HANDELINGE 14:1-28

HANDELINGE 14:1-28 Bybel vir almal (ABA)

Paulus en Barnabas het in die stad Ikonium dieselfde gedoen wat hulle in Antiogië gedoen het. Hulle het na die sinagoge van die Jode gegaan. Daar het Paulus en Barnabas baie oor Jesus gepraat en baie Jode en Grieke het in Jesus begin glo. Maar die Jode wat nie in Jesus wou glo nie, het vir die heidene slegte dinge van die gelowiges vertel en die heidene het vyande geword van die gelowiges. Barnabas en Paulus het 'n lang tyd daar in Ikonium gebly en hulle was nie bang om vir die mense te vertel van die genade van die Here nie. Die Here het ook gewys dat hulle boodskap waar is, want Hy het vir hulle die krag gegee om wonderwerke en tekens te doen. Die mense van die stad het in twee groepe verdeel. Die een groep het gedink die Jode is reg, maar die ander groep het gedink die apostels is reg. Toe het die heidene en die Jode en hulle leiers besluit om slegte dinge te doen aan die apostels, hulle het besluit om die apostels dood te gooi met klippe. Toe die apostels hoor wat die mense wil doen, het hulle gevlug na die stede Listre en Derbe. Hierdie stede was in die deel van die land wat die mense “Likaonië” genoem het. Hulle het daar die goeie boodskap gepreek. In die stad Listre was daar 'n man, sy voete was verlam. Hy het nooit geloop nie, vandat hy gebore is. Die man het na Paulus geluister terwyl Paulus gepraat het. Paulus het lank na hom gekyk en toe hy sien dat die verlamde man glo dat God hom gesond kan maak, het Paulus hard en duidelik gesê: “Staan op, staan regop op jou voete!” En dadelik het die man regop gespring en het hy begin rondloop. Toe die mense die wonderwerk sien wat Paulus gedoen het, het hulle hard in die taal van die mense van Likaonië geskree: “Die gode het afgekom na ons toe en hulle het soos mense geword!” Die mense het toe vir Barnabas “ Zeus” genoem en hulle het vir Paulus “ Hermes” genoem omdat Paulus die een was wat die meeste gepraat het. Die tempel van Zeus was net buite die stad. Die priester van die tempel het toe bulle en kransies van blomme na die poort van die stad gebring, en hy wou saam met die mense die bulle vir Paulus en Barnabas offer. Toe die apostels, Barnabas en Paulus, dit hoor, het hulle hulle klere geskeur. Hulle het uitgehardloop na die mense toe en het vir hulle geskree en gesê: “Mense, hoekom doen julle hierdie dinge? Ons is ook mense, soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle die gode moet los wat niks beteken nie, julle moet verander en lewe soos God wil hê, julle moet vir God dien, die God wat lewe. Hy het die hemel en die aarde en die see en al die dinge in die see gemaak. Toe al die volke voorheen gedoen het wat hulle wou doen, het God hulle nie gestraf nie. Maar God het vir die mense gewys dat Hy daar is, want Hy het goeie dinge vir hulle gegee: Hy het vir julle reën uit die lug laat val en Hy het vir julle vrugbare plante gegee. Ja, Hy het vir julle baie kos gegee en Hy het julle baie bly gemaak.” Die apostels het hierdie dinge vir die mense gesê om hulle te keer sodat hulle nie offers vir die apostels bring nie, maar die apostels het baie gesukkel om die mense te keer, die mense wou dit nog doen. Terwyl die apostels daar in Listre was, het Jode van die stede Antiogië in Pisidië en Ikonium daarnatoe gekom. Hulle het die mense anders laat dink, en die mense het vir Paulus met klippe gegooi. Daarna het hulle vir Paulus uit die stad gesleep, want hulle het gedink dat hy dood is. Daar het toe gelowiges rondom Paulus kom staan. Paulus het opgestaan en hy het ingegaan in die stad. Die volgende dag het Paulus en Barnabas weggegaan uit Listre en hulle het na die stad Derbe gegaan. Nadat Barnabas en Paulus die goeie boodskap in Derbe gebring het en nadat baie mense in Jesus begin glo het, het Paulus en Barnabas teruggegaan na die stede Listre, Ikonium en Antiogië in Pisidië. In daardie stede het Barnabas en Paulus die gelowiges bemoedig, hulle het vir die gelowiges gesê om aan te hou om in Jesus te glo. Hulle het gesê: “Ons moet eers baie swaar kry voordat ons by God sal wees, daar waar Hy, die Koning, regeer.” Barnabas en Paulus het vir elke gemeente ouderlinge