2 SAMUEL 19:1-39

2 SAMUEL 19:1-39 Bybel vir almal (ABA)

Iemand het vir Joab gaan vertel: “Weet jy, die koning huil en treur oor Absalom.” Die manne het die oorlog gewen, maar daardie dag moes hulle almal begin huil en treur, want hulle het gehoor dat die koning hartseer is oor sy seun. Die manne het daardie dag stil teruggekom in die stad. Hulle het gekom soos manne wat verloor het en wat gevlug het uit die oorlog. Die koning het 'n doek oor sy kop gegooi en hy het hard aangehou skree: “My seun Absalom, Absalom, my seun, my seun!” Joab het na die koning toe in die kamer gegaan en hy het vir hom gesê: “Jou manne het vandag jou lewe gered, en die lewens van jou seuns en jou dogters, jou vroue en jou byvroue, maar jy verneder hulle. Jy is lief vir die mense wat jou haat en jy haat die mense wat lief is vir jou, want jy wys dat jy dink jou offisiere en manne is nie belangrik nie. Ek weet nou jy sou bly gewees het as Absalom nog gelewe het, en as ons almal dood was. Daarom, jy moet nou opstaan en vriendelik gaan praat met jou manne. Ek belowe jou, en die Here is my getuie, as jy nie uitkom en met hulle praat nie, dan sal niemand vannag hier by jou bly nie. En dan sal dit baie sleg gaan met jou, slegter as wat dit gegaan het vandat jy jonk was tot nou toe.” Die koning het toe opgestaan en hy het in die poort gaan sit. Toe die manne hoor dat hy in die poort sit, het hulle almal gekom om hom te sien. Die manne van Israel het gevlug, elkeen na sy huis. Al die mense van die Israel-stamme het met mekaar begin praat. Hulle het gesê: “Die koning het ons gered van ons vyande, hy het ons vrygemaak van die Filistyne, en nou het hy uit die land gevlug oor Absalom. Ons het vir Absalom gesalf om oor ons te regeer, maar Absalom het gesterf in die oorlog. En nou, hoekom doen julle niks om die koning te laat terugkom nie?” Maar koning Dawid het 'n boodskap gestuur vir die priesters Sadok en Abjatar. Hy het vir hulle laat weet: “Julle moet praat met die leiers van Juda en julle moet vir hulle sê: Die koning en sy huisgesin het gehoor wat die Israel-mense praat. Hoekom wil julle die laaste mense wees wat die koning wil laat terugkom na sy huis? Julle is my eie familie, hoekom is julle die laaste mense wat die koning wil laat terugkom? En julle moet vir Amasa sê: Ek en jy is familie, ek bid dat God my sal help sodat jy altyd die hoof van die leër sal wees. Joab sal nie weer die hoof van die leër wees nie.” So het Dawid gepraat totdat al die manne van Juda besluit het dat hy weer hulle koning moet wees. En hulle het vir die koning laat weet: “Jy moet terugkom, jy en al jou manne.” Die koning het teruggegaan en hy het by die Jordaan-rivier aangekom. Die mense van Juda het na die stad Gilgal gekom om die koning te ontmoet en om hom oor die rivier te help. Simeï seun van Gera, die man van die stad Bagurim in die land Benjamin, het vinnig gekom en hy het saam met manne van Juda gegaan om koning Dawid te ontmoet. Daar was 1 000 manne van die Benjamin-stam by hom. Siba wat vir die familie van Saul gewerk het en sy 15 seuns en 20 slawe was ook by hom. Hulle was vóór die koning by die Jordaan-rivier. Hulle het deur die rivier gegaan om die huisgesin van die koning deur die rivier te bring en om te doen wat hy wil hê. Toe die koning deur die Jordaan-rivier gekom het, het Simeï seun van Gera voor hom kom lê en hy het vir die koning gesê: “Meneer moet my asseblief nie straf oor die verkeerde ding wat ek gedoen het toe Meneer die koning uit Jerusalem moes gaan nie. Meneer moenie daaraan dink en kwaad bly vir my nie. Ek weet ek het sonde gedoen, en daarom het ek vandag eerste afgekom om die koning te ontmoet. Ek was voor die Josef-stamme hier.” Abisai seun van Seruja het gesê: “Simeï moet sterf, want hy het die gesalfde van die Here vervloek.” Maar Dawid het gesê: “Seuns van Seruja, hoekom sê julle dit vir my? Wil julle my vandag verkeerd laat doen? Ons maak vandag niemand dood in die land Israel nie, want ek weet ek is vandag koning van Israel.” Die koning het vir Simeï gesê: “Jy sal nie sterf nie.” Die koning het dit belowe en hy het gesê die Here is getuie. Mefiboset kleinseun van Saul het ook vir Dawid kom ontmoet. Vandat die koning weg is totdat hy veilig teruggekom het, het Mefiboset nie sy voete gewas of sy baard geknip of sy klere gewas nie. Toe hy in Jerusalem gekom het om die koning te ontmoet, het die koning vir hom gevra: “Mefiboset, hoekom het jy nie saam met my gekom nie?” Mefiboset sê toe: “Meneer die koning, die man wat my moet help, het my gelos. My bene is verlam, en ek het gesê hy moet vir my 'n donkie opsaal sodat ek kan ry en saam met die koning kan gaan. En hy het ook nog geskinder oor my by Meneer die koning, maar Meneer die koning is soos 'n engel van God, jy moet doen wat jy dink is reg. Jy kon my en my hele familie doodgemaak het, maar jy het my aan jou tafel laat eet. Ek kan niks meer vra nie, ek kan net vra dat die koning my moet help.” Toe sê die koning vir Mefiboset: “Jy moenie nog iets sê nie. Ek sê jy en Siba moet die grond deel.” Mefiboset het vir die koning gesê: “Meneer die koning, Siba mag alles kry, want jy het veilig teruggekom by jou huis.” Barsillai van die land Gilead het van die stad Rogelim gekom om saam met die koning deur die Jordaan-rivier te gaan en hom te groet. Barsillai was baie oud, hy was 80 jaar oud. Dit is hy wat vir die koning gesorg het terwyl die koning in Maganajim gewoon het. Hy kon dit doen, want hy was baie ryk. Die koning het vir Barsillai gesê: “Jy moet saam met my kom, ek sal vir jou sorg in Jerusalem.” Maar Barsillai het vir die koning gesê: “Ek sal nie meer lank lewe nie. Hoekom sal ek saam met die koning gaan? Ek is nou 80 jaar oud. Ek weet nie meer wat is goed vir my en wat is nie goed nie, ek kan nie meer proe wat ek eet of drink nie, ek sal nie meer kan hoor wanneer mense sing nie. Dit sal vir die koning te veel wees om vir my te sorg. Ek sal 'n klein entjie saam met die koning deur die Jordaan-rivier gaan. Hoekom wil die koning hierdie ding vir my doen? Laat my asseblief teruggaan. Ek wil in my stad sterf by die graf van my ouers. Maar hier is my seun Kimham. Hy kan saam met die koning gaan, en jy kan vir hom doen wat jy besluit om te doen.” Toe sê die koning: “As Kimham saam met my kom, dan sal ek vir hom alles doen wat jy wil hê. Ek sal enige iets doen wat hy vra.” Al die mense het deur die Jordaan-rivier gegaan. Die koning het vir Barsillai gesoen en hy het hom gegroet, en Barsillai het teruggegaan huis toe.

