2 PETRUS 1:1-21

2 PETRUS 1:1-21 Bybel vir almal (ABA)

Ek, Simeon Petrus, is 'n dienaar en apostel van Jesus Christus. Ek skryf hierdie brief vir julle wat ook soos ons glo in Jesus Christus. Dit is Christus wat vir ons almal in Hom laat glo en daardie geloof in Hom is kosbaar. Hy is ons God en ons Redder en Hy laat julle almal ook so glo in Hom. Ons bid dat God genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle baie vrede sal gee. Hy sal dit doen omdat julle vir God en Jesus ons Here reg leer ken het. God is sterk en Hy het vir ons alles gegee wat ons nodig het om so te lewe dat ons Hom kan dien. Ons kán so lewe omdat ons Hom ken. Hy het ons gekies om aan Hom te behoort, want Hy is die Koning en Hy doen groot dinge. Hoekom het God belowe om vir ons kosbare en baie groot dinge te doen? Dit is omdat Hy so groot en sterk is. Hy het dit gedoen sodat julle vry kan wees en kan ophou om die slegte dinge te wil doen wat die mense van die wêreld graag wil doen, dinge wat hulle laat sterf. Dan sal julle mense word wat soos God is en wat lewe soos Hy. God het baie dinge vir julle gedoen, en daarom moet julle hard probeer om nie net te glo in Hom nie, maar ook om goeie dinge vir ander mense te doen en om wyse mense te wees. Julle moenie gou kwaad word nie, julle moet vas glo, julle moet vir God dien, julle moet lief wees vir mekaar, julle moet lief wees vir al die mense. As julle hierdie dinge doen en dit meer en meer doen, dan doen julle dinge wat vir mense kan help en dan sal julle slaag met alles wat julle doen omdat julle ons Here Jesus Christus goed ken. Want as 'n mens hierdie dinge nie doen nie, dan is hy soos iemand wat baie sleg sien, so sleg dat hy geestelik blind is. Ja, iemand wat nie hierdie dinge doen nie, het vergeet dat God hom gereinig het van die sondes wat hy voorheen gedoen het. My vriende, God het julle gekies en genooi om aan Hom te behoort. Daarom moet julle baie hard probeer om so te lewe dat almal kan sien dat julle aan God behoort. Julle moet so lewe, want dan sal julle aanhou glo en nie ontrou wees nie. As julle só lewe, dan sal God sê dat julle baie welkom is daar waar ons Here Jesus Christus vir altyd die Koning is en waar Hy regeer, Jesus Christus ons Redder. Julle weet hierdie dinge en julle is baie seker dat dit die waarheid is wat julle oor Christus gehoor het. Maar ek sal aanhou om vir julle te sê dat julle moet onthou wat ek hier vir julle geskryf het. Ek dink dit is reg dat ek vir julle moet sê dat julle moet onthou om aan hierdie dinge te dink, ek moet dit sê terwyl ek nog lewe. Want ek weet dat ek nie meer lank sal lewe nie, ons Here Jesus Christus het dit vir my gesê. Daarom sal ek hard probeer dat julle hierdie dinge altyd sal onthou, ook nadat ek gesterf het. Ons het vir julle vertel dat ons Here Jesus Christus sterk is en dat Hy weer sal kom. Dit was nie slim stories wat ander mense gemaak het en wat ons geglo het nie. Nee, ons het self gesien dat Jesus Christus sterk is en alles kan doen. God die Vader het vir Jesus eer gegee en God het vir Jesus Koning gemaak. God is self die Groot Koning, en Hy het gesê: “ Dit is my Seun. Ek is lief vir Hom. Hy maak My bly.” En ons het self gehoor dat God uit die hemel praat, ons het dit gehoor toe ons saam met Jesus op die gewyde berg was. Daarom weet ons dat die boodskappe wat die profete gebring het, regtig waar is. Dit sal goed wees as julle luister na die profete se boodskappe, want daardie boodskappe is soos 'n lamp wat in die donker skyn totdat die dag kom wanneer Christus weer sal kom. Dan sal Hy in julle harte sy lig laat skyn soos die môrester skyn. Dit is belangrik dat julle dit moet weet: Die profete van die Ou Testament het nie self die dinge gedink wat hulle gesê het nie. Want die profete het hulle boodskap gebring, nie omdat hulle self daardie dinge wou sê nie, nee, die Heilige Gees het mense laat sê wat God sê.

