DEUTERONOMIUM 34:1-4
DEUTERONOMIUM 34:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Moses het uit die Jordaan-vallei in die land Moab gegaan. Hy het opgegaan na Nebo-berg, na die boonste punt van Pisga-berg, oorkant die stad Jerigo. Die Here het vir Moses die hele land gewys: die land Gilead tot by die stad Dan. Hy het ook vir Moses die hele land Naftali gewys en die land Efraim en Manasse, die hele land Juda tot by die Middellandse See, die Suid-land en die gelyk vallei by die palmstad Jerigo, tot by die stad Soar. Die Here het vir Moses gesê: “Dit is die land wat Ek belowe het toe Ek vir Abraham, Isak en Jakob gesê het dat Ek dit vir hulle nageslag sal gee. Ek het nou die land ook vir jou gewys, maar jy sal nie in daardie land ingaan nie.”
DEUTERONOMIUM 34:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het Moses opgeklim uit die vlaktes van Moab na die berg Nebo, die top van Pisga wat teenoor Jérigo lê; en die HERE het hom die hele land, Gílead tot Dan toe, laat sien; en die hele Náftali en die land Efraim en Manasse en die hele land Juda tot by die Westelike See; en die Suidland en die Jordaanstreek, die laagte van Jérigo, die palmstad, tot by Soar. En die HERE het vir hom gesê: Dit is die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met 'n eed beloof het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek dit gee; Ek het jou dit met jou oë laat sien, maar jy sal daarheen nie oortrek nie.
DEUTERONOMIUM 34:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moses het uit die Moabsvlakte opgeklim na Neboberg toe, tot op die top van Pisgaberg regoor Jerigo. Die Here het hom die hele land gewys: van Gilead af tot by Dan, die hele Naftali, die gebied van Efraim en Manasse en die hele Juda tot by die see in die weste, die Suidland en die vlakte, die Jerigolaagte met sy palms tot by Soar. Die Here het vir Moses gesê: “Dit is die land wat Ek met 'n eed beloof het aan Abraham en Isak en Jakob. Ek het gesê: ‘Ek gee dit aan jou nageslag.’ Ek het jou dit met jou eie oë laat sien, maar jy sal nie daarheen deurtrek nie.”
DEUTERONOMIUM 34:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Moses het uit die vlaktes van Moab teen die berg Nebo uitgeklim, na die kruin van Pisga wat teenoor Jerigo lê. Die HERE het hom die hele land, van Gilead tot by Dan, gewys, ook die hele Naftali, die streek van Efraim en Manasse, die hele streek van Juda tot by die see in die weste, sowel as die Negev en die omstreke van die vallei van Jerigo, die Palmstad, tot by Soar. Die HERE het vir hom gesê: “Dit is die land wat Ek met 'n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob toe Ek gesê het, ‘Aan jou nageslag sal Ek dit gee.’ Ek het jou dit met jou eie oë laat sien, maar daarheen sal jy nie oorgaan nie.”
DEUTERONOMIUM 34:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Moses het van die vlaktes van Moab opgetrek na die berg Nebo, na die top van Pisga wat teenoor Jérigo lê. En die HERE het hom die hele land Gílead aan Dan gewys, en die hele Naftali en die land van Efraim en Manasse en die hele land van Juda, tot by die uiterste see, en die suide en die vlakte van die dal van Jerigo, die stad van palmbome, tot by Soar. Toe sê die HERE vir hom: Dit is die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met 'n eed beloof het deur te sê: Ek sal dit aan jou nageslag gee; Ek het jou dit met jou oë laat sien, maar jy mag nie gaan nie.
DEUTERONOMIUM 34:1-4 Die Boodskap (DB)
Moses het toe van die vlaktes van Moab af na die Neboberg toe geloop. Hy het tot op die top van die Pisgaberg geklim. Die berg is reg oorkant Jerigo, maar aan die ander kant van die Jordaan. Daar het die Here vir hom die hele land gewys, die land wat Israel sou kry. Moses het die land gesien: die grond van Gilead af tot by Dan se land, die land wat Naftali sou kry, en dié van Efraim en Manasse. Ook die land van Juda tot by die Middellandse See, die Suidland en die vlakte, die laagte rondom Jerigo, die stad met die baie palms, tot by Soar. Toe het die Here vir Moses gesê: “Dit is die land wat Ek belowe het om vir Israel te gee. Ek het al vir julle oupagrootjies, vir Abraham en Isak en Jakob, belowe dat ek hierdie land vir julle sal gee. Ek het vir hulle gesê: Ek gee hierdie land vir julle kleinkinders en agterkleinkinders. Ek het nou toegelaat dat jy die land met jou oë kan sien. Maar jy mag nie in die land ingaan nie.”
DEUTERONOMIUM 34:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moses het toe van die vlaktes van Moab teen Neboberg uitgeklim, na die punt van Pisgaberg toe, regoor Jerigo. Die HERE het hom die land van Gilead tot by Dan laat sien, die hele land van Naftali, die land van Efraim en Manasse en die hele land van Juda tot by die see in die weste; die Negevwoestyn, die Jordaanvallei met Jerigo, die stad van palms, tot so ver as Soar. Die HERE het vir Moses gesê: “Dit is die land wat Ek met ’n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het toe Ek vir hulle gesê het dat Ek dit aan hulle nageslag sou gee. Ek het jou toegelaat om dit te sien, maar jy mag nie die land binnegaan nie.”