HANDELINGE 20:1-38

HANDELINGE 20:1-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Met die betoging verby, het Paulus die gelowiges bymekaargeroep en hulle moed ingepraat. Daarna het hy hulle gegroet en Masedonië toe vertrek. Op sy reis daarheen het hy die gelowiges met baie preke bemoedig. Hy kom toe in Griekeland aan waar hy drie maande deurgebring het. Toe hy op die punt gestaan het om Sirië toe te vaar, het ’n komplot teen hom aan die lig gekom. Hy het toe besluit om landlangs deur Masedonië na Sirië toe terug te gaan. Heelwat mans het saam met Paulus gereis. Hulle was Pirrus se seun Sopater van Berea, Aristargus en Sekundus, albei van Tessalonika, Gaius van Derbe, Timoteus, en Tigikus en Trofimus, albei van die provinsie Asië. Hulle het vooruit gegaan en in Troas vir ons gewag. Na die Pasga het ons per skip van Filippi af vertrek en vyf dae later by hulle in Troas aangekom. Daar het ons ’n week gebly. Ons het die Sondag bymekaargekom vir die maaltyd van die Here. Paulus het ’n bespreking met hulle gehou, en omdat hy die volgende dag wou vertrek, het hy tot middernag aanhou praat. Daar was taamlik baie lampe in die bovertrek waar ons vergader het. Terwyl Paulus aanhou en aanhou met die bespreking, het ’n jong man met die naam Eutigus, wat op die vensterbank gesit het, in ’n diep slaap begin wegsink. Vas aan die slaap het hy uit die derde verdieping tot onder geval. Hulle het hom as ’n lyk opgetel. Paulus het ondertoe gegaan, op Eutigus gaan lê, sy arms om hom gesit en gesê: “Moenie julle ontstel nie. Hy lewe!” Paulus het weer boontoe gegaan, brood gebreek en geëet. Hy het nog ’n hele ruk met hulle gepraat, tot dagbreek toe, en toe vertrek. Die mense het die seun lewend huis toe gevat. Dit was vir hulle ’n buitengewoon bemoedigende ervaring. Paulus is landlangs Assus toe, maar ons is vooruit na die skip toe en het na Assus gevaar, waar Paulus afgespreek het dat hy aan boord sou gaan. Hy het ons daar gekry; ons het hom aan boord geneem en Mitilene toe gevaar. Die volgende dag het ons by Chios verbygevaar. Die dag daarna het ons by Samos aangedoen, en nog ’n dag later het ons Milete bereik. Paulus het reeds voorheen besluit om by Efese verby te vaar sodat hy nie nog langer in die provinsie Asië tyd hoef deur te bring nie. Hy was haastig om, as dit kon, op Pinksterdag in Jerusalem te wees. Maar Paulus het van Milete af ’n boodskap na Efese toe gestuur om die ouderlinge van die gemeente te ontbied. Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Júlle weet dat ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het, die Here met my hele wese in alle nederigheid gedien het, en dat dit met trane gepaardgegaan het. Dan was daar ook die beproewings wat oor my gekom het vanweë die komplotte van sommige Jode. Julle weet ook dat ek nooit weggeskram het van die waarheid toe ek by julle gepreek en julle in die openbaar en in julle huise onderrig het nie. Ek het één boodskap vir Jode én Grieke gehad: dat hulle hulle tot God moet bekeer en in ons Here Jesus moet glo. “En nou is ek op pad Jerusalem toe, gebind deur die Gees. Wat dáár met my gaan gebeur, weet ek nie. Wat ek wel weet, is dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging voorlê. Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie: Om die Goeie Nuus te verkondig dat God mense liefhet sonder dat hulle iets hoef te doen om dit te verdien. “En nou is dit duidelik: Ek weet dat nie een van julle my weer sal sien nie – julle onder wie ek rondgegaan en die koningsheerskappy van God verkondig het. Daarom stel ek dit vandag duidelik aan julle dat dit nie my skuld is as enigeen van julle verlore gaan nie, want ek het nie weggeskram daarvan om die volle plan van God aan julle te verkondig nie. “Pas julleself op en die hele kudde oor wie die Heilige Gees julle as ouderlinge aangestel het. Julle moet as herders die kerk van God versorg, dié kerk wat Hy vir Hom verkry het deurdat sy eie Seun gesterf het. Self weet ek dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie spaar nie. Selfs uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat, deur verdraaide dinge te verkondig, die gelowiges sal probeer verlei om hulle te volg. Daarom: Wakkerloop! Onthou dat ek vir drie jaar lank sonder ophou vir elkeen van julle die regte koers aangedui het, dag en nag, en met trane. “En nou vertrou ek julle aan God toe en aan die boodskap van die genade wat Hy aan mense bewys. Dié boodskap is in staat om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfporsie belowe het. “Ek het niemand se silwer of goud of klere begeer nie. Julle weet self dat hierdie twee hande van my voorsien het in my behoeftes en in die behoeftes van dié wat saam met my was. In alles het ek vir julle ’n voorbeeld gestel dat ons só hard moet werk dat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus: ‘Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang.’” Toe Paulus klaar gepraat het, het hy saam met hulle almal gekniel en gebid. Almal het baie gehuil en Paulus omhels en hom gesoen. Hulle was veral hartseer oor sy stelling dat hulle hom nie weer sou sien nie. Toe het hulle hom skip toe gevat.

