2 KONINGS 23:1-30
2 KONINGS 23:1-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die afvaardiging het so aan die koning gerapporteer, en hy het al die leiers van Juda en Jerusalem by hom laat bymekaarkom. Daarna is die koning na die huis van die Here toe met al die mense van Juda by hom en ook die inwoners van Jerusalem, die priesters en die Leviete, al die mense, groot en klein. Daar het hy alles aan hulle voorgelees wat in die boek van die verbond gestaan het wat in die huis van die Here gekry is. Toe het die koning op sy plek gaan staan en 'n verbond met die Here gesluit en beloof om die Here te volg en sy gebooie, verordeninge en voorskrifte met sy hele hart en siel te gehoorsaam en om die bepalings van die verbond soos dit in hierdie boek vasgelê is, na te kom. Die hele volk het die verbond aanvaar. Koning Josia het aan die hoëpriester Gilkija, aan die priesters net onder hom en aan die drumpelwagte opdrag gegee om uit die tempel van die Here al die goed te bring wat vir Baäl en Asjera en al die hemelliggame gemaak is. Hulle moes dit verbrand buite Jerusalem op die gelyktes langs die Kedron en die as na Bet-El toe vat. Josia het die afgodspriesters afgesit wat deur die konings van Juda aangestel is en wat offers gebring het op die hoogtes, in die stede van Juda en in die omgewing van Jerusalem. Hy het ook 'n einde gemaak aan dié wat geoffer het vir Baäl en vir die son en die maan en die diereriem en al die ander hemelliggame. Hy het die Asjera uit die huis van die Here laat bring na die Kedronspruit toe buite Jerusalem, dit daar laat verbrand en laat fynstamp. Die as het hy laat weggooi op die grafte van die gewone mense. Hy het die manlike prostitute se kamers by die huis van die Here laat afbreek waarin die vroue klere geweef het vir die diens van Asjera. Verder het Josia al die priesters uit die stede van Juda laat bring en die hoogtes waarop die priesters geoffer het, laat ontwy, van Geba af tot by Berseba. Hy het die hoogtes wat by die poorte was, laat afbreek, ook die een by die poort van die stadsbevelvoerder Josua, aan die linkerkant as 'n mens die stadspoort binnegaan. Josia het nie die priesters wat by die hoogtes geoffer het, by die altaar van die Here in Jerusalem laat kom nie, maar hulle kon saam met hulle ampsgenote ongesuurde brood eet. Hy het die offerplek wat in die Ben-Hinnomdal was, laat ontwy, sodat niemand meer sy seun of dogter as offer vir Molek kon verbrand nie. Die perdebeelde wat deur die konings van Juda ter verering van die son opgestel is, het hy laat verwyder. Hulle het gestaan by die ingang van die huis van die Here, by die kamer van die amptenaar Netan-Melek aan die binneplein. Die sonwa het hy laat verbrand. Die altare wat deur die konings van Juda gebou is op die dak van die bovertrek van Agas, en die altare wat deur Manasse in die twee voorhowe van die huis van die Here gebou is, is deur die koning afgebreek. Hy het hulle net daar laat stukkend slaan en die puin laat weggooi in die Kedronvallei. Verder het die koning die hoogtes laat ontwy wat oos van Jerusalem, suid van die berg van verwoesting, was en wat deur koning Salomo van Israel opgerig is vir die verering van Astarte, die veragtelike godin van die Sidoniërs, Kemos, die veragtelike god van Moab, en Milkom die afskuwelike god van die Ammoniete. Hy het die klippilare laat stukkend slaan, die gewyde pale laat afkap en op hulle plekke mensbene laat gooi. Selfs die altaar in Bet-El, die hoogte wat deur Jerobeam seun van Nebat ingerig is toe hy vir Israel laat sondig het, selfs dié altaar en dié hoogte is deur Josia laat afbreek. Hy het die hoogte laat afbrand en fynslaan en die Asjera laat verbrand. Toe hy omdraai, sien Josia die grafte daar teen die berg. Hy het die bene uit die grafte laat uithaal en hulle op die altaar laat verbrand. So het hy die altaar laat ontwy in ooreenstemming met die woord van die Here wat destyds deur die man van God aangekondig is. Daarna sê Josia: “Watter grafsteen sien ek daar?” en die mense van die stad sê vir hom: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en voorspel het presies wat u met die altaar van Bet-El gedoen het.” Toe sê hy: “Laat hom rus, moenie sy bene versteur nie.” Hulle het toe sy bene en die bene van die profeet wat uit Samaria gekom het, met rus gelaat. Josia het verder al die heiligdomme wat deur die konings van Israel op die hoogtes by die stede van Samaria gebou is om die Here uit te tart, laat opruim. Hy het met hulle gemaak soos hy in Bet-El gedoen het. Al die priesters wat daar op die hoogtes diens gedoen het, het hy op die altare laat slag en mensbene op die altare laat verbrand. Daarna is hy terug Jerusalem toe. Daarna het die koning die volk beveel: “Vier die paasfees tot eer van die Here julle God soos dit voorgeskryf is in hierdie boek van die verbond.” 'n Paasfees soos hierdie is nie gevier van die tyd van die leiers af wat oor Israel geregeer het nie, ook nie tydens die regering van die konings van Israel en Juda nie. Hierdie paasfees tot eer van die Here is in die agtiende regeringsjaar van koning Josia in Jerusalem gevier. Josia het ook die dodebesweerders en die waarsêers, die afgodsbeelde, al die stinkende en veragtelike afgode wat in Juda en Jerusalem te sien was, uitgeroei. So het hy voldoen aan die eise van die wet soos dit opgeteken was in die boek wat die priester Gilkija in die huis van die Here gekry het. Daar was nie voor hom nog so 'n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en siel en met al sy kragte in ooreenstemming met die hele wet van Moses nie, en ná hom was daar ook nie so 'n koning soos hy nie. Die Here het egter nie sy hewige toorn teen Juda laat vaar nie. Hy het toornig gebly oor Manasse se uittartende optrede teen Hom. Hy het gesê: “Ek sal Juda ook uit my teenwoordigheid verwyder, net soos Ek Israel verwyder het. Ek sal hierdie stad, Jerusalem, wat Ek uitverkies het, verwerp, en ook die tempel waarvan Ek gesê het: My Naam sal daar wees.” Die ander verhale oor Josia en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. In sy tyd was die farao koning Neko van Egipte op pad na die koning van Assirië toe aan die Eufraat. Koning Josia het teen die farao opgetrek, maar die farao het hom met die bymekaarkom in Megiddo doodgemaak. Sy lyfwagte het sy lyk op 'n wa gesit en na Jerusalem toe gebring. Daar het hulle hom in sy graf begrawe.
