HANDELINGE 4:23-31
HANDELINGE 4:23-31 Bybel vir almal (ABA)
Petrus en Johannes kon toe huis toe gaan. Hulle het na die ander gelowiges toe gegaan en hulle het vir die gelowiges alles vertel wat die priesterleiers en die familieleiers vir hulle gesê het. Toe die gelowiges dit hoor, het hulle saam ernstig tot God gebid en gesê: “Here, U het die hele wêreld gemaak: die hemel, die aarde, die see, en ook alles in die wêreld. U het met die Heilige Gees gepraat, en die Heilige Gees het met u dienaar Dawid, ons voorvader, gepraat, en toe het Dawid geskryf: “ Hoekom het die heidene geraas? Hoekom het hulle planne gemaak wat niks sal help nie? Die konings van die aarde het opstandig geword, en die mense wat regeer, het bymekaargekom en planne gemaak teen die Here en teen sy gesalfde. “Want dit is wat regtig in hierdie stad gebeur het. Koning Herodes en Pontius Pilatus het saam met die heidene en die volk Israel bymekaargekom teen u heilige Dienaar Jesus. U het Hom gesalf. Hulle het gedoen wat U lank gelede besluit het. En wat U besluit het, sal gebeur. Here, hulle hou aan om te sê dat hulle ons sal straf. U moet nou vir ons, u dienaars, help sodat ons nie bang sal wees om u boodskap te bring nie. U moet ook aanhou om mense gesond te maak, en U moet tekens en wonderwerke laat gebeur wanneer die apostels die Naam noem van u heilige Dienaar Jesus.” Toe hulle klaar gebid het, het God die plek laat skud waar hulle bymekaar was. Die Heilige Gees het in almal gekom en hulle het toe die boodskap van God gebring, hulle was nie bang nie.
HANDELINGE 4:23-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En nadat hulle losgelaat was, het hulle na hul eie mense gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het. En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het, wat deur die mond van u kneg Dawid gesê het: Waarom het die nasies gewoed en die volke nietige dinge bedink? Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind. En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek, deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind. En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.
HANDELINGE 4:23-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nadat Petrus en Johannes losgelaat is, het hulle na hulle medegelowiges toe gegaan en vir hulle vertel wat die priesterhoofde en die familiehoofde alles vir hulle gesê het. Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: “Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. En U het deur die Heilige Gees by monde van ons voorvader Dawid, u dienaar, gesê: “Waarom het heidennasies te kere gegaan, en het volke sinlose planne beraam? Die konings van die aarde het in opstand gekom, en die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Gesalfde. “Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het. “En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig. Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.” Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.
HANDELINGE 4:23-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ná hulle vrylating het Petrus en Johannes na hulle eie mense gegaan en hulle vertel wat die leierpriesters en die familiehoofde alles vir hulle gesê het. Toe hulle dit hoor, het hulle God eensgesind aangeroep en gesê: “Here, U is die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het, wat by monde van ons vader Dawid, u dienskneg, deur die Heilige Gees gesê het: “ ‘Waarom gaan die heidennasies tekere, en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde neem stelling in, en die leiers span saam teen die Here en teen sy Gesalfde.’ “Want inderdaad, in hierdie stad het hulle – Herodes en Pontius •Pilatus, saam met die heidennasies en die volke van Israel – saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur. En nou, Here, slaan ag op hulle dreigemente, en gee dat u diensknegte u boodskap met alle vrymoedigheid verkondig, deur u hand uit te strek tot genesing, en deurdat tekens en wonders deur die Naam van u heilige Dienskneg Jesus plaasvind.” Terwyl hulle gebid het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud en almal is vervul met die Heilige Gees, en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig.