HANDELINGE 20:1-38 Bybel vir almal (ABA)

Die mense in die stad Efese het geskree en geraas, en toe hulle ophou, het Paulus die gelowiges laat roep en hy het hulle bemoedig. Toe het hy hulle gegroet en hy het na die provinsie Masedonië gegaan. Hy het deur die provinsie Masedonië gegaan en hy het die gelowiges baie bemoedig. Hy het verder gegaan totdat hy in Griekeland gekom het en hy het drie maande lank daar gebly. Hy het besluit om met die skip na die provinsie Sirië te seil, maar hy het gehoor dat die Jode 'n geheime plan gemaak het om hom dood te maak. Daarom het hy besluit om deur Masedonië terug te gaan na Sirië. Hierdie manne het saam met Paulus gegaan: Sopater, die seun van Pirrus van die stad Berea, en ook Aristargus en Sekundus, hulle was twee gelowiges van die stad Tessalonika, ook Gaius van die stad Derbe, en Timoteus en twee gelowiges van die provinsie Asië, hulle name was Tigikus en Trofimus. Party van hulle het eerste gegaan, en hulle het vir ons gewag in die stad Troas. Nadat die Fees van die Ongesuurde Brood verby was, het ons met die skip weggeseil van die stad Filippi. Nadat ons vyf dae geseil het, het ons in die stad Troas aangekom, die ander manne was al klaar daar. Ons het sewe dae lank daar gebly. Op die eerste dag van die week het ons in die aand bymekaargekom en ons het almal saam geëet. Paulus het met die gelowiges gepraat. Hy wou die volgende dag verder gaan en daarom het hy baie lank gepraat, hy het gepraat tot in die middel van die nag. Ons was almal bymekaar in die bo-kamer, en daar het baie lampe in die kamer gebrand. Eutiges, 'n jongman, het in die venster gesit en luister. Toe Paulus baie lank aanhou praat, het Eutiges baie vaak geword en hy het aan die slaap geraak. Eutiges het so vas geslaap dat hy uitgeval het by die venster. Hy het van die tweede verdieping tot op die grond geval. Toe die mense hom optel, was hy dood. Paulus het afgekom na onder en hy het op Eutiges gaan lê. Hy het sy arms om Eutiges gesit en gesê: “Julle moenie so hard huil en treur nie! Hy is nie dood nie, hy lewe.” Toe het Paulus weer boontoe gegaan. Nadat hy geëet het, het hy nog 'n lang tyd met die gelowiges gepraat, hy het gepraat tot dit oggend geword het. Toe het hy verder gegaan. Die gelowiges het die seun weggeneem, hy het gelewe. Dit wat gebeur het, het die gelowiges baie bemoedig. Ons het voor Paulus met die skip na die stad Assus geseil. Ons wou vir Paulus by Assus oplaai. Paulus het gesê ons moet dit doen, want hy wou self oor die land na Assus gaan. Toe Paulus ons in Assus ontmoet, het ons hom opgelaai en na die stad Mitilene geseil. Ons het van Mitilene verder geseil en die volgende dag was ons oorkant die eiland Chios. Die volgende dag het ons verby die eiland Samos gegaan en die dag daarna het ons by die stad Milete aangekom. Ons het nie met die skip by die stad Efese gestop nie, want Paulus het besluit dat ons verby die stad Efese moet gaan, hy wou nie in die provinsie Asië bly nie, want dan sou dit te lank wees voordat ons in Jerusalem kom. Hy was haastig om in Jerusalem te kom. Hy wou graag op die dag van die Pinksterfees in Jerusalem wees. Toe ons in die stad Milete was, het Paulus 'n boodskap na die ouderlinge van die gemeente in die stad Efese gestuur. Hy het vir hulle gesê hulle moet na hom toe kom in Milete. Toe hulle by Paulus kom, het hy vir hulle gesê: “Julle weet wat ek alles gedoen het, die hele tyd