2 KONINGS 23:1-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die koning het boodskappers uitgestuur, en hulle het al die oudstes van Juda en Jerusalem by hom byeengebring. Die koning het toe opgegaan na die huis van die HERE; al die manne van Juda en al die inwoners van Jerusalem was saam met hom, ook die priesters en die profete, ja, die hele volk, van klein tot groot. Ten aanhore van hulle almal het hy al die woorde van die •boekrol met die verbond wat in die huis van die HERE gevind is, voorgelees. Daarna het die koning by die pilaar gaan staan en voor die HERE die verbond gesluit. Hulle het onderneem om die HERE te volg, om sy gebooie, sy bepalings en sy vaste voorskrifte met hulle hele hart en hulle hele wese na te kom, deur die woorde van hierdie verbond wat in hierdie boekrol geskryf is, gestand te doen. Die hele volk het tot die verbond toegetree. Die koning het toe vir Gilkija, die hoëpriester, vir die priesters tweede in rang, en ook die deurwagters, opdrag gegee om uit die •tempel van die HERE al die voorwerpe wat vir Baäl en Asjera, asook al die hemelliggame gemaak is, uit te bring. Hy het dit buite Jerusalem op die terrasse by die Kidron verbrand en die as daarvan na Bet-El geneem. Hy het weggedoen met die afgodspriesters wat die konings van Juda aangestel het, hulle wat offers verbrand het op die offerhoogtes in die dorpe van Juda en in die omgewing van Jerusalem, en ook van dié wat offers verbrand het vir Baäl, vir die son en maan, die sterrebeelde in die diereriem, en al die ander hemelliggame. Hy het ook die asjera uit die huis van die HERE na die Kidrondal buite Jerusalem geneem. Hy het dit in die Kidrondal verbrand, dit fyngestamp tot stof, en die stof weggegooi by die begraafplek van die gewone mense. Hy het die vertrekke van die manlike tempelprostitute wat in die huis van die HERE was en waar die vroue afskortings geweef het vir Asjera, afgebreek. Hy het al die priesters uit die dorpe van Juda laat kom en die offerhoogtes waar die priesters offers verbrand het, verontreinig, van Geba tot Berseba. Hy het die offerhoogtes by die stadspoorte afgebreek, dié wat by die ingang na die poort van Josua, die stadsbestuurder, was, aan die linkerkant wanneer 'n mens by die stadspoort ingaan. Die priesters van die offerhoogtes het egter nie na die HERE se altaar in Jerusalem opgegaan nie, maar hulle het ongesuurde brood geëet saam met hulle stamgenote. Hy het ook Tofet, wat in die Ben-Hinnomdal was, verontreinig, sodat niemand sy seun of sy dogter vir Moleg in die vuur sou offer nie. Hy het weggedoen met die perde wat die konings van Juda aan die songod opgedra het, by die ingang na die huis van die HERE, by Netan-Meleg, die paleisamptenaar se vertrek, wat in die buitegeboue was. Die strydwaens van die songod het hy verbrand. Die altare wat op die dak van die bovertrek van Agas was, wat die konings van Juda opgerig het, en die altare wat Manasse opgerig het in die twee voorhowe van die huis van die HERE, het die koning afgebreek. Hy het dit vinnig daarvandaan verwyder en die stof daarvan in die Kidrondal gegooi. Die offerhoogtes wat oos van Jerusalem was, aan die suidekant van die Berg van Ergernis, het die koning verontreinig, die offerhoogtes wat Salomo, die koning van Israel, opgerig het vir Astarte, die verfoeilike godin van die Sidoniërs, vir Kemos, die verfoeilike god van Moab, en vir Milkom, die afstootlike god van die Ammoniete. Hy het die gedenkstene stukkend gebreek, die asjeras afgekap en die plekke daarvan met mensbeendere gevul. Selfs die altaar wat in Bet-El was en die offerhoogte wat Jerobeam, seun van Nebat, opgerig het, waarmee hy Israel laat sondig het, selfs daardie altaar en die offerhoogte het hy afgebreek. Hy het die offerhoogte afgebrand, tot stof vergruis en die asjera verbrand. Toe Josia omdraai, sien hy die grafte wat daar op die heuwel was. Hy het toe die beendere uit die grafte laat haal. Hy het dit op die altaar verbrand en dit verontreinig, ooreenkomstig die woord van die HERE wat die man van God uitgeroep het, hy wat hierdie gebeure aangekondig het. Josia het gevra: “Watter grafsteen is dit wat ek hier sien?” Die manne van die dorp het hom geantwoord: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en hierdie gebeure voorspel het, dit wat u met die altaar van Bet-El gedoen het.” Daarop sê hy: “Laat hom met rus; niemand moet sy beendere versteur nie.” Hulle het sy beendere en die beendere van die profeet wat uit Samaria gekom het, ongeskonde gelaat. Ook al die tempels op die offerhoogtes wat in die dorpe van Samaria was, wat die konings van Israel opgerig het om die HERE uit te tart, het Josia verwyder. Hy het daarmee gemaak net soos wat hy in Bet-El gedoen het. Hy het al die priesters van die offerhoogtes wat daar was, op die altare geslag en mensbeendere daarop verbrand. Toe het hy na Jerusalem teruggekeer. Daarna het die koning die hele volk opdrag gegee en gesê: “Vier die Pasga vir die HERE julle God, soos dit geskryf staan in hierdie boekrol met die verbond.” Ja, 'n Pasga soos hierdie is nie gevier sedert die tyd van die rigters wat Israel gerig het nie, ook nie gedurende al die dae van die konings van Israel en die konings van Juda nie. Maar eers in die agttiende regeringsjaar van koning Josia is hierdie Pasga vir die HERE in Jerusalem gevier. Ook die dodebesweerders en waarsêers, die huisgode en die afgodsbeelde, al die verfoeilike gode wat in die land Juda en in Jerusalem te sien was, het Josia uitgeroei, om uitvoering te gee aan die woorde van die wet wat opgeteken was in die boekrol wat Gilkija, die priester, in die huis van die HERE gevind het. 'n Koning soos hy was daar nie voor hom nie – iemand wat na die HERE teruggekeer het met sy hele hart en met sy hele wese en met al sy krag, in ooreenstemming met die hele Wet van Moses. En ná hom het daar ook nie iemand soos hy opgestaan nie. En tog het die HERE nie afgesien van sy verskriklike brandende toorn wat teen Juda gebrand het oor al die treiterings waarmee Manasse Hom getart het nie. Die HERE het gesê: “Ook Juda sal Ek uit my teenwoordigheid verwyder, soos Ek Israel verwyder het; en Ek sal hierdie stad, Jerusalem, wat Ek uitverkies het, verwerp, asook die tempel waarvan Ek gesê het, ‘My Naam sal daar wees.’ ” Die verdere geskiedenis van Josia en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? In sy tyd het farao Nego, koning van Egipte, teen die koning van Assirië opgetrek na die Eufraatrivier. Koning Josia het hom tegemoetgetrek, maar Nego het hom by Megiddo doodgemaak toe hy hom teëkom. Sy dienaars het hom dood op 'n strydwa teruggebring van Megiddo af. Hulle het hom na Jerusalem geneem en hom in sy graf neergelê. Die volk van die land het Jehoagas, seun van Josia, geneem, hom gesalf en hom koning gemaak in die plek van sy vader.