2 PETRUS 1:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

SÍMEON Petrus, 'n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so 'n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! IMMERS, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde. Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie; want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet. Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Daarom sal ek nie nalaat om julle altyd hieraan te herinner nie, alhoewel julle dit weet en vasstaan in die waarheid wat by julle is. En ek beskou dit as reg, so lank as ek in hierdie tentwoning is, om julle deur herinnering op te wek, omdat ek weet dat die aflegging van my tentwoning ophande is, soos onse Here Jesus Christus dit ook aan my bekend gemaak het. En ek sal my beywer, dat julle ook gedurig ná my heengaan hierdie dinge in gedagtenis kan hou. Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit; want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. En hierdie stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was. En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.

2 PETRUS 1:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Van Simon Petrus, 'n dienaar en apostel van Jesus Christus. Aan dié wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here! Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense. As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken. Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is. Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit en al staan julle reeds vas in die waarheid wat aan julle bekend gemaak is. Ek ag dit immers my plig om julle aan te spoor deur julle hieraan te herinner so lank as ek nog lewe. Ek weet dat my dood nie meer ver is nie. Ons Here Jesus Christus het dit trouens duidelik aan my bekend gemaak. Daarom sal ek my daarvoor beywer dat julle ook ná my heengaan altyd hierdie dinge sal onthou. Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien. Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” Die stem uit die hemel het ons self gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was. En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos 'n lamp wat in 'n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte. Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.

2 PETRUS 1:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Simeon •Petrus, 'n dienskneg en •apostel van Jesus •Christus, aan dié wat dieselfde kosbare geloof as ons verkry het, deur die •geregtigheid van ons God en Verlosser, Jesus Christus: Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word, deur julle kennis van God en van Jesus, ons Here. Sy goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het vir 'n godvresende lewe, deur die kennis van Hom wat ons deur sy majesteit en goddelike krag geroep het. Hierdeur het Hy sy kosbare en grootse beloftes reeds aan ons gegee, sodat julle deel kan kry aan die goddelike natuur, noudat julle ontvlug het aan die verdorwenheid wat deur begeerte in die wêreld teenwoordig is. Lê juis daarom alle ywer aan die dag om by julle geloof deug te voeg, by deug, insig, by insig, selfbeheersing, by selfbeheersing, volharding, by volharding, godvresendheid, by godvresendheid, broederliefde, en by broederliefde, liefde vir alle mense. Immers, wanneer julle oor hierdie eienskappe beskik, en daarin toeneem, sal dit daartoe lei dat julle nie nutteloos en sonder vrug is, wat julle kennis van ons Here Jesus •Christus betref nie. Want die een by wie hierdie dinge ontbreek, is blind en kortsigtig, en het vergeet dat hy van sy vorige sondes gereinig is. Daarom, broers, lê julle soveel te meer daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig. Want as julle hierdie dinge doen, sal julle vir seker nooit struikel nie. Ja, so sal toegang tot die ewige •koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, ryklik aan julle voorsien word. Daarom sal ek julle altyd aan hierdie dinge bly herinner, al weet julle dit reeds, en al is julle reeds stewig in die bestaande waarheid gevestig. Ek beskou dit as gepas om julle deur herinnering op te skerp, so lank as wat ek nog in hierdie tentwoning verkeer; want ek weet dat my tentwoning binnekort afgebreek sal word – soos ons Here Jesus Christus dit ook aan my duidelik gemaak het. Daarom sal ek my ook daarvoor beywer dat julle hierdie dinge ná my heengaan steeds in herinnering sal kan roep. Ons het ons immers nie op vindingryke fabels verlaat toe ons die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus •Christus aan julle bekend gemaak het nie. Inteendeel, ons was ooggetuies van sy ontsagwekkende grootsheid. Nadat Hy van God die Vader eer en heerlikheid ontvang het, toe die luisterryke Majesteit die stem tot Hom laat kom het wat sê, “Hy is my Seun, my geliefde Seun, in wie Ek My verbly,” het ook ons daardie stem gehoor wat uit die hemel kom, terwyl ons saam met Hom op die heilige berg was. En daarom beskik ons oor die profetiese woord, wat nog vaster staan. Julle doen die regte ding as julle daarop fokus, soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek, en die môrester opgaan in julle harte. Dit moet julle veral besef: Geen profesie in die Skrif berus op eie uitleg nie. Want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie; maar, meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is.

2 PETRUS 1:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Simon Petrus, 'n dienskneg en 'n apostel van Jesus Christus, aan hulle wat soos ons die kosbare geloof verkry het deur die geregtigheid van God en ons Verlosser, Jesus Christus: Genade en vrede word vir julle vermenigvuldig deur die kennis van God en van Jesus, onse Here, Soos sy goddelike krag aan ons alles gegee het wat tot lewe en godsaligheid behoort, deur die kennis van Hom wat ons geroep het tot heerlikheid en deug: Waardeur aan ons uitermate groot en kosbare beloftes gegee word, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verderf ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. En behalwe dit, met alle ywer, voeg by julle geloof deug by; en tot deugdekennis; En tot kennis selfbeheersing; en tot matigheid geduld; en geduldig godsaligheid; En aan die godsaligheid broederlike goedertierenheid; en tot broederlike goedhartigheid liefdadigheid. Want as hierdie dinge in julle is en toeneem, dan maak dit julle nie onvrugbaar of onvrugbaar in die kennis van onse Here Jesus Christus nie. Maar hy wat hierdie dinge kortkom, is blind en kan nie ver sien nie, en het vergeet dat hy gereinig is van sy ou sondes. Daarom, broeders, beywer julle om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle hierdie dinge doen, sal julle nooit val nie. Want so sal 'n ingang oorvloedig aan julle gedien word in die ewige koninkryk van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus. Daarom sal ek nie nalaat om julle altyd aan hierdie dinge te herinner nie, al weet julle dit en staan vas in die huidige waarheid. Ja, ek dink dit is goed om, solank as wat ek in hierdie tabernakel is, jou op te wek deur jou in herinnering te bring; Omdat ek weet dat ek binnekort hierdie tabernakel van my moet aflê, soos onse Here Jesus Christus my getoon het. Verder sal ek my beywer dat julle ná my dood in staat sal wees om hierdie dinge altyd in gedagtenis te hou. Want ons het nie listig uitgedinkde fabels gevolg toe ons die krag en koms van onse Here Jesus Christus aan julle bekend gemaak het nie, maar ons was ooggetuies van sy majesteit. Want hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe so 'n stem uit die voortreflike heerlikheid na Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. En hierdie stem wat uit die hemel gekom het, het ons gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was. Ons het ook 'n meer seker woord van profesie; waarop julle goed moet doen dat julle ag gee soos op 'n lig wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die dagster in julle harte opgaan. Om dit eerstens te weet, dat geen profesie van die Skrif van enige eie uitlegging is nie. Want die profesie het in die ou tyd nie deur die wil van 'n mens gekom nie, maar heilige manne van God het gespreek soos hulle deur die Heilige Gees gedrywe is.