2 SAMUEL 19:1-39 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN aan Joab is meegedeel: Kyk, die koning ween en bedryf rou oor Absalom. En daardie dag het die oorwinning vir die hele volk 'n roubedryf geword, omdat die volk dié dag hoor sê het: Die koning is bedroef oor sy seun. Daarom het die volk dié dag stilletjies die stad ingekom, net soos mense wat skaam is, wegsluip as hulle in die geveg gevlug het. En die koning het sy gesig toegemaak, en die koning het hardop uitgeroep: My seun Absalom! Absalom, my seun, my seun! Toe kom Joab by die koning in die huis en sê: U het vandag die aangesig van al u dienaars beskaamd gemaak, wat vandag u lewe en die lewe van u seuns en dogters en die lewe van u vroue en die lewe van u byvroue gered het, deur lief te hê diegene wat u haat, en te haat diegene wat u liefhet; want u gee vandag te kenne dat owerstes en onderdane vir u niks is nie, want ek merk vandag dat, as Absalom lewendig en ons almal vandag dood was, dit dan in u oë reg sou gewees het. Staan dan nou op, gaan uit en spreek na die hart van u dienaars, want ek sweer by die HERE — as u nie uitgaan nie, sal sekerlik vannag geen man by u bly nie; en dit sal vir u 'n groter onheil wees as al die onheile wat u oorgekom het van u jeug af tot nou toe. En die koning het opgestaan en in die poort gaan sit; en hulle het die hele volk laat weet en gesê: Kyk, die koning sit in die poort. Daarna het die hele volk voor die koning gekom. Maar Israel het gevlug elkeen na sy tente toe. EN die hele volk onder al die stamme van Israel het onder mekaar getwis en gesê: Die koning het ons verlos uit die hand van ons vyande, en hý het ons gered uit die hand van die Filistyne, en nou moes hy die land uit vlug vir Absalom; en Absalom wat ons oor ons gesalf het, het in die geveg gesneuwel: waarom is julle dan nou nalatig om die koning terug te bring? Toe het koning Dawid gestuur na Sadok en Ábjatar, die priesters, om te sê: Spreek met die oudstes van Juda en vra: Waarom sou julle die laastes wees om die koning terug te bring na sy huis? (Die gesegde van die hele Israel het naamlik die koning in sy huis bereik.) Julle is my broers; my been en my vlees is julle: waarom sou julle dan die laastes wees om die koning terug te bring? En vir Amása moet julle sê: Is jy nie my been en my vlees nie? Mag God so aan my doen en so daaraan toedoen as jy nie al die dae leërowerste voor my in die plek van Joab sal wees nie! So het hy dan die hart van al die manne van Juda sonder uitsondering geneig, sodat hulle die koning laat weet het: Kom terug, u met al u dienaars. Daarop het die koning teruggegaan en by die Jordaan aangekom; en Juda het na Gilgal gekom om die koning tegemoet te gaan, om die koning oor die Jordaan te bring. En Símeï, die seun van Gera, die Benjaminiet, wat uit Bahúrim was, het hom gehaas en saam met die manne van Juda afgekom om koning Dawid te ontmoet, en duisend man uit Benjamin was saam met hom; verder Siba, die dienaar van Saul se huis, met sy vyftien seuns en sy twintig slawe saam met hom; en hulle het voor die koning al die Jordaan bereik. En die pont het heen en weer gevaar om die huis van die koning oor te bring en te doen wat goed was in sy oë. En Símeï, die seun van Gera, het voor die koning neergeval toe hy die Jordaan sou oortrek en aan die koning gesê: My heer moet my die skuld nie toereken en daar nie aan dink hoe u dienaar verkeerd gehandel het op die dag dat my heer die koning uit Jerusalem uitgetrek het, deurdat die koning dit ter harte sou neem nie. Want u dienaar weet dat ék gesondig het; maar soos u sien, vandag het ek die eerste van die hele huis van Josef afgekom om my heer die koning tegemoet te gaan. Toe het Abísai, die seun van Serúja, geantwoord en gesê: Moet Símeï nie hieroor gedood word, dat hy die gesalfde van die HERE gevloek het nie? Maar Dawid sê: Wat het ek met julle te doen, seuns van Serúja, dat julle vandag my teëstanders word? Sou iemand vandag in Israel gedood word? Want weet ek dan nie dat ek vandag koning oor Israel is nie? Daarop sê die koning aan Símeï: Jy sal nie sterf nie. En die koning het vir hom gesweer. Mefibóset, die kleinseun van Saul, het ook afgekom die koning tegemoet, en hy het sy voete nie skoongemaak en sy baard nie geskeer en sy klere nie gewas van die dag af dat die koning weggegaan het tot op die dag dat hy behoue teruggekom het nie; en toe hy in Jerusalem die koning tegemoetkom, sê die koning vir hom: Waarom het jy nie met my saamgetrek nie, Mefibóset? En hy antwoord: My heer die koning, my dienaar het my bedrieg; want u dienaar het gedink: Ek wil vir my die esel laat opsaal, dat ek daarop kan ry en met die koning kan saamtrek, want u dienaar is lam. Hy het ewenwel u dienaar by my heer die koning belaster, maar my heer die koning is soos 'n engel van God: doen dan wat goed is in u oë. Want my hele familie was by my heer die koning niks anders as manne wat die dood verdien nie; tog het u u dienaar opgeneem onder die wat aan u tafel eet: watter regsaanspraak het ek dan nog meer om my verder op die koning te beroep? Toe sê die koning vir hom: Waarom nog meer woorde? Ek sê: Jy en Siba moet die grond verdeel. En Mefibóset het die koning geantwoord: Hy kan ook alles neem nadat my heer die koning behoue in sy huis gekom het. Barsíllai, die Gileadiet, het ook afgekom van