2 KONINGS 23:1-30 Bybel vir almal (ABA)
Die koning het boodskappers gestuur en hy het gesê die leiers van Juda en Jerusalem moet bymekaarkom by hom. Hy het na die tempel gegaan. Al die leiers van Juda en Jerusalem was saam met hom, en ook die priesters en die profete en al die mense, die belangrike én die onbelangrike mense. Hy het vir hulle gelees wat geskryf is in die verbondsboek wat die hoëpriester in die tempel gekry het. Daarna het die koning by die pilaar gaan staan. Hy het belowe dat Hy die Here altyd sal dien en dat hy alles sal doen wat die wette van die Here sê. Hy het belowe om te doen wat die Here wil hê en om die verbond te hou waaroor daar in die boek geskryf is. Al die mense het dit saam met die koning belowe. Die koning het gesê die hoëpriester Gilkija en die ander belangrike priesters en die wagte by die deure van die tempel moet al die goed uit die tempel bring wat die mense gemaak het vir Baäl en vir Asjera en vir die son en die maan en die sterre. Hulle het die goed verbrand buite Jerusalem in die Kedron-vallei en hulle het die as na die stad Bet-El geneem. Die konings van Juda het voorheen priesters aangestel vir die afgode. Die priesters moes wierook brand op die offer-plekke by die stede van Juda en buite Jerusalem. Hulle moes dit brand vir Baäl, vir die son en die maan en al die sterre. Koning Josia het gesê hierdie priesters mag nie meer priesters wees nie. Hy het ook die beeld van Asjera uit die tempel laat bring en hy het die beeld buite Jerusalem in die Kedron-vallei laat verbrand. Daarna het hy dit fyngestamp en hy het die as weggegooi op die grafte van die gewone mense. Hy het die kamers van die mansprostitute by die tempel laat afbreek. Dit is waar die vroue klere geweef het vir Asjera. Koning Josia het al die priesters wat by die stede van Juda gewerk het, na Jerusalem laat kom. Hy het die offer-plekke ontwy waar hierdie priesters wierook gebrand het, van die stad Geba tot by die stad Berseba. Hy het ook die offer-plekke van die veldgode laat afbreek. Hierdie offer-plekke was voor die poort van die huis van Josua, die burgemeester. Dit was links langs die poort van die stad. Die priesters wat by die offer-plekke gewerk het, mag nie by die altaar van die Here in Jerusalem gewerk het nie, maar hulle mag ongesuurde brood geëet het saam met die priesters van die tempel. Daar was 'n plek in die Ben-Hinnom-vallei waar mense hulle kinders verbrand het. Die koning het die plek laat ontwy sodat niemand sy kind daar vir Molek kon offer nie. Hy het ook die beelde van die perde laat wegvat wat die konings van Juda laat maak het. Die mense het die son by die beelde aanbid. Die beelde het gestaan op die oop stuk grond voor die poort van die tempel by die kamer van die paleisbediende Netan-Melek. Die koning het ook die waens laat verbrand wat by die beelde was. Hy het die altare laat afbreek wat die konings van Juda laat bou het op die dak van die bo-kamer van Agas en ook die altare wat Manasse laat bou het op die twee oop stukke grond by die tempel. Hy het die altare stukkend laat stamp en hy het die stof in die Kedron-vallei laat gooi. Hy het die offer-plekke ontwy wat Salomo koning van Israel oos van Jerusalem laat bou het. Die offer-plekke was suid van die Olyf-berg. Salomo het die offer-plekke laat bou vir Astarte, Kemos en Milkom, die afgode van die Sidoniërs, die Moabiete en die Ammoniete. Hy het die klip-pale laat afbreek en hy het die gewyde pale laat afkap. Toe het hy mensbene op hulle plekke gegooi. Josia het ook die altaar wat in Bet-El was, laat afbreek. Dit was die offer-plek wat Jerobeam seun van Nebat gebou het. Jerobeam het die mense van Israel daar sonde laat doen. Josia het ook daardie altaar, daardie offer-plek, laat afbreek. Hy het die offer-plek verbrand en fyngeslaan en hy het die gewyde paal verbrand. En toe Josia omdraai, sien hy grafte daar op die berg. Hy het die bene uit die grafte laat haal en hy het dit op die altaar verbrand. So het Josia die altaar ontwy. Dit het gebeur soos die man van God gesê het toe koning Jerobeam by die altaar gestaan het. Josia het 'n grafsteen gesien en hy het gevra wie se graf dit is. Die mense van die stad Bet-El het vir hom gesê: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom het. Die man van God het voorheen gesê hierdie dinge wat jy met die altaar van Bet-El gedoen het, sal gebeur.” Josia het gesê: “Los hom, niemand moet sy bene wegneem nie.” Hulle het toe die bene van die man van God gelos en ook die bene van die profeet wat uit Samaria gekom het. Josia het ook die tempels op die offer-plekke laat afbreek. Die konings van Israel het voorheen daardie tempels by die stede van Samaria laat bou om die Here kwaad te maak. Josia het dieselfde met die tempels gedoen soos hy by Bet-El gedoen het. Josia het die priesters wat by die offer-plekke was, laat slag op die altare en hy het mensbene op die altare laat verbrand. Toe het hy teruggegaan na Jerusalem. Die koning het vir al die mense gesê: “Julle moet die Paasfees vier vir julle God die Here. Julle moet dit vier soos dit geskryf is in hierdie verbondsboek.” Daar was nie nog so 'n Paasfees nie, van die tyd van die leiers wat oor die Israeliete regeer het, tot nou toe, ook nie in die tyd van die konings van Israel en Juda nie. Maar hierdie Paasfees het hulle vir die Here gevier in Jerusalem in die agtiende jaar nadat Josia koning geword het. Josia het ook die mense laat doodmaak wat gesê het hulle kan praat met die geeste van mense wat gesterf het. Hy het ook die mense laat doodmaak wat gesê het hulle weet wat ander mense nie kan weet nie. Hy het die beeldjies en die afgode in Juda en Jerusalem weggevat, al die lelike goed. Hy het alles gedoen wat geskryf is in die wette in die boek wat Gilkija in die tempel gekry het. Daar was nie nog so 'n koning wat sy lewe so heeltemal verander het nie. Josia het gedoen wat die Here wil hê, soos die Wette van Moses sê. Daar was nie so 'n koning vóór die tyd van Josia of ná sy tyd nie. Maar die Here het kwaad gebly vir die mense van Juda. Die Here was kwaad oor alles wat Manasse gedoen het. Die Here het gesê: “Ek sal die mense van Juda ook wegvat voor My soos Ek die mense van Israel weggevat het. Ek het hierdie stad Jerusalem gekies, en Ek het gesê Ek sal self in hierdie tempel woon. Maar Ek sal nou hierdie stad en hierdie tempel los.” Al die ander dinge wat Josia gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. In die tyd toe Josia koning was, wou Neko, koning van Egipte, vir die koning van Assirië gaan aanval by die Eufraat-rivier. Josia het toe gegaan om vir Neko te stop. Die farao het vir Josia doodgemaak toe hulle mekaar by Megiddo sien. Josia se offisiere het sy liggaam op 'n oorlogkar uit Megiddo gebring en hulle het dit na Jerusalem geneem. Sy mense het hom in sy graf begrawe. Die mense van die land het vir Joahas seun van Josia geneem en hulle het hom gesalf en hom koning gemaak in sy pa se plek.
