HANDELINGE 18:23-28

HANDELINGE 18:23-28 Bybel vir almal (ABA)

en hy het 'n tyd lank daar gebly. Toe het Paulus weggegaan van die stad Antiogië en hy het van die een plek na die ander plek deur die lande Galasië en Frigië gegaan. Hy het al die gelowiges bemoedig. 'n Jood, Apollos, het in die stad Efese aangekom. Hy is gebore in die stad Aleksandrië en hy was iemand wat baie goed kon praat. Hy het die Ou Testament baie goed geken. Apollos het by mense baie geleer hoe die Here wil hê 'n mens moet lewe. Hy was baie opgewonde en hy het aanmekaar daaroor gepraat. Hy het vir die mense die dinge oor Jesus reg geleer, maar hy het net geweet dat Johannes die Doper mense gedoop het. Hy het nie geweet dat die apostels ook mense gedoop het in die Naam van Jesus nie. Apollos het in die sinagoge begin preek, hy was nie bang om dit te doen nie. Toe Priscilla en Akwila hoor wat hy sê, het hulle hom saam met hulle huis toe geneem en hulle het vir hom meer vertel van die dinge van God. Toe Apollos na die land Agaje wou gaan, het die gelowiges in Efese hom bemoedig. Hulle het ook 'n brief geskryf vir die gelowiges in Agaje om te vra dat hulle vir Apollos moet sê hy is welkom. In Agaje was daar mense wat gelowiges geword het omdat God genadig was vir hulle. Nadat Apollos daar aangekom het, het hy vir hulle baie gehelp. Want hy het baie hard met die Jode gestry, al die mense kon dit sien. Hy het gewys dat hulle verkeerd is en hy het uit die Ou Testament vir hulle gelees en gewys dat Jesus die Christus is vir wie almal gewag het.

HANDELINGE 18:23-28 Die Boodskap (DB)

Na ’n kort rustydjie het hy weer begin reis, dié keer deur die landstreke van Galasië en Frigië. Hy het by al die gelowiges wat daar gebly het ’n draai gaan maak en hulle moed ingepraat. Intussen het ’n Christen met die naam Apollos in Efese aangekom. Hy was ’n Jood wat in die stad Aleksandrië in Egipte gebore is. Apollos was ’n goeie spreker. Hy het die Bybel ook goed geken. Tog was sy kennis oor Jesus nog maar gebrekkig. Hy was net met die doop van Johannes die Doper gedoop. Apollos was ’n goeie prediker. Hy het sy bes gedoen om die mense te leer hoe om Jesus na te volg. Apollos het ook in die sinagoge in Efese met die mense oor Jesus gaan praat. Priscilla en Akwila het hom daar raakgeloop. Toe hulle hoor wat hy vir die mense oor Jesus sê, het hulle besef dat hy nog nie alles mooi verstaan nie. Hulle het hom toe na hulle huis genooi. Daar het hulle die evangelie deeglik aan hom verduidelik. Apollos het daarna besluit om na die Romeinse provinsie Agaje te gaan. Die gelowiges in Efese het hom aangemoedig om dit te doen. Hulle het ’n brief geskryf wat hy moes saamvat waarin hulle vra dat die gelowiges in Agaje vir Apollos vriendelik moet ontvang en blyplek aan hom moet verskaf. Toe Apollos in Agaje opdaag, was die Christene wat daar gewoon het baie bly. Hulle kon sien dat God hom na hulle toe laat kom het, want hy het baie vir hulle almal beteken. Apollos het daar voor almal bewys dat die Jode wat nie in Jesus wou glo nie, verkeerd was. Met hulle slim redenasies was hulle nie opgewasse teen hom nie. Hy het uit die Bybel vir hulle gewys dat Jesus die Messias is.