HANDELINGE 5:27-42

HANDELINGE 5:27-42 Bybel vir almal (ABA)

Hulle het die apostels gebring en hulle het die apostels voor die Joodse Raad laat staan. Die hoëpriester het hulle begin uitvra. Hy het gesê: “Ons het ernstig vir julle gesê: Julle mag nie vir die mense leer van Jesus nie. En nou praat almal in Jerusalem oor die dinge wat julle vir die mense leer. Julle sê ook dat dit óns is wat hierdie man doodgemaak het.” Petrus en die apostels het geantwoord en gesê: “Ons moet meer gehoorsaam wees aan God as aan mense. Julle het vir Jesus doodgemaak toe julle Hom aan die kruis opgehang het, maar toe het die God van ons voorvaders vir Jesus weer laat lewe. God het vir hierdie Jesus die Leier en Redder gemaak. God het vir Jesus gesê Hy moet op die belangrikste plek langs God kom sit sodat die mense van Israel kan verander en kan lewe soos God wil hê en sodat Hy hulle sonde kan vergewe. Ons is getuies dat hierdie dinge gebeur het. God het die Heilige Gees gegee aan die mense wat luister na God, en die Heilige Gees getuig ook dat dit alles waar is.” Die Joodse leiers het baie kwaad geword toe hulle dit hoor, en hulle het besluit om die apostels dood te maak. Toe het iemand van die Joodse Raad opgestaan. Sy naam was Gamaliël. Hy was 'n Fariseër en 'n skrifgeleerde, en al die mense het hom gerespekteer. Hy het gesê dat die wagte die apostels 'n klein tydjie buite moet laat staan. Gamaliël het toe vir die Joodse Raad gesê: “Vriende, Israeliete, julle moet oppas. Julle moet dink oor wat julle aan hierdie manne wil doen. Julle weet dat daar 'n tyd gelede iemand was, sy naam was Teudas. Hy het vir die mense gesê dat hy baie belangrik is. Omtrent 400 manne het hom gevolg. Maar die regering het hom laat doodmaak en hulle het die manne wat hom gevolg het, na al die kante toe gejaag. Ons het nie weer gehoor van Teudas en die manne wat hom gevolg het nie. Ná Teudas het Judas die Galileër opstandig geword teen die regering. Dit was in die tyd toe die regering die mense van die land getel het. Judas het gesê die mense moet saam met hom opstandig word. Maar die regering het ook vir Judas laat doodmaak, en hulle het almal wat vir Judas gevolg het, na al die kante toe gejaag. En nou praat ek oor die dinge wat nóú gebeur. Hierdie manne maak planne en hulle is besig om dinge te doen, maar ek sê vir julle: Julle moet wegbly van hierdie manne, los hulle. Want as hulle planne en die dinge wat hulle doen, net van ménse kom, dan beteken dit niks. Maar as dit Gód is wat dit doen, dan sal julle nie vir hulle kan keer nie. Julle sal miskien later besef dat julle teen God baklei het.” Die Joodse Raad het geluister na Gamaliël. Hulle het gesê dat die apostels weer moet inkom na hulle toe. Hulle het die apostels geslaan en gesê dat hulle nie mag preek oor Jesus nie. Toe het hulle die apostels laat gaan. Die apostels het weggegaan van die Joodse Raad. Hulle was baie bly dat die Here besluit het dat dit húlle is wat moet swaarkry omdat hulle aan Jesus behoort. Hulle het aangehou om elke dag in die tempel en by die huise vir die mense te leer en om die goeie boodskap te bring dat Jesus die Christus is.

HANDELINGE 5:27-42 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Hulle het hul dan gebring en voor die Raad gestel; en die hoëpriester het hulle gevra en gesê: Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring. En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense. Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan 'n kruishout te hang. Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk. En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is. Toe hulle dit hoor, was hulle woedend en wou hulle om die lewe bring. Maar 'n Fariseër met die naam van Gamáliël, 'n leraar van die wet wat by die hele volk hoog in aansien was, het in die Raad opgestaan en bevel gegee dat hulle die apostels 'n bietjie buitentoe moes bring. Toe sê hy vir hulle: Israeliete, pas op wat julle gaan doen met hierdie manne; want nie lank gelede nie het Theudas opgestaan en gesê dat hy iets besonders was. By hom het 'n aantal mense — omtrent vierhonderd — aangesluit. Hy is gedood, en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het tot niet geword. En ná hom het Judas, die Galiléër, opgestaan, in die dae van die inskrywing, en 'n aansienlike getal mense afvallig gemaak agter hom aan. Hy het ook omgekom, en almal wat na hom geluister het, is verstrooi. En nou sê ek vir julle, bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie — dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie. En hulle het na hom geluister. En nadat hulle die apostels ingeroep het, het hulle hul laat slaan en hulle bevel gegee om nie in die Naam van Jesus te spreek nie en hulle laat gaan. Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly. En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.