van die eerste dag af toe ek in die provinsie Asië gekom het. Julle weet dat ek die Here gedien het, dat ek baie nederig was, dat ek baie gehuil het en dat ek baie swaar gekry het omdat die Jode geheime planne gemaak het om my dood te maak. Julle weet dat ek altyd dinge gedoen het wat vir julle gehelp het. Ek het vir julle vertel van God se boodskap en ek het vir julle geleer, ek het dit gedoen waar almal dit kon sien en ek het dit ook in julle huise gedoen. Julle weet dat ek ernstig gepraat het met Jode en ook met Grieke. Ek het vir hulle gesê hulle moet verander en hulle moet lewe soos God wil hê. En ek het vir hulle gesê hulle moet glo in ons Here Jesus. “Nou gaan ek na Jerusalem, want die Heilige Gees wil hê ek moet daarnatoe gaan, en ek is gehoorsaam aan die Heilige Gees. Ek weet nie wat in Jerusalem met my sal gebeur nie. Maar ek weet die Heilige Gees sê in elke stad vir my dat mense my in die tronk sal gooi en dat hulle my baie swaar sal laat kry. Maar ek is nie bekommerd oor my eie lewe nie, ek is niks bekommerd nie. Ek wil net een ding doen, ek wil my werk klaarmaak. Dit is die werk wat die Here Jesus vir my gegee het om te doen. Ja, ek moet vir mense die goeie boodskap bring dat God genadig is. “Ek was by julle en ek het vir julle gepreek en gesê dat God Koning is. Maar nou weet ek dat niemand van julle my weer sal sien nie. Daarom sê ek nou vir julle, en dit is waar: Dit is nie my skuld as een van julle verlore gaan nie, want ek was nie bang nie, ek het vir julle alles van God se plan vertel. Julle moet seker maak dat julle lewe soos God wil hê. Julle moet ook seker maak dat al die gelowiges lewe soos God wil hê. Die Heilige Gees het gesê julle moet ouderlinge wees van daardie gelowiges. Julle moet hulle oppas soos 'n herder 'n trop skape oppas. Hulle is God se kerk. Sy Seun het gesterf, en so het God hulle gekoop. Ek weet dat daar vals leermeesters na julle toe sal kom wanneer ek weg is. Hulle sal wees soos wrede wolwe wat 'n trop skape doodmaak. Ja, party van julle sal self begin om verkeerde dinge te sê, en hulle sal probeer om die gelowiges die verkeerde dinge te laat glo wat húlle glo. Daarom moet julle versigtig wees. Julle moet onthou dat ek drie jaar lank baie swaar gekry het en dat ek elke dag en elke nag vir julle almal geleer het om reg te lewe, ek het nooit opgehou om dit te doen nie. “En nou bid ek en ek vra vir God dat Hy vir julle moet sorg en dat julle altyd die boodskap sal onthou dat God genadig is. Daardie boodskap kan julle geloof sterk maak en dit kan julle help om te weet dat God vir julle die dinge sal gee wat Hy belowe het om vir al die gelowiges te gee. “Ek wou nooit iemand anders se silwer of goud of klere hê nie. Julle weet self dat ek met my eie hande gewerk het om vir myself te sorg en ook vir die mense wat saam met my was. Ek het dit alles gedoen, want ek wou vir julle wys dat ons so moet werk om vir die mense te help wat swak is. Ons moet ook onthou wat die Here Jesus self gesê het. Hy het gesê: ‘As 'n mens vir ander mense iets gee, dan is jy baie méér gelukkig as wanneer hulle vir jóú iets gee.’ ” Nadat Paulus klaar gepraat het, het hy saam met al die ouderlinge gekniel en gebid. Toe het almal baie gehuil en hulle het hulle arms om Paulus gesit en hom gesoen. Hulle was baie hartseer omdat Paulus gesê het dat hulle hom nie weer sal sien nie. Toe het hulle saam met hom tot by die skip geloop.