2 PETRUS 1:1-21 Die Boodskap (DB)

Van Simon Petrus. Ek is ’n dienskneg van Jesus Christus. Hy het my as een van sy apostels aangestel. God is baie goed. Daarom het Hy en ons Verlosser, Jesus Christus, dit so beskik dat julle glo. Omdat God vir julle baie goed is, glo julle nou, net soos ek. Ek bid dat God se oorvloedige goedheid en vrede julle lewens sal oorspoel! Mag julle kennis van God en van Jesus ons Here julle help om al hierdie hemelse gawes meer te beleef. Die Here se hemelse krag het alles vir ons gegee wat ons nodig het om elke dag reg te leef en in ’n persoonlike verhouding met Hom te staan. Ons ken God nou op ’n totaal nuwe manier. Hyself wat so vol heerlikheid en grootheid is, het ons elkeen geroep om in Hom te glo. Toe Hy dit gedoen het, het Hy boonop die wonderlikste en die grootste beloftes aan ons gegee. Sy doel met hierdie hemelse geskenke is om julle in staat te stel om nee te kan sê vir elke versoeking. Gee dadelik pad wanneer julle eie begeertes julle op sleeptou wil neem agter verkeerde dinge aan. Dan kry julle al hoe meer deel aan God se karakter. Moenie ’n enkele oomblik agteroor sit nie. Sorg dat julle geloof in Christus elke dag sterker word. Gaan só te werk:  Span julle in om altyd net die regte dinge te doen.  Saam met hierdie ywer moet julle ook kennis hê. Sorg dat julle die Here goed ken. Saam met kennis gaan selfbeheersing. Moenie toelaat dat sondige begeertes julle ooit onderkry nie.  Saam met selfbeheersing gaan standvastigheid. Hou aan glo. Staan sterk!  Saam met standvastigheid gaan ’n lewe wat God verheerlik. Maak God se Naam groot in alles wat julle doen. Saam met ’n lewe wat God verheerlik, gaan absolute lojaliteit teenoor ander gelowiges.  Saam met liefde vir ander gelowiges gaan liefde vir alle ander mense. Gee regtig om vir almal met wie julle elke dag te doen kry. As julle al hierdie dinge doen, as julle al hoe meer leef soos die Here dit van ons verwag, sal julle nooit verveeld rondsit nie. Dan sal daar nooit ’n dag verbygaan dat julle nie voluit vir ons Here Jesus Christus leef nie. Julle kennis van Hom sal sommer baie vrug dra in julle lewe. Gelowiges wat hierdie dinge nie hulle eie maak nie en wat nie voluit vir die Here leef nie, is soos mense met ’n oogprobleem. Hulle kan nie goed sien nie. Nog erger, hulle is heeltemal blind. Hulle het klaar vergeet hoe Christus hulle van al hulle sondes skoongewas het toe hulle tot bekering gekom het. My broers en susters, wys deur alles wat julle doen dat God julle na Hom toe geroep het. Wys dat God julle uitgekies het om in Hom te glo. Doen dit, dan sal julle nooit oor die sonde struikel nie. Dan sal julle met oop arms soos helde ontvang word in God se nuwe wêreld. Daar regeer ons Here en Verlosser, Jesus Christus, vir altyd as Koning. Al weet julle alles wat ek vir julle gesê het, moet ek julle altyd weer van voor af daaraan herinner. Ook al staan julle vas in die Here se waarheid, moet ek nog ’n slag vir julle sê hoe om tot eer van die Here te leef. Dis my roeping om julle aan te moedig deur julle te herinner hoe om te leef so lank as wat ek nog hier is. Ongelukkig sal dit nie meer te lank wees nie, want my dood is voor die deur. Ons Here Jesus Christus het dit duidelik vir my gewys. Daarom skryf ek al hierdie dinge neer sodat julle selfs ná my dood kan onthou hoe julle moet leef. Onthou julle nog hoe ons vroeër met julle gepraat het oor die krag van ons Here Jesus Christus en oor sy terugkeer na die aarde toe? Ons het glad nie vir julle gejok, of ’n klomp stories uit ons duim gesuig nie. Natuurlik nie. Ons het immers met ons eie oë gesien watter groot dinge Jesus Christus gedoen het toe Hy nog op aarde was. Onthou julle toe Christus op die berg saam met Moses en Elia was? God het vir Christus daar met groot eer en heerlikheid bekroon. Die Allerhoogste het uit die hemel gepraat en gesê: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Ek is baie bly oor Hom.” Op daardie heilige berg het ek met my eie ore God se stem gehoor. Hierdie gebeure daar op die berg het elke woord wat die profete in die Bybel sê nog sterker vir ons bevestig. Hierdie boodskap is soos ’n lig wat in die donker skyn. Julle moet ook aan hulle woorde vashou totdat die volle lig van God in julle lewe skyn. Soos die môrester wat wys dat die dag aangebreek het, sal Hy self die donker wegvat uit julle binneste. Onthou, dit wat die profete in die Bybel sê, het hulle nie self uitgedink nie, want geen ware profesie kom ooit van mense af nie. Nee, die Heilige Gees het presies vir hulle gewys wat hulle oor God moes sê. Hy het hulle aangevuur om oor Hom te praat.