gekies en aangestel, en nadat hulle gebid en gevas het, het hulle vir die Here gevra om te sorg vir die ouderlinge en die gemeentes wat in Hom geglo het. Hulle het deur die provinsie Pisidië gegaan, en toe het hulle in die provinsie Pamfilië gekom. En nadat hulle die boodskap van die Here in die stad Perge gebring het, het hulle na die hawestad Attalië gegaan. Hulle het van daar met 'n skip weer teruggegaan na die stad Antiogië in die provinsie Sirië. Dit is daar waar die mense tot God gebid het dat Hy vir Barnabas en Paulus genadig moet wees, sodat Paulus en Barnabas die werk kon doen, die werk wat hulle nou klaargemaak het. Toe Barnabas en Paulus in Antiogië gekom het, het hulle die gemeente bymekaargeroep en hulle het vir die gemeente vertel watter dinge God alles vir hulle laat doen het. Hulle het ook vertel dat God vir hulle gewys het dat die heidene ook in Jesus kan glo. Barnabas en Paulus het toe 'n lang tyd daar by die gelowiges gebly.

HANDELINGE 14:1-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN op dieselfde wyse het hulle in Ikónium in die sinagoge van die Jode ingegaan en so gespreek dat 'n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword het. Maar die ongehoorsame Jode het die gemoedere van die heidene teen die broeders opgehits en verbitter. Hulle het toe 'n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die Here, wat aan die woord van sy genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind. En die menigte van die stad was verdeeld, en sommige het met die Jode en ander met die apostels saamgegaan. Maar toe daar onder die heidene en ook onder die Jode, saam met hulle owerstes, 'n beweging ontstaan het om hulle te mishandel en te stenig, het hulle dit gewaargeword en gevlug na die stede van Likaónië, Listre en Derbe en die omstreke. En daar het hulle die evangelie verkondig. En in Listre het daar 'n man gesit wat magteloos was aan sy voete, kreupel van sy geboorte af, en hy het nooit geloop nie. Hy het geluister terwyl Paulus spreek; en Paulus het die oë op hom gehou, en, toe hy sien dat hy geloof het om gesond te word, met 'n groot stem gesê: Staan regop op jou voete! En hy het opgespring en begin rondloop. En toe die skare sien wat Paulus gedoen het, verhef hulle hul stem en sê in Likaónies: Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe. En hulle het vir Bárnabas Júpiter genoem, en vir Paulus Mercurius, omdat hy die woordvoerder was. En die priester van Júpiter wie se tempel voor hulle stad was, het stiere en kranse na die poorte gebring en wou saam met die skare offer. Maar toe die apostels, Bárnabas en Paulus, dit hoor, het hulle hul klere geskeur en onder die skare ingespring en geroep en gesê: Manne, waarom doen julle hierdie dinge? Ons is net sulke mense soos julle, en ons verkondig die evangelie dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het. Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul. Selfs met hierdie woorde het hulle met moeite die skare verhinder om aan hulle te offer. Maar daar het Jode van Antiochíë en Ikónium aangekom, en hulle het, nadat hulle die skare omgepraat het, Paulus gestenig en hom buitekant die stad gesleep, met die gedagte dat hy dood was. Maar toe die dissipels hom omring, het hy opgestaan en in die stad gekom en die volgende dag saam met Bárnabas na Derbe vertrek. En nadat hulle aan daardie stad die evangelie verkondig en 'n aantal dissipels gemaak het, het hulle teruggegaan na Listre en Ikónium en Antiochíë, en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan. En hulle het in elke gemeente vir hulle ouderlinge gekies, en hulle, ná gebed en vas, opgedra aan die Here in wie hulle geglo het. Toe gaan hulle deur Pisídië en kom in Pamfílië; en nadat hulle die woord in Perge verkondig het, het hulle afgegaan na Attálië. En daarvandaan het hulle weggevaar na Antiochíë, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle volbring het. En toe hulle daar kom en die gemeente saamgeroep het, het hulle verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het, en dat Hy 'n deur van geloof vir die heidene geopen het. En hulle het daar by die dissipels 'n geruime tyd deurgebring.