HANDELINGE 20:1-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN nadat die oproer verby was, het Paulus die dissipels na hom geroep en gegroet en het vertrek om na Macedónië te reis. En hy het daardie streke deurgegaan, en nadat hy hulle met baie woorde bemoedig het, in Griekeland gekom. En daar het hy drie maande gebly; maar toe die Jode teen hom saamgespan het, terwyl hy juis na Sírië sou afvaar, het hy besluit om deur Macedónië terug te gaan. En tot in Asië het Sópater van Beréa hom vergesel, en van die Thessalonicense, Aristárchus en Secúndus, en Gajus van Derbe en Timótheüs, en uit Asië Tíchikus en Trófimus. Hulle het vooruitgegaan en in Troas op ons gewag. Maar ná die dae van die ongesuurde brode het ons van Filíppi uitgeseil en binne vyf dae by hulle in Troas gekom, waar ons sewe dae deurgebring het. En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek, en hy het sy rede gerek tot middernag toe. En daar was baie lampe in die bovertrek waar hulle vergader het. En 'n sekere jongman met die naam van Eútichus het in die venster gesit en weggesink in 'n diepe slaap; en toe Paulus nog lank gespreek het, is hy oorweldig deur die slaap en het van die derde verdieping afgeval en is dood opgetel. Toe gaan Paulus ondertoe en val op hom en slaan sy arms om hom en sê: Moenie so te kere gaan nie, want sy lewe is in hom. En hy het boontoe gegaan en brood gebreek en geëet; en nadat hy nog 'n geruime tyd gespreek het tot dagbreek toe, het hy vertrek. En hulle het die seun lewendig huis toe weggebring en was uitermate getroos. Maar ons het vooruit op die skip gegaan en afgevaar na Assus, waar ons van plan was om Paulus aan boord te neem; want so het hy dit bestel, omdat hy self te voet wou gaan. Toe hy ons dan in Assus ontmoet, het ons hom aan boord geneem en by Mitiléne gekom. En daarvandaan het ons weggevaar en die volgende dag teenoor Chios gekom, en die ander dag na Samos oorgevaar en in Trogíllion oorgebly en die dag daarop by Miléte gekom. Want Paulus het besluit om by Éfese verby te vaar, sodat hy nie in Asië tyd sou verloor nie; want hy het hom gehaas om, as dit vir hom moontlik was, op die pinksterdag in Jerusalem te wees. EN van Miléte het hy gestuur na Éfese en die ouderlinge van die gemeente laat roep. En toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: Julle weet hoe ek, van die eerste dag af dat ek in Asië aangekom het, die hele tyd by julle gewees het en die Here gedien het met alle nederigheid en baie trane en beproewinge wat oor my gekom het deur die komplotte van die Jode; hoe ek niks agtergehou het van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise, terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus. En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag. Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. En nou weet ek dat julle almal onder wie ek rondgegaan en die koninkryk van God verkondig het, my aangesig nie meer sal sien nie. Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie. En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle 'n erfdeel te gee onder al die geheiligdes. Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie; maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was. Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang. En ná hierdie woorde het hy neergekniel en met hulle almal saam gebid. En daar het 'n groot geween ontstaan van almal, en hulle het Paulus om die hals geval en hom gesoen, veral bedroef oor die woord wat hy gesê het, dat hulle sy aangesig nie meer sou sien nie. En hulle het hom na die skip begelei.

HANDELINGE 20:1-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat die oproer bedaar het, het Paulus die gelowiges bymekaargeroep en hulle moed ingepraat. Daarna het hy hulle gegroet en Masedonië toe vertrek. Op sy reis deur daardie gebiede het hy die gelowiges telkens met sy prediking bemoedig. Hy kom toe in Griekeland aan, waar hy drie maande gebly het. Toe hy op vertrek gestaan het Sirië toe, het hy van 'n Joodse komplot teen hom te hore gekom en besluit om deur Masedonië terug te gaan. Pirrus se seun Sopater van Berea het saam met Paulus gereis, en ook Aristargos en Sekundus, albei van Tessalonika, Gaius van Derbe, en Timoteus, asook Tigikus en Trofimus, albei van die provinsie Asië. Hulle het vooruitgegaan en in Troas vir ons gewag. Na die fees van die ongesuurde brood het ons van Filippi af met 'n skip vertrek en vyf dae later by hulle in Troas aangekom. Daar het ons sewe dae gebly. Ons het die Sondag bymekaargekom vir die gemeenskaplike maaltyd. Paulus het die gelowiges toegespreek, en aangesien hy die volgende dag sou vertrek, het hy tot middernag aangehou. Daar was heelwat lampe in die bovertrek waar ons bymekaar was. 'n Jongman met die naam Eutigus het op die vensterbank gesit. Hoe langer Paulus gepraat het, hoe vaker het Eutigus geword. Hy het naderhand vas aan die slaap geraak en uit die derde verdieping tot op die grond geval. Toe hulle hom optel, was hy dood. Paulus het ondertoe gegaan, hom oor Eutigus uitgestrek en hom teen hom vasgedruk en gesê: “Moet julle nie ontstel nie. Hy lewe!” Paulus het weer boontoe gegaan, brood gebreek en geëet. Hy het nog lank met hulle gepraat, tot dagbreek, en daarna vertrek. Die mense het toe die seun lewend weggebring huis toe. Hulle was buitengewoon bemoedig deur alles. Ons het vooruit per skip na Assus toe vertrek, waar ons vir Paulus aan boord sou neem. Dit was sy opdrag, omdat hy self oor land daarheen wou gaan. Toe hy ons in Assus kry, het ons hom aan boord geneem en na Mitilene toe gevaar. Daarvandaan het ons die volgende dag verder gevaar en tot regoor Chios gekom. Die dag daarna het ons Samos bereik en nog 'n dag later Milete. Paulus het besluit om by Efese verby te vaar, sodat hy nie tyd in die provinsie Asië sou verloor nie, want hy was haastig om, as dit kon, op pinksterdag in Jerusalem te wees. Van Milete af het Paulus 'n boodskap na Efese toe gestuur om die ouderlinge van die gemeente te laat roep. Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Julle weet hoe ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het, onder julle geleef het; hoe ek die Here in alle nederigheid gedien het te midde van droefheid weens die vervolginge wat ek deur die komplotte van die Jode moes verduur. Julle weet dat ek niks teruggehou het wat vir julle voordelig kon wees nie, toe ek by julle in die openbaar gepreek en julle in julle huise onderrig het. Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo. “En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie. Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag. Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig. “Ek het onder julle almal rondgegaan en die koninkryk van God verkondig, maar nou weet ek dat julle my nie weer sal sien nie. Daarom verklaar ek vandag dat dit nie my skuld is as enigeen van julle verlore gaan nie, want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie. Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters 'n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun. Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei. Wees waaksaam. Onthou dat ek elkeen van julle drie jaar lank onderrig het, aanhoudend, dag en nag, baie keer met trane. Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade. Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het. “Ek het niemand se geld of klere begeer nie. Julle weet self dat ek vir myself en vir die mense wat saam met my was, gesorg het deur met hierdie twee hande van my te werk. Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang.” Nadat Paulus dit gesê het, het hy saam met hulle almal gekniel en gebid. Almal het baie gehuil en hom omhels en gesoen. Hulle was veral hartseer omdat hy gesê het dat hulle hom nie weer sou sien nie. Daarna is hulle saam met hom na die skip toe.

