2 KONINGS 2:9-12
2 KONINGS 2:9-12 Bybel vir almal (ABA)
Terwyl hulle deur die rivier geloop het, het Elia vir Elisa gesê: “Jy moet sê wat ek vir jou moet doen voordat die Here my wegneem van jou.” Elisa het geantwoord: “Ek wil asseblief ook 'n profeet wees soos jy, maar twee maal beter as ander profete.” Toe sê Elia: “Dit is 'n moeilike ding wat jy gevra het. As jy my sien wanneer die Here my wegneem, dan sal jy dit kry, maar as jy my nie sien nie, dan sal jy dit nie kry nie.” Terwyl hulle geloop en praat het, het daar skielik 'n oorlogkar en perde van vuur tussen Elia en Elisa gekom, en Elia het in 'n stormwind opgegaan in die lug. Elisa het dit gesien, en hy het geskree: “My vader, my vader, jy was vir Israel soos 'n oorlogkar en manne op perde!” Toe Elisa nie meer vir Elia kon sien nie, het hy sy klere in twee stukke geskeur.
2 KONINGS 2:9-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En nadat hulle deur was, sê Elía vir Elísa: Begeer wat ek vir jou moet doen, voordat ek van jou af weggeneem word. En Elísa antwoord: Laat dan tog 'n dubbele deel van u gees op my kom. En hy sê: Jy het 'n harde saak begeer. As jy my sien wanneer ek van jou af weggeneem word, laat dit dan so met jou wees. Maar so nie, dan sal dit nie wees nie. En terwyl hulle aldeur loop en spreek, kom daar meteens 'n wa van vuur met perde van vuur wat skeiding tussen hulle twee maak; en Elía het in die storm na die hemel opgevaar. En Elísa het dit gesien en geroep: My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters! En toe hy hom nie meer sien nie, het hy sy klere gegryp en dit in twee stukke geskeur.
2 KONINGS 2:9-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Net toe hulle deur is, sê Elia vir Elisa: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen voordat ek van jou af weggevat word?” Elisa het geantwoord: “Mag daar tog 'n dubbele deel van u gees op my kom!” Toe sê Elia: “Dis 'n moeilike ding wat jy vra. As jy my sien wanneer ek van jou af weggevat word, mag dit dan met jou gebeur; maar as jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.” Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik 'n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in 'n stormwind op, die hemel in. Toe Elisa dit sien, het hy uitgeroep: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!” Toe Elisa nie meer vir Elia kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee stukke geskeur.
2 KONINGS 2:9-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle was net deur, toe vra Elia vir Elisa: “Vra wat ek vir jou kan doen voordat ek van jou af weggeneem word.” Elisa het geantwoord: “Laat daar asseblief 'n dubbele deel van u gees na my kom.” Daarop sê Elia: “Jy vra iets wat moeilik is. As jy my sien terwyl ek van jou af weggeneem word, mag dit dan vir jou so wees; maar indien nie, sal dit nie gebeur nie.” Terwyl hulle nog so loop en praat, is daar skielik 'n strydwa van vuur en perde van vuur! Dit het skeiding gebring tussen hulle twee, en Elia het in die stormwind opgegaan na die hemel. Elisa het dit sien gebeur en het bly uitroep: “My vader, my vader, strydwa van Israel en sy perde!” Toe hy hom nie meer kon sien nie, het hy sy klere vasgegryp en in twee geskeur.
2 KONINGS 2:9-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe hulle deurgetrek het, sê Elía vir Elísa: Vra wat ek vir jou moet doen voordat ek van jou weggeneem word. En Elísa sê: Laat tog 'n dubbele deel van jou gees op my wees. En hy sê: Jy het iets moeiliks gevra; maar as jy my sien as ek van jou weggeneem word, sal dit met jou so wees; maar so nie, sal dit nie so wees nie. En terwyl hulle nog voortgaan en praat, het daar 'n wa van vuur en perde van vuur verskyn en hulle altwee uitmekaar geskeur; en Elia het in 'n warrelwind na die hemel opgegaan. Toe Elisa dit sien, het hy geroep: My vader, my vader, die wa van Israel en sy ruiters! En hy het hom nie meer gesien nie, en hy het sy eie klere gegryp en dit in twee stukke geskeur.
2 KONINGS 2:9-12 Die Boodskap (DB)
Aan die ander kant het Elia vir Elisa gevra: “Wat kan ek nog vir jou doen voordat ek van jou af weggeneem word?” Elisa het geantwoord: “Laat ek as seun wat eerste gebore is, ’n dubbele porsie erf.” Elia sê toe: “Jy het iets moeiliks gevra. As jy my kan sien wanneer ek van jou af weggaan, sal dit gebeur. Maar as jy my nie kan sien nie, sal dit nie gebeur nie.” Terwyl hulle so geloop en praat het, kom daar skielik ’n wa van vuur, getrek deur perde van vuur, tussen hulle twee in. Elia is só in ’n stormwind na die hemel toe weggeneem. Elisa het dit sien gebeur en uitgeroep: “My vader! My vader! U is Israel se strydwa en ruiters!” Toe hy Elia nie meer kon sien nie, het hy van hartseer sy mantel in twee stukke geskeur.
2 KONINGS 2:9-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe hulle oorkant aankom, sê Elia vir Elisa: “Wat kan ek vir jou doen voordat ek van jou weggeneem word?” “Laat my asseblief ’n dubbele erfgenaamsdeel van u gees ontvang,” antwoord Elisa. “Jy vra my ’n moeilike saak,” antwoord Elia. “As jy sien hoe ek van jou af weggeneem word, sal jy dit ontvang. As jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.” Terwyl hulle nog so aanstap en gesels, verskyn daar skielik ’n wa van vuur, getrek deur perde van vuur. Dit het hulle van mekaar geskei. Elia is in ’n stormwind opgeneem na die hemel toe. Toe Elisa dit sien, roep hy uit: “My vader! My vader! Die strydwa en perderuiters van Israel!” Toe Elisa hom nie meer kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee geskeur.