HANDELINGE 14:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

In Ikonium het Paulus en Barnabas op dieselfde manier opgetree. Hulle het weer na die Joodse sinagoge toe gegaan en daar gepreek, met die gevolg dat 'n groot aantal Jode en Grieke gelowig geword het. Maar die Jode wat nie die boodskap wou aanneem nie, het die gemoedere van die heidene opgesweep en hulle teen die gelowiges aangehits. Ten spyte hiervan het die apostels 'n geruime tyd in die stad gebly en in vertroue op die Here onbevrees gepreek. Die Here het ook die boodskap van sy genade bevestig deur die apostels tekens en wonders te laat doen. Die inwoners van die stad was verdeeld, party vir die Jode en party vir die apostels. Die heidene en die Jode saam met hulle leiers het egter oproerig begin word en wou hulle aanrand en stenig. Toe die apostels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en omgewing gevlug. Dit was twee stede in Likaonië. Daar het hulle toe die evangelie verkondig. In Listra was daar 'n man met gebreklike voete. Hy was van sy geboorte af verlam en kon nooit loop nie. Hy het geluister terwyl Paulus praat. Paulus het stip na hom gekyk en gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word. Toe roep hy na hom: “Staan regop, op jou voete!” Die man het opgespring en hy kon loop. Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het soos mense geword en het na ons toe afgekom!” Hulle het vir Barnabas Zeus genoem en vir Paulus Hermes, omdat hy die woordvoerder was. Die priester van die Zeustempel, net buitekant die stad, het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy wou saam met die mense offers aan die apostels gaan bring. Toe die apostels, Barnabas en Paulus, daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die mense ingespring en geskreeu: “Mense, wat vang julle nou aan? Ons is maar net sulke mense soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle hierdie sinlose gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. Hy het in die verlede alle nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan, maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.” Maar selfs met hierdie woorde kon die apostels nouliks voorkom dat die mense aan hulle offers bring. Toe het daar Jode van Antiogië en Ikonium af gekom en die mense na hulle kant toe oorgehaal. Hulle het Paulus met klippe gegooi en hom uit die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is. Daar het die gelowiges rondom hom kom staan, en hy het opgestaan en weer die stad ingegaan. Die volgende dag het hy en Barnabas na Derbe toe vertrek. Paulus en Barnabas het die evangelie ook in Derbe verkondig, en baie mense het daar gelowig geword. Daarna het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië toe teruggegaan. Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,” het hulle gesê. In elke gemeente het hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het. Die apostels het verder deur Pisidië na Pamfilië toe gegaan. Daar het hulle in Perge die woord verkondig en daarna na Attalië toe vertrek. Daarvandaan is hulle met 'n skip terug na Antiogië toe, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle nou voltooi het. By hulle aankoms het hulle die gemeente bymekaargeroep en vir hulle vertel wat God alles deur hulle gedoen het en dat Hy vir die heidene die deur van die geloof oopgemaak het. Die apostels het 'n geruime tyd daar by die gelowiges deurgebring.

HANDELINGE 14:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In Ikonium het dit op dieselfde manier gebeur: Hulle het die Joodse •sinagoge binnegegaan en so gepreek dat 'n groot aantal Jode en Grieke gelowig geword het. Maar die ongelowige Jode het die heidene opgesweep en hulle gemoedere vergiftig teen die broers. Tog het die •apostels 'n geruime tyd daar deurgebring en met vrymoedigheid gepreek – vol vertroue in die Here, wat die boodskap van sy genade bevestig het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle toedoen gebeur. Maar die inwoners van die stad was verdeeld – sommige het hulle by die Jode geskaar en ander by die apostels. Toe daar van die heidene sowel as die Jode, en ook hulle leiers, 'n aanslag kom om die apostels aan te rand en te stenig, het hulle dit te wete gekom en na die Likaoniese stede, Listra en Derbe, en die omliggende streke gevlug en daar die evangelie bly verkondig. In Listra het daar 'n man gesit wat nie sy voete kon gebruik nie. Hy was van sy geboorte af verlam en kon nooit loop nie. Hy het na Paulus se woorde geluister. Paulus het stip na hom gekyk, en toe hy sien dat hy die geloof het om genees te word, het hy met 'n harde stem uitgeroep: “Staan op, regop op jou voete!” En hy het opgespring en begin rondstap. Toe die skare sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het soos mense geword en na ons afgedaal!” Vir Barnabas het hulle Zeus genoem en vir Paulus, omdat hy die woordvoerder was, Hermes. Die priester van Zeus, wie se tempel net buite die stad was, het bulle en blomkranse na die stadspoorte gebring en wou saam met die skares 'n offer bring. Toe die •apostels Barnabas en Paulus daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur, tussen die skare ingespring en geskreeu: “Mense, waarom doen julle dit? Ons is ook in alle opsigte mense, net soos julle! Ons verkondig aan julle die evangelie dat julle van hierdie nuttelose dinge moet wegdraai na die lewende God, wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het. Al die heidennasies het Hy in vorige geslagte toegelaat om op hulle eie paaie te gaan, maar tog het Hy geen onduidelike getuienis van Homself gegee nie, deur goeie dinge te doen: Hy het uit die hemel aan julle reën en vrugbare seisoene gegee, en julle liggame met kos en julle harte met vreugde gevul.” Maar selfs al het hulle dit gesê, het hulle beswaarlik die skare daarvan weerhou om offers aan hulle te bring. Maar daar het Jode uit Antiogië en Ikonium aangekom en die skare oorgehaal. Hulle het Paulus gestenig en hom uit die stad gesleep, omdat hulle gedink het hy is dood. Maar toe die dissipels rondom hom gaan staan, het hy opgestaan en die stad binnegegaan. Die volgende dag het hy saam met Barnabas na Derbe vertrek. Nadat hulle die evangelie in daardie stad verkondig en 'n redelike aantal dissipels gewerf het, het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië teruggekeer. Hulle het die dissipels geestelik versterk, hulle aangemoedig om in die geloof te volhard en gesê: “Ons moet deur baie ontberings heen in die •koninkryk van God ingaan.” Hulle het in elke •gemeente vir hulle ouderlinge aangestel, en nadat hulle gebid en gevas het, hulle opgedra aan die Here in wie hulle nou geglo het. Nadat hulle deur Pisidië gereis het, het hulle na Pamfilië gegaan, waar hulle in Perge die woord verkondig het. Daarna het hulle na Attalië afgereis, en daarvandaan gevaar na Antiogië, waar hulle vroeër aan die genade van God opgedra is vir die werk wat hulle nou voltooi het. Met hulle aankoms het hulle die gemeente saamgeroep en vertel van alles wat God met hulle gedoen het, en dat Hy vir die heidene 'n deur tot die geloof oopgemaak het. Hulle het 'n lang tyd saam met die dissipels daar deurgebring.