2 KONINGS 23:1-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het die koning gestuur, en hulle het al die oudstes van Juda en Jerusalem by hom versamel. En die koning het opgegaan in die huis van die HERE en al die manne van Juda en al die inwoners van Jerusalem saam met hom, en die priesters en die profete en die hele volk, klein en groot; en hy het al die woorde van die verbondsboek wat in die huis van die HERE gevind is, voor hulle ore gelees. En die koning het op die verhoog gaan staan en die verbond voor die aangesig van die HERE gesluit om die HERE te volg en sy gebooie en sy getuienisse en sy insettinge met die hele hart en met die hele siel te onderhou, om die woorde van hierdie verbond wat in hierdie boek geskrywe is, te bevestig. En die hele volk het toegetree tot die verbond. Toe gee die koning die hoëpriester Hilkía en die priesters van die tweede rang en die drumpelwagters bevel om uit die tempel van die HERE al die voorwerpe uit te bring wat gemaak is vir Baäl en Asjéra en die hele leër van die hemel; en hy het dit buitekant Jerusalem in die velde van Kidron verbrand en die as daarvan na Bet-el laat dra. En hy het die afgodspriesters uitgeroei wat deur die konings van Juda aangestel was om op die hoogtes in die stede van Juda en in die omgewing van Jerusalem rook te laat opgaan, en ook die wat vir Baäl, vir die son en die maan en die sterrebeelde en die hele leër van die hemel offerrook laat opgaan het. En hy het die Asjéra uit die huis van die HERE buitekant Jerusalem uitgebring na die spruit Kidron en dit by die spruit Kidron verbrand en dit tot stof vermaal en sy stof gegooi op die algemene begraafplaas. En hy het die huise van die skandseuns afgebreek wat in die huis van die HERE was, waar die vroue tente geweef het vir Asjéra. En hy het al die priesters uit die stede van Juda laat kom en die hoogtes verontreinig waar die priesters offerrook laat opgaan het, van Geba af tot by Berséba, en die hoogtes van die poorte afgebreek, die wat by die ingang van die poort van Josua, die owerste van die stad, was en die wat aan 'n mens se linkerhand in die stadspoort was. Die priesters van die hoogtes mag egter nie op die altaar van die HERE in Jerusalem geklim het nie, maar hulle het ongesuurde brode onder hulle broers geëet. Hy het ook Tofet verontreinig wat in die dal van die kinders van Hinnom was, sodat niemand sy seun of sy dogter vir Molog deur die vuur sou laat deurgaan nie. En hy het die perde uitgeroei wat die konings van Juda gegee het tot verering van die son, by die ingang van die huis van die HERE, by die kamer van Natan-Meleg, die hofdienaar, in die aanbousel; en die waens van die son het hy met vuur verbrand. Verder, die altare wat op die dak van die bo-kamer van Agas was, wat die konings van Juda gemaak het, en die altare wat Manasse in die twee voorhowe van die huis van die HERE gemaak het, het die koning afgebreek en dit daarvandaan verbrysel en die stof daarvan in die spruit Kidron gegooi. En die hoogtes wat oos van Jerusalem was, suid van die Berg van Bederf, wat Salomo, die koning van Israel, gebou het vir Astárte, die verfoeisel van die Sidoniërs, en vir Kamos, die verfoeisel van die Moabiete, en vir Milkom, die gruwel van die kinders van Ammon, het die koning verontreinig. Hy het ook die klippilare stukkend gebreek en die heilige boomstamme omgekap en hulle plek met mensbene opgevul. En ook die altaar wat in Bet-el was, die hoogte wat Jeróbeam, die seun van Nebat, gebou het, wat Israel laat sondig het, ook daardie altaar en die hoogte het hy afgebreek en die hoogte verbrand; hy het dit tot stof vermaal en die heilige boomstam verbrand. En toe Josía hom omdraai, sien hy die grafte wat daar op die berg was; en hy het die bene uit die grafte laat haal en op die altaar verbrand en dit verontreinig, volgens die woord van die HERE wat verkondig is deur die man van God wat hierdie woorde uitgeroep het. Toe sê hy: Wat is dit vir 'n grafsteen wat ek daar sien? En die manne van die stad antwoord hom: Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en hierdie dinge uitgeroep het wat teen die altaar van Bet-el gedoen het. Daarop sê hy: Laat hom met rus, laat niemand sy bene verroer nie. En hulle het sy bene met die bene van die profeet wat uit Samaría gekom het, met rus gelaat. En ook al die tempels van die hoogtes wat in die stede van Samaría was, wat die konings van Israel gebou het om die HERE te terg, het Josía afgeskaf en daarmee gehandel ooreenkomstig alles wat hy in Bet-el gedoen het. En al die priesters van die hoogtes wat daar was, het hy op die altare geslag en mensbene daarop verbrand en na Jerusalem teruggegaan. Toe gee die koning die hele volk bevel en sê: Hou pasga vir die HERE julle God soos geskrywe is in hierdie verbondsboek. Want soos hierdie pasga is daar nie een gehou van die dae van die Rigters af wat Israel gerig het, en gedurende al die dae van die konings van Israel en die konings van Juda nie; maar in die agttiende jaar van koning Josía is hierdie pasga vir die HERE in Jerusalem gehou. Ook het Josía die dodebesweerders en die waarsêers en die huisgode en die drekgode en al die verfoeisels wat in die land van Juda en in Jerusalem te sien was, uitgeroei, om die woorde van die wet te bevestig wat geskrywe is in die boek wat die priester Hilkía in die huis van die HERE gekry het. En voor hom was daar geen koning soos hy nie wat hom tot die HERE bekeer het met sy hele hart en met sy hele siel en met al sy krag volgens die hele wet van Moses, en ná hom het nie een soos hy opgestaan nie. Nogtans het die HERE Hom nie afgewend van sy groot toorngloed waarmee sy toorn teen Juda ontvlam het oor al die terginge waarmee Manasse Hom geterg het nie. En die HERE het gesê: Ek sal Juda ook van my aangesig verwyder soos Ek Israel verwyder het; en Ek sal hierdie stad Jerusalem verwerp wat Ek verkies het, en die huis waarvan Ek gesê het: My Naam sal daar wees. En die verdere geskiedenis van Josía en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? In sy dae het Farao Nego, die koning van Egipte, teen die koning van Assirië opgetrek na die Eufraatrivier; en koning Josía het hom tegemoetgetrek, maar dié het hom gedood by Megíddo net toe hy hom sien. En sy dienaars het hom dood vervoer van Megíddo af en hom in Jerusalem gebring en hom in sy graf begrawe; en die volk van die land het Jóahas, die seun van Josía, geneem en hom gesalf en hom in die plek van sy vader koning gemaak.
2 KONINGS 23:1-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die afvaardiging het so aan die koning gerapporteer, en hy het al die leiers van Juda en Jerusalem by hom laat bymekaarkom. Daarna is die koning na die huis van die Here toe met al die mense van Juda by hom en ook die inwoners van Jerusalem, die priesters en die Leviete, al die mense, groot en klein. Daar het hy alles aan hulle voorgelees wat in die boek van die verbond gestaan het wat in die huis van die Here gekry is. Toe het die koning op sy plek gaan staan en 'n verbond met die Here gesluit en beloof om die Here te volg en sy gebooie, verordeninge en voorskrifte met sy hele hart en siel te gehoorsaam en om die bepalings van die verbond soos dit in hierdie boek vasgelê is, na te kom. Die hele volk het die verbond aanvaar. Koning Josia het aan die hoëpriester Gilkija, aan die priesters net onder hom en aan die drumpelwagte opdrag gegee om uit die tempel van die Here al die goed te bring wat vir Baäl en Asjera en al die hemelliggame gemaak is. Hulle moes dit verbrand buite Jerusalem op die gelyktes langs die Kedron en die as na Bet-El toe vat. Josia het die afgodspriesters afgesit wat deur die konings van Juda aangestel is en wat offers gebring het op die hoogtes, in die stede van Juda en in die omgewing van Jerusalem. Hy het ook 'n einde gemaak aan dié wat geoffer het vir Baäl en vir die son en die maan en die diereriem en al die ander hemelliggame. Hy het die Asjera uit die huis van die Here laat bring na die Kedronspruit toe buite Jerusalem, dit daar laat verbrand en laat fynstamp. Die as het hy laat weggooi op die grafte van die gewone mense. Hy het die manlike prostitute se kamers by die huis van die Here laat afbreek waarin die vroue klere geweef het vir die diens van Asjera. Verder het Josia al die priesters uit die stede van Juda laat bring en die hoogtes waarop die priesters geoffer het, laat ontwy, van Geba af tot by Berseba. Hy het die hoogtes wat by die poorte was, laat afbreek, ook die een by die poort van die stadsbevelvoerder Josua, aan die linkerkant as 'n mens die stadspoort binnegaan. Josia het nie die priesters wat by die hoogtes geoffer het, by die altaar van die Here in Jerusalem laat kom nie, maar hulle kon saam met hulle ampsgenote ongesuurde brood eet. Hy het die offerplek wat in die Ben-Hinnomdal was, laat ontwy, sodat niemand meer sy seun of dogter as offer vir Molek kon verbrand nie. Die perdebeelde wat deur die konings van Juda ter verering van die son opgestel is, het hy laat verwyder. Hulle het gestaan by die ingang van die huis van die Here, by die kamer van die amptenaar Netan-Melek aan die binneplein. Die sonwa het hy laat verbrand. Die altare wat deur die konings van Juda gebou is op die dak van die bovertrek van Agas, en die altare wat deur Manasse in die twee voorhowe van die huis van die Here gebou is, is deur die koning afgebreek. Hy het hulle net daar laat stukkend slaan en die puin laat weggooi in die Kedronvallei. Verder het die koning die hoogtes laat ontwy wat oos van Jerusalem, suid van die berg van verwoesting, was en wat deur koning Salomo van Israel opgerig is vir die verering van Astarte, die veragtelike godin van die Sidoniërs, Kemos, die veragtelike god van Moab, en Milkom die afskuwelike god van die Ammoniete. Hy het die klippilare laat stukkend slaan, die gewyde pale laat afkap en op hulle plekke mensbene laat gooi. Selfs die altaar in Bet-El, die hoogte wat deur Jerobeam seun van Nebat ingerig is toe hy vir Israel laat sondig het, selfs dié altaar en dié hoogte is deur Josia laat afbreek. Hy het die hoogte laat afbrand en fynslaan en die Asjera laat verbrand. Toe hy omdraai, sien Josia die grafte daar teen die berg. Hy het die bene uit die grafte laat uithaal en hulle op die altaar laat verbrand. So het hy die altaar laat ontwy in ooreenstemming met die woord van die Here wat destyds deur die man van God aangekondig is. Daarna sê Josia: “Watter grafsteen sien ek daar?” en die mense van die stad sê vir hom: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en voorspel het presies wat u met die altaar van Bet-El gedoen het.” Toe sê hy: “Laat hom rus, moenie sy bene versteur nie.” Hulle het toe sy bene en die bene van die profeet wat uit Samaria gekom het, met rus gelaat. Josia het verder al die heiligdomme wat deur die konings van Israel op die hoogtes by die stede van Samaria gebou is om die Here uit te tart, laat opruim. Hy het met hulle gemaak soos hy in Bet-El gedoen het. Al die priesters wat daar op die hoogtes diens gedoen het, het hy op die altare laat slag en mensbene op die altare laat verbrand. Daarna is hy terug Jerusalem toe. Daarna het die koning die volk beveel: “Vier die paasfees tot eer van die Here julle God soos dit voorgeskryf is in hierdie boek van die verbond.” 'n Paasfees soos hierdie is nie gevier van die tyd van die leiers af wat oor Israel geregeer het nie, ook nie tydens die regering van die konings van Israel en Juda nie. Hierdie paasfees tot eer van die Here is in die agtiende regeringsjaar van koning Josia in Jerusalem gevier. Josia het ook die dodebesweerders en die waarsêers, die afgodsbeelde, al die stinkende en veragtelike afgode wat in Juda en Jerusalem te sien was, uitgeroei. So het hy voldoen aan die eise van die wet soos dit opgeteken was in die boek wat die priester Gilkija in die huis van die Here gekry het. Daar was nie voor hom nog so 'n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en siel en met al sy kragte in ooreenstemming met die hele wet van Moses nie, en ná hom was daar ook nie so 'n koning soos hy nie. Die Here het egter nie sy hewige toorn teen Juda laat vaar nie. Hy het toornig gebly oor Manasse se uittartende optrede teen Hom. Hy het gesê: “Ek sal Juda ook uit my teenwoordigheid verwyder, net soos Ek Israel verwyder het. Ek sal hierdie stad, Jerusalem, wat Ek uitverkies het, verwerp, en ook die tempel waarvan Ek gesê het: My Naam sal daar wees.” Die ander verhale oor Josia en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. In sy tyd was die farao koning Neko van Egipte op pad na die koning van Assirië toe aan die Eufraat. Koning Josia het teen die farao opgetrek, maar die farao het hom met die bymekaarkom in Megiddo doodgemaak. Sy lyfwagte het sy lyk op 'n wa gesit en na Jerusalem toe gebring. Daar het hulle hom in sy graf begrawe.
2 KONINGS 23:1-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die koning het boodskappers uitgestuur, en hulle het al die oudstes van Juda en Jerusalem by hom byeengebring. Die koning het toe opgegaan na die huis van die HERE; al die manne van Juda en al die inwoners van Jerusalem was saam met hom, ook die priesters en die profete, ja, die hele volk, van klein tot groot. Ten aanhore van hulle almal het hy al die woorde van die •boekrol met die verbond wat in die huis van die HERE gevind is, voorgelees. Daarna het die koning by die pilaar gaan staan en voor die HERE die verbond gesluit. Hulle het onderneem om die HERE te volg, om sy gebooie, sy bepalings en sy vaste voorskrifte met hulle hele hart en hulle hele wese na te kom, deur die woorde van hierdie verbond wat in hierdie boekrol geskryf is, gestand te doen. Die hele volk het tot die verbond toegetree. Die koning het toe vir Gilkija, die hoëpriester, vir die priesters tweede in rang, en ook die deurwagters, opdrag gegee om uit die •tempel van die HERE al die voorwerpe wat vir Baäl en Asjera, asook al die hemelliggame gemaak is, uit te bring. Hy het dit buite Jerusalem op die terrasse by die Kidron verbrand en die as daarvan na Bet-El geneem. Hy het weggedoen met die afgodspriesters wat die konings van Juda aangestel het, hulle wat offers verbrand het op die offerhoogtes in die dorpe van Juda en in die omgewing van Jerusalem, en ook van dié wat offers verbrand het vir Baäl, vir die son en maan, die sterrebeelde in die diereriem, en al die ander hemelliggame. Hy het ook die asjera uit die huis van die HERE na die Kidrondal buite Jerusalem geneem. Hy het dit in die Kidrondal verbrand, dit fyngestamp tot stof, en die stof weggegooi by die begraafplek van die gewone mense. Hy het die vertrekke van die manlike tempelprostitute wat in die huis van die HERE was en waar die vroue afskortings geweef het vir Asjera, afgebreek. Hy het al die priesters uit die dorpe van Juda laat kom en die offerhoogtes waar die priesters offers verbrand het, verontreinig, van Geba tot Berseba. Hy het die offerhoogtes by die stadspoorte afgebreek, dié wat by die ingang na die poort van Josua, die stadsbestuurder, was, aan die linkerkant wanneer 'n mens by die stadspoort ingaan. Die priesters van die offerhoogtes het egter nie na die HERE se altaar in Jerusalem opgegaan nie, maar hulle het ongesuurde brood geëet saam met hulle stamgenote. Hy het ook Tofet, wat in die Ben-Hinnomdal was, verontreinig, sodat niemand sy seun of sy dogter vir Moleg in die vuur sou offer nie. Hy het weggedoen met die perde wat die konings van Juda aan die songod opgedra het, by die ingang na die huis van die HERE, by Netan-Meleg, die paleisamptenaar se vertrek, wat in die buitegeboue was. Die strydwaens van die songod het hy verbrand. Die altare wat op die dak van die bovertrek van Agas was, wat die konings van Juda opgerig het, en die altare wat Manasse opgerig het in die twee voorhowe van die huis van die HERE, het die koning afgebreek. Hy het dit vinnig daarvandaan verwyder en die stof daarvan in die Kidrondal gegooi. Die offerhoogtes wat oos van Jerusalem was, aan die suidekant van die Berg van Ergernis, het die koning verontreinig, die offerhoogtes wat Salomo, die koning van Israel, opgerig het vir Astarte, die verfoeilike godin van die Sidoniërs, vir Kemos, die verfoeilike god van Moab, en vir Milkom, die afstootlike god van die Ammoniete. Hy het die gedenkstene stukkend gebreek, die asjeras afgekap en die plekke daarvan met mensbeendere gevul. Selfs die altaar wat in Bet-El was en die offerhoogte wat Jerobeam, seun van Nebat, opgerig het, waarmee hy Israel laat sondig het, selfs daardie altaar en die offerhoogte het hy afgebreek. Hy het die offerhoogte afgebrand, tot stof vergruis en die asjera verbrand. Toe Josia omdraai, sien hy die grafte wat daar op die heuwel was. Hy het toe die beendere uit die grafte laat haal. Hy het dit op die altaar verbrand en dit verontreinig, ooreenkomstig die woord van die HERE wat die man van God uitgeroep het, hy wat hierdie gebeure aangekondig het. Josia het gevra: “Watter grafsteen is dit wat ek hier sien?” Die manne van die dorp het hom geantwoord: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en hierdie gebeure voorspel het, dit wat u met die altaar van Bet-El gedoen het.” Daarop sê hy: “Laat hom met rus; niemand moet sy beendere versteur nie.” Hulle het sy beendere en die beendere van die profeet wat uit Samaria gekom het, ongeskonde gelaat. Ook al die tempels op die offerhoogtes wat in die dorpe van Samaria was, wat die konings van Israel opgerig het om die HERE uit te tart, het Josia verwyder. Hy het daarmee gemaak net soos wat hy in Bet-El gedoen het. Hy het al die priesters van die offerhoogtes wat daar was, op die altare geslag en mensbeendere daarop verbrand. Toe het hy na Jerusalem teruggekeer. Daarna het die koning die hele volk opdrag gegee en gesê: “Vier die Pasga vir die HERE julle God, soos dit geskryf staan in hierdie boekrol met die verbond.” Ja, 'n Pasga soos hierdie is nie gevier sedert die tyd van die rigters wat Israel gerig het nie, ook nie gedurende al die dae van die konings van Israel en die konings van Juda nie. Maar eers in die agttiende regeringsjaar van koning Josia is hierdie Pasga vir die HERE in Jerusalem gevier. Ook die dodebesweerders en waarsêers, die huisgode en die afgodsbeelde, al die verfoeilike gode wat in die land Juda en in Jerusalem te sien was, het Josia uitgeroei, om uitvoering te gee aan die woorde van die wet wat opgeteken was in die boekrol wat Gilkija, die priester, in die huis van die HERE gevind het. 'n Koning soos hy was daar nie voor hom nie – iemand wat na die HERE teruggekeer het met sy hele hart en met sy hele wese en met al sy krag, in ooreenstemming met die hele Wet van Moses. En ná hom het daar ook nie iemand soos hy opgestaan nie. En tog het die HERE nie afgesien van sy verskriklike brandende toorn wat teen Juda gebrand het oor al die treiterings waarmee Manasse Hom getart het nie. Die HERE het gesê: “Ook Juda sal Ek uit my teenwoordigheid verwyder, soos Ek Israel verwyder het; en Ek sal hierdie stad, Jerusalem, wat Ek uitverkies het, verwerp, asook die tempel waarvan Ek gesê het, ‘My Naam sal daar wees.’ ” Die verdere geskiedenis van Josia en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? In sy tyd het farao Nego, koning van Egipte, teen die koning van Assirië opgetrek na die Eufraatrivier. Koning Josia het hom tegemoetgetrek, maar Nego het hom by Megiddo doodgemaak toe hy hom teëkom. Sy dienaars het hom dood op 'n strydwa teruggebring van Megiddo af. Hulle het hom na Jerusalem geneem en hom in sy graf neergelê. Die volk van die land het Jehoagas, seun van Josia, geneem, hom gesalf en hom koning gemaak in die plek van sy vader.
2 KONINGS 23:1-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die koning het gestuur, en hulle het al die oudstes van Juda en Jerusalem by hom versamel. En die koning het opgegaan na die huis van die HERE, en al die manne van Juda en al die inwoners van Jerusalem saam met hom, en die priesters en die profete en die hele volk, klein en groot, en hy het gelees in hulle hoor al die woorde van die boek van die verbond wat in die huis van die HERE gevind is. En die koning het by 'n gedenksteen gaan staan en 'n verbond gesluit voor die aangesig van die HERE om agter die HERE aan te wandel en sy gebooie en sy getuienisse en sy insettinge te onderhou met hulle hele hart en met hulle hele siel, om die woorde van hierdie verbond uit te voer wat is in hierdie boek geskryf. En die hele volk het by die verbond gestaan. En die koning het die hoëpriester Hilkía en die priesters van die tweede orde en die deurwagters bevel gegee om uit die tempel van die HERE al die voorwerpe uit te bring wat vir Baäl en vir die bos en die hele leër van die hemel, en hy het hulle buite Jerusalem in die veld van Kedron verbrand en die as daarvan na Bet-el gebring. En hy het die afgodiese priesters neergesit wat die konings van Juda aangestel het om rook te laat opgaan op die hoogtes in die stede van Juda en in die plekke rondom Jerusalem; ook die wat rook laat opgaan het vir Baäl, vir die son en die maan en vir die planete en vir die hele leër van die hemel. En hy het die bos uit die huis van die HERE buitekant Jerusalem uitgebring na die spruit Kidron en dit verbrand by die spruit Kidron en dit fyngedruk tot poeier en die poeier daarvan gegooi op die grafte van die kinders van die volk. En hy het die huise van die sodomiete afgebreek wat by die huis van die HERE was, waar die vroue behangsels vir die bos geweef het. En hy het al die priesters uit die stede van Juda gebring en die hoogtes waar die priesters rook laat opgaan het, verontreinig, van Geba af tot Berséba, en die hoogtes van die poorte wat by die ingang van die poort van Josua was, afgebreek. Die goewerneur van die stad, wat aan die linkerhand van 'n man was by die poort van die stad. Maar die priesters van die hoogtes het nie na die altaar van die HERE in Jerusalem opgegaan nie, maar hulle het van die ongesuurde brode onder hulle broers geëet. En hy het Tofet, wat in die dal van die kinders van Hinnom is, verontreinig, sodat niemand sy seun of sy dogter vir Molog deur die vuur sou laat deurgaan nie. En hy het die perde weggeneem wat die konings van Juda aan die son gegee het, by die ingang van die huis van die HERE, deur die kamer van Natánmeleg, die hofdienaar, wat in die weiveld was, en die strydwaens van die son verbrand met vuur. En die altare wat bo-op die bovertrek van Agas was, wat die konings van Juda gemaak het, en die altare wat Manasse in die twee voorhowe van die huis van die HERE gemaak het, het die koning afgebreek en dit verbreek daarvandaan af en gooi hulle stof in die spruit Kidron. En die hoogtes wat voor Jerusalem was, wat aan die regterkant van die berg van verderf was, wat Salomo, die koning van Israel, gebou het vir Astarte, die gruwel van die Sidoniërs, en vir Kamos, die gruwel van die Moabiete, en vir Milkom, die gruwel van die kinders van Ammon, het die koning verontreinig. En hy het die beelde stukkend gebreek en die bosse afgekap en hulle plekke gevul met die beendere van mense. Verder het hy die altaar wat by Bet-el was, en die hoogte gemaak wat Jerobeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het, die altaar sowel as die hoogte laat afbreek het en die hoogte verbrand en dit klein gestamp het poeier, en die bos verbrand. En toe Josia homself omdraai, bekyk hy die grafte wat daar op die berg was, en stuur en haal die bene uit die grafte en verbrand dit op die altaar en verontreinig dit volgens die woord van die HERE wat die man van God verkondig, wat hierdie woorde verkondig het. Toe sê hy: Watter titel is dit wat ek sien? En die manne van die stad het hom meegedeel: Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom het en hierdie dinge verkondig het wat jy teen die altaar van Bet-el gedoen het. En hy sê: Laat hom staan; laat niemand sy gebeente beweeg nie. En hulle het sy gebeente laat staan, saam met die bene van die profeet wat uit Samaria gekom het. En ook al die huise van die hoogtes wat in die stede van Samaria was, wat die konings van Israel gemaak het om die HERE te terg, het Josia weggeneem en met hulle gedoen volgens al die dade wat hy in Bet-el gedoen het. En hy het al die priesters van die hoogtes wat daar was, op die altare gedood en mensebeendere daarop verbrand en na Jerusalem teruggekeer. En die koning het aan die hele volk bevel gegee en gesê: Hou die pasga vir die HERE julle God, soos geskrywe is in die boek van hierdie verbond. Waarlik, so 'n pasga was nie gehou van die dae van die regters wat Israel gerig het nie, en ook nie in al die dae van die konings van Israel en van die konings van Juda nie; Maar in die agtiende jaar van koning Josia, waarin hierdie pasga vir die HERE in Jerusalem gehou is. Verder het Josia die werkers met afgestorwene geeste en die towenaars en die beelde en die afgode en al die gruwels wat in die land Juda en in Jerusalem gespioeneer is, weggesit om die woorde van die wet te volbring wat was beskrywe in die boek wat die priester Hilkía in die huis van die HERE gevind het. En soos hy was daar geen koning voor hom wat hom tot die HERE bekeer het met sy hele hart en met sy hele siel en met al sy krag, volgens die hele wet van Moses nie; en ná hom het daar niemand soos hy opgestaan nie. Maar die HERE het hom nie afgewend van die gloed van sy groot toorn waarmee sy toorn teen Juda ontvlam het nie, vanweë al die ergernis waarmee Manasse hom geterg het. En die HERE het gesê: Ek sal Juda ook van my aangesig verwyder, soos Ek Israel verwyder het, en hierdie stad Jerusalem wat Ek verkies het, en die huis waarvan Ek gesê het: My Naam sal daar wees, verwerp. En die verdere geskiedenis van Josía en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? In sy dae het Farao Nego, die koning van Egipte, opgetrek teen die koning van Assirië na die Eufraatrivier, en koning Josia het teen hom opgetrek; en hy het hom by Megiddo gedood toe hy hom gesien het. En sy dienaars het hom dood in 'n wa van Megiddo af gedra en hom na Jerusalem gebring en hom in sy eie graf begrawe. En die volk van die land het Joahas, die seun van Josía, geneem en hom gesalf en hom koning gemaak in die plek van sy vader.
