2 Petrus 1:1-21

2 Petrus 1:1-21 AFR20

Simeon •Petrus, 'n dienskneg en •apostel van Jesus •Christus, aan dié wat dieselfde kosbare geloof as ons verkry het, deur die •geregtigheid van ons God en Verlosser, Jesus Christus: Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word, deur julle kennis van God en van Jesus, ons Here. Sy goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het vir 'n godvresende lewe, deur die kennis van Hom wat ons deur sy majesteit en goddelike krag geroep het. Hierdeur het Hy sy kosbare en grootse beloftes reeds aan ons gegee, sodat julle deel kan kry aan die goddelike natuur, noudat julle ontvlug het aan die verdorwenheid wat deur begeerte in die wêreld teenwoordig is. Lê juis daarom alle ywer aan die dag om by julle geloof deug te voeg, by deug, insig, by insig, selfbeheersing, by selfbeheersing, volharding, by volharding, godvresendheid, by godvresendheid, broederliefde, en by broederliefde, liefde vir alle mense. Immers, wanneer julle oor hierdie eienskappe beskik, en daarin toeneem, sal dit daartoe lei dat julle nie nutteloos en sonder vrug is, wat julle kennis van ons Here Jesus •Christus betref nie. Want die een by wie hierdie dinge ontbreek, is blind en kortsigtig, en het vergeet dat hy van sy vorige sondes gereinig is. Daarom, broers, lê julle soveel te meer daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig. Want as julle hierdie dinge doen, sal julle vir seker nooit struikel nie. Ja, so sal toegang tot die ewige •koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, ryklik aan julle voorsien word. Daarom sal ek julle altyd aan hierdie dinge bly herinner, al weet julle dit reeds, en al is julle reeds stewig in die bestaande waarheid gevestig. Ek beskou dit as gepas om julle deur herinnering op te skerp, so lank as wat ek nog in hierdie tentwoning verkeer; want ek weet dat my tentwoning binnekort afgebreek sal word – soos ons Here Jesus Christus dit ook aan my duidelik gemaak het. Daarom sal ek my ook daarvoor beywer dat julle hierdie dinge ná my heengaan steeds in herinnering sal kan roep. Ons het ons immers nie op vindingryke fabels verlaat toe ons die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus •Christus aan julle bekend gemaak het nie. Inteendeel, ons was ooggetuies van sy ontsagwekkende grootsheid. Nadat Hy van God die Vader eer en heerlikheid ontvang het, toe die luisterryke Majesteit die stem tot Hom laat kom het wat sê, “Hy is my Seun, my geliefde Seun, in wie Ek My verbly,” het ook ons daardie stem gehoor wat uit die hemel kom, terwyl ons saam met Hom op die heilige berg was. En daarom beskik ons oor die profetiese woord, wat nog vaster staan. Julle doen die regte ding as julle daarop fokus, soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek, en die môrester opgaan in julle harte. Dit moet julle veral besef: Geen profesie in die Skrif berus op eie uitleg nie. Want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie; maar, meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is.

Video for 2 Petrus 1:1-21

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Petrus 1:1-21