende dag is die Sabbatdag van jou God die Here. Dan mag jy niks werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter, of jou slaaf of jou slavin of jou bees of jou donkie, of jou ander diere, of die vreemdelinge wat by jou woon nie, sodat jou slaaf en slavin ook kan rus, soos jy. Jy moet onthou dat jy ook 'n slaaf was in die land Egipte en dat jou God die Here jou van daar gebring het met sy groot krag. Dit is hoekom jou God die Here sê dat jy die Sabbatdag moet vier. “ ‘Jy moet jou ouers respekteer, die Here het vir jou gesê om dit te doen. Dan sal jy lank lewe en dit sal goed gaan met jou in die land wat jou God die Here vir jou gee. “ ‘Jy mag nie iemand vermoor nie.

DEUTERONOMIUM 5:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Moses het die hele Israel laat roep en vir hulle gesê: Hoor, Israel, die insettinge en die verordeninge wat ek vandag voor julle ore uitspreek; julle moet dit leer en dit sorgvuldig hou. Die HERE onse God het by Horeb met ons 'n verbond gesluit. Met ons vaders het die HERE hierdie verbond nie gesluit nie, maar met ons self, ons wat hier vandag almal in die lewe is. Van aangesig tot aangesig het die HERE op die berg uit die vuur met julle gespreek — ek het in dié tyd tussen die HERE en julle gestaan om aan julle die woord van die HERE bekend te maak, want julle was bevrees vir die vuur en het nie op die berg geklim nie — en Hy het gesê: Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou. Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie. Onderhou die sabbatdag, dat jy dit heilig soos die HERE jou God jou beveel het. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie — jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou os of jou esel of enige dier van jou, of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie; sodat jou dienskneg en jou diensmaagd kan rus soos jy. En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland 'n slaaf was, en die HERE jou God jou daarvandaan uitgelei het deur 'n sterke hand en 'n uitgestrekte arm; daarom het die HERE jou God jou beveel om die sabbatdag te hou. Eer jou vader en jou moeder soos die HERE jou God jou beveel het, dat jou dae verleng mag word en dat dit met jou goed mag gaan in die land wat die HERE jou God aan jou gee. Jy mag nie doodslaan nie.

DEUTERONOMIUM 5:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Moses het die hele volk bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Israeliete, luister na die voorskrifte en die bepalings wat ek vandag hier in julle teenwoordigheid aankondig. Julle moet dit leer, dit gehoorsaam en daarvolgens lewe. Die Here ons God het by Horeb 'n verbond met ons gesluit. Dit is nie ons voorvaders met wie Hy hierdie verbond gesluit het nie, maar ons, ons almal wat hier is en nou lewe. Ja, met julle persoonlik het die Here op die berg uit die vuur uit gepraat. Ek het destyds tussen die Here en julle gestaan om die gebod van die Here aan julle deur te gee, want julle was bang vir die vuur en julle het nie teen die berg uitgeklim nie. “Die Here het gesê: “ ‘Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie. “ ‘Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek die Here jou God eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam. “ ‘Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal dié een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie. “ ‘Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou, soos die Here jou God jou beveel het. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of jou bees of jou donkie of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie, sodat jou werksmense kan rus soos jy. Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte 'n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou. “ ‘Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan sal jy 'n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat die Here jou God vir jou gee. “ ‘Jy mag nie moord pleeg nie.