HANDELINGE 20:1-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nadat die oproer bedaar het, het Paulus die dissipels ontbied en hulle moed ingepraat. Daarna het hy hulle gegroet en op sy reis na Macedonië vertrek. Hy het deur daardie streke gereis, en nadat hy hulle met baie woorde bemoedig het, het hy in Griekeland aangekom waar hy drie maande deurgebring het. Aangesien die Jode 'n komplot teen hom gesmee het net toe hy na Sirië wou vaar, het hy besluit om deur Macedonië terug te keer. Hy is vergesel deur Sopater – die seun van Pirrus – uit Berea, deur Aristargus en Sekundus van Thessalonika, Gaius van Derbe en Timoteus, sowel as Tigikus en Trofimus van Asië. Hulle het vooruit gereis en in Troas op ons gewag. Self het ons egter eers ná die dae van die Fees van die Ongesuurde Brood vanaf Filippi gevaar, en vyf dae later by hulle in Troas aangekom, waar ons sewe dae lank gebly het. Toe ons op die eerste dag van die week byeengekom het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag wou vertrek, en sy rede uitgerek tot om middernag. Daar was heelwat lampe in die bovertrek waar ons byeengekom het. 'n Jong man met die naam Eutigus het in die venster gesit, en terwyl Paulus lank bly praat het, is hy deur 'n diep slaap oorval. Oorweldig deur die slaap, het hy van die derde verdieping na onder geval, waar hy dood opgetel is. Paulus het ondertoe gegaan, op hom gaan lê, hom in sy arms geneem en gesê: “Moet julle nie ontstel nie, want daar is nog lewe in hom!” Hy het weer boontoe gegaan, brood gebreek en geëet. Daarna het hy nog vir 'n geruime tyd, tot dagbreek toe, met hulle gepraat en toe vertrek. Hulle het die seun lewend huis toe geneem en was uitermate bemoedig. Ons het vooruit gegaan na die skip en weggevaar na Assos, waar ons beplan het om Paulus aan boord te neem, aangesien hy dit so gereël het, met die bedoeling om te voet daarheen te reis. Toe hy ons by Assos ontmoet, het ons hom aan boord geneem en na Mitilene gevaar, waarvandaan ons die volgende dag weggevaar en reg oorkant Chios aangekom het. Die dag daarna het ons Samos bereik, en die daaropvolgende dag by Milete aangekom. Want Paulus het besluit om by Efese verby te vaar, sodat hy nie tyd in Asië hoef te bestee nie. Hy was gretig om, as dit kon, op die Pinksterdag in Jerusalem te wees. Uit Milete het Paulus 'n boodskap na Efese gestuur en die ouderlinge van die •gemeente ontbied. Toe hulle by hom aankom, het hy vir hulle gesê: “Julle weet dat ek vanaf die eerste dag toe ek in Asië aangekom het, die hele tyd by julle was en hoe ek die Here gedien het, in alle nederigheid en met trane, en deur die beproewinge wat oor my gekom het as gevolg van die sameswerings van die Jode. Julle weet ook hoe ek nie nagelaat het om enigiets van dit wat vir julle voordelig is, aan julle te verkondig, en aan julle in die openbaar en in julle huise te onderrig nie, terwyl ek teenoor Jode sowel as Grieke kragtig getuig het van bekering tot God en geloof in ons Here Jesus. En kyk, nou gaan ek, gebind deur die Gees, na Jerusalem, sonder om te weet wat daar met my gaan gebeur – behalwe dat die Heilige Gees van stad tot stad aan my bevestig het dat gevangenskap en swaarkry op my wag. Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie, solank ek my lewenstaak en die bedieningsopdrag wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi: om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God. “En kyk, ek weet nou dat nie een van julle onder wie ek rondbeweeg en aan wie ek die koninkryk verkondig het, my weer sal sien nie. Daarom verklaar ek op hierdie dag van vandag aan julle dat ek onskuldig is aan julle almal se bloed; want ek het nie daarvan teruggedeins om die volle heilsplan van God aan julle te verkondig nie. Pas julleself op, en ook die hele kudde oor wie die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om die gemeente van God, wat Hy deur sy eie bloed verwerf het, herderlik te versorg. Ek weet dat wrede wolwe ná my vertrek julle geledere sal binnedring en die kudde nie sal spaar nie. Selfs uit julle eie geledere sal daar manne na vore kom wat verdraaide dinge verkondig om die dissipels agter hulle aan weg te lok. Wees daarom