DEUTERONOMIUM 34

34
Die dood van Moses
1Moses het toe van die vlaktes van Moab teen Neboberg uitgeklim, na die punt van Pisgaberg toe, regoor Jerigo. Die Here het hom die land van Gilead tot by Dan laat sien, 2die hele land van Naftali, die land van Efraim en Manasse en die hele land van Juda tot by die see in die weste#34:2 Of Middellandse See.; 3die Negevwoestyn, die Jordaanvallei met Jerigo, die stad van palms, tot so ver as Soar. 4Die Here het vir Moses gesê: “Dit is die land wat Ek met ’n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het toe Ek vir hulle gesê het dat Ek dit aan hulle nageslag sou gee. Ek het jou toegelaat om dit te sien, maar jy mag nie die land binnegaan nie.”
5Moses, die dienaar van die Here, het toe daar in Moab gesterf, net soos die Here gesê het. 6Die Here het hom in ’n vlakte naby Bet-Peor begrawe, maar tot vandag toe nog weet niemand presies waar die plek is nie. 7Moses was 120 jaar oud toe hy dood is sonder dat sy oë verswak geraak het of sy krag min geword het. 8Die volk Israel het in die vlakte van Moab vir 30 dae oor Moses gerou totdat die gebruiklike tyd van rou verby was.
9Josua, die seun van Nun, was gevul met wysheid, want Moses het sy hande op hom gelê. Die volk Israel het na hom geluister en het alles gedoen net soos die Here vir Moses beveel het.
10Daar was nooit weer ’n profeet in Israel soos Moses nie. Hy het die Here persoonlik geken.
11Die Here het Moses gestuur om al die tekens en wonders in Egipte voor die farao, sy dienaars en die hele land te doen. 12Dit was deur Moses wat die Here sy magtige en skrikwekkende dade voor die oë van die hele Israel gedoen het.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid