KOLOSSENSE 3:1-5
KOLOSSENSE 3:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel. Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.
KOLOSSENSE 3:1-5 Bybel vir almal (ABA)
God het vir Christus weer laat lewe en God het ook vir julle weer laat lewe saam met Christus. Daarom moet die dinge wat vir Christus belangrik is, nou vir julle ook belangrik wees, want Christus is nou in die hemel by God, Hy sit op die belangrikste plek by God. Julle moet altyd dink aan die dinge wat vir Christus belangrik is, die dinge daarbo in die hemel. Julle moenie dink aan die dinge wat vir mense belangrik is nie, aan die dinge hier onder op die aarde nie. Julle sondige lewe is verby, dit is dood. Julle het nou 'n nuwe lewe, maar die ander mense weet dit nie, want julle lewe saam met Christus wat by God is. Dit is Christus wat die nuwe lewe vir julle gee. Hy sal weer kom, en dan sal almal weet dat julle aan Hom, die Koning, behoort. Julle moet ophou om slegte dinge te doen, die dinge wat sondige mense graag doen. Julle moenie onsedelik lewe nie, julle moenie slegte dinge doen of dink of wil hê nie. Julle moenie altyd meer en meer goed wil hê nie, want dan word julle goed vir julle 'n afgod.
KOLOSSENSE 3:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
AS julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word. Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is
KOLOSSENSE 3:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As julle dan saam met •Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie. Julle het immers gesterf, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus verskyn, Hy wat julle lewe is, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn. Daarom moet julle daardie deel van julle wat op die aardse gerig is, doodmaak: onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes, en ook gierigheid, wat afgodediens is.
KOLOSSENSE 3:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus sit aan die regterhand van God. Stel jou geneentheid op die dinge daarbo, nie op die dinge op die aarde nie. Want julle is dood, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, verskyn, dan sal julle ook saam met Hom verskyn in heerlikheid. Maak dan julle lede wat op die aarde is, dood; hoerery, onreinheid, buitensporige geneentheid, bose begeerlikheid en hebsug, wat afgodediens is
KOLOSSENSE 3:1-5 Die Boodskap (DB)
Onthou dit altyd: toe julle Christene geword het, het julle saam met Christus ’n nuwe lewe gekry. Tree asseblief nou op soos mense wat saam en vir die Here leef. Julle moet al meer so leef dat Jesus daarmee tevrede sal wees. Onthou, Hy is die Een met die mag. Hy sit op die oomblik op die ereplek langs God self in die hemel. Moenie toelaat dat dinge wat nie vir Jesus belangrik is nie, vir julle te belangrik word nie. Ek praat van tydelike, aardse dinge waarmee julle julle partymaal so kan besig hou. Bestee liewer al julle tyd aan dinge wat vir Jesus belangrik is. Dink daaroor na, praat daaroor en doen dit! Onthou, julle waardes het verander toe julle Christene geword het. Julle ou belangstellings en lewenstyl is dood en begrawe. Julle het ’n nuwe lewe gekry. Dit waarborg God vir julle. Christus gee julle daardie nuwe lewe. Wanneer Christus eendag weer kom, sal julle almal by Hom kan gaan staan as mense wat Hy lewend gemaak het. Almal sal julle saam met Hom sien. Dan sal hulle ook sien hoe belangrik julle regtig vir God is. Moenie toelaat dat dinge waarvan Jesus nie hou nie, enige rol in julle lewe begin speel nie. Raak daarvan ontslae sodra dit in jou lewe kop uitsteek. Ek praat van dinge soos ontoelaatbare seks of vuil gedagtes wat op vieslike optrede uitloop. Om sulke dinge net te loop en begeer is al verkeerd. En dan is daar mense wat nooit genoeg kan kry nie. Hoe meer hulle het, hoe meer wil hulle hê. Asof dit hulle god is, wy hulle al hulle tyd en energie daaraan om net al hoe meer in die hande te probeer kry.
KOLOSSENSE 3:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Aangesien julle saam met Christus tot ’n nuwe lewe opgewek is, streef na die dinge wat daarbo by Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op die aarde nie. Julle het mos saam met Christus gesterf en julle lewe is saam met Hom veilig by God weggesteek. Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn. Daarom moet julle die volgende wêreldse dinge afsterf wat deel van julle lewe is: seksuele sondes, onreinheid, wellus, slegte begeertes en gierigheid, wat van geld ’n god maak.