HANDELINGE 14:1-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit het gebeur in Ikonium dat hulle altwee saam in die sinagoge van die Jode ingegaan het, en so gespreek het, dat 'n groot menigte Jode as ook Grieke gelowiges geword het. Maar die ongelowige Jode het die heidene aangehits en hulle verstand sleg gemaak teen die broeders. Hulle het dan lank gebly en met vrymoedigheid in die Here gespreek, wat getuig het van die woord van sy genade en tekens en wonders deur hulle hande laat doen het. Maar die menigte van die stad was verdeeld: en 'n deel met die Jode vasgehou en 'n deel met die apostels. En toe daar 'n aanval was van die heidene sowel as die Jode met hulle owerstes, om hulle te beledig en te stenig, Hulle het dit opgepas en gevlug na Listre en Derbe, stede van Likaonië, en na die omgewing wat rondom lê. En daar het hulle die evangelie verkondig. En daar het 'n sekere man in Listre gesit, magteloos aan sy voete, 'n kreupel van sy moeder se skoot af, wat nog nooit gewandel het nie. Hy het Paulus hoor praat: wat hom vas aanskou en bemerk het dat hy geloof het om gesond te word, Met 'n groot stem gesê: Staan regop op jou voete. En hy het gespring en geloop. En toe die skare sien wat Paulus gedoen het, het hulle hul stem verhef en in die toespraak van Likaónië gesê: Die gode het na ons neergedaal in die gelykenis van mense. En hulle het Barnabas Jupiter genoem; en Paulus, Mercurius, omdat hy die hoofspreker was. Toe het die priester van Jupiter, wat voor hulle stad was, osse en kranse na die poorte gebring en wou saam met die volk geoffer het. En toe die apostels, Barnabas en Paulus, daarvan hoor, het hulle hul klere geskeur en tussen die mense in gehardloop en uitgeroep: en gesê: Menere, waarom doen julle hierdie dinge? Ons is ook manne van soortgelyke hartstogte as julle, en verkondig julle dat julle van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het. Wat vroeër al die nasies toegelaat het om in hul eie weë te wandel. Maar Hy het Homself nie sonder getuienis gelaat nie, deurdat Hy goed gedoen het en ons reën uit die hemel gegee het en vrugbare tye, en ons harte vervul het met voedsel en blydskap. En met hierdie woorde het hulle die volk skaars teruggehou, dat hulle nie aan hulle geoffer het nie. En daar het sekere Jode van Antiogië en Ikonium daarheen gekom, wat die volk oorreed het en Paulus gestenig het en hom uit die stad getrek het, met die veronderstelling dat hy dood was. Maar terwyl die dissipels rondom Hom staan, het Hy opgestaan en in die stad gekom; en die volgende dag het Hy saam met Bárnabas na Derbe vertrek. En nadat hulle die evangelie aan daardie stad verkondig en baie geleer het, het hulle teruggekeer na Listre en Ikonium en Antiogië, om die siele van die dissipels te bevestig en hulle te vermaan om in die geloof te bly, en dat ons deur baie verdrukking in die koninkryk van God moet ingaan. En nadat hulle vir hulle ouderlinge in elke gemeente aangestel het en met vas gebid het, het hulle hulle opgedra aan die Here in wie hulle geglo het. En nadat hulle deur Pisidië deurgetrek het, het hulle in Pamfilië aangekom. En nadat hulle die woord in Perge verkondig het, het hulle afgegaan na Attalië. En daarvandaan het hulle na Antiogië gevaar, vanwaar hulle aan die genade van God aanbeveel is vir die werk wat hulle volbring het. En toe hulle gekom het en die gemeente bymekaargemaak het, het hulle alles vertel wat God met hulle gedoen het, en hoe Hy die deur van geloof vir die heidene oopgemaak het. En daar het hulle lank by die dissipels gebly.

HANDELINGE 14:1-28 Die Boodskap (DB)

Toe Paulus en Barnabas in Ikonium aankom, het hulle na die Joodse aanbiddingsplek toe gegaan en daar met die mense oor Jesus begin praat. ’n Groot klomp Jode en nie-Jode het toe tot bekering gekom en in Jesus begin glo.Die Jode wat geweier het om in Jesus te glo, was baie ontevrede daaroor. Hulle het begin om die res van die stad se inwoners teen hulle op te steek sodat almal baie agterdogtig teenoor hulle was. Maar Paulus en Barnabas het nog ’n hele ruk daar gepreek. Hulle was nie bang om oor die Here te praat en vir die mense van God se goedheid te vertel nie. Hulle het ook wonderwerke en allerhande buitengewone dinge gedoen. So kon die mense sien dat God regtig deur hulle praat. Die mense van Ikonium was later in twee kampe verdeel oor Paulus en