HANDELINGE 5:27-42 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hulle het hulle voor die Raad gebring, en die hoëpriester sê toe vir hulle: “Het ons julle nie uitdruklik belet om die mense in hierdie Naam te leer nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir hierdie man se dood.” Petrus en die ander apostels het geantwoord: “'n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.” Toe die Raad dit hoor, was hulle woedend, en hulle wou die apostels doodmaak. Een van die Fariseërs in die Raad, 'n man met die naam Gamaliël, wat as leermeester van die wet van Moses by die hele volk in hoë aansien was, het toe opgestaan en gevra dat die apostels 'n rukkie buitentoe gevat moet word. Daarna sê hy vir die Raad: “Israeliete, julle moet versigtig wees wat julle met hierdie mense gaan doen. 'n Tyd gelede was daar die geval van Teudas, wat in opstand gekom en daarop aanspraak gemaak het dat hy iemand van betekenis is. Hy het 'n aanhang gekry van omtrent vier honderd man. Hy is doodgemaak, en al sy volgelinge is verstrooi, en die opstand het op niks uitgeloop nie. Daarna was dit Judas die Galileër, wat in die tyd van die volkstelling in opstand gekom het met 'n deel van die volk agter hom aan. Ook hy is om die lewe gebring, en al sy volgelinge is uitmekaar gejaag. Wat die huidige geval betref, my raad aan julle is: Laat staan hierdie mense en laat hulle los, want as wat hulle wil en wat hulle doen, mensewerk is, sal daar niks van kom nie. Maar as dit van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. Moenie dat dit dalk later blyk dat julle selfs teen God gestry het nie!” Die Raad het na hom geluister. Hulle het die apostels ingeroep, hulle laat slaan en hulle belet om weer in die Naam van Jesus te praat. Daarna het hulle hulle losgelaat. Die apostels het van die Raad af weggegaan, bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly. En hulle het nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.

HANDELINGE 5:27-42 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hulle bring toe die apostels en laat hulle voor die Sanhedrin staan. Die hoëpriester het hulle begin ondervra: “Het ons julle nie ten strengste verbied om in hierdie Naam te leer nie? En kyk, julle het julle leer deur die hele Jerusalem versprei; en julle wil die bloed van hierdie man op ons bring. ” Maar •Petrus en die apostels het geantwoord: “Ons moet eerder gehoorsaam wees aan God as aan mense. Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle doodgemaak het deur Hom aan 'n kruishout te hang. Hom het God as Leidsman en Verlosser tot aan sy regterhand verhoog, om aan Israel bekering en vergewing van sondes te skenk. Ons is die getuies van hierdie gebeure, en so ook die Heilige Gees, wat God gegee het aan hulle wat aan Hom gehoorsaam is.” Toe hulle dit hoor, was hulle rasend van woede en wou die apostels doodmaak. Maar toe staan iemand in die Sanhedrin op, 'n •Fariseër met die naam Gamaliël, 'n wetgeleerde met hoë aansien by die hele volk, en gee opdrag dat hulle die mense vir 'n oomblik na buite neem. Daarop sê hy vir hulle: “Israeliete, dink goed na oor wat julle met hierdie mense gaan doen, want 'n ruk gelede het Teudas opgestaan en daarop aanspraak gemaak dat hy iets besonders is, en ongeveer vierhonderd manne het by hom aangesluit. Hy is doodgemaak, en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het in die niet verdwyn. Ná hom het Judas, die Galileër, in die dae van die volkstelling na vore getree en die volk agter hom aan tot opstand aangehits. Ook hy het omgekom, en almal wat na hom geluister het, het uitmekaar gespat. Maar nou sê ek vir julle: Los hierdie mense uit en laat hulle gaan, want as hierdie plan of onderneming die werk van mense is, sal dit tot niet gaan; maar as dit van God af kom, sal julle hulle nie kan keer nie – moenie dat dit blyk dat julle teen God veg nie!” Hulle het toe na hom geluister. En nadat hulle die apostels ontbied het, het hulle hulle laat gesel, hulle beveel om nie in die Naam van Jesus te praat nie, en hulle vrygelaat. Daarna het hulle van die Sanhedrin weggegaan, bly dat hulle waardig bevind is om ter wille van sy Naam skandelik behandel te word. Boonop het hulle nie opgehou om elke dag op die tempelterrein en van huis tot huis onderrig te gee nie, en ook nie om die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.

