2 KONINGS 18:13-37
2 KONINGS 18:13-37 Bybel vir almal (ABA)
Koning Sanherib van Assirië het al die sterk stede in die land Juda aangeval en hy het hulle oorwin. Dit was in die veertiende jaar nadat Hiskia koning geword het. Koning Hiskia van Juda het vir die koning van Assirië in die stad Lakis 'n boodskap gestuur. Hiskia het vir hom gesê: “Ek het verkeerd gedoen. Jy moenie teen my oorlog maak nie, ek sal vir jou betaal wat jy vra.” Die koning van Assirië het gesê Hiskia moet 300 talente silwer en 30 talente goud betaal. Hiskia het vir die koning van Assirië al die silwer gegee wat hy kon kry in die tempel en in die stoorkamers van die paleis. Hiskia het ook in daardie tyd die goudplaat afgehaal wat hy aan die tempel se deure en aan die deure se rame laat sit het. Hy het dit vir die koning van Assirië gegee. Die koning van Assirië het sy hoof-offisier en twee ander belangrike offisiere van die stad Lakis na koning Hiskia toe gestuur. Daar was baie soldate saam met die offisiere. Die offisiere het gaan staan by die watersloot uit die boonste dam. Dit was langs die pad na die plek waar die mense altyd die wol gewas het. Die offisiere het geskree en gevra waar die koning is. Eljakim seun van Gilkija, en Sebna en Joag, seun van Asaf, het na die offisiere toe gegaan. Hulle was die drie belangrikste amptenare van koning Hiskia. Die hoof-offisier het vir hulle gesê: “Julle moet vir koning Hiskia sê ons bring 'n boodskap van die groot koning, die koning van Assirië. Die koning vra vir Hiskia: Hiskia, dink jy iemand kan jou help? Jy wil oorlog maak teen my, maar dit sal jou nie help om net te praat en planne te maak nie. Jy dink nou Egipte sal jou help, maar Egipte is soos 'n riet-kierie wat gebreek het. As jy op die riet druk, dan steek dit jou hand stukkend. Die farao, die koning van Egipte, is soos 'n riet-kierie vir almal wat dink dat hy hulle sal help. Julle sê vir my dat julle God die Here julle sal help, maar ek sê Hy sal dit nie doen nie, want Hiskia het julle God se offer-plekke en altare afgebreek. Hiskia het vir die mense van Juda en Jerusalem gesê hulle mag net bid by die brandoffer-altaar in Jerusalem. Ek sal vir jou sê wat my koning sal doen, die koning van Assirië. Hy sal vir jou 2 000 perde gee as jy genoeg soldate het om op die perde te ry. Maar jy het nie genoeg soldate nie. Jy kan nie 'n oorlog wen teen een goewerneur nie, teen een van die onbelangrikste amptenare van my koning nie. Maar nou dink jy Egipte kan jou help. Jy dink Egipte kan vir jou oorlogkarre en perde gee. Jy moet ook weet dit is nie ék wat besluit het om hierdie land te verwoes nie. Dit is die Here wat vir my gesê het: ‘Jy moet daardie land gaan verwoes.’ ” Eljakim en Sebna en Joag het vir die hoof-offisier gesê: “Jy moet asseblief Aramees praat met ons, dit is 'n taal wat ons verstaan. Jy moenie met ons Judees praat nie, want ons wil nie hê dat die mense op die muur moet verstaan wat jy sê nie.” Die hoof-offisier het gesê: “My koning het my nie gestuur om hierdie boodskap net vir julle koning en vir julle te bring nie. Ek moet die boodskap ook bring vir hierdie mense wat op die muur sit. Hulle sal hulle eie mis moet eet en hulle eie urine moet drink, en julle sal dit ook moet doen.” Toe gaan staan die hoof-offisier by die muur. Hy het Judees gepraat en hard gesê: “Julle moet hoor wat sê die groot koning, die koning van Assirië. Die koning sê julle moenie dat Hiskia julle bedrieg nie. Hiskia kan julle nie red nie. Hiskia sê julle moet glo dat die Here julle sal red, hy sê die koning van Assirië sal nie hierdie stad oorwin nie, dit is seker. Maar julle moenie vir Hiskia glo nie. Julle moenie na hom luister nie, want die koning van Assirië sê: ‘Julle moet vrede maak met my en julle moet na my toe kom. Dan kan julle elkeen eers op sy eie grond bly en elkeen kan sy eie druiwe en vye eet en water drink uit sy eie put. Later sal ek kom en ek sal julle wegvat na 'n land wat soos julle land is, 'n land waar daar koring en wyn is, 'n land waar daar kos en wingerde is, 'n land waar daar olyf-olie en heuning is. Ek sal dit doen sodat julle kan lewe en nie sal sterf nie. Julle moet oppas dat Hiskia julle nie bedrieg nie. Hy sê die Here sal julle red, maar ek vra vir julle: Kon die gode van die ander volke hulle lande beskerm teen die koning van Assirië? Nee. Waar is die gode van die stede Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarwajim, Hena en Awwa? Daardie gode kon nie vir hulle help nie. En wie kon die mense van Samaria beskerm teen my? Niemand. Wie van al die gode van daardie lande kon sy land beskerm teen my? Nie een nie, en die Here kan Jerusalem ook nie beskerm teen my nie.’ ” Eljakim en die ander twee manne het stilgebly, hulle het nie die hoof-offisier geantwoord nie, want koning Hiskia het gesê hulle moenie die hoof-offisier antwoord nie. Hulle het na Hiskia toe gegaan en hulle het hulle klere geskeur en vir hom vertel wat die hoof-offisier gesê het.
2 KONINGS 18:13-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar in die veertiende jaar van koning Hiskía het Sánherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en dit verower. Toe laat Hiskía, die koning van Juda, die koning van Assirië na Lagis weet: Ek het gesondig; trek terug van my af weg; wat u my oplê, sal ek lewer. En die koning van Assirië het aan Hiskía, die koning van Juda, driehonderd talente silwer en dertig talente goud opgelê. En Hiskía het al die silwer gegee wat in die huis van die HERE te vinde was en in die skatkamers van die huis van die koning. In dieselfde tyd het Hiskía die goud van die deure in die tempel van die HERE afgesny en van die deurposte wat Hiskía, die koning van Juda, oorgetrek het, en dit aan die koning van Assirië gegee. Toe stuur die koning van Assirië die tartan en die rábsaris en die rábsake uit Lagis met 'n swaar leër na koning Hiskía na Jerusalem toe; en hulle het opgetrek en by Jerusalem gekom. En toe hulle optrek en aankom, het hulle gaan staan by die watervoor van die Boonste Dam wat aan die grootpad van die Bleikveld lê. En hulle het na die koning geroep. Daarop gaan Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, uit na hulle toe. En die rábsake sê vir hulle: Sê tog vir Hiskía: So spreek die groot koning, die koning van Assirië! Wat is dit vir 'n vertroue wat jy koester? Dink jy dat net lippetaal raad en dapperheid vir die oorlog is? Op wie vertrou jy nou, dat jy teen my in opstand kom? Kyk nou, jy vertrou op dié geknakte rietstok, op Egipte, wat, as iemand daarop leun, in sy hand ingaan en dit deurboor; so is Farao, die koning van Egipte, vir almal wat op hom vertrou. Maar as julle vir my sê: Ons vertrou op die HERE onse God — is dit nie Hy wie se hoogtes en wie se altare Hiskía verwyder het nie deur aan Juda en Jerusalem te sê: Voor hierdie altaar in Jerusalem moet julle buig? Nou dan, wed tog met my heer, die koning van Assirië, en ek sal jou tweeduisend perde gee as jy vir jou ruiters daarop kan lewer. Hoe sal jy dan die aanval van 'n enkele goewerneur van my heer se geringste dienaars afslaan? Maar jy vertrou op Egipte vir strydwaens en perderuiters! Het ek nou sonder die HERE opgetrek teen hierdie plek om dit te verwoes? Die HERE het vir my gesê: Trek op teen hierdie land en verwoes dit. Toe sê Éljakim, die seun van Hilkía, en Sebna en Joa aan die rábsake: Praat tog met u dienaars Aramees, want ons verstaan dit; en moenie met ons Joods praat voor die ore van die manskappe wat op die muur is nie. Maar die rábsake sê vir hulle: Het my heer my na jou heer en na jou gestuur om hierdie woorde te spreek? Is dit nie na die manne wat op die muur sit, dat hulle hul eie drek kan eet en hul eie water kan drink saam met julle nie? Toe gaan die rábsake staan en roep hardop in die Joodse taal; en hy spreek en sê: Hoor die woord van die groot koning, die koning van Assirië! So sê die koning: Laat Hiskía julle nie bedrieg nie, want hy sal julle nie uit sy hand kan red nie. En Hiskía moet julle nie op die HERE laat vertrou nie deur te sê: Die HERE sal ons sekerlik red, en hierdie stad sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie. Luister nie na Hiskía nie; want so sê die koning van Assirië: Sluit met my vriendskap en trek uit na my toe en eet elkeen van sy wingerdstok en elkeen van sy vyeboom en drink elkeen die water van sy put, totdat ek julle kom haal na 'n land soos julle land, 'n land van koring en mos, 'n land van brood en wingerde, 'n land van olyfbome en heuning; dan sal julle lewe en nie sterwe nie; en luister nie na Hiskía nie, want hy verlei julle deur te sê: Die HERE sal ons red. Het die gode van die nasies elkeen sy land ooit gered uit die hand van die koning van Assirië? Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarváim, Hena en Iwa, dat hulle Samaría uit my hand kon gered het? Wie is daar onder al die gode van die lande wat hulle land uit my hand gered het, dat die HERE Jerusalem uit my hand sou red? Maar die manskappe het stilgebly en hom niks geantwoord nie; want dit was die bevel van die koning: Julle moet hom nie antwoord nie. Toe het Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, met geskeurde klere by Hiskía gekom en hom die woorde van die rábsake te kenne gegee.
2 KONINGS 18:13-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die veertiende regeringsjaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië al die vestingstede in Juda aangeval en verower. Koning Hiskia van Juda het toe vir die koning van Assirië in Lakis laat weet: “Ek het verkeerd gedoen. Trek u manskappe terug, ek sal betaal wat u vra.” Die Assiriese koning het koning Hiskia van Juda toe beboet met iets meer as tien ton silwer en een ton goud. Hiskia moes al die silwer wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis was, afgee. Terselfdertyd moes hy die goudbeslag wat hy self laat aanbring het, van die deure van die tempel van die Here en van die deurposte afstroop om die koning van Assirië te betaal. Daarna het die koning van Assirië die hoof van sy leër en sy hoofamptenaar en sy hoofadjudant met 'n groot leërmag uit Lakis na koning Hiskia toe in Jerusalem gestuur. Hulle het na Jerusalem toe opgetrek en toe hulle daar aankom, het hulle posisie ingeneem langs die kanaal van die boonste dam, langs die pad na die Bleikveld toe. Hulle het na die koning geroep, en toe het die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf na hulle toe gegaan. Toe sê die hoofadjudant vir hulle: “Sê vir Hiskia: So sê die groot koning van Assirië: Waarop berus hierdie vertroue van jou? Jy dink woorde alleen is genoeg vir strategie en militêre mag. Op wie vertrou jy dat jy in opstand is teen my? Jy vertrou op Egipte, op 'n versplinterde riet wat jou in die hand steek en jou seermaak as jy op hom leun. Dit is wat die farao, die koning van Egipte, beteken vir almal wat op hom vertrou. En as julle vir my wil sê julle vertrou op die Here julle God, dit is mos Hy wie se hoogtes en altare Hiskia laat verwoes het toe hy vir Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle moet net by hierdie altaar in Jerusalem aanbid.’ Wil jy 'n ooreenkoms aangaan met my koning, die koning van Assirië? Ek gee jou twee duisend perde: sal jy die ruiters vir hulle kan voorsien? Hoe sal jy weerstand kan bied teen één goewerneur, één van my koning se onbelangrikste amptenare? En dan vertrou jy op Egipte vir strydwaens en perde! Buitendien, ek het nie sonder die Here opgetrek teen hierdie plek om dit te verwoes nie; die Here het vir my gesê: Trek op teen daardie land en verwoes dit.” Toe sê Eljakim seun van Gilkija, en Sebna en Joag vir die hoofadjudant: “Praat tog asseblief met ons Aramees, ons verstaan dit, maar moenie met ons Judees praat dat die manskappe op die muur dit kan verstaan nie.” Maar die hoofadjudant sê vir hulle: “Dink julle my koning het my net na julle koning en na julle toe gestuur om dié dinge te sê, en nie ook na die manne wat op die muur sit nie? Hulle sal hulle eie ontlasting moet eet en hulle eie urine moet drink, net soos julle!” Toe gaan staan die hoofadjudant en hy skree hard in Judees: “Luister wat die groot koning sê, die koning van Assirië! So sê die koning: Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie uit my mag red nie. En moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou nie. Hy sê: ‘Die Here sal ons sekerlik red; dié stad sal nie oorgegee word in die mag van die koning van Assirië nie.’ Moenie na Hiskia luister nie, want só sê die koning van Assirië: Maak vrede met my en kom uit na my toe, dan sal elkeen die vrugte van sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom eet en uit sy eie put water drink tot ek kom en julle wegvat na 'n land toe net soos julle land. Dit is 'n land met koring en wyn, 'n land met kos en wingerde, 'n land met olyfolie en heuning. Dan sal julle lewe, julle sal nie sterwe nie. Moenie na Hiskia luister nie. Hy bedrieg julle as hy sê die Here sal julle red. Kon die gode van die ander nasies hulle lande red uit die mag van die koning van Assirië? Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarwajim, Hena en Awwa? Kon hulle Samaria uit my mag bevry? Wie van al die gode van die ander lande kon sy land uit my mag red? Dan sal die Here mos nie Jerusalem uit my mag kan red nie!” Die manskappe het stilgebly en nie geantwoord nie, want die koning het hulle beveel om nie te antwoord nie. Die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf het hulle klere geskeur en is terug na Hiskia toe om hom te vertel wat die hoofadjudant gesê het.
2 KONINGS 18:13-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die veertiende regeringsjaar van koning Hiskia, het Sanherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en hulle verower. Hiskia, koning van Juda, het toe vir die koning van Assirië by Lagis laat weet: “Ek het verkeerd opgetree, draai van my af weg! Wat u my oplê, sal ek dra.” Die koning van Assirië het toe van Hiskia, koning van Juda, driehonderd kikkar silwer en dertig kikkar goud geëis. Hiskia het toe al die silwer oorhandig wat in die huis van die HERE en in die skatkamers van die koninklike paleis te vinde was. In dieselfde tyd het Hiskia die deure van die HERE se •tempel afgestroop – die goue beslag waarmee Hiskia, koning van Juda, dit oorgetrek het. Hy het dit aan die koning van Assirië oorhandig. Die koning van Assirië stuur toe die tartan, die rabsaries en die rabsakee met 'n groot leërmag vanaf Lagis na koning Hiskia in Jerusalem. Hulle het opgetrek en by Jerusalem aangekom. Nadat hulle opgetrek en daar aangekom het, het hulle stelling ingeneem by die watervoor van die boonste dam wat aan die pad na die Bleikveld geleë is, en die koning ontbied. Eljakim, seun van Gilkija en hoof van die hofhouding, het uitgegaan na hulle toe, asook Sebna, die sekretaris, en Joag, seun van Asaf, die herout. Die rabsakee sê toe vir hulle: “Sê tog vir Hiskia, ‘So sê die opperkoning, die koning van Assirië: “Wat is hierdie bron van vertroue waarop jy staatmaak? Jy dink sekerlik lippetaal is 'n taktiek en 'n kragtige wapen vir die oorlog. Op wie vertrou jy dan nou dat jy teen my in opstand is? Jy stel sowaar nou jou vertroue op Egipte, hierdie geknakte rietstaf wat in 'n mens se handpalm steek en dit deurboor wanneer jy daarop leun. So is die farao, die koning van Egipte, vir almal wat op hom vertrou. En as julle vir my sou sê, ‘Op die HERE ons God vertrou ons’? Is Hy dan nie die Een wie se offerhoogtes en altare Hiskia verwyder het toe hy vir Juda en Jerusalem gesê het, ‘Voor hierdie altaar in Jerusalem moet julle in aanbidding buig!’ nie?” ’ “Daarom, gaan gerus 'n weddenskap aan met my heer, die koning van Assirië. Ek sal jou tweeduisend perde gee, as jy in staat is om ruiters vir hulle te voorsien. Hoe sal jy net een •streekgoewerneur kan terugdryf, een van die onbelangrikste dienaars van my heer, wanneer jy jou vertroue stel op Egipte vir 'n strydwamag en perde? ‘Daarom’, het my heer gesê, ‘het ek sonder die HERE se medewete teen hierdie land opgetrek om dit te verwoes? Dit is die HERE wat vir my gesê het: “Trek op teen hierdie land en verwoes dit!” ’ ” Eljakim, seun van Gilkija, asook Sebna en Joag, sê toe vir die rabsakee: “Praat asseblief •Aramees met u dienaars, want ons verstaan dit. Moenie met ons Judees praat ten aanhore van die manskappe wat op die stadsmuur is nie.” Maar die rabsakee het vir hulle gesê: “Is dit net na jou heer en na jou wat my heer my gestuur het om hierdie dinge te sê? Is dit nie ook na die manne wat op die stadsmuur sit nie, wat saam met julle hulle ontlasting sal eet en hulle urine sal drink?” Toe gaan staan die rabsakee en roep met 'n harde stem in Judees uit en sê: “Luister na die woord van die opperkoning, die koning van Assirië! So sê die koning, ‘Moenie dat Hiskia julle bedrieg nie, want hy sal julle nie uit my hand kan red nie. Moenie dat Hiskia julle op die HERE laat vertrou deur te sê: “Die HERE sal ons beslis red, en hierdie stad sal nie oorgegee word in die hand van die koning van Assirië nie.” ’ Julle moet nie na Hiskia luister nie, want so sê die koning van Assirië, ‘As julle met my 'n ooreenkoms aangaan en uitkom na my toe, sal elkeen van sy wingerdstok en sy vyeboom eet, en elkeen water uit sy eie opgaarput drink, totdat ek kom en julle neem na 'n land soos julle land – 'n land met koring en •nuwe wyn, 'n land met brood en wingerde, 'n land met olyfbome, olie en heuning. Julle sal leef en nie sterf nie. Julle moet nie na Hiskia luister nie, want hy mislei julle deur te sê: “Die HERE sal ons red!” Het enige van die gode van die nasies ooit sy land gered uit die hand van die koning van Assirië? Waar was die gode van Hamat en Arpad? Waar was die gode van Sefarwajim, Hena en Awwa? Kon húlle Samaria uit my hand red? Wie was daar onder al die gode van hierdie lande wat hulle land uit my hand gered het, dat die HERE dan Jerusalem uit my hand sal red?’ ” Die manskappe het egter stilgebly en hom nie met 'n enkele woord geantwoord nie, want die bevel van die koning was: “Julle moet hom nie antwoord nie!” Eljakim, seun van Gilkija en hoof van die hofhouding, Sebna, die sekretaris, en Joag, seun van Asaf en herout, het by Hiskia aangekom met geskeurde klere, en aan hom die woorde van die rabsakee meegedeel.
2 KONINGS 18:13-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die veertiende jaar van koning Hiskía het Sanherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die omheinde stede van Juda en dit ingeneem. En Hiskía, die koning van Juda, het na die koning van Assirië na Lagis gestuur om te sê: Ek het aanstoot gegee; keer terug van my af; wat U my oplê, sal ek dra. En die koning van Assirië het vir Hiskía, die koning van Juda, drie honderd talente silwer en dertig talente goud aangestel. En Hiskia het hom al die silwer gegee wat in die huis van die HERE en in die skatte van die koning se huis gevind was. In dié tyd het Hiskia die goud afgesny van die deure van die tempel van die HERE en van die pilare wat Hiskia, die koning van Juda, oorgetrek het, en dit aan die koning van Assirië gegee. En die koning van Assirië het Tartan en Rabsaris en Rabsake van Lagis af na koning Hiskia gestuur met 'n groot leër teen Jerusalem. En hulle het opgetrek en in Jerusalem aangekom. En toe hulle opklim, het hulle gekom en gaan staan by die kanaal van die boonste dam wat op die grootpad van die veld van die voller is. En toe hulle die koning geroep het, het Eljakim, die seun van Hilkía, wat oor die huis was, na hulle uitgekom, en Sebna, die skrywer, en Joag, die seun van Asaf, die kanselier. Toe sê die rábsake vir hulle: Sê tog met Hiskía: So sê die groot koning, die koning van Assirië: Watter vertroue is dit waarop jy vertrou? U sê, (maar dit