waaksaam, en onthou dat ek vir drie jaar lank, dag en nag, nie opgehou het om 'n ieder en 'n elk van julle met trane te waarsku nie . En nou vertrou ek julle toe aan God en sy woord van genade, Hy wat die mag het om op te bou en aan julle onder almal wat geheilig is, 'n erfenis te gee. Silwer of goud of klere het ek van niemand begeer nie. Julle weet self dat ek met hierdie hande van my in my eie behoeftes voorsien het, en ook in dié van hulle saam met my. In alles het ek vir julle gewys dat 'n mens deur hard te werk, die swakkes moet help, en die woorde van die Here Jesus moet onthou toe Hy gesê het, ‘Dit maak 'n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.’ ” Nadat hy dit gesê het, het hy saam met almal gekniel en gebid. Almal het baie gehuil, en Paulus omhels en hom gesoen. Hulle was veral bedroef oor die feit dat hy gesê het hulle sal hom nie weer sien nie. Toe het hulle hom na die skip vergesel.

HANDELINGE 20:1-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En nadat die oproer opgehou was, het Paulus die dissipels na hom geroep en hulle omhels en vertrek om na Macedónië te gaan. En nadat hy deur daardie dele gegaan en hulle baie vermaan het, het hy in Griekeland gekom, En daar het drie maande gebly. En toe die Jode op hom wag, terwyl hy op die punt was om na Sirië te vaar, het hy voorgeneem om deur Masedonië terug te keer. En Sopater van Berea het hom daar na Asië vergesel; en van die Tessalonisense, Aristarchos en Secundus; en Gajus van Derbe en Timótheüs; en van Asië, Tigikus en Trofimus. Hulle wat voorgegaan het, het vir ons in Troas gebly. En ons het ná die dae van die ongesuurde brode van Filippi af weggevaar en in vyf dae by hulle in Troas gekom; waar ons sewe dae gebly het. En op die eerste dag van die week, toe die dissipels bymekaargekom het om brood te breek, het Paulus vir hulle gepreek, gereed om die volgende dag te vertrek; en het sy toespraak tot middernag voortgesit. En daar was baie ligte in die bovertrek waar hulle bymekaar was. En 'n sekere jongman met die naam van Eutigus het in 'n venster gesit, terwyl hy in 'n diepe slaap verval het; en terwyl Paulus lank besig was om te preek, het hy in die slaap weggesak en van die derde hok neergeval en is dood opgeneem. En Paulus het afgegaan en op hom geval en hom omhels en gesê: Moenie moeilikheid maak nie; want sy lewe is in hom. Toe hy dan weer opkom en brood gebreek en geëet het en 'n lang tyd gepraat het, tot dagbreek toe, het hy weggegaan. En hulle het die jongman lewendig gebring en was nie 'n bietjie vertroos nie. En ons het vooraf gegaan om te skeep en na Assos gevaar, met die bedoeling om Paulus daar in te neem; En toe hy ons in Assos ontmoet het, het ons hom ingeneem en by Mitylene gekom. En ons het daarvandaan uitgeseil en die volgende dag teenoor Chios aangekom; en die volgende dag het ons by Samos aangekom en by Trogyllium vertoef; en die volgende dag het ons by Milete gekom. Want Paulus het besluit om deur Éfese te vaar, omdat hy nie die tyd in Asië wou deurbring nie, want hy het hom gehaas, as dit vir hom moontlik was, om op Pinksterdag in Jerusalem te wees. En van Milete het hy na Éfese gestuur en die ouderlinge van die gemeente geroep. En toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: Julle weet, van die eerste dag af dat ek in Asië gekom het, hoe ek met julle was op alle tye, Dien die Here met alle nederigheid van gemoed en met baie trane en versoekings wat my oorgekom het deur die leuens van die Jode. En hoe ek niks teruggehou het wat vir julle nuttig was nie, maar julle getoon het en julle in die openbaar en van huis tot huis geleer het, Getuienis vir die Jode sowel as die Grieke van bekering tot God en geloof in onse Here Jesus Christus. En nou, kyk, ek gaan gebonde in die gees na Jerusalem, sonder om te weet wat my daar sal oorkom. Behalwe dat die Heilige Gees in elke stad getuig en sê dat boeie en beproewinge my verdra. Maar niks van hierdie dinge roer my nie, en ek ag my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek my loop met blydskap kan voltooi en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om die evangelie van die genade van God te getuig. En nou, kyk, ek