Rógelim en met die koning oor die Jordaan getrek om hom oor die Jordaan weg te bring. En Barsíllai was baie oud, 'n man van tagtig jaar, en hy het die koning onderhou gedurende sy verblyf in Mahanáim, want hy was 'n baie vermoënde man. Toe sê die koning vir Barsíllai: Trek jy saam met my oor, dan sal ek jou by my in Jerusalem onderhou. Maar Barsíllai het die koning geantwoord: Hoeveel sal die dae van my lewensjare dan wees, dat ek saam met die koning moet opgaan na Jerusalem? Ek is vandag tagtig jaar oud. Kan ek tussen goed en kwaad onderskei? of sal u dienaar kan proe wat ek eet en wat ek drink? of sal ek nog kan aanhoor die stem van die sangers en die sangeresse? Waarom sal u dienaar my heer die koning dan nog tot 'n las wees? U dienaar kan net 'n entjie saam met die koning trek oor die Jordaan. Waarom tog sou die koning hierdie vergelding aan my doen? Laat u dienaar tog maar omdraai, dat ek kan sterf in my stad by die graf van my vader en my moeder; maar hier is u dienaar Kimham. Laat hy saam met my heer die koning oortrek, en doen aan hom wat goed is in u oë. En die koning sê: Kimham kan saam met my oortrek, dan sal ek aan hom doen wat goed is in jou oë, en alles wat jy verkies om aan my op te dra, sal ek vir jou doen. Toe trek die hele volk die Jordaan oor. En nadat die koning ook oorgetrek het, soen die koning Barsíllai en groet hom; en hy het na sy woonplek teruggegaan.

2 SAMUEL 19:1-39 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daar is aan Joab vertel: “Kan jy dit glo? Die koning huil en treur oor Absalom!” So het die oorwinningsdag 'n dag van trane geword vir al die manskappe, want hulle het gehoor dat die koning bedroef is oor sy seun. Op dié dag het die manskappe die stad binnegesluip, soos wanneer hulle beskaamd insluip as hulle uit 'n geveg weggehardloop het. Die koning het sy gesig toegehou en hardop uitgeroep: “My seun Absalom; Absalom, my seun, my seun!” Joab het by die koning in die kamer ingegaan en gesê: “U het vandag al die manskappe laat skaam kry, hulle wat so pas u lewe en ook dié van u seuns en dogters, u vrouens en byvrouens gered het. U het mos nou u haters lief en u haat die mense wat vir u liefhet. Ja waarlik, u gee vandag te kenne dat u nie vir aanvoerders en manskappe omgee nie. Vandag weet ek beslis: as Absalom maar net kon gelewe het, kon ons vandag net so wel almal dood gewees het; u sou dan in u skik gewees het! Kom nou, gaan stel u manskappe tevrede. Ek verklaar voor die Here: As u nie buitetoe gaan nie, sal daar vannag nie 'n enkele man by u oorbly nie. Dit sal vir u 'n groter ramp wees as enige ramp wat u in u hele lewe getref het.” Die koning het toe buitetoe gegaan en in die stadspoort gaan sit. Daar is toe aan al die manskappe vertel: “Kom kyk, die koning sit in die stadspoort.” Toe het al die manskappe van die koning voor hom verskyn. Israel het intussen huis toe gevlug. Daarna het die manne van die Israelitiese stamme onder mekaar begin praat: “Dit is die kóning deur wie ons gered is uit die mag van ons vyande; hý het ons bevry uit die greep van die Filistyne, en nou moes hy die land uit vlug voor Absalom. Buitendien is Absalom vir wie ons tot koning gesalf het, in die geveg dood. Waarom talm julle nog om die koning te laat terugkom?” Hierdie gevoel onder Israel het by Dawid en sy mense uitgekom. Daarna het die koning vir die priesters, Sadok en Abjatar, laat weet: “Praat met die leiers van Juda en vra: Waarom moet julle nou die laaste wees om die koning na sy paleis toe te laat terugkom? Julle is my broers, ja, julle is my mense. Waarom moet julle nou die laaste wees om die koning te laat terugkom? Sê vir Amasa ek sê: Is jy nie my eie bloedfamilie nie? Mag God my om die lewe bring as jy nie vir altyd die hoof van my leër word in die plek van Joab nie.” So het hy die hele Juda soos een man na sy kant toe oorgehaal, en hulle het die koning laat weet: “Kom terug! U en al u manskappe!” Die koning is toe terug, en terwyl hy op pad was na die Jordaan toe, het Juda by Gilgal bymekaargekom om hom te ontmoet en oor die Jordaan te help. Simeï seun van Gera, die Benjaminiet van die stad Bagurim, het haastig saam met Juda afgegaan om koning Dawid te ontmoet. By hom was 'n afdeling soldate uit Benjamin, en verder ook Siba, die bestuurder van Saul se huishouding, met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle het voor die koning by die Jordaan aangekom. Hulle het deur die drif gegaan om die geselskap van die koning deur te bring en om te doen wat die koning wou hê. Net toe die koning die Jordaan wou deurtrek, kniel Simeï seun van Gera voor hom en sê: “U Majesteit moet my die verkeerde daad tog nie toereken nie en moenie wat ek verkeerd gedoen het op die dag toe die koning uit Jerusalem uit gegaan het, ernstig opneem nie. Ek weet baie goed dat ek sleg opgetree het, maar let tog op dat ek vandag die heel eerste uit die huis van Josef is wat die koning kom ontmoet.” Hierop het Abisai seun van Seruja gevra: “Moet Simeï nie doodgemaak word nie? Hy het immers die gesalfde van die Here gevloek.” Maar Dawid het geantwoord: “Wat het dit met julle te doen, seuns van Seruja? As julle so praat, is julle my teenstanders. Moet daar dan vandag iemand in Israel doodgemaak word? Ek weet mos tog dat ek vandag koning oor Israel is.” Verder het die koning vir Simeï gesê: “Jy sal nie doodgemaak word nie.” Die koning het dit vir hom selfs met 'n eed bevestig. Toe Saul se seun Mefiboset die koning kom ontmoet het, was sy voete en baard nie versorg nie; en sy klere was vandat die koning vertrek het tot op die dag dat hy in vrede teruggekom het, nie gewas nie. Toe hy in Jerusalem die koning kom ontmoet, vra die koning hom: “Waarom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?” “U Majesteit,” antwoord hy, “my helper het my in die steek gelaat, want ek het gesê: Ek wil 'n donkie opgesaal hê om op te ry en saam met die koning te gaan; ek is mos kreupel. Hy het my by u gaan beskinder, maar U Majesteit is soos 'n engel van God. U sal dus met my doen soos dit vir u die beste lyk. My hele familie het by u niks anders as die dood verdien nie, en tog het u my 'n plek gegee by dié wat by u aan huis eet. Ek het niks waarop ek my by die koning kan beroep nie.” Toe antwoord die koning hom: “Die saak is afgehandel. Ek beveel hiermee dat jy en Siba die grond moet deel.” Mefiboset het geantwoord: “Nou dat die koning behoue tuis gekom het, kan Siba maar alles vat.” Barsillai die Gileadiet het van Rogelim af gekom vir die koning se oortog oor die Jordaan. Hy was al baie oud, tagtig jaar, en hy het die koning onderhou tydens sy verblyf in Maganajim, want hy was welgesteld. Hy wou daar by die Jordaan van die koning afskeid neem. Toe sê die koning vir hom: “Kom saam met my, dan sal ek jou in Jerusalem by my onderhou.” Maar hy het vir die koning gesê: “Hoeveel langer het ek nog om te leef dat ek saam met die koning na Jerusalem toe moet optrek? Ek is nou tagtig. Kan ek nog iets geniet? Of kan ek nog proe wat ek eet en drink? Kan ek nog die stem van sangers en sangeresse waardeer? Waarom moet ek van my 'n oorlas maak by die koning? Waarvoor wil die koning my nou eintlik beloon? Ek wou maar net 'n klein entjie van die Jordaan af saam met u trek. Laat my nou maar omdraai en in my eie stad sterf, by die graf van my pa en ma. Maar kyk, hier is u onderdaan Kimham. Hy kan saam met u gaan, en u kan aan hom doen soos u dit goedvind.” Toe sê die koning: “Kimham kan maar saamgaan. Ek sal vir hom doen wat jy sê. Wat jy ook al van my verwag, sál ek vir hom doen.” Daarna het die hele volk die Jordaan oorgesteek, en die koning het gevolg. Nadat die koning vir Barsillai gesoen en hom voorspoed toegewens het, het hy na sy stad toe teruggegaan.

2 SAMUEL 19:1-39 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Aan Joab is berig gebring: “Kyk, die koning huil en rou oor Absalom. ” Die oorwinning het daardie dag vir al die manskappe 'n dag van rou geword, omdat die manskappe daardie dag gehoor het die koning is gebroke oor sy seun. Die manskappe het dié dag die stad binnegesluip soos manskappe binnesluip wat verneder is omdat hulle in die geveg moes vlug. Die koning het sy gesig toegedraai en met 'n harde stem uitgeroep: “My seun Absalom! Absalom, my seun, my seun!” Toe gaan Joab na binne, na die koning, en sê: “Jy het vandag al jou dienaars met rooi gesigte gelaat – hulle wat vandag jou lewe en die lewe van jou seuns en dogters, en die lewe van jou vroue en byvroue gered het – deur dié lief te hê wat jou haat, en dié te haat wat jou liefhet. Jy het immers vandag te kenne gegee dat •aanvoerders en onderdane vir jou niks beteken nie. Ja, ek besef vandag dat, as Absalom sou lewe en ons almal vandag dood sou wees, dit dan reg sou wees in jou oë. Staan dan nou op, gaan uit en praat mooi met jou dienaars, want ek sweer voor die HERE dat as jy nie uitgaan nie, niemand vannag by jou sal bly nie; en dit sal vir jou 'n ramp wees, erger as enige ramp wat jou oorgekom het van jou jeug af tot nou toe.” Die koning het toe opgestaan en in die poort gaan sit, en toe al die manskappe die berig ontvang, “Kyk, die koning sit in die poort,” het al die manskappe voor die koning saamgekom. Israel het egter gevlug, elkeen na sy tente toe. Al die manskappe in al die stamme van Israel het aan die stry geraak en gesê: “Die koning het ons gered uit die greep van ons vyande; ja, hy is die een wat ons laat ontsnap het uit die greep van die Filistyne. Maar nou het hy oor Absalom landuit gevlug, en Absalom, vir wie ons as koning oor ons gesalf het, is dood in die oorlog. Waarom swyg julle dan nou oor die terugbring van die koning?” Koning Dawid stuur toe 'n boodskap na die priesters Sadok en Abjatar om te laat weet: “Spreek die oudstes van Juda aan en sê, ‘Waarom moet julle die laaste wees om die koning na sy paleis terug te bring?’ ” Die gesprek van die hele Israel het immers die koning in sy verblyfplek bereik. Hy het gesê: “ ‘Julle is my broers, my bloedfamilie. Waarom moet julle die laaste wees om die koning terug te bring?’ En vir Amasa moet julle sê, ‘Is jy nie my bloedfamilie nie? Mag God my swaar straf as jy nie vir goed in my diens die bevelvoerder van die leër word in die plek van Joab nie!’ ” So het hy sonder uitsondering die harte gewen van al die manne van Juda. Hulle het toe vir die koning 'n boodskap gestuur: “Kom terug, u en al u dienaars!” Die koning het toe teruggegaan en by die Jordaan aangekom. Juda het tot by Gilgal gekom om die koning tegemoet te gaan, om die koning oor die Jordaan te begelei. Simeï, seun van Gera, die Benjaminiet wat uit Bagurim kom, het gou gemaak en saam met die manne van Juda afgegaan om koning Dawid te ontmoet. 