HANDELINGE 10:9-33

HANDELINGE 10:9-33 Bybel vir almal (ABA)

Terwyl hulle die volgende dag op die pad na Joppe was en nader kom na die stad, het Petrus op die huis se plat dak geklim om te bid. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy het honger geword en hy wou iets hê om te eet. Terwyl die mense besig was om kos te maak, het die Here vir hom iets gewys, dit was soos in 'n droom. Petrus het gesien dat die hemel oop is en dat iets soos 'n groot stuk lap afkom uit die hemel. Dit het gelyk of iemand die lap vashou aan die vier hoeke en of hy die lap tot op die grond laat sak. In die groot stuk lap was van al die soorte diere: diere wat vier pote het, diere wat op die aarde kruip en voëls. Petrus hoor toe dat Iemand vir hom sê: “Petrus, staan op, slag die diere en eet dit.” Maar Petrus het gesê: “Nee, Here, ek kan dit nie doen nie, want ek het nog nooit iets geëet wat nie aan U gewy is nie, of iets wat onrein is nie.” Maar die Persoon het die tweede maal vir hom gesê: “God het hierdie diere rein gemaak. Jy moenie sê dit is onrein nie.” Dit het drie maal gebeur, en toe het iemand weer die lap opgetrek in die hemel in. Petrus het gewonder wat die dinge beteken wat hy gesien het. Die mans wat van Kornelius gekom het, het vir mense gevra waar Simon se huis is. Terwyl Petrus oor alles gewonder het, het hulle by die voordeur van die huis gestaan. Hulle roep toe en vra of Simon daar woon. Simon se ander naam was Petrus. Terwyl Petrus gedink het oor die dinge wat hy gesien het, het die Heilige Gees vir hom gesê: “Daar is drie mans wat jou soek. Jy moet nou opstaan en afgaan na hulle toe. En jy moet saam met hulle gaan, jy moenie twyfel nie, want Ék het hulle gestuur.” Petrus klim toe af van die dak en hy gaan na die mans toe en vra vir hulle: “Julle soek my, hier is ek. Hoekom is julle hier?” Toe antwoord hulle hom: “Die offisier Kornelius is 'n regverdige man, hy respekteer vir God, en die hele Joodse volk sê goeie dinge van hom. 'n Heilige engel het vir Kornelius gesê hy moet vir jou sê om na sy huis te kom sodat hy kan luister na wat jy sê.” Petrus het toe die mans genooi om in die huis te kom en hy het gesê hulle mag die nag daar slaap. Die volgende dag het Petrus opgestaan en hy het saam met hulle gegaan. Party van die gelowiges van die hawestad Joppe het saam met hom gegaan. Die volgende dag het Petrus in Sesarea aangekom. Kornelius het klaar sy familie en sy beste vriende bymekaargeroep, hy het vir Petrus gewag en was haastig dat hy moet kom. Toe Petrus by die huis kom, het Kornelius hom gegroet en Kornelius het voor Petrus se voete gekniel soos 'n mens voor 'n koning kniel. Maar Petrus het vir Kornelius gehelp om op te staan en hy het vir hom gesê: “Staan op! Ek is self ook net 'n mens, soos jy.” Terwyl Petrus met Kornelius praat, het Petrus ingegaan in die huis. Hy sien toe daar is baie mense en hy sê vir hulle: “Julle weet dat 'n Jood nie by iemand mag wees wat nie 'n Jood is nie, 'n Jood mag ook nie vriende wees met iemand wat nie 'n Jood is nie. Maar God het vir my gewys dat ek nie mag sê dat iemand nie aan God gewy is óf dat hy onrein is nie. Daarom was ek nie ongehoorsaam nie en het ek gekom toe julle gesê het dat ek hiernatoe moet kom. Sê nou asseblief vir my hoekom het julle gesê dat ek moet kom?” Kornelius sê toe vir hom: “Drie dae gelede, op presies hierdie selfde tyd, drie-uur in die middag, was ek besig om te bid in my huis. Skielik het daar 'n man met blink klere voor my gestaan en hy het gesê: ‘Kornelius, God het geluister na jou gebed en Hy het die goeie dinge gesien wat jy gedoen het. Jy moet nou mense na die stad Joppe stuur om vir Simon te gaan haal. Die mense noem vir Simon ook Petrus. Hierdie Simon Petrus woon daar by 'n ander Simon, 'n leerlooier, sy huis is by die see.’ Daarom het ek dadelik mense na jou toe gestuur, en jy was baie vriendelik om hiernatoe te kom. Ons almal is nou hier bymekaar waar God ons kan sien. Ons is hier om te luister na alles wat die Here vir jou gesê het om vir ons te sê.”