2 KONINGS 23:1-30 Die Boodskap (DB)
Nadat Josia die boodskap gehoor het, het hy ’n vergadering met die leiers van Juda en Jerusalem belê. Hy en al die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem, die belangrikes én die onbelangrikes, asook die priesters en die profete het na die tempel toe gegaan. Daar het hy vir hulle die hele wetboek voorgelees wat Gilkija in die tempel gekry het. Josia het toe op die koning se ereplek gaan staan en met die Here ’n ooreenkoms gesluit. Hy het belowe om met volle oorgawe alles te doen wat die Here volgens die wetboek vra. Die hele volk het hulle ook tot die ooreenkoms verbind. Josia het toe met ’n omvangryke hervorming van die godsdiens in Jerusalem begin: Hy het die hoëpriester Gilkija, die priesters net onder hom en die deurwagte opdrag gegee om alles in die tempel bymekaar te maak wat vir Baäl, Asjera of die hemelgode gebruik is. Hulle het dit uitgedra en dit op die terrasse van die Kidronvallei, buite die stad, verbrand. Die as het hy Bet-El toe laat neem. Hy het ook die priesters afgesit wat offers gebrand het op die heidense heilige plekke in Juda en in die omgewing van Jerusalem. Hulle is vroeër deur die konings van Juda aangestel. Hy het ook ontslae geraak van die priesters wat vir Baäl, Asjera, die son, die maan, die sterrebeelde en die ander hemelgode offers gebrand het. Hy het die Asjerastomp uit die tempel laat haal en dit by die Kidronspruit laat verbrand. Die kole het hy laat fynstamp en die as in die openbare begraafplaas laat uitgooi. Hy het die huise op die tempelterrein laat afbreek wat aan die heilige prostitute behoort het. Dit is waar die vroue materiaal geweef het wat vir die verering van Asjera gebruik is. Hy het al die priesters wat in die stede van Juda vir die Here gewerk het, na Jerusalem toe laat kom. Hy het die heilige plekke waar hulle gewerk het, van Geba af tot by Berseba, tot niet gemaak, asook die heilige plekke by Josua se poort. (Josua was die offisier in bevel van Jerusalem, en sy plek was net links van die stadspoort.) Hierdie priesters mag nie op die altaar van die Here in Jerusalem gewerk het nie. Hulle kon egter wel saam met die ander priesters van die ongesuurde brood eet wat net vir priesters bedoel was. Hy het die offerplek in die Ben-Hinnom-dal, waar hulle kinders vir Molek geoffer het, ook laat vernietig, sodat niemand dit ooit weer vir dié doel sou kon gebruik nie. Hy het die perdebeelde vernietig wat by die ingang van die tempel gestaan het. Dit was naby die kamer van Netan-Melek wat by die paleis gewerk het. Vroeëre konings van Juda het beelde gegee om die son te vereer. Hy het ook die waens van die son verbrand. Hy het ook verskeie altare vernietig. Dit sluit in die altare op die dak van Agas se kamer wat die konings van Juda gebou het en die altare wat Manasse in die twee portale van die tempel gebou het. Hy het die altare laat afbreek waar hulle gestaan het en die rommel in die Kidronspruit laat weggooi. Hy het die heilige plekke oos van Jerusalem, suid van die Olyfberg, ook laat vernietig. Dit is die heiligdomme wat Salomo, die koning van Israel, nog gebou het. Hulle was bedoel vir: Astarte, die mense van Sidon se veragtelike godin; Kemos, die mense van Moab se veragtelike god; Milkom, die mense van Ammon se afstootlike god. •Hy het die klippilare gebreek en die Asjerastompe afgekap en die plek met mensbene bestrooi. Josia het ook elders in die land teen heiligdomme opgetree. By Bet-El het hy die heilige plek en altaar afgebreek wat Jerobeam I, seun van Nebat, daar gebou het en waar hy die mense van Israel verkeerd laat doen het. Hy het ook die Asjerastomp verbrand. Toe hy omdraai, sien Josia die grafte teen die berg. Hy het die bene uit die grafte laat haal en dit op die altaar verbrand. Hierna kon die altaar nooit weer as ’n heilige plek gebruik word nie. Dit was net soos die profeet uit Juda destyds die Here se oordeel oor Bet-El aangekondig het toe Jerobeam tydens die feestyd by die altaar gestaan het. Daarna het Josia gevra: “Wie se grafsteen is daardie een wat ek daar sien?” Die mense van Bet-El het vir hom gesê: “Dit is die graf van die profeet uit Juda, wat hierdie dinge wat u nou met die altaar gedoen het, hier kom voorspel het.” Josia het toe beveel: “Laat dié graf dan met rus en moenie die bene uithaal nie.” So het dit gebeur dat hulle die bene van die profeet uit Juda en dié van die ou profeet uit Samaria nie versteur het nie. Josia het ook die tempels vernietig wat die konings van Israel in Samaria gebou het. Hy het dit op dieselfde manier behandel as die heilige plek by Bet-El. Hy het die priesters wat by die heilige plekke gewerk het op die altare laat doodmaak en mensbene op die altare verbrand om hulle te ontwy. Daarna het hy na Jerusalem toe teruggegaan. Josia het al sy mense beveel: “Julle moet die paasfees ter ere van die Here julle God vier, soos dit in die wetboek beskryf word.” Die paasfees is in al die jare van die konings van Israel en Juda nie só gevier nie. Dit het laas gebeur in die tyd toe die rigters in Israel regeer het. Die paasfees ter ere van die Here is in Jerusalem tot eer van die Here gevier in die agtiende jaar wat Josia regeer het. By alles wat hy reeds gedoen het, het Josia ook nog ontslae geraak van alle mense wat geeste oproep en waarsêery beoefen het, asook van alle huisgode en elke ander manier waarop afgode in Juda of in Jerusalem gedien kon word. Dit was alles bedoel om te voldoen aan die Here se eise volgens die wetboek wat Gilkija in die tempel gekry het. Daar was in die hele geskiedenis nie nog ’n koning soos Josia nie. Daar was nie een wat hom só heelhartig en met al sy krag daaraan gewy het om alles te doen wat die Here volgens die wet van Moses van hom verwag het nie. Daar was ook ná hom nie weer so ’n koning soos hy nie. Die Here het egter nie sy besluit oor Juda verander nie. Hy was nog altyd woedend oor die dinge wat Manasse gedoen het. Die Here het besluit: “Ek gaan van Juda ontslae raak soos wat Ek van Israel ontslae geraak het. Ook Jerusalem wat Ek self gekies het en die tempel waarvan Ek vroeër gesê het: ‘Dit is die plek waar Ek sal woon,’ verwerp Ek nou.” Die res van Josia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. Terwyl Josia koning was, het farao Neko, die koning van Egipte, na die Eufraatrivier toe gegaan om die koning van Assirië te gaan help. Josia wou dit keer en het met sy leër teen die farao gaan veg. Hulle het mekaar by Megiddo ontmoet, maar Neko het Josia doodgemaak. Josia se lyfwagte het sy lyk op ’n strydwa gesit en hom teruggevat Jerusalem toe. Daar is hy in sy graf begrawe en die mense van die land het sy seun Joahas in sy plek koning gemaak.