'n Duisend man uit Benjamin was saam met hom, asook Siba, 'n hofdienaar van Saul met sy vyftien seuns en twintig slawe by hom. Hulle het voor die koning op die Jordaan afgestorm en die drif deurgegaan om die koning se huisgesin deur te help en om te doen wat hy nodig ag. Simeï, seun van Gera, het, toe hy die Jordaan oorsteek, voor die koning neergeval. Hy het vir die koning gesê: “My heer moet my nie die skuld toereken nie. Moet tog nie daaraan bly dink dat u dienaar die spoor byster geraak het die dag toe my heer die koning uit Jerusalem vertrek het nie. Die koning moet dit nie ter harte neem nie, want ek, u dienaar, besef dat ek die een is wat gesondig het. Maar kyk, vandag het ek, van die hele huis van Josef, eerste afgekom om my heer die koning te ontmoet.” Abisai, seun van Seruja, het daarop gereageer en gesê: “Moet Simeï nie hiervoor doodgemaak word nie? Hy het immers die gesalfde van die HERE uitgeskel.” Dawid het egter gesê: “Hoe moet ek julle verstaan, seuns van Seruja? Want julle word vandag vir my teenstanders. Moet iemand vandag in Israel doodgemaak word? Weet ek dan nie dat ek vandag koning is oor Israel nie?” Toe sê die koning vir Simeï: “Jy sal nie sterf nie.” En die koning het dit vir hom met 'n eed bevestig. Ook Mefiboset, die kleinseun van Saul, het afgegaan om die koning te ontmoet. Hy het sy voete nie versorg, sy snor nie geknip en selfs sy klere nie gewas nie, van die dag af dat die koning weggegaan het totdat hy weer ongedeerd daar aangekom het. Toe hy in Jerusalem ingaan om die koning te ontmoet, vra die koning vir hom: “Waarom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?” Daarop het hy geantwoord: “My heer die koning, my slaaf het my mislei. U dienaar het gedink, ek gaan vir my die donkie opsaal en daarop ry en met die koning saamgaan, want u dienaar is mos kreupel. My slaaf het egter u dienaar by my heer die koning gaan beskinder. Maar my heer die koning is soos 'n engel van God; doen maar wat goed is in u oë. Die hele huis van my vader het immers, wat my heer die koning betref, net die dood verdien. En tog het u u dienaar geplaas by dié wat aan u tafel eet. Watter reg het ek dan nog om weer 'n keer na die koning om hulp te roep?” Die koning het vir hom gesê: “Waarom moet jy nog verder jou saak stel? Ek het klaar gepraat: Jy en Siba moet die grond deel. ” Daarop sê Mefiboset vir die koning: “Hy kan ook maar alles neem nadat my heer die koning ongedeerd by sy paleis aangekom het.” Ook Barsillai, 'n man uit Gilead, het van Rogelim af afgegaan en saam met die koning na die Jordaan getrek om hom daar by die Jordaan af te sien. Barsillai was al baie oud, 'n man van tagtig jaar; maar hy het die koning van kos voorsien tydens sy verblyf in Maganajim, want hy was 'n baie ryk man. Die koning het vir Barsillai gesê: “Trek jy saam met my oor, dan sal ek jou by my in Jerusalem van kos voorsien.” Maar Barsillai het vir die koning gesê: “Hoeveel dae van my lewensjare is nog oor dat ek saam met die koning na Jerusalem kan opgaan? Ek is nou tagtig jaar oud. Ken ek nog die verskil tussen goed en sleg, of sal ek, u dienaar, nog kan proe wat ek eet of drink, of sal ek nog kan luister na die stemme van sangers en sangeresse? Waarom moet u dienaar nog vir my heer die koning 'n las wees? U dienaar kan nouliks oor die Jordaan gaan saam met die koning, en waarom sou die koning my dan op dié wyse vergoed? Laat ek, u dienaar, asseblief maar omdraai, sodat ek in my tuisdorp naby die graf van my vader en moeder kan sterf. Maar kyk, hier is u dienaar Kimham; laat hy saam met my heer die koning oorgaan. Doen dan aan hom wat goed is in u oë.” Die koning het gesê: “Saam met my sal Kimham dan oorgaan, en ek sal persoonlik aan hom doen wat goed is in jou oë. Alles wat jy van my verwag, sal ek vir jou doen.” Al die manskappe het die Jordaan oorgesteek, en toe het die koning oorgegaan. Die koning het Barsillai gesoen en hom seën toegewens. Hy is terug na sy woonplek.

2 SAMUEL 19:1-39 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En aan Joab is meegedeel: Kyk, die koning ween en treur oor Absalom. En die oorwinning daardie dag het vir die hele volk in rou verander, want die volk het daardie dag hoor sê hoe die koning bedroef was oor sy seun. En die volk het hulle daardie dag sluipent in die stad ingetrek, soos skaamte mense steel wanneer hulle in die geveg vlug. Maar die koning het sy aangesig bedek, en die koning het met 'n groot stem uitgeroep: O my seun Absalom, o Absalom, my seun, my seun! Toe kom Joab in die huis na die koning en sê: U het vandag die aangesig van al u dienaars wat vandag u lewe gered het, en die lewens van u seuns en van u dogters en die lewens van u vroue beskaamd gemaak, en die lewens van jou byvroue; Deurdat jy jou vyande liefhet en jou vriende haat. Want jy het vandag verkondig dat jy nie op vorste of dienaars ag gee nie; want vandag sien ek dat as Absalom gelewe het en ons almal vandag gesterf het, dit jou goed behaag het. Staan dan nou op, gaan uit en spreek met gemak met u dienaars; want ek sweer by die HERE, as u nie uitgaan nie, sal daar in hierdie nag geen by u bly nie; en dit sal vir u erger wees as al die onheil wat oorgekom het en jou van jou jeug af tot nou toe. Toe het die koning opgestaan en in die poort gaan sit. En hulle het aan die hele volk meegedeel en gesê: Kyk, die koning sit in die poort. En die hele volk het voor die koning gekom, want Israel het gevlug, elkeen na sy tent. En die hele volk het twis gehad onder al die stamme van Israel en gesê: Die koning het ons verlos uit die hand van ons vyande, en hy het ons verlos uit die hand van die Filistyne; en nou het hy vir Absalom uit die land gevlug. En Absalom, wat ons oor ons gesalf het, is dood in die geveg. Waarom spreek julle dan nie 'n woord om die koning terug te bring nie? En koning Dawid het na Sadok en die priesters Abjatar gestuur om te sê: Spreek met die oudstes van Juda en sê: Waarom is julle die laastes om die koning na sy huis terug te bring? toe hy die woord van die hele Israel sien, het hy na die koning gekom, tot by sy huis. Julle is my broers, julle is my gebeente en my vlees; waarom is julle dan die laastes om die koning terug te bring? En sê vir Amasa: Is jy nie van my been en van my vlees nie? God doen so aan my en so ook, as jy nie gedurigdeur voor my aangesig oor die leër in die kamer van Joab is nie. En hy het die hart van al die manne van Juda gebuig, soos die hart van een man; sodat hulle hierdie woord aan die koning gestuur het: Keer terug, jy en al u dienaars. Toe het die koning teruggekeer en by die Jordaan aangekom. En Juda het in Gilgal gekom om die koning te ontmoet, om die koning oor die Jordaan te lei. En Símeï, die seun van Gera, 'n Benjaminiet, wat uit Bahurim was, het gou saam met die manne van Juda afgekom om koning Dawid te ontmoet. En daar was duisend man van Benjamin by hom, en Siba, die dienaar van die huis van Saul, en sy vyftien seuns en sy twintig dienaars saam met hom; en hulle het voor die koning deur die Jordaan getrek. En daar het 'n veerboot gevaar om die koning se huisgesin oor te dra en te doen wat hy goeddink. En Símeï, die seun van Gera, het voor die koning neergeval toe hy deur die Jordaan getrek het; En hy het aan die koning gesê: Laat my heer my geen ongeregtigheid toereken nie, en jy moet nie dink aan wat u dienaar verkeerd gedoen het die dag toe my heer die koning uit Jerusalem uitgetrek het, dat die koning dit ter harte sou neem nie. Want u dienaar weet dat ek gesondig het; daarom, kyk, ek het vandag die eerste van die hele huis van Josef gekom om af te gaan my heer die koning tegemoet. Maar Abísai, die seun van Serúja, het geantwoord en gesê: Sal Símeï nie hiervoor gedood word nie, omdat hy die gesalfde van die HERE vervloek het? Toe sê Dawid: Wat het ek met julle te doen, seuns van Seruja, dat julle vandag my teëstanders sou wees? sal daar vandag iemand in Israel gedood word? want weet ek nie dat ek vandag koning is oor Israel nie? Daarom sê die koning vir Símeï: Jy sal nie sterwe nie. En die koning het hom gesweer. Maar Mefiboset, die seun van Saul, het afgekom om die koning te ontmoet, en hy het nie sy voete aangetrek en nie sy baard geknip en sy klere nie gewas nie, van die dag af dat die koning vertrek het tot die dag dat hy in vrede teruggekom het. En toe hy in Jerusalem aankom om die koning te ontmoet, sê die koning vir hom: Waarom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset? En hy antwoord: My heer, o koning, my dienaar het my bedrieg, want u dienaar het gesê: Ek sal vir my 'n esel opsaal, dat ek daarop kan ry en na die koning kan gaan; want u dienaar is kreupel. En hy het u dienaar by my heer die koning belaster; maar my heer die koning is soos 'n engel van God; doen dan wat goed is in u oë. Want die hele huis van my vader was maar dooies voor my heer die koning; tog het u u dienaar aangestel onder die wat aan u eie tafel geëet het. Watter reg het ek dan nog om nog tot die koning te roep? Toe sê die koning vir hom: Waarom praat jy nog meer oor jou sake? Ek het gesê: Jy en Siba verdeel die land. Maar Mefiboset sê vir die koning: Ja, laat hy alles neem, want my heer die koning het in vrede na sy huis teruggekom. En Barsillai, die Gileadiet, het van Rogelim afgekom en saam met die koning deur die Jordaan getrek om hom oor die Jordaan te lei. En Barsillai was 'n baie bejaarde man, tagtig jaar oud, en hy het die koning van voedsel voorsien terwyl hy in Mahanáim gelê het; want hy was 'n baie groot man. Daarop sê die koning vir Barsillai: Trek saam met my oor, en ek sal jou saam met my in Jerusalem versorg. Toe sê Barsíllai aan die koning: Hoe lank het ek nog om te lewe dat ek saam met die koning na Jerusalem sou optrek? Ek is vandag tagtig jaar oud, en kan ek onderskei tussen goed en kwaad? kan u kneg smaak wat ek eet of wat ek drink? kan ek nog die stem van singende mans en singende vroue hoor? waarom sou u dienaar dan nog 'n las vir my heer die koning wees? U dienaar sal 'n entjie oor die Jordaan gaan saam met die koning; en waarom sou die koning dit my so 'n beloning vergelde? Laat u dienaar tog terugdraai, dat ek in my eie stad kan sterwe en by die graf van my vader en my moeder begrawe word. Maar kyk, u dienaar Kimham; laat hom saam met my heer die koning oortrek; en doen aan hom wat vir jou goed is. Toe antwoord die koning: Kimham sal saam met my oortrek, en ek sal aan hom doen wat vir jou goed is; en alles wat jy van my vra, dit sal ek vir jou doen. En die hele volk het deur die Jordaan getrek. En toe die koning oorgekom het, het die koning Barsillai gesoen en hom geseën; en hy het na sy eie plek teruggekeer.