HANDELINGE 10:9-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid; en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar 'n verrukking van sinne oor hom gekom: hy sien die hemel geopend en 'n voorwerp soos 'n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel. Toe kom daar 'n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet! En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie. En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem. En terwyl Petrus by homself daaroor verleë was wat die gesig tog kon beteken wat hy gesien het, staan die manne wat deur Cornelius gestuur was, daar by die poort en verneem na die huis van Simon. En hulle roep en vra of Simon, wat ook Petrus genoem word, daar tuis is. En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur. En Petrus het afgeklim na die manne wat deur Cornelius na hom gestuur was, en gesê: Kyk, dit is ek wat julle soek. Wat is die rede waarom julle hier is? En hulle sê: Cornelius, 'n hoofman oor honderd, 'n regverdige en godvresende man, wat 'n goeie naam het by die hele Joodse nasie, het 'n goddelike openbaring ontvang deur 'n heilige engel, om u te laat haal na sy huis om te hoor wat u sal sê. En hy het hulle binnegenooi en geherberg. En die volgende dag het Petrus saam met hulle afgereis, en enkele van die broeders uit Joppe het met hom saamgegaan. Die dag daarop het hulle in Cesaréa aangekom. En Cornelius was hulle te wagte, en hy het alreeds sy familie en besondere vriende bymekaargeroep. Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar 'n mens. En onderwyl hy met hom spreek, gaan hy binne en vind baie wat vergader het; en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir 'n Joodse man om met iemand van 'n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie. Daarom het ek, toe ek gehaal is, gekom sonder om teë te spreek. Ek vra dan om watter rede julle my laat haal het. En Cornelius sê: Vier dae gelede was ek besig om te vas tot op hierdie uur, en die negende uur het ek in my huis gebid, en meteens staan daar 'n man voor my in 'n blink kleed en sê: Cornelius, jou gebed is verhoor en jou aalmoese is voor God in herinnering gebring. Stuur dan na Joppe en laat Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy vertoef in die huis van Simon, 'n leerlooier, by die see; as hy kom, sal hy met jou spreek. Ek het toe op die daad na u gestuur, en u het goed gedoen om te kom. Ons is dan nou almal voor die aangesig van God aanwesig om alles te hoor wat deur God aan u opgedra is.

HANDELINGE 10:9-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die volgende dag teen twaalfuur die middag, toe hulle op hulle reis al naby die dorp was, het Petrus opgegaan na die dakstoep van die huis om te bid. Hy het later honger geword en hy wou iets hê om te eet. Terwyl die mense die ete klaargemaak het, het hy in geesvervoering geraak. Hy het die hemel oop gesien en iets soos 'n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, sien afkom grond toe. Daarin was van al die viervoetige en die kruipende diere van die aarde en van al die wilde voëls. Hy hoor toe 'n stem vir hom sê: “Kom, Petrus, slag en eet.” Maar Petrus sê: “Nooit nie, Here! Ek het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.” Hy hoor die stem toe weer, die tweede keer, vir hom sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.” Dit het drie keer gebeur, en daarna is die doek weer in die hemel opgetrek. Terwyl Petrus nog wonder oor die betekenis van die gesig wat hy gesien het, kom die mans wat deur Kornelius gestuur is, by die voordeur aan. Hulle was op soek na die huis van Simon en doen toe navraag of Simon wat ook Petrus genoem word, daar tuis is. Terwyl Petrus nog nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: “Daar is drie mans wat jou soek. Kom, gaan ondertoe en moenie aarsel om saam met hulle te gaan nie, want Ek het hulle gestuur.” Petrus het ondertoe gegaan en vir die mans gesê: “Hier is ek. Dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?” Hulle antwoord: “Kaptein Kornelius, 'n opregte en godvresende man vir wie die hele Joodse volk hoë agting het, het 'n openbaring deur 'n heilige engel gekry dat hy u na sy huis toe moet laat haal om te hoor wat u te sê het.” Petrus nooi hulle toe in en gee vir hulle huisvesting. Die volgende dag het hy en 'n paar van die gelowiges in Joppe saam met hulle gegaan en 'n dag later in Sesarea aangekom. Kornelius het hulle al verwag en het sy familie en huisvriende reeds bymekaar geroep. Toe Petrus daar kom, het Kornelius hom tegemoet gegaan en eerbiedig voor hom gekniel. Maar Petrus het hom laat opstaan en gesê: “Staan op! Ek is self ook maar net 'n mens.” Terwyl Petrus met Kornelius praat, gaan hy die huis binne, waar hy baie mense bymekaar aantref, en hy sê vir hulle: “Julle weet dat 'n Jood nie met iemand van 'n ander volk mag omgaan of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie. Daarom het ek sonder om teë te stribbel, gekom toe julle my laat haal het. Sê nou vir my waarom julle my laat haal het.” Kornelius antwoord: “Vier dae gelede so teen drie-uur die middag was ek in my huis besig om te bid. Toe staan daar skielik 'n man met blink klere voor my, en hy sê: ‘Kornelius, God het jou gebed verhoor en gelet op wat jy vir die armes doen. Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon, wat ook Petrus genoem word, daar haal. Hy is tuis by 'n ander Simon, 'n leerlooier, wat by die see woon.’ Ek het dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Ons is nou almal hier in die teenwoordigheid van God om te hoor wat die Here alles aan u opgedra het.”

HANDELINGE 10:9-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die volgende dag, terwyl hulle op reis was en al amper by die stad, het Petrus teen ongeveer die sesde uur na die dakstoep opgeklim om te gaan bid. Hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle besig was om die maaltyd voor te berei, het hy in geestesvervoering geraak. Hy sien toe die hemel geopen, en iets soos 'n groot linnedoek wat afsak en aan sy vier hoeke op die aarde neergelaat word. Daarin was allerhande viervoetige en kruipende diere van die aarde en voëls van die hemel. Toe kom daar 'n stem tot hom: “Staan op, Petrus, slag en eet!” Maar Petrus het geantwoord: “Onder geen omstandighede nie, Here! Want ek het nog nooit iets wat besoedel of •onrein is geëet nie. ” Maar die stem het weer, 'n tweede keer, na hom gekom: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie.” Dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is dadelik weer in die hemel opgeneem. Petrus was nog aan die twyfel oor wat die visioen wat hy gesien het, kon beteken, toe die mans wat deur Cornelius gestuur is, skielik by die poort aankom, nadat hulle oor Simon se huis navraag gedoen het. Hulle roep toe en vra of Simon, ook bekend as Petrus, daar tuisgaan. Terwyl Petrus nog nadink oor die visioen, sê die Gees vir hom: “Kyk, daar is drie manne wat na jou soek. Maak gereed, klim af en gaan sonder aarseling saam met hulle, want Ek het hulle gestuur.” En Petrus het afgeklim na die mans en gesê: “Kyk, dit is vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?” En hulle het geantwoord: “Cornelius, die centurio, 'n regverdige en godvresende man, iemand oor wie die hele Joodse volk goeie getuienis gelewer het, het deur 'n heilige engel 'n openbaring ontvang om u na sy huis te laat kom en te luister na u woorde.” Toe het Petrus hulle binnegenooi en as gaste verwelkom. En nadat hy die volgende dag gereedgemaak het, het hy saam met hulle vertrek, en sommige van die broers uit Joppe het hom vergesel. Die dag daarna het hy in Caesarea aangekom. Cornelius was hulle te wagte, en het reeds sy familie en naaste vriende bymekaar laat kom. Toe Petrus binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan, voor sy voete neergeval en hom begin aanbid. Maar Petrus het hom opgehelp met die woorde: “Staan op, ek self is ook net 'n mens. ” En terwyl hy met hom praat, het hy na binne gegaan en daar baie mense bymekaar aangetref. Hy het vir hulle gesê: “Julle weet dat dit vir 'n Joodse man verbode is om met iemand van 'n ander volk te assosieer of hom te besoek. God het egter aan my getoon dat ek geen mens as besoedel of onrein mag beskou nie. Daarom het ek sonder huiwering gekom toe ek ontbied is. Nou vra ek, waarom het julle my ontbied?” Cornelius antwoord toe: “Vier dae gelede was ek teen hierdie tyd, op die negende uur, besig om in my huis te bid. Opeens staan daar toe 'n man in 'n stralende gewaad voor my en sê, ‘Cornelius, jou gebed is verhoor en jou liefdadigheid het voor God in herinnering gekom. Stuur dan iemand na Joppe en laat haal Simon, ook bekend as Petrus. Hy is 'n gas van Simon, die leerlooier, by 'n huis langs die see. ’ Ek het toe onmiddellik mense na u gestuur, en dit is goed dat u gekom het. Hier is ons nou almal in die teenwoordigheid van God aanwesig om alles te hoor wat deur die Here aan u opgedra is.”

HANDELINGE 10:9-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die volgende dag, terwyl hulle op reis en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid. En hy het baie honger geword en sou geëet het, maar terwyl hulle gereed gemaak het, het hy in 'n beswyming geraak, En hy het die hemel oop gesien en 'n sekere voorwerp na hom toe sien neerdaal, soos dit 'n groot laken was wat aan die vier hoeke gebreid is en op die aarde neergelaat is. Waarin was allerhande viervoetige diere van die aarde en wilde diere en kruipende diere en voëls van die hemel. En daar het 'n stem na hom gekom: Staan op, Petrus! doodmaak en eet. Maar Petrus sê: Nie so nie, Here; want ek het nog nooit iets geëet wat onrein of onrein is nie. En die stem het weer vir die tweede keer met hom gesê: Wat God gereinig het, moet jy nie onheilig ag nie. Dit is drie maal gedoen, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem. En terwyl Petrus by homself twyfel wat hierdie gesig sou beteken wat hy gesien het, kyk, die manne wat van Cornelius gestuur is, het na Simon se huis navraag gedoen en voor die poort gestaan. En hy het geroep en gevra of Simon, wat Petrus genoem word, daar geloseer is. Terwyl Petrus oor die gesig nadink, sê die Gees vir hom: Kyk, drie manne soek jou. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur. Toe het Petrus afgegaan na die manne wat van Kornelius na hom gestuur is; en gesê: Kyk, dit is Ek wat julle soek. Wat is die oorsaak waarom julle gekom het? En hulle sê: Kornelius, die hoofman oor honderd, 'n regverdige man en een wat God vrees en 'n goeie gerug het onder die hele nasie van die Jode, is deur 'n heilige engel van God gewaarsku om jou in sy huis te laat roep en woorde te hoor van jou. Hy het hulle toe ingeroep en hulle vernag. En die volgende dag het Petrus saam met hulle weggegaan, en sekere broers van Joppe het hom vergesel. En die volgende dag het hulle in Cesaréa ingegaan. En Cornelius het hulle ingewag en sy bloedverwante en vriende bymekaargeroep. En toe Petrus inkom, kom Cornelius hom tegemoet en val voor sy voete neer en aanbid hom. Maar Petrus het hom opgeneem en gesê: Staan op! Ek is self ook 'n man. En terwyl hy met hom praat, het hy ingegaan en baie gekry wat bymekaar was. En hy sê vir hulle: Julle weet dat dit onwettig is vir 'n man wat 'n Jood is om geselskap te wees of na een van 'n ander nasie te kom; maar God het my laat blyk dat ek geen mens onrein of onrein mag noem nie. Daarom het ek na julle gekom sonder om te weerspreek, sodra daar na my gestuur is; En Kornelius sê: Vier dae gelede het ek gevas tot hierdie uur toe; en op die negende uur het ek in my huis gebid, en kyk, daar staan 'n man voor my in blink klere, en gesê: Kornelius, jou gebed is verhoor, en jou aalmoese word in gedagtenis gehou voor God. Stuur dan na Joppe en roep Simon, wie se van Petrus is, hierheen; hy is vernag in die huis van Simon, 'n leerlooier, langs die see; hy sal met jou spreek as hy kom. Daarom het ek dadelik na jou gestuur; en jy het goed gedoen dat jy gekom het. Nou is ons dan almal hier voor God teenwoordig, om te hoor alles wat God jou beveel het.

