Handelinge 10:9-33

Handelinge 10:9-33 DB

Die volgende dag, terwyl hierdie drie mans op pad was Joppe toe, het Petrus so teen twaalfuur die middag op die dak van die huis waar hy gebly het, geklim om te bid. Nadat Petrus ’n ruk lank gebid het, het hy honger geword. Hy wou iets te ete gaan kry, maar die vroue was nog nie klaar met die middagete nie.Toe het hy skielik ’n visioen gesien. Reg voor sy oë het die hemel oopgegaan en iets soos ’n laken wat aan sy vier hoeke vasgemaak is, het tot op die grond voor hom afgesak. Binne-in was allerhande soorte diere, en ook ’n klomp reptiele en voëls. ’n Stem het vir hom gesê: “Staan nader, Petrus, begin slag en eet!” “Oor my dooie liggaam. Ek sal nooit so iets doen nie, Here!” het hy geantwoord. “Ek het nog nooit in my lewe iets geëet wat in Moses se wet as onrein beskou word nie.” Die stem het weer ’n keer met Petrus gepraat: “As God sê dat jy iets kan eet, mag jy dit maar doen. Dan mag jy nie sê dit is onrein nie.” Dit het drie maal gebeur. Toe is die laken weer teruggevat in die hemel in. Terwyl Petrus nog sit en kopkrap oor wat die visioen kon beteken, het die geselskap van Kornelius af by die voordeur kom aanklop. Hulle het gevra of Petrus daar bly. Petrus het hulle nie gehoor nie. Hy het steeds gewonder wat sy visioen beteken. Daarom het die Heilige Gees vir hom gesê:“Daar by die voordeur staan drie mans wat op soek is na jou. Gaan dadelik af ondertoe. Gaan saam met hulle na hulle huis toe. Moenie huiwer nie, want Ek het hulle gestuur om jou te kom haal.” Petrus het die mans vriendelik gaan groet en vir hulle gesê: “Julle is op soek na my. Hoekom?” Een van hulle het geantwoord: “Kornelius, ons bevelvoerder, ’n goeie man wat groot respek vir God het - u kan maar vir enige Jood vra - het by ’n engel ’n boodskap gekry om u te laat haal. U moet asseblief met hom kom praat.” Petrus het die mans ingenooi en hulle vir die nag slaapplek gegee. Die volgende dag het Petrus saam met die mans vertrek. ’n Paar gelowiges uit Joppe het ook saamgegaan. ’n Dag later het hulle in Sesarea aangekom. Intussen het Kornelius opgewonde op hulle koms gewag. Hy het selfs sy familie en vriende laat kom om saam met hom te luister na wat Petrus te sê het. Toe Petrus by Kornelius se huis opdaag, het hy nader gestap om hom te verwelkom. Hy het op sy knieë voor Petrus neergeval om hom te aanbid. “Nee, wag, hou op! Ek is ’n doodgewone mens,” het Petrus gesê. Hulle twee is die huis in. Daar het ’n groot groep mense op hulle gewag. Petrus sê toe vir hulle: “Dit wat ek nou doen, mag ons Jode eintlik nie doen nie. Soos julle weet, durf ons nie in mense uit ander volke se huise ingaan of met hulle meng nie. Maar gelukkig het God my oë oopgemaak. Hy het vir my gewys dat ek glad nie op mense uit ander volke mag neersien nie. Dis hoekom ek nie ’n oomblik gehuiwer het om hierheen te kom toe Hy my beveel het om dit te doen nie. Maar sê my, hoekom het julle my nou eintlik laat haal?” Kornelius het dadelik geantwoord: “Vier dae gelede, so omtrent dié tyd van die middag, was ek besig om hier in my huis te bid. Skielik kom staan daar ’n man met helder, blink klere by my. Hy het vir my gesê: ‘Kornelius, God het na jou gebede geluister. Hy het al die goeie dinge raakgesien wat jy vir ander mense doen. Jy moet nou dadelik mense Joppe toe stuur om vir Petrus te gaan haal. Hy bly daar in die huis van Simon die leerlooier by die see.’ “Ek het dadelik gedoen wat die engel vir my gesê het. En nou is u hier. My familie en vriende is ook hier in God se teenwoordigheid. Ons wil baie graag hoor wat die Here op u hart gelê het om vir ons te kom sê.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Handelinge 10:9-33