HANDELINGE 5:27-42 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En nadat hulle hulle gebring het, het hulle hulle voor die Raad gestel; en die hoëpriester het hulle gevra: en gesê: Het ons julle nie streng beveel dat julle nie in hierdie Naam moet leer nie? en kyk, julle het Jerusalem gevul met julle leer, en julle is van plan om hierdie man se bloed oor ons te bring. Toe antwoord Petrus en die ander apostels en sê: Ons behoort aan God meer gehoorsaam te wees as aan mense. Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle gedood en aan 'n boom opgehang het. Hom het God met sy regterhand verhoog om 'n Vors en 'n Verlosser te wees, om aan Israel bekering te gee en vergifnis van sondes. En ons is sy getuies van hierdie dinge; en so ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam. Toe hulle dit hoor, is hulle in die hart getref en het raad gehou om hulle dood te maak. Toe het daar een in die Raad opgestaan, 'n Fariseër, met die naam van Gamaliël, 'n wetgeleerde, wat bekend was onder die hele volk, en bevel gegee om die apostels 'n bietjie ruimte uit te steek; En hy sê vir hulle: Manne van Israel, let op wat julle van plan is om te doen met betrekking tot hierdie manne. Want voor hierdie dae het Theudas opgestaan en hom gespog dat hy iemand is; by wie 'n aantal manne, omtrent vier honderd, hulle aangesluit het; en almal wat hom gehoorsaam het, is verstrooi en tot niet gemaak. Na hierdie man het Judas van Galiléa in die dae van die belasting opgestaan en baie mense agter hom aan weggetrek; ook het hy omgekom; en almal was verstrooi. En nou sê Ek vir julle: Weerhou julle van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie raad of hierdie werk van mense is, sal dit tot niet kom. Maar as dit van God is, kan julle dit nie omverwerp nie; dat julle miskien ook bevind word om teen God te veg. En hulle het met hom ingestem; en nadat hulle die apostels geroep en hulle geslaan het, het hulle bevel gegee om nie in die Naam van Jesus te spreek nie, en hulle laat gaan. En hulle het weggegaan van die aangesig van die Raad, en was bly dat hulle waardig geag is om vir sy Naam skande te ly. En elke dag in die tempel en in elke huis het hulle nie opgehou om te leer en Jesus Christus te verkondig nie.

HANDELINGE 5:27-42 Die Boodskap (DB)