Barnabas. Party was aan hulle kant, terwyl ander weer aan die kant van hulle Joodse opponente was. Diegene wat teen hulle was, het toe saam met sekere stadsraadslede besluit om hulle te laat vang. Hulle was van plan om eers vir Paulus en Barnabas ’n goeie drag slae te gee en hulle daarna met klippe dood te gooi. Paulus-hulle het daarvan te hore gekom en dadelik uit die stad padgegee. Hulle het toe in die stede Listra en Derbe gaan preek. Daar het hulle die goeie nuus oor Christus aan die mense gaan vertel. In Listra was daar ’n man wat sy voete nie kon gebruik nie omdat hy van sy geboorte af verlam was. Hy het op ’n dag gesit en luister hoe Paulus vir die mense van Jesus vertel. Paulus het na hom gekyk en agtergekom dat die man begin glo dat God sy lewe kan aanraak. Toe het Paulus hard vir hom gesê: “Staan op! Begin loop!” Die man het dadelik orent gespring en begin rondbeweeg. Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, het hulle opgewonde in hulle Likaoniese taal uitgeroep: “Die gode het mense geword! Die gode het na ons toe gekom!” Hulle het gesê Barnabas is Zeus, en dat Paulus Hermes is. Paulus is Hermes genoem omdat hy al die praatwerk gedoen het. Dadelik het die hoofpriester van Zeus se tempel, wat net buite die stad was, ’n aantal bulle en groot blomkranse begin gereed kry. Dit is na die hekke van die stad gebring waar baie mense begin saamdrom het om ’n offer te bring. Toe die Here se twee apostels sien wat besig was om te gebeur, was hulle baie geskok. Hulle het hulle klere van ontsteltenis geskeur en dadelik na die skare toe gehardloop. “Wat vang julle aan?” het hulle bo die geraas uitgeroep. “Ons is doodgewone mense, net soos julle. “Ons het vir julle die goeie nuus oor Christus kom vertel sodat julle kan ophou om hierdie dooie gode van julle te dien. Laat staan al hierdie dinge waarmee julle besig is. Kom na die lewende God toe. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het. “In die verlede het God toegelaat dat al die volke maar hulle eie pad loop. Tog het Hy op baie maniere gewys dat Hy vir julle omgee. Hy het gesorg dat julle genoeg reën kry en dat daar groot oeste op julle lande is. Hy het julle skure vol kos gepak en julle hart met vreugde volgemaak.” Paulus en Barnabas het kliphard probeer om die skare onder beheer te kry. Uiteindelik het hulle die mense darem so ver gekry om nie ’n offer aan hulle te bring nie. Intussen het ’n groep Jode van Antiogië en Ikonium in die stad aangekom en die skare teen die twee opgesteek. Kort voor lank was die mense so opgesweep dat hulle Paulus onder die klippe gesteek het. Daarna het hulle hom tot buite die stad gesleep en hom daar vir dood laat lê. ’n Klompie gelowiges het om hom kom staan. Paulus het na ’n ruk weer bygekom en opgestaan. Later het hy die stad ingestap. Die volgende dag het hy en Barnabas na Derbe vertrek. In Derbe het Paulus en Barnabas begin om die goeie nuus oor Jesus aan die inwoners te verkondig. Baie van die mense het in Jesus begin glo. Daarna het Paulus en Barnabas weer in Listra, Ikonium en Antiogië ’n draai gaan maak. Hulle het die gelowiges moed ingepraat en hulle aangemoedig om op God se pad te volhard. “Ons gaan nog baie swaarkry voordat ons na God se wêreld toe verhuis,” het hulle ook vir die gelowiges gesê. Hulle het ook ouderlinge in hierdie gemeentes aangestel wat moes sorg dat die gelowiges op die regte pad bly. Paulus en Barnabas het saam met hulle gebid en gevas om hulle aan die Here se sorg op te dra. Van daar af het hulle twee deur Pisidië tot in Pamfilië gereis. In die stad Perge het hulle vir die mense van Jesus vertel. Daarna het hulle Attalië toe gegaan, waar hulle ’n skip na hulle tuisstad, Antiogië, gehaal het. Dit was in Antiogië waar Paulus-hulle vroeër met hulle sendingwerk begin het. Daar is Paulus en Barnabas ’n ruk vantevore deur die gelowiges aan die Here se sorg toevertrou. Nou was hulle op pad terug daarheen nadat hulle alles gedoen het wat God vir hulle gesê het om te doen. Toe hulle in Antiogië aankom, het hulle al die gelowiges bymekaargeroep en aan hulle vertel hoe God hulle gebruik het, en hoe mense wat nie Jode was nie tot geloof gekom het. God het Paulus en Barnabas op ’n wonderlike manier gebruik om die goeie nuus oor Christus met mense uit ander volke te deel. Hulle twee het daarna nog ’n hele ruk by die Christene in Antiogië gebly.

