Deuteronomium 5:1-17

Deuteronomium 5:1-17 AFR20

Moses het die hele Israel byeengeroep en vir hulle gesê: “Israel, luister na die vaste voorskrifte en beslissings wat ek vandag afkondig, sodat julle dit kan hoor. Julle moet dit leer en dit nougeset nakom. Die HERE ons God het met ons 'n verbond gesluit by Horeb. Dit is nie met ons voorouers wat die HERE hierdie verbond gesluit het nie, maar met ons – ons hier wat vandag nog almal leef. “ Op die berg het die HERE uit die vuur van aangesig tot aangesig met julle gepraat. Ek moes in daardie tyd tussen die HERE en julle gaan staan om die woorde van die HERE aan julle bekend te maak, want julle het bang geword vir die vuur en wou nie teen die berg opgaan nie. “Die HERE het gesê, “ ‘ Ek is die HERE jou God, wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het. Jy mag naas My nie ander gode hê nie. Jy mag nie vir jou 'n gesnede beeld van 'n god maak nie – enige afbeelding van wat in die hemelruim daar bo of op die aarde hier onder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag nie voor hulle in aanbidding buig nie, en jy mag hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n besitlike God wat kinders laat boet vir die sondeskuld van ouers, selfs die derde en vierde geslag van hulle wat My verwerp, maar troue liefde bewys aan duisende, aan hulle wat My liefhet en my gebooie nakom. Jy mag die Naam van die HERE jou God nie misbruik nie, want die HERE sal hulle wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat nie. Hou die Sabbatdag heilig soos die HERE jou God jou beveel het: Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is 'n Sabbat ter ere van die HERE jou God. Jy mag geen werk doen nie, nie jy en jou seun en jou dogter, jou slaaf en jou slavin, jou bees en jou donkie of enige van jou diere nie, ook nie jou •vreemdeling wat by jou is nie, sodat jou slaaf en jou slavin kan rus soos jy. Jy moet onthou dat jy ook 'n slaaf was in Egipteland en dat die HERE jou God met 'n sterk hand en uitgestrekte arm jou daar uitgelei het. Daarom het die HERE jou God jou beveel om die Sabbatdag te vier. Behandel jou vader en jou moeder met eerbied soos die HERE jou God jou beveel het, sodat jy lank kan leef, en sodat dit met jou goed kan gaan op die grond wat die HERE jou God vir jou gaan gee. Jy mag nie moord pleeg nie.