2 KONINGS 23:1-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe roep die koning al die leiers van Juda en Jerusalem bymekaar. Die koning het opgegaan na die HERE se tempel toe. Saam met hom het al die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem, asook die priesters en die profete, almal, klein en groot, gegaan. Daar het die koning die hele boek van die verbond wat in die tempel van die HERE gekry is, voorgelees. Die koning neem toe sy plek in langs die pilaar en het die verbond voor die HERE hernu. Hy het onderneem om die HERE te volg deur al sy voorskrifte, bepalings en gebooie met hart en siel te gehoorsaam. So het hy al die voorwaardes van hierdie verbond soos dit in die boekrol geskryf was, bekragtig. Die hele volk het hulle ook tot die verbond verbind. Daarop het die koning vir die hoëpriester Gilkija, die priesters tweede in bevel en die poortwagters van die tempel beveel om al die voorwerpe wat vir Baäl, Asjera en al die hemelliggame gemaak is, uit die tempel van die HERE te verwyder. Hulle moes al hierdie voorwerpe buite Jerusalem op die terrasse van die Kidronvallei verbrand en die as na Bet-El toe vat. Hy het ontslae geraak van die afgodspriesters wat die vorige konings van Juda aangestel het, want hulle het op die hoogtes in die dorpe van Juda, asook in die omgewing van Jerusalem offers gebring. Hulle het ook offers gebring vir Baäl, die son, die maan, die sterrebeelde en al die ander hemelliggame. Die koning het die Asjerapaal uit die HERE se tempel na die Kidronvallei buite Jerusalem laat bring. Daar is dit verbrand, vergruis en op die grafte van die gewone mense gestrooi. Hy het ook die kamers van die manlike prostitute binne die tempel van die HERE afgebreek. Dis waar die vroue weefwerk vir Asjera gedoen het. Josia het al die priesters van ander dorpe in Juda laat kom en die hoogtes waar hulle geoffer het, ontwy. Dit was vanaf Geba tot by Berseba. Hy het die hoogtes by die poorte vernietig, ook die een by die poort van Josua, die stadsbevelvoerder. Hierdie poort was aan die linkerkant wanneer ’n mens die stadspoort binnegaan. Die priesters wat by die hoogtes geoffer het, is nie toegelaat om by die HERE se altaar in Jerusalem diens te doen nie, maar kon saam met die ander priesters ongesuurde brood eet. Die Tofet in die Ben-Hinnomdal het hy laat ontwy sodat niemand dit weer kon gebruik om ’n seun of dogter in die vuur te offer as offer vir Molek nie. Hy het ook die perdestandbeelde wat die vorige konings van Juda aan die son gewy het, verwyder. Dit was by die ingang na die tempel van die HERE en naby die woonkwartiere van die ontmande amptenaar Netan-Melek. Die koning het ook die waens wat aan die son gewy was, verbrand. Op die dak van die bokamer van Agas het die konings van Juda altare gebou. Josia het dit afgebreek. Hy het die altare wat Manasse in die twee binnehowe van die HERE se tempel gebou het, vernietig. Hy het hulle aan stukke gekap en die puin in die Kidronvallei gegooi. Die koning het verder ook die hoogtes oos van Jerusalem en suid van die Berg van Verwoesting ontwy. Dis waar koning Salomo van Israel hoogtes ter verering van Astarte, die veragtelike godin van die Sidoniërs, en Kemos, die afskuwelike afgod van die Moabiete, en vir Milkom, die veragtelike god van die Ammoniete, opgerig het. Hy het die heilige pilare stukkend geslaan en die Asjerapale afgekap. Daarna het hy al hierdie plekke ontwy deur mensbene daaroor te strooi. Daarby het die koning sowel die altaar in Bet-El as die hoogte wat Jerobeam seun van Nebat opgerig het en so Israel tot sonde gelei het, afgebreek. Hy het die klippe fyngemaal tot stof en die Asjerapaal verbrand. Toe Josia verder rondkyk, sien hy verskeie grafte teen die kant van die heuwel. Hy het die bene uitgehaal en dit op die altaar in Bet-El verbrand om dit te ontwy. Dit het gebeur net soos die HERE destyds deur die man van God aangekondig het. “Watter grafsteen sien ek daar anderkant?” vra Josia. Die mense van die stad vertel hom toe: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en voorspel het presies wat u so pas met die altaar in Bet-El gedoen het!” Josia sê toe: “Laat hom met rus. Moenie aan die bene raak nie.” Hulle het toe sy bene en dié van die ou profeet uit Samaria met rus gelaat. Daarna het Josia al die heiligdomme by die afgodshoogtes in die dorpe van Samaria afgebreek, net soos hy in Bet-El gedoen het. Die konings van Israel het hierdie geboue opgerig en daardeur die HERE getart. Hy het al die priesters van die hoogtes op hulle eie altare doodgemaak en die altare ontwy deur mensbene daarop te verbrand. Daarna het hy na Jerusalem toe teruggegaan. Hierna het koning Josia die hele volk beveel: “Kom vier nou die Paasfees van die HERE julle God soos dit in hierdie boek van die verbond beskryf is.” Daar was nog nooit so ’n Paasfeesviering sedert die dae toe die rigters in Israel regeer het, of selfs gedurende die regering van die konings in Israel en Juda nie. Hierdie Paasfees is in Jerusalem tot eer van die HERE gevier gedurende die agtiende jaar van koning Josia se regering in Jerusalem. Josia het ook die dodebesweerders en waarsêers, die huisgode, die afgode en elke afstootlike ding wat in Juda en Jerusalem te sien was, uitgewis. Hy het dit gedoen in gehoorsaamheid aan al die voorskrifte van die wet wat in die boekrol was wat die priester Gilkija in die HERE se tempel gekry het. Voor hom was daar nie ’n koning soos hy wat hom tot die HERE bekeer het nie. Dit het hy gedoen met sy hele hart en siel en met al sy kragte volgens al die gebooie van Moses. Ná hom was daar ook nie weer ’n koning soos hy nie. Nogtans het die HERE se toorn oor Juda voortgeduur. Dit was as gevolg van die bose dade van koning Manasse. Hy het nie sy toorn oor hulle laat vaar nie. Die HERE het gesê: “Ek sal my teenwoordigheid uit Juda wegneem net soos Ek met Israel gedoen het. Ek sal hierdie stad Jerusalem wat Ek verkies het, verwerp, asook die tempel waarvan Ek gesê het: ‘My Naam sal daar wees.’” Die ander gebeurtenisse tydens Josia se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda. Terwyl Josia koning was, was farao Neko, die koning van Egipte, op pad na die Eufraatrivier om die koning van Assirië te gaan help. Koning Josia het teen hom opgetrek, maar koning Neko het hom doodgemaak toe hulle by Megiddo teenoor mekaar te staan gekom het. Josia se soldate het sy liggaam in ’n wa uit Megiddo na Jerusalem toe gebring en hom in sy eie graf begrawe. Die burgers van die land het sy seun Joahas as koning in sy plek gesalf.