HANDELINGE 10:9-33 Die Boodskap (DB)

Die volgende dag, terwyl hierdie drie mans op pad was Joppe toe, het Petrus so teen twaalfuur die middag op die dak van die huis waar hy gebly het, geklim om te bid. Nadat Petrus ’n ruk lank gebid het, het hy honger geword. Hy wou iets te ete gaan kry, maar die vroue was nog nie klaar met die middagete nie.Toe het hy skielik ’n visioen gesien. Reg voor sy oë het die hemel oopgegaan en iets soos ’n laken wat aan sy vier hoeke vasgemaak is, het tot op die grond voor hom afgesak. Binne-in was allerhande soorte diere, en ook ’n klomp reptiele en voëls. ’n Stem het vir hom gesê: “Staan nader, Petrus, begin slag en eet!” “Oor my dooie liggaam. Ek sal nooit so iets doen nie, Here!” het hy geantwoord. “Ek het nog nooit in my lewe iets geëet wat in Moses se wet as onrein beskou word nie.” Die stem het weer ’n keer met Petrus gepraat: “As God sê dat jy iets kan eet, mag jy dit maar doen. Dan mag jy nie sê dit is onrein nie.” Dit het drie maal gebeur. Toe is die laken weer teruggevat in die hemel in. Terwyl Petrus nog sit en kopkrap oor wat die visioen kon beteken, het die geselskap van Kornelius af by die voordeur kom aanklop. Hulle het gevra of Petrus daar bly. Petrus het hulle nie gehoor nie. Hy het steeds gewonder wat sy visioen beteken. Daarom het die Heilige Gees vir hom gesê:“Daar by die voordeur staan drie mans wat op soek is na jou. Gaan dadelik af ondertoe. Gaan saam met hulle na hulle huis toe. Moenie huiwer nie, want Ek het hulle gestuur om jou te kom haal.” Petrus het die mans vriendelik gaan groet en vir hulle gesê: “Julle is op soek na my. Hoekom?” Een van hulle het geantwoord: “Kornelius, ons bevelvoerder, ’n goeie man wat groot respek vir God het - u kan maar vir enige Jood vra - het by ’n engel ’n boodskap gekry om u te laat haal. U moet asseblief met hom kom praat.” Petrus het die mans ingenooi en hulle vir die nag slaapplek gegee. Die volgende dag het Petrus saam met die mans vertrek. ’n Paar gelowiges uit Joppe het ook saamgegaan. ’n Dag later het hulle in Sesarea aangekom. Intussen het Kornelius opgewonde op hulle koms gewag. Hy het selfs sy familie en vriende laat kom om saam met hom te luister na wat Petrus te sê het. Toe Petrus by Kornelius se huis opdaag, het hy nader gestap om hom te verwelkom. Hy het op sy knieë voor Petrus neergeval om hom te aanbid. “Nee, wag, hou op! Ek is ’n doodgewone mens,” het Petrus gesê. Hulle twee is die huis in. Daar het ’n groot groep mense op hulle gewag. Petrus sê toe vir hulle: “Dit wat ek nou doen, mag ons Jode eintlik nie doen nie. Soos julle weet, durf ons nie in mense uit ander volke se huise ingaan of met hulle meng nie. Maar gelukkig het God my oë oopgemaak. Hy het vir my gewys dat ek glad nie op mense uit ander volke mag neersien nie. Dis hoekom ek nie ’n oomblik gehuiwer het om hierheen te kom toe Hy my beveel het om dit te doen nie. Maar sê my, hoekom het julle my nou eintlik laat haal?” Kornelius het dadelik geantwoord: “Vier dae gelede, so omtrent dié tyd van die middag, was ek besig om hier in my huis te bid. Skielik kom staan daar ’n man met helder, blink klere by my. Hy het vir my gesê: ‘Kornelius, God het na jou gebede geluister. Hy het al die goeie dinge raakgesien wat jy vir ander mense doen. Jy moet nou dadelik mense Joppe toe stuur om vir Petrus te gaan haal. Hy bly daar in die huis van Simon die leerlooier by die see.’ “Ek het dadelik gedoen wat die engel vir my gesê het. En nou is u hier. My familie en vriende is ook hier in God se teenwoordigheid. Ons wil baie graag hoor wat die Here op u hart gelê het om vir ons te kom sê.”

HANDELINGE 10:9-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die volgende dag, toe Kornelius se afvaardiging al naby die dorp was, het Petrus dakstoep toe gegaan om te bid. Dit was teen twaalfuur die middag, en hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle die ete klaarmaak, het hy in geestesvervoering geraak. Hy het die hemel oop gesien en iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word en afkom grond toe. In die doek was allerhande diere, reptiele en voëls. ’n Stem sê toe vir hom: “Staan op, Petrus! Slag en eet!” “Nooit nie, Here!” het Petrus gesê. “Ek het nog nooit iets wat onrein is, geëet nie.” Toe kom die stem weer: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie onrein ag nie.” Dit het drie keer gebeur. Toe is die doek weer in die hemel opgetrek. Petrus was verdwaas. Wat kon die gesig tog beteken? Juis op daardie stadium kry die mans wat deur Kornelius gestuur is, die huis en hulle staan by die voordeur. Hulle was op soek na die huis van Simon en vra toe of Simon met die noemnaam Petrus daar ’n gas is. Terwyl Petrus nog wonder oor die gesig, het die Gees vir hom gesê: “Hier is drie mans wat jou soek. Gaan ondertoe en moenie huiwer om saam met hulle te gaan nie, want Ék het hulle gestuur.” Petrus het toe ondertoe gegaan en vir die mans gesê: “Hier is ek, dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?” Hulle het geantwoord: “Kornelius, ’n Romeinse offisier oor honderd man, het ons gestuur. Hy is ’n opregte man en een wat ontsag vir God het, en die hele Joodse volk het hoë agting vir hom. ’n Heilige engel het hom opdrag gegee om u na sy huis te laat haal en dat hy moet luister na wat u te sê het.” Petrus nooi hulle toe vir die nag in. Die volgende dag het hy saam met hulle vertrek, en ’n paar van die medegelowiges in Joppe het saam met hom gegaan. Hulle het die volgende dag in Sesarea aangekom. Kornelius het hulle al verwag en het sy familie en naby vriende reeds saamgeroep. Toe Petrus die huis inkom, het Kornelius voor sy voete neergeval en hom begin aanbid. Maar Petrus het hom opgehelp en ge-sê: “Staan op! Ek is ’n mens net soos jy!” En terwyl hy met hom praat, gaan hulle binne, en kry die klomp mense wat daar bymekaar is. Petrus sê toe vir hulle: “Julle weet dat ’n Jood nie met iemand van ’n ander volk kontak mag hê of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onrein mag beskou nie. Daarom het ek sonder beswaar gekom toe ek laat haal is. Ek vra dan nou waarom julle my laat haal het.” Kornelius antwoord: “Vier dae gelede was ek in my huis besig om te bid, so teen drie-uur die middag. Skielik staan daar toe ’n man met blink klere voor my. Hy sê vir my: ‘Kornelius, jou gebed is verhoor en God het jou bydraes vir die armes nie vergeet nie! Stuur mense Joppe toe en laat vir Simon met die noemnaam Petrus daar haal. Hy is ’n gas in die huis van Simon, ’n leerlooier wat naby die see woon.’ So het ek dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Hier is ons nou almal voor God om te hoor watter boodskap die Here aan u gegee het.”