2 SAMUEL 19:1-39 Die Boodskap (DB)

Die mense het vir Joab gaan vertel die koning huil en is hartseer oor Absalom. Toe die soldate hoor dat die koning se hart gebreek is oor sy seun, het die dag waarop hulle gewen het, vir almal ’n treurige dag geword. Hulle het daardie dag soos diewe die stad ingesluip. Hulle het gelyk soos mense wat skaam is oor hulle vir hulle vyande gevlug het. Die koning het die hele tyd sy gesig toegehou en kliphard gekla: “My seun, my Absalom, my Absalom, my seun, my seun.” Joab het na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “U stel vandag almal teleur wat so getrou by u staan, die manne wat u lewe gered het en u seuns en dogters s’n en al u vroue s’n. U is mos nou aan die kant van dié wat teen u is, en u is teen dié wat aan u kant is. U wys nou u gee nie ’n flenter om vir die offisiere en manskappe nie. Dit lyk vir my u sou daarvan gehou het as Absalom vandag nog geleef het en ons almal dood was! “Gaan nou dadelik uit en gaan praat mooi met die manne, want ek sweer nou voor die Here, as u nié uitgaan nie, sal daar vannag nie een man by u oorbly nie! En dít sal die grootste moeilikheid wees wat u nog ooit in u lewe gehad het.” Die koning het opgestaan en by die ingang van die stad gaan sit. Toe die manskappe hoor dat die koning daar by die ingang is, het almal soos gewoonlik voor hom verbygestap wanneer hulle gewen het. Nadat die soldate van die Israeliete na hulle huise toe gevlug het, het daar ’n groot stryery onder al die Israeliete begin. Die mense het vir die leiers gesê: “Die koning wat ons gehelp het teen ons vyande, ja, dié een wat ons vrygemaak het van die Filistyne, het uit die land uit gevlug vir Absalom. Maar Absalom, wat ons koning gemaak het oor ons, is dood in die oorlog. Hoekom sê julle nou niks? Hoekom bring julle nie die koning terug nie?” Koning Dawid het daarvan gehoor. Hy laat weet toe vir Sadok en Abjatar: “Praat ’n bietjie met die leiers van Juda in die suide en vra vir hulle hoekom hulle die koning nie eerste terugvat na sy paleis toe nie. Sê vir hulle die koning het gehoor die Israeliete in die Noorde wil hom terugvat. Sê vir hulle ons is broers, ons is eie bloedfamilie; hoekom is hulle dan so stadig om die koning terug te vat? En sê vir Amasa ons is ook mos naby familie en ek sweer vir hom voor God dat hy so lank ek lewe, in Joab se plek die hoofgeneraal gaan wees.” So het Dawid die Judeërs almal omgepraat en hulle het vir hom laat weet: “Kom terug saam met al u manskappe.” Die koning het teruggegaan. Toe hy by die Jordaanrivier kom, was die mense van Juda al by Gilgal om hom te verwelkom en hom oor die rivier te help. Simeï, Gera se seun, daardie Benjaminiet wat in Bagurim gebly het, was vreeslik angstig om die koning te verwelkom en het saam met die mense van Juda afgegaan rivier toe. Daar was ’n klomp soldate van die stam van Benjamin by hom, en ook Siba, die man wat by Saul in die paleis gewerk het, met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle was voor die koning by die rivier. Hulle het deur die drif gegaan om die koning se gesin oor die rivier te help en enigiets te doen wat die koning wou hê. Toe Simeï, Gera se seun, deur die Jordaanrivier is, val hy voor die koning op sy knieë en sê vir hom: “U Majesteit, moet asseblief nie die verkeerde ding wat ek gedoen het, teen my hou nie. Moet tog nie dink aan die onnosel ding wat ek daardie dag aangevang het toe U Majesteit uit Jerusalem moes padgee nie. Vergeet dit, asseblief. Ek weet ek het ’n vreeslike fout gemaak, maar vandag is ek van al die mense in die Noorde eerste hier om U Majesteit te verwelkom.” Abisai, Seruja se seun, haak toe af en sê: “Maar moet Simeï nie doodgemaak word vir wat hy gedoen het nie? Hy het dan die Here se koning gevloek!” Dawid antwoord toe: “Julle twee seuns van Seruja hoef nie vir my op te kom nie. Om die waarheid te sê, julle praat vandag teen my. Niemand in Israel sal vandag doodgemaak word nie. En dit sê ek omdat ek nou die koning van Israel is.” Die koning het vir Simeï gesê: “Jy sal nie doodgemaak word nie.” Die koning het gesweer dat dit nie sal gebeur nie. Mefiboset, Saul se kleinseun, het ook gegaan om die koning te verwelkom. Van die dag af dat die koning uit Jerusalem uit is tot op die dag dat hy weer veilig terug was, het Mefiboset nie sy voete gewas of geskeer of ander klere aangetrek nie. Toe hy later in Jerusalem by die koning kom, het die koning vir hom gevra: “Hoekom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?” “U Majesteit,” het hy geantwoord, “omdat ek so swaar loop, het ek gedink ek sal ’n donkie laat opsaal waarmee ek kan ry en saam met U Majesteit gaan. Maar my werker het my in die steek gelaat. Boonop het hy my sleggemaak by u. Maar U Majesteit is so verstandig soos ’n engel uit die hemel. Doen maar met my wat u wil. U Majesteit kon my pa se hele familie doodgemaak het. In plaas daarvan het u my ’n plek gegee aan u tafel. Watter reg het ek dan om nou nóg ’n guns vir u te vra?” “Ons hoef nie verder daaroor te praat nie,” het die koning gesê. “Ek reël nou dat jy en Siba die grond van Saul moet deel.” Toe het Mefiboset geantwoord: “Ek is so bly dat U Majesteit veilig by die huis is, Siba kan maar alles kry.” Barsillai, die man uit Gilead, het van Rogelim af gekom om die koning by die Jordaanrivier af te sien. Hy was al 80. Dis hy wat vir die koning gesorg het toe die koning in Maganajim was. Hy kon dit doen, want hy was ’n skatryk man. Die koning het vir Barsillai gesê: “Kom saam met my oor die rivier. Kom bly by my in Jerusalem, dan sorg ek vir jou.” Maar Barsillai het geantwoord: “Ek weet nie hoe lank ek nog gaan leef nie. Dit sal nie ’n goeie ding wees as ek by U Majesteit in Jerusalem gaan bly nie. Ek is nou 80 jaar oud. My smaak is daarmee heen: ek kan nie meer iets wat ek eet of drink, geniet nie. Ek kan ook nie meer mooi hoor as die sangers en sangeresse sing nie. Ek sal net vir U Majesteit ’n las wees. Ek sal amper nie eers saam met U Majesteit oor die Jordaanrivier kom nie. Waarom moet u dan vir my soveel moeite doen? Laat ek maar omdraai en in my eie dorp doodgaan waar my pa en ma begrawe lê. Hier is my seun Kimham. Hy kan maar saam met U Majesteit gaan. Doen maar vir hom wat u wil.” Die koning het gesê: “Goed, Kimham gaan dan saam met my. Ek sal vir hom doen net wat jy vra. Ek sal enigiets vir jou doen.” Al die mense het toe oor die Jordaanrivier gegaan. Die koning is ook oor nadat hy vir Barsillai omhels en hom alles wat goed is, toegewens het. Barsillai het teruggegaan huis toe.

