2 TESSALONISENSE 1:5-10
2 TESSALONISENSE 1:5-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit is 'n bewys van die regverdige oordeel van God dat julle waardig geag word vir die •koninkryk van God, ter wille waarvan julle ook ly. Dit is inderdaad vir God reg om diegene wat julle verdruk, met verdrukking te vergeld, en verligting te gee aan julle wat saam met ons verdruk word. Hy sal dit doen deur die openbaring van die Here Jesus uit die hemel saam met sy magtige engele, in 'n vuurvlam, terwyl Hy wraak uitoefen op hulle wat God nie erken, en die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. Hulle sal gestraf word met ewige vernietiging, weg van die aangesig van die Here en sy magtige heerlikheid. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer Hy kom om deur sy •heiliges verheerlik te word – ja, om deur alle gelowiges bewonder te word – omdat ons getuienis teenoor julle geglo is.
2 TESSALONISENSE 1:5-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God sal die dinge wat julle deurmaak, gebruik om te wys dat Hy regverdig oordeel. Dit sal daarop uitloop dat julle waardig beskou sal word om in God se koningsheerskappy te deel. Dit is hiervoor dat julle ly. God is inderdaad regverdig: Hy sal julle verdrukkers met verdrukking terugbetaal. Hy sal rus gee aan julle wat verdruk word – en ook aan ons. Dit sal gebeur wanneer die Here Jesus met sy magtige engele vanuit die hemel verskyn. In ’n vlammende vuur sal Hy die mense straf wat God nie ken nie; dit is húlle wat hulle nie gesteur het aan die Goeie Nuus van ons Here Jesus nie. Hulle sal met ewige vernietiging gestraf word, weg van die Here se teenwoordigheid en sy heerlike mag af. Op daardie dag kom Hy om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort en om bewonder te word deur almal wat tot geloof gekom het – ook deur julle, want julle het ons getuienis geglo!
2 TESSALONISENSE 1:5-10 Bybel vir almal (ABA)
Julle kry swaar, en dit wys dat God reg oordeel oor mense. Julle kry nou swaar omdat julle behoort aan God wat Koning is, maar so maak God julle gereed vir die tyd wanneer Hy Koning sal wees oor almal. God doen reg, want Hy sal die mense wat vir julle verdruk, ook laat swaarkry. Julle kry nou swaar, maar God sal julle help sodat julle en ook ons nie meer sal swaarkry nie. Hy sal dit doen wanneer Hy uit die hemel die Here Jesus vir al die mense sal wys sodat hulle Hom sal sien. Dit sal gebeur wanneer Jesus van die hemel af kom saam met sy sterk engele. Dit sal wees soos 'n vuur wat brand. Hy sal almal straf wat nie vir God ken nie, dit is almal wat nie wou luister nie toe ons die goeie boodskap van ons Here Jesus gebring het. Hierdie mense se straf sal wees dat dit vir altyd baie sleg sal gaan met hulle, want die Here sal nie by hulle wees nie. Hulle sal nie kan sien dat Hy 'n Koning is wat alles kan doen nie. Daardie dag wanneer Jesus kom, sal al die gelowiges vir Hom sê hulle is bly dat Hy kom en dat Hy hulle Koning is. Almal wat in Hom glo, sal Hom prys. Julle sal dit ook doen omdat julle geglo het wat ons vir julle vertel het.
2 TESSALONISENSE 1:5-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'n teken van die regverdige oordeel van God, dat julle die koninkryk van God waardig geag mag word, waarvoor julle ook ly; aangesien dit reg is by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergelde, en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan 'n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte, wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo, in daardie dag; want ons getuienis het by julle geloof gevind.
2 TESSALONISENSE 1:5-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit alles is 'n bewys van die regverdige oordeel van God, naamlik dat Hy julle geskik geag het vir sy koninkryk, waarvoor julle nou ook ly. God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; en aan julle lyding, en ons s'n, sal Hy 'n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele in 'n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag. Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Julle sal ook daar wees, want julle het ons getuienis aan julle geglo.
2 TESSALONISENSE 1:5-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wat 'n duidelike teken is van die regverdige oordeel van God, sodat julle die koninkryk van God waardig geag kan word, waarvoor julle ook ly. Omdat dit by God regverdig is om verdrukking te vergeld aan die wat jou pla; En rus saam met ons vir julle wat verdruk is, wanneer die Here Jesus saam met sy magtige engele uit die hemel geopenbaar sal word, In vlammende vuur wat wraak neem op die wat God nie ken nie en die evangelie van onse Here Jesus Christus nie gehoorsaam nie. Wie sal gestraf word met 'n ewige verderf van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van Sy krag; Wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en om bewonder te word in almal wat glo (omdat ons getuienis onder julle geglo is) in daardie dag.
2 TESSALONISENSE 1:5-10 Die Boodskap (DB)
Moenie mismoedig word nie. Sien al hierdie dinge eerder as ’n bewys dat julle op die regte pad is. Julle hoef glad nie meer te twyfel dat God julle gekies het om deel te hê aan sy nuwe wêreld nie, want julle glo so vas in Hom dat julle bereid is om ter wille van Hom te ly. God tree altyd reg op. Daarom sal Hy met al daardie mense afreken wat julle nou so swaar laat kry. Laat dit aan Hom oor. God sal julle swaarkry laat ophou op daardie dag wanneer die Here Jesus saam met al sy sterk engele terugkom. Hulle koms sal soos ’n reusevuur wees wat in die hemel verskyn. Dan sal Hy almal straf wat nie in God glo nie. Almal wat geweier het om die goeie nuus oor ons Here Jesus te glo sal op daardie dag in groot moeilikheid wees. Pyn en lyding sal dan hulle voorland wees, vir altyd! Die Here sal niks verder met hulle te doen wil hê nie. Hulle het hulle kans gehad. Hulle sal nooit weer die Here se goedheid en sy groot krag beleef nie. Op daardie dag wanneer Christus terugkom, gaan al hierdie dinge waaroor ek nou met julle praat voor julle eie oë gebeur. Almal wat aan Hom behoort, sal dan in bewondering voor Hom kom staan. Julleself sal ook daar wees vir die fees, want julle het ons prediking met julle hele lewe geglo.