Hulle het hul dan gebring en voor die Raad gestel; en die hoëpriester het hulle gevra en gesê: Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring. En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense. Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan 'n kruishout te hang. Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk. En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is. Toe hulle dit hoor, was hulle woedend en wou hulle om die lewe bring. Maar 'n Fariseër met die naam van Gamáliël, 'n leraar van die wet wat by die hele volk hoog in aansien was, het in die Raad opgestaan en bevel gegee dat hulle die apostels 'n bietjie buitentoe moes bring. Toe sê hy vir hulle: Israeliete, pas op wat julle gaan doen met hierdie manne; want nie lank gelede nie het Theudas opgestaan en gesê dat hy iets besonders was. By hom het 'n aantal mense — omtrent vierhonderd — aangesluit. Hy is gedood, en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het tot niet geword. En ná hom het Judas, die Galiléër, opgestaan, in die dae van die inskrywing, en 'n aansienlike getal mense afvallig gemaak agter hom aan. Hy het ook omgekom, en almal wat na hom geluister het, is verstrooi. En nou sê ek vir julle, bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie — dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie. En hulle het na hom geluister. En nadat hulle die apostels ingeroep het, het hulle hul laat slaan en hulle bevel gegee om nie in die Naam van Jesus te spreek nie en hulle laat gaan. Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly. En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.
Lees HANDELINGE 5
Deel
Vergelyk alle weergawes: HANDELINGE 5:27-42
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's