2 SAMUEL 19:1-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Joab is vertel: “Kan jy dit glo! Die koning huil en rou sowaar oor Absalom!” En hoe meer soldate gehoor het van die koning se hartseer oor sy seun, hoe meer het die vreugde van die oorwinning verander in trane. Hulle het die stad binnegesluip soos manne wat skaam was omdat hulle uit die geveg weggehardloop het. Maar die koning het sy gesig toegemaak en hard geroep: “My seun Absalom! Absalom, my seun, my seun!” Joab het na die koning se kamer toe gegaan en vir hom gesê: “Vandag het u al die manskappe laat skaam kry. Hulle het u lewe en die lewe van u seuns en dogters, u vroue en byvroue gered. U het nou hulle lief wat u haat, en u haat hulle wat u liefhet. “U het dit vandag duidelik gemaak dat u niks omgee vir u bevelvoerders en manskappe nie. As Absalom nog gelewe het en ons almal dood was, sou u eerder tevrede gewees het. “Kom nou buitentoe en stel die soldate gerus, want ek sê nou voor die HERE, as u dit nie doen nie, sal daar teen vanaand nie een van hulle meer hier wees nie. Dit sal vir u rampspoediger wees as enige ramp wat u nog getref het.” Die koning het toe uitgegaan en in die stadspoort gaan sit. Toe die soldate hoor: “Die koning sit in die poort,” het al die manskappe voor die koning verskyn. Intussen het die Israeliete wat Absalom ondersteun het na hulle huise toe gevlug. Al die stamme van Israel het onder mekaar begin praat. Die volk het gesê: “Die koning het ons verlos van ons vyande, die Filistyne, maar Absalom het hom uit die land verjaag. Nou is Absalom wat ons gesalf het om oor ons te regeer, dood. Laat ons Dawid vra om terug te kom en weer ons koning te wees.” Die koning het verneem wat oral in Israel gesê word. Toe stuur hy die priesters Sadok en Abjatar om vir die leiers in Juda te sê: “Hoekom sou julle die heel laaste wees om die koning weer in sy amp te herstel? Julle is tog my familie, my bloedverwante. Hoekom is julle die laaste om die koning terug te bring?” Dawid laat weet toe vir Amasa: “Is jy dan nie bloedfamilie van my nie? Voor God beloof ek dat ek jou permanent sal aanstel as aanvoerder van die leër in die plek van Joab.” Op hierdie manier het hy almal in Juda oortuig en hulle het eenparig vir Dawid laat weet: “Kom terug na ons toe en bring almal saam wat by u is!” Die koning het teruggekom en die Jordaanrivier bereik. Die mense van Juda het by Gilgal bymekaargekom om die koning terug te verwelkom en hom oor die rivier te begelei. Simeï seun van Gera die Benjaminiet uit Bagurim het hom gehaas om koning Dawid saam met die mense van Juda te ontmoet. ’n Afdeling soldate uit die stam van Benjamin was saam met hom, en ook Siba, die bestuurder van Saul se eiendomme, saam met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle het hulle na die Jordaanrivier gehaas om voor die koning daar te wees. Hulle het deur die drif gegaan om die koning en sy huishouding deur die rivier te bring en hom op allerlei maniere te help. Die koning was op die punt om deur die rivier te gaan, toe val Simeï voor hom neer. “Vergewe tog my oortreding, my heer,” pleit hy. “Moet asseblief tog nie dink aan die verskriklike ding wat ek gedoen het toe u Jerusalem verlaat het nie. Ek weet dat ek baie gesondig het. Dis hoekom ek vandag die heel eerste persoon uit Israel is wat u kom ontmoet.” Abisai seun van Seruja sê toe: “Moet Simeï nie net hier doodgemaak word nie? Het hy dan nie die gesalfde van die HERE gevloek nie?” Maar Dawid sê: “Wat moet ek met julle maak, seuns van Seruja, dat julle vandag soos ’n teenstander geword het? Dis nie ’n dag van teregstelling in Israel nie, want ek weet ek is weereens koning van Israel!” Toe het hy vir Simeï met ’n eed belowe: “Jou lewe sal gespaar word.” Mefiboset, Saul se kleinkind, het ook gekom om die koning te ontmoet. Hy het nie sy voete of sy klere gewas of sy baard geknip vanaf die dag dat die koning uit Jerusalem weg is totdat hy veilig teruggekom het nie. Toe hy die koning in Jerusalem gaan ontmoet, vra die koning hom: “Hoekom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?” Mefiboset het geantwoord: “My heer die koning, my dienaar het my in die steek gelaat. Omdat ek kreupel is, het ek vir hom gesê: ‘Jy moet vir my die donkie opsaal sodat ek saam met die koning kan gaan.’ Hy het my boonop vals beskuldig, maar ek weet dat u soos ’n engel van God is. Doen dus met my wat u goedvind. My hele familie het by u niks anders as die dood verdien nie. Tog het u my aan u tafel laat eet. Watter reg het ek dan om nog meer van die koning te verwag?” “Dis nie nodig dat jy nog iets sê nie,” sê Dawid. “Ek oordeel dat jy en Siba die grond tussen julle moet verdeel.” “Noudat u weer veilig tuis is, kan hy ook maar alles kry, my heer!” sê Mefiboset. Barsillai die Gileadiet het uit Rogelim daar aangekom om die koning oor die Jordaan te help. Hy was baie oud, 80 jaar oud. Hy was welgesteld en kon die koning gedurende sy verblyf in Maganajim onderhou. “Kom saam met my oor en kom woon in Jerusalem,” sê die koning vir Barsillai. “Ek sal daar vir jou sorg.” “Nee dankie,” antwoord hy. “Ek is heeltemal te oud om saam met die koning Jerusalem toe te gaan. Ek is 80 jaar oud en kan nie meer baie geniet nie. Ek kan nie meer proe wat ek eet of drink nie. Ek kan ook nie meer die stemme van sangers en sangeresse waardeer nie. Ek sal net ’n oorlas wees vir my heer die koning. U dienaar het maar ’n klein entjie saam met die koning gekom. Hoekom sou die koning my met so ’n beloning wou vergoed? Laat my teruggaan om in my eie dorp te sterf, daar waar my pa en ma begrawe is. Maar hier is my seun Kimham. Laat hy saam met u gaan en doen aan hom soos wat u verkies.” “Dis goed so,” sê die koning. “Kimham kan saam met my gaan. Ek sal vir hom doen wat ek dink goed is, en ook enigiets wat jy van my verwag.” Daarna het die soldate saam met die koning die Jordaanrivier oorgesteek. Nadat Dawid hom omhels en geseën het, het Barsillai na sy huis toe teruggegaan.