HANDELINGE 4:23-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe hulle losgelaat is, het hulle na hul eie geselskap gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het. En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig hul stem tot God verhef en gesê: Here, U is God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het. Wie het deur die mond van u kneg Dawid gesê: Waarom het die heidene woedend gemaak en het die volk nietige dinge voorgestel? Die konings van die aarde het opgestaan, en die owerstes het bymekaargekom teen die Here en teen sy Christus. Want waarlik teen u heilige Kind Jesus, wat U gesalf het, het Herodes sowel as Pontius Pilatus, saam met die heidene en die volk Israel, vergader, Om alles te doen wat u hand en u raad vooraf bepaal het om te doen. En nou, Here, kyk na hulle dreigemente; en gee aan u dienaars, dat hulle met alle vrymoedigheid u woord kan spreek, Deur u hand uit te steek om te genees; en dat tekens en wonders gedoen mag word deur die Naam van u heilige Kind Jesus. En toe hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud; en hulle is almal vervul met die Heilige Gees, en hulle het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.
HANDELINGE 4:23-31 Die Boodskap (DB)
Nadat Petrus en Johannes vrygelaat is, het hulle na die ander gelowiges teruggegaan en vir hulle vertel dat die Joodse Raad hulle verbied het om met ander mense oor Jesus te praat. Toe het almal saamgebid: “O Here, U het alles gemaak: die hemel en die aarde en ook die see. Alles wat daarin is, is die werk van u hande. “U Heilige Gees het vroeër deur Dawid vir ons gesê: ‘Waarom maak al die nasies so ’n groot lawaai? Waarom beraam mense sulke nuttelose planne? Al die leiers van die wêreld maak hulle reg vir oorlog, al die heersers kom staan saam. Hulle teiken is die Here self, en sy Messias.’ “Ons sien nou hoe Dawid se woorde hier in ons eie stad waar word. Nou die dag het Herodes en Pontius Pilatus die heidene en die Israeliete laat saamspan teen u eie Seun. Maar hulle het U nie onkant betrap nie. U het u plan om ons te red juis op hierdie manier waar laat word. “Nou is hierdie spul mense al weer besig met hulle bose planne. Sien asseblief tog raak hoe hulle ons probeer bangpraat. Ons is u diensknegte. Help ons sodat ons nie vir hulle bang sal wees nie. Help ons om steeds te bly praat oor u wonderlike plan om sondaars te red. Raak ander mense ook aan sodat daar nog baie groot wonderwerke en genesings sal plaasvind oral waar ons oor U praat. Doen dit asseblief deur u Dienaar, Jesus.” Na hierdie gebed het die gebou waarin die gelowiges bymekaar was, begin skud. Dit is veroorsaak deur die Heilige Gees wat met sy groot krag opnuut van hulle lewens besit geneem het. Hy het hulle gehelp om vreesloos aan te hou om oor God te praat en sy woord bekend te maak.
HANDELINGE 4:23-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe hulle vrygelaat is, het Petrus en Johannes dadelik die ander gelowiges opgesoek en vir hulle vertel wat die priesterhoofde en die familiehoofde alles gesê het. Toe het al die gelowiges saam tot God gebid: “Almagtige Here, Skepper van die hemel en die aarde, die see en alles daarin – U het lank gelede u dienaar, ons voorvader Dawid, deur die Heilige Gees laat sê: ‘Waarom het die nasies tekere gegaan? Waarom het die volke sinlose planne beraam? Die konings van die aarde het hulle slaggereed gemaak; die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Messias.’ “Dit is wat hier in hierdie stad gebeur het! Herodes Antipas, Pontius Pilatus die goewerneur, die ander volke en die volk Israel het saamgespan teen Jesus, u heilige Dienaar, wat deur U toegerus is vir sy taak. Eintlik was alles wat hulle gedoen het, volgens u beskikking en besluit. En nou, Here, hoor hoe dreig hulle ons. Gee dat ons, u diensknegte, u woord met waagmoed sal verkondig. Steek u hand uit en bewerk genesing, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.” Na hierdie gebed het die gebou waar hulle bymekaar was, geskud, en hulle is almal met die Heilige Gees vervul. En hulle het God se boodskap onverskrokke verkondig.