weet dat julle almal onder wie ek gegaan het om die koninkryk van God te verkondig, my aangesig nie meer sal sien nie. Daarom neem ek julle vandag om op te teken dat ek rein is van die bloed van alle mense. Want ek het nie nagelaat om al die raad van God aan julle te verkondig nie. Pas dan op vir julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het, om die gemeente van God te voed wat Hy met sy eie bloed gekoop het. Want ek weet dit, dat na my heengaan wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ook uit julleself sal manne opstaan wat verkeerde dinge spreek, om dissipels agter hulle aan te trek. Daarom, waak en onthou dat ek in die verloop van drie jaar nie opgehou het om elkeen dag en nag met trane te waarsku nie. En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en aan julle 'n erfdeel te gee onder almal wat geheilig is. Ek het niemand se silwer of goud of klere begeer nie. Ja, julle weet self dat hierdie hande gedien het in my behoeftes, en aan die wat by my was. Ek het vir julle alles getoon dat julle so arbei moet om die swakkes te ondersteun en die woorde van die Here Jesus te onthou, hoe Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang. En nadat Hy dit gesê het, het Hy neergekniel en saam met hulle almal gebid. En hulle het almal hard geween en Paulus se nek omgeval en hom gesoen. Hy is veral bedroef oor die woorde wat hy gespreek het, dat hulle sy aangesig nie meer sou sien nie. En hulle het hom na die skip vergesel.

HANDELINGE 20:1-38 Die Boodskap (DB)

Na hierdie oproer het Paulus al die gelowiges in Efese bymekaar laat kom om van hulle afskeid te neem en na Masedonië vertrek.Daar het hy besoek afgelê by die gelowiges in die verskillende gemeentes. Paulus het vir hulle gesê om gehoorsaam te bly aan die Here. Daarna is hy Griekeland toe, waar hy drie maande lank die goeie nuus oor Jesus aan die mense gaan meedeel het.Sy boodskap het party van die Jode egter so ontstel dat hulle besluit het om hom dood te maak. Dit was kort voordat Paulus van plan was om per skip Sirië toe te vaar. Toe hy van hierdie komplot teen hom hoor, het hy dadelik sy reisplanne verander en deur die provinsie Masedonië gereis. ’n Paar mense het saam met hom gegaan. Daar was Sopater uit die stad Berea (die seun van Pirrus); Aristargos en Sekundus uit die stad Tessalonika; Gaius uit die stad Derbe; Tigikus en Trofimus uit die provinsie Asië, en ook Timoteus. Hulle almal het vooruit gereis en vir ons (dit is nou vir my, Lukas, en ’n paar ander metgeselle) in Troas gaan wag.Ons was op daardie tydstip nog in Filippi vir die viering van die paasfees. Na die paasfees is ons met ’n skip na Troas toe. Daar het ons sewe dae lank saam met Paulus-hulle by die gelowiges oorgebly. In Troas het ons almal op die Sondagaand bymekaargekom om saam te eet en die Here te aanbid. Ons was bymekaar in ’n groot kamer op die derde verdieping van een van die geboue in die stad. Aangesien ons die volgende dag sou vertrek, het Paulus tot lank na middernag aangehou. Daar was genoeg lampe in die vertrek sodat almal hom duidelik kon sien. ’n Jongman met die naam Eutigus het op een van die vensterbanke by ’n oop venster gesit. Later het hy vaak geword en aan die slaap geraak. Toe val hy by die venster uit. Toe die mense by hom kom, was hy reeds dood. Paulus het toe bo-oor Eutigus gekniel en sy arms om hom gesit. “Hou op om so tekere te gaan,” het hy vir die ontstelde gelowiges gesê. “Daar is nog lewe in hom.” Paulus het daarna teruggegaan na die kamer waar die gelowiges was. Eutigus ook! Almal het toe saamgeëet. Daarna het Paulus tot dagbreek oor Jesus gepraat. Eers toe die son begin opkom, is almal huis toe, Eutigus ook. Al die ander gelowiges was baie bly daaroor. Intussen het die ander van ons per skip na Assus vertrek. Ons sou Paulus daar ontmoet, soos ons afgespreek het. Hy wou graag soontoe stap. Alles het volgens plan verloop. Paulus het daar in Assus by ons aangesluit. Ons het verder met ’n skip na Mitilene gevaar.Daarvandaan het ons die volgende dag tot regoor die eiland Chios gevaar. Nog ’n dag later was ons by Samos, en ’n dag later by Milete. Paulus het besluit om nie weer in Efese te stop nie. Hy wou nie