Die apostels is na die Joodse Raad gebring. Die hoëpriester het gesê: “Het ons julle nie uitdruklik verbied om in daardie man se naam met die mense te praat nie? Maar julle steur julle nie aan ons nie. Nou lê die hele Jerusalem vol van julle skewe leringe. Boonop beskuldig julle ons daarvan dat ons hierdie man doodgemaak het.” Petrus en die ander apostels het dadelik geantwoord: “Ons moet in die eerste plek aan God gehoorsaam wees, nie aan mense nie. “Dit is Hy, die God van ons voorvaders, wat vir Jesus weer lewendig gemaak het nadat julle Hom doodgemaak het. Het julle dan al klaar vergeet hoe julle Hom nou die dag aan ’n hout opgehang het? Maar God het Jesus nou met groot eer beklee. Hy het aan Hom die belangrikste plek in die hemel gegee. God het Hom ook aangestel as die Heerser en Verlosser van die hele Israel. Almal wat in Jesus glo, se sondes word deur Hom vergewe. Hy gee vir hulle elkeen ’n splinternuwe lewe. “Ons vertel julle nou die reine waarheid. Die Heilige Gees, wat God aan elkeen gee wat na Hom luister, weet dit.” Toe die Joodse Raad dit hoor, was hulle woedend. Hulle wou die apostels net daar doodmaak. ’n Fariseër met die naam Gamaliël, ’n gerespekteerde leermeester van God se wet, het egter kopgehou. “Vat die mans eers buitetoe,” het hy vir die polisie gesê. Daarna het hy vir die ander raadslede gesê: Dink baie mooi wat julle vandag met hierdie mans aanvang. Moenie ’n oorhaastige besluit neem nie. Onthou julle nog vir Teudas? Hy is die man wat ’n ruk gelede gesê het dat hy ’n gestuurde van God is. Hy het so 400 aanhangers om hom bymekaargemaak. Toe hy doodgemaak is, het hulle almal gevlug. Op die ou end het daar niks van hulle planne gekom nie.Kort daarna het Judas die Galileër tydens die groot volkstelling onder ons mense begin optree. Hy het baie mense mislei en hulle omgepraat om sy volgelinge te word. Maar hy het tot ’n wrede einde gekom en sy aanhangers het ook uitmekaargespat. “Daarom sê ek vandag vir julle: laat hierdie mans vry. Moenie iets aan hulle doen nie. As dit maar net nog ’n groep met ’n klompie skewe beskouings is, sal hulle in elk geval nie lank hou nie. Maar aan die ander kant: as hulle regtig deur God aangestel is soos hulle beweer, sal julle niks aan hulle kan doen nie. Boonop gaan julle julle dan teen God self vasloop.” Hierdie woorde van Gamaliël het die ander raadslede laat kalmeer. Hulle het besluit om sy raad te volg. Toe het hulle die apostels weer laat inkom en die tempelpolisie aangesê om elkeen van hulle ’n ordentlike drag slae te gee. Na nog ’n ernstige waarskuwing om nie weer in die openbaar oor Jesus te praat nie, is hulle vrygelaat. Die apostels was baie bly toe hulle by die Joodse Raad uitstap. Hulle was dankbaar dat hulle hierdie vernedering en slae kon verduur omdat hulle in Jesus glo. Hulle het hulle nie aan die Joodse Raad se waarskuwings gesteur nie, maar aangehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis die nuus bekend te maak dat Jesus die Christus is.

HANDELINGE 5:27-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hulle het hulle voor die Raad gebring, en die hoofpriester het hulle begin ondervra: “Het ons julle nie belet om ooit weer die mense in hierdie man se Naam te onderrig nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer oor Jesus! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir sy dood!” Petrus en die ander apostels het in reaksie hierop gesê: “Ons moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! Die God van ons voorouers het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom te kruisig. God het Hom verhoog tot Leier en Verlosser in die regeerposisie reg langs Hom. Hy het dit gedoen om Israel tot inkeer te bring sodat hulle vergifnis van sonde kan ontvang. Óns is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat God gegee het aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.” Toe die Raad dit hoor, was hulle woedend en het hulle begin planne maak om die apostels dood te maak. Maar een van die Raadslede het opgestaan. Hy was ’n Fariseër met die naam Gamaliël, ’n geëerde wetskenner van Moses en baie gerespekteer deur al die mense. Hy het opgestaan en gevra dat die apostels ’n rukkie moet uitgaan. Hy het sy kollegas toe soos volg toegespreek: “Geagte Israeliete, wees versigtig wat julle met hierdie mans gaan doen! ’n Tyd gelede het ene Teudas na vore getree en daarop aanspraak gemaak dat hy iemand besonders is. Omtrent 400 man het by hom aangesluit. Hy is egter tereggestel, en al sy volgelinge is verstrooi. Dié hele beweging het op niks uitgeloop nie. Na hom, in die tyd van die sensus, was daar Judas die Galileër. Hy het ’n opstand georganiseer en ’n klomp mense is agter hom aan. Ook hý is om die lewe gebring, en al sy volgelinge is uitmekaargejaag. “Wat die huidige geval betref, is my aanbeveling daarom aan julle: Laat staan hierdie mense en los hulle uit. As hulle beplanning en aksies mensewerk is, sal daar niks van kom nie. As dit egter van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. Netnou word daar bevind dat julle selfs teen God geveg het!” Die Raad het sy advies aanvaar. Hulle het die apostels ingeroep en hulle laat slaan. Toe het hulle hulle belet om weer in die Naam van Jesus te praat, en hulle laat gaan. Die apostels het van die Raad af weggegaan, bly dat God hulle werd geag het om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly. En elke dag het hulle aangehou om mense in die tempel en van huis tot huis te onderrig en die Goeie Nuus te preek dat Jesus die Messias is.