Handelinge 4:23-31

Handelinge 4:23-31 ABA

Petrus en Johannes kon toe huis toe gaan. Hulle het na die ander gelowiges toe gegaan en hulle het vir die gelowiges alles vertel wat die priesterleiers en die familieleiers vir hulle gesê het. Toe die gelowiges dit hoor, het hulle saam ernstig tot God gebid en gesê: “Here, U het die hele wêreld gemaak: die hemel, die aarde, die see, en ook alles in die wêreld. U het met die Heilige Gees gepraat, en die Heilige Gees het met u dienaar Dawid, ons voorvader, gepraat, en toe het Dawid geskryf: “ Hoekom het die heidene geraas? Hoekom het hulle planne gemaak wat niks sal help nie? Die konings van die aarde het opstandig geword, en die mense wat regeer, het bymekaargekom en planne gemaak teen die Here en teen sy gesalfde. “Want dit is wat regtig in hierdie stad gebeur het. Koning Herodes en Pontius Pilatus het saam met die heidene en die volk Israel bymekaargekom teen u heilige Dienaar Jesus. U het Hom gesalf. Hulle het gedoen wat U lank gelede besluit het. En wat U besluit het, sal gebeur. Here, hulle hou aan om te sê dat hulle ons sal straf. U moet nou vir ons, u dienaars, help sodat ons nie bang sal wees om u boodskap te bring nie. U moet ook aanhou om mense gesond te maak, en U moet tekens en wonderwerke laat gebeur wanneer die apostels die Naam noem van u heilige Dienaar Jesus.” Toe hulle klaar gebid het, het God die plek laat skud waar hulle bymekaar was. Die Heilige Gees het in almal gekom en hulle het toe die boodskap van God gebring, hulle was nie bang nie.

Video vir Handelinge 4:23-31

Gratis leesplanne en oordenkings oor Handelinge 4:23-31