nog daar oorbly nie omdat hy graag op pinksterdag in Jerusalem wou wees. Toe ons in Milete aankom, het Paulus iemand met ’n boodskap na die leiers van die gemeente in Efese gestuur en hulle gevra om hom te kom besoek. Toe hulle daar aankom, het hy vir hulle gesê: “Vandat ek in Asië aangekom het, het ek daar by julle gebly. In nederigheid het ek alles gedoen wat die Here van my verwag het. Die Jode was baie kwaad oor alles wat ek vir die mense oor Jesus vertel het. Hulle het die een plan na die ander uitgedink om van my ontslae te raak. Daaroor was ek baie hartseer. Al was my werk hoe swaar, het ek nogtans aangehou om die goeie nuus oor Jesus bekend te maak. Ek het nooit ’n enkele deeltjie van die evangelie uitgelaat nie. Ek het die volle waarheid aan julle almal vertel, in die openbaar en ook in julle eie huise. Ek het ook by al die inwoners van julle stad, of hulle nou Jode of Grieke was, gepleit dat hulle hulle tot God moet bekeer deur in ons Here Jesus te glo. “Nou moet ek egter ’n nuwe koers inslaan. Die Heilige Gees wil hê ek moet Jerusalem toe gaan. Ek weet nie wat alles daar op my wag nie. Al wat ek weet, is dat dit nie maklik gaan wees nie. In elke plek waar ek tot nou toe was, het die Heilige Gees my duidelik laat verstaan dat swaarkry en tronkstraf my voorland is. Tog is ek nie daaroor bekommerd nie. My eie veiligheid is in elk geval nie belangrik nie. “Al wat saak maak, is dat ek doen wat die Here vir my sê om te doen. En dit is om die goeie nuus oor God se goedheid bekend te maak. “Dag na dag het ek met julle oor God se nuwe wêreld gepraat. Maar nou moet ek finaal van julle afskeid neem. Ons sal mekaar nie weer sien nie. Ek troos my egter daaraan dat ek julle die volle waarheid oor God vertel het. Daarom sê ek vandag reguit vir julle: as iemand van julle nou nog nie in God glo nie, is dit regtig nie my skuld nie. Ek het God se hele reddingsplan aan julle meegedeel, elke stukkie daarvan.” “Julle is die leiers in die kerk. Sorg dat julle self altyd op God se pad bly. Onthou: die Heilige Gees het julle aangestel om te sorg dat ander gelowiges ook op God se pad bly stap. Julle moet hulle help en hulle leer om te doen wat Hy vra. Julle is soos skaapwagters wat die Here se skape moet beskerm en versorg. Almal in die kerk behoort aan God. Hy het baie duur vir elkeen betaal. Jesus se bloed het elke gelowige uit die mag van die sonde en die dood losgekoop. “Sodra ek vertrek, sal ’n klomp slegte mense na julle toe kom wat onwaarhede oor Jesus aan julle sal kom vertel. Hulle het net een doel voor oë: om gelowiges deurmekaar te maak met hulle skewe leringe. Hulle is soos wrede wolwe wat daarop uit is om die skape te vang. Loop ook lig vir party gelowiges wat vreemde dinge oor Jesus kwytraak en die kerk probeer verlei om dinge te glo wat ek nie vir julle geleer het nie. “Wees op die uitkyk vir al hierdie onwaarhede. Waarsku die gelowiges daarteen. Onthou: ek het drie jaar lank dag en nag onder julle gewerk en julle baie ernstig gevra om op die regte pad te bly. Daarom mag julle nie toelaat dat die ware evangelie nou deur slegte mense vervals word nie.” “Ek plaas julle almal nou in God se hand. Hy sal vir julle sorg. Hy sal met sy goedheid elke dag by julle wees. Hy sal julle geloof in Hom sterk maak. God sal ook sorg dat julle elkeen ’n plek kry in die nuwe wêreld wat Hy vir al sy kinders gereedmaak. “Toe ek by julle was, het ek nooit vir julle gesê om my ’n salaris te betaal nie. Ek het ook nie by julle kom geld bedel of ooit geskimp dat ek arm is nie. Nee, ek het met my eie twee hande gewerk om aan die lewe te bly. So kon ek vir myself en ook vir al my helpers sorg.Op dié manier wou ek vir julle wys dat julle nie net vir julleself moet lewe nie. Sien ander mense se nood en armoede raak. En help hulle. Onthou: ons Here Jesus het gesê: ‘Dit is beter om te gee as om net te wil ontvang.’” Na hierdie woorde het Paulus op sy knieë gegaan en saam met die ouderlinge gebid. Almal was baie hartseer. Hulle het geweet dat hulle mekaar nie weer sou sien nie. Met trane in hulle oë het hulle vir oulaas van mekaar afskeid geneem. Die ouderlinge het toe saam met Paulus tot by sy skip gestap en hom gegroet.