2 PETRUS 1:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hierdie brief kom van Simon Petrus, ’n dienskneg en apostel van Jesus Christus. Ek skryf aan julle almal wat dieselfde kosbare geloof as ons het. Julle het hierdie geloof ontvang van Jesus Christus, ons God en Verlosser. Hý het julle regverdig verklaar. Mag die genade en vrede van God steeds meer en meer julle deel wees deurdat julle God en Jesus Christus ons Here regtig ken. Deurdat ons Hom regtig ken, het sy Goddelike krag ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe. Hy het ons geroep om sy heerlikheid en goedheid te ontvang! Deur hierdie selfde krag het Hy sy kosbaarste en allergrootste beloftes vir ons laat waar word. Die gevolg hiervan is dat julle deel gekry het aan sy Goddelike natuur. Só het julle vrygekom van die proses van agteruitgang wat, as gevolg van die neigings van ons menslike natuur, oral alles en almal laat sleg word. Juis om hierdie rede moet julle alles in julle vermoë doen om te wys dat hierdie beloftes vir julle waar geword het. Dan sal julle geloof meebring dat julle leefstyl goed is. ’n Goeie leefstyl bring weer mee dat jy God beter leer ken. As ’n mens God ken, kan jy jouself dissiplineer. Selfdissipline bring weer mee dat ’n mens kan uithou en aanhou, en hierdie volharding loop uit op ’n lewe naby aan God. ’n Lewe naby aan God skep liefde vir ander gelowiges, en uiteindelik is dit hierdie positiewe houding teenoor medegelowiges wat meebring dat jy almal liefhet. Hoe meer julle op hierdie wyse groei, hoe meer sal die feit dat julle ons Here Jesus Christus ken, veroorsaak dat julle nie nutteloos en geestelik onproduktief is nie. Mense wie se lewe nie wys dat God se beloftes in hulle waar geword het nie, is blind, of – ten minste – kortsigtig. Hulle het klaar vergeet dat God hulle gereinig het van hulle vorige sondige leefstyl. Daarom, broers en susters, werk nog harder daaraan om met julle leefstyl te bewys dat God julle regtig geroep en gekies het. As julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. En dan sal julle sonder ophou en sonder dat iets julle hinder, kan deelneem aan die ewige koningsheerskappy van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Dis waarom ek julle altyd aan hierdie dinge sal herinner, al weet julle dit en al leef julle reeds noukeurig volgens die waarheid wat by julle is. Ek beskou dit inderdaad as my plig om julle hieraan te herinner so lank as wat ek nog lewe. Ons Here Jesus het dit egter aan my bekendgemaak dat ek binnekort gaan sterf. Daarom sal ek moeite doen om hierdie dinge aan julle te verduidelik. Ek wil hê julle moet dit onthou lank ná ek nie meer hier is nie. Ons het ons verseker nie op mites verlaat toe ons vir julle vertel het van die krag van ons Here Jesus Christus en sy terugkeer nie. Met ons eie oë het ons Hom in al sy koninklike prag gesien. Dis mos Hý wat eer en heerlikheid van God die Vader ontvang het toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: “Hý is my Seun wat Ek van harte liefhet; Hy is ’n kind so na my hart!” Ons het self hierdie stem uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was. Dit laat die boodskap van die profete vir ons nog vaster staan. Luister baie mooi na hulle woorde, want dis soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn – totdat Christus verskyn en sy helder lig julle harte verlig. Julle moet veral weet dat geen profesie van die Skrif ontstaan het deur die profeet se eie insig nie. Geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Inteendeel, dit was die Heilige Gees wat die profete God se woorde laat verkondig het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid