2 Konings 2:9-12

2 Konings 2:9-12 AFR20

Hulle was net deur, toe vra Elia vir Elisa: “Vra wat ek vir jou kan doen voordat ek van jou af weggeneem word.” Elisa het geantwoord: “Laat daar asseblief 'n dubbele deel van u gees na my kom.” Daarop sê Elia: “Jy vra iets wat moeilik is. As jy my sien terwyl ek van jou af weggeneem word, mag dit dan vir jou so wees; maar indien nie, sal dit nie gebeur nie.” Terwyl hulle nog so loop en praat, is daar skielik 'n strydwa van vuur en perde van vuur! Dit het skeiding gebring tussen hulle twee, en Elia het in die stormwind opgegaan na die hemel. Elisa het dit sien gebeur en het bly uitroep: “My vader, my vader, strydwa van Israel en sy perde!” Toe hy hom nie meer kon sien nie, het hy sy klere vasgegryp en in twee geskeur.