HANDELINGE 14:1-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In Ikonium het dit ook so gegaan. Paulus en Barnabas het weer die Joodse sinagoge binnegegaan en daar gepreek, en ’n groot aantal Jode en Grieke het gelowig geword. Maar die Jode wat nie oortuig geraak het nie, het die gemoedere van die nie-Jode opgesweep en hulle teen die gelowiges aangehits. Die apostels het ’n taamlike tyd daar deurgebring en in vertroue op die Here met vrymoedigheid gepreek. Die Here het ook die waarheid van die boodskap van sy genade bevestig deur te gee dat tekens en wonders deur die apostels se toedoen plaasvind. Die mense in die stad was verdeeld: party het hulle by die Jode geskaar en party by die apostels. Op ’n stadium het die nie-Jode en die Jode, saam met hulle leiers, beplan om die apostels aan te rand en met klippe dood te gooi. Toe die apostels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en die Likaonië-omgewing gevlug. Dáár het hulle toe die Goeie Nuus verkondig. In Listra was daar ’n man wat sy voete nie kon gebruik nie. Van sy geboorte af was hy verlam en kon hy nooit loop nie. Hy het geluister terwyl Paulus praat. Paulus het stip na hom gekyk en gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word. Toe het hy met ’n harde stem gesê: “Op jou voete!” Die man het opgespring en begin rondstap. Toe die skare sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het met mensliggame na ons toe afgekom!” Hulle het Barnabas “Zeus” begin noem en Paulus, omdat hy die een was wat die praatwerk gedoen het, “Hermes”. Die Zeustempel was net buite die stad. Die priester van die tempel het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy het gereedgemaak om saam met die skare offers aan die apostels te bring. Toe die apostels Barnabas en Paulus daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die skare ingespring en geskreeu: “Mense, waarom doen julle dit? Ons is mense, net soos julle. Ons bring vir julle die Goeie Nuus dat julle hierdie nikswerd kamstige gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat in hulle bestaan, gemaak het. In vorige geslagte het Hy die ander nasies toegelaat om hulle eie koers te kies, maar tog het Hy duidelike getuienis gegee dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën gegee van die hemel af, en oeste op hulle tyd; Hy het julle volop kos gegee en in julle harte volop vreugde.” Maar selfs met hierdie woorde kon die apostels skaars keer dat die mense offers aan hulle bring. Toe het daar Jode van Antiogië en Ikonium af gekom en die mense na hulle kant toe oorgehaal. Hulle het Paulus gestenig en hom uit die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is. Toe gelowiges ’n kring rondom hom begin vorm, het hy opgestaan en weer die stad ingegaan. Die volgende dag het hy en Barnabas na Derbe toe vertrek. Paulus en Barnabas het die Goeie Nuus ook in Derbe verkondig, en hulle het ’n redelike aantal volgelinge van Jesus bygekry. Daarna het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië in Pisidië toe teruggegaan. Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om vol te hou met die geloof. “Ons moet eers deur baie verdrukking gaan voordat ons voluit aan die koningsheerskappy van God kan deel hê,” het hulle gesê. In elke gemeente het hulle vir hulle ouderlinge gekies. Nadat hulle gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here in wie hulle nou geglo het. Die apostels het verder deur Pisidië gegaan en in Pamfilië gekom. Daar het hulle in Perge die woord verkondig en daarna Attalië toe vertrek. Daarvandaan het hulle na Antiogië in Sirië gevaar waar hulle aanvanklik aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle nou voltooi het. By hulle aankoms het hulle die gemeente bymekaargeroep en vir hulle vertel wat God alles deur hulle gedoen het en dat Hy ook vir die nie-Jode die deur na die geloof oopgemaak het. Hulle het ’n geruime tyd daar saam met die gelowiges deurgebring.