DEUTERONOMIUM 5:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Moses het die hele Israel byeengeroep en vir hulle gesê: “Israel, luister na die vaste voorskrifte en beslissings wat ek vandag afkondig, sodat julle dit kan hoor. Julle moet dit leer en dit nougeset nakom. Die HERE ons God het met ons 'n verbond gesluit by Horeb. Dit is nie met ons voorouers wat die HERE hierdie verbond gesluit het nie, maar met ons – ons hier wat vandag nog almal leef. “ Op die berg het die HERE uit die vuur van aangesig tot aangesig met julle gepraat. Ek moes in daardie tyd tussen die HERE en julle gaan staan om die woorde van die HERE aan julle bekend te maak, want julle het bang geword vir die vuur en wou nie teen die berg opgaan nie. “Die HERE het gesê, “ ‘ Ek is die HERE jou God, wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het. Jy mag naas My nie ander gode hê nie. Jy mag nie vir jou 'n gesnede beeld van 'n god maak nie – enige afbeelding van wat in die hemelruim daar bo of op die aarde hier onder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag nie voor hulle in aanbidding buig nie, en jy mag hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n besitlike God wat kinders laat boet vir die sondeskuld van ouers, selfs die derde en vierde geslag van hulle wat My verwerp, maar troue liefde bewys aan duisende, aan hulle wat My liefhet en my gebooie nakom. Jy mag die Naam van die HERE jou God nie misbruik nie, want die HERE sal hulle wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat nie. Hou die Sabbatdag heilig soos die HERE jou God jou beveel het: Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is 'n Sabbat ter ere van die HERE jou God. Jy mag geen werk doen nie, nie jy en jou seun en jou dogter, jou slaaf en jou slavin, jou bees en jou donkie of enige van jou diere nie, ook nie jou •vreemdeling wat by jou is nie, sodat jou slaaf en jou slavin kan rus soos jy. Jy moet onthou dat jy ook 'n slaaf was in Egipteland en dat die HERE jou God met 'n sterk hand en uitgestrekte arm jou daar uitgelei het. Daarom het die HERE jou God jou beveel om die Sabbatdag te vier. Behandel jou vader en jou moeder met eerbied soos die HERE jou God jou beveel het, sodat jy lank kan leef, en sodat dit met jou goed kan gaan op die grond wat die HERE jou God vir jou gaan gee. Jy mag nie moord pleeg nie.

DEUTERONOMIUM 5:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Moses het die hele Israel geroep en vir hulle gesê: Hoor, Israel, die insettinge en verordeninge wat ek vandag voor julle ore spreek, dat julle dit kan leer en onderhou en doen. Die HERE onse God het 'n verbond met ons gesluit by Horeb. Die HERE het hierdie verbond nie met ons vaders gesluit nie, maar met ons, ons wat vandag almal hier in die lewe is. Die HERE het van aangesig tot aangesig met jou gespreek op die berg uit die vuur, (Ek het in dié tyd tussen die HERE en julle gestaan om aan julle die woord van die HERE te verkondig; want julle was bevrees vanweë die vuur en het nie op die berg geklim nie, en gesê: Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van enigiets wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n jaloerse God wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat, En bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie bewaar. Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal hom wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie. Onderhou die sabbatdag om dit te heilig, soos die HERE jou God jou beveel het. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; Maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; daarop mag jy geen werk doen nie, jy of jou seun of jou dogter of jou dienskneg of jou diensmaagd of jou bees of jou esel of enige van jou vee of van jou vreemdeling wat in jou poorte is; dat u dienskneg en u diensmaagd net so goed kan rus as u. En onthou dat jy 'n dienskneg in Egipteland was, en dat die HERE jou God jou daaruit uitgelei het deur 'n sterke hand en deur 'n uitgestrekte arm; daarom het die HERE jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou. Eer jou vader en jou moeder, soos die HERE jou God jou beveel het; dat jou dae verleng mag word en dit met jou goed mag gaan in die land wat die HERE jou God jou gee. Jy mag nie doodslaan nie.

DEUTERONOMIUM 5:1-17 Die Boodskap (DB)

Moses het almal bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Luister baie fyn na al die wette wat ek julle vandag gee. Sorg dat julle dit baie goed ken en daarvolgens lewe. Lank gelede het die Here by Horeb met ons ’n ooreenkoms gesluit. Hy het nie met ons voorouers ’n ooreenkoms gesluit nie, maar met ons; met ons wat nog leef en wat vandag hier op Bet-Peor se vlakte staan. Daar by Horeb het Hy met ons persoonlik uit ’n vuur gepraat. En ek het tussen julle en die Here gaan staan omdat julle bang was vir die vuur. Toe het ek julle alles vertel wat die Here gesê het. “Dit is wat Hy gesê het: ‘Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte waar jy verdruk is, uitgelei het. ‘Jy mag geen ander gode besit of aanbid nie. ‘Jy mag geen beeld maak van enigiets wat in die hemel is, of op die aarde of in die waters onder die aarde nie. Jy mag nooit voor so ’n beeld buig of dit aanbid nie. Die Here alleen is die ware God en Hy duld nie ander gode nie. Hy straf alle mense en hulle kinders wat Hom haat en ander gode dien. Almal wat Hom egter liefhet en volgens sy wil leef, het die Here op sy beurt ook baie lief. ‘Moenie die Here se Naam sonder rede gebruik nie. Dink mooi voordat jy dit doen, want Ek, die Here jou God, sal nie toelaat dat mense my Naam sommer net so, sonder rede, gebruik nie. ‘Onderhou die sabbat. Leef anders op die sewende dag van die week, want Ek, die Here jou God, vra dit van jou. Ses dae moet jy baie hard werk, maar op die sewende dag moet jy rus. Dit is ’n dag wat eenkant gesit word vir spesiale diens aan die Here. Op hierdie dag moet niemand werk nie: nie jy nie, ook nie jou kinders, jou werkers, jou diere of die vreemdelinge wat by jou inwoon nie. Al jou werkers moet saam met jou op die sabbat rus. Op dié dag moet jy daaraan dink dat jy self ’n slaaf in Egipte was wat elke dag hard gewerk het, maar dat die Here jou op ’n wonderlike manier daar kom wegvat het. Dit is hoekom jy op die sabbat moet rus en al jou werkers saam met jou. ‘Jy moet jou pa en jou ma liefhê en na hulle luister, want Ek, die Here jou God, vra dit van jou. Dan sal jy lank lewe. Dan sal dit met jou goed gaan in die land wat die Here jou God aan jou wil gee. ‘Jy moet niemand doodmaak nie.

DEUTERONOMIUM 5:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moses het die hele volk Israel bymekaargeroep en gesê: “Luister baie goed na die voorskrifte en bepalings wat ek vandag aan julle gee. Leer dit en maak seker julle is gehoorsaam daaraan! “Toe ons by Sinaiberg was, het die HERE ons God ’n verbond met ons gesluit. Die HERE het die verbond nie net met ons voorouers gesluit nie, maar met almal van ons wat vandag hier is en nog lewe. Die HERE het persoonlik uit die vuur met ons op die berg gepraat. Ek het as ’n bemiddelaar tussen julle en die HERE gestaan, want julle was bang vir die vuur en wou nie teen die berg uitklim nie. Hy het met my gepraat en ek het sy woorde weer aan julle oorgedra. Dit is wat Hy gesê het: “‘Ek is die HERE julle God wat julle uit die slawerny van Egipte gered het. “‘Moenie ander gode naas My aanbid nie. “‘Moenie vir jou afgodsbeelde maak wat enigiets afbeeld wat bo in die lug of daaronder op die aarde of in die water onder die aarde is nie. Jy mag nooit voor hulle neerbuig om hulle te aanbid nie. Ek die HERE jou God is ’n God wat onverdeelde lojaliteit eis. Ek hou die sondes van die vaders teen die kinders tot so ver as drie en vier geslagte lank. My liefde deel Ek egter oorvloedig uit aan die mense wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam, selfs tot so ver as duisend geslagte aan. “‘Moenie die Naam van die HERE jou God sonder rede gebruik nie. Die HERE sal jou nie ongestraf laat bly wanneer jy sy Naam sonder respek gebruik nie. “‘Hou die Sabbatdag heilig soos wat die HERE jou God jou beveel het. Ses dae lank moet jy aangaan met jou werk en jou take afhandel. Die sewende dag is die HERE jou God se rusdag. Op dié dag mag niemand in jou huishouding enige werk doen nie. Nie jy, jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, jou beeste en donkies of ander diere, of enige vreemdeling wat by jou woon nie. Al jou slawe en slavinne moet rus soos jy. Onthou dat jy vroeër slawe in Egipte was en dat die HERE jou God jou met groot krag en magtige dade daaruit gebring het. Dit is waarom die HERE jou God jou beveel om die Sabbatdag te vier. “‘Behandel jou pa en ma met respek, soos wat die HERE jou God jou beveel om te doen. Dan sal jy lank en gelukkig lewe in die land wat die HERE jou God aan jou gee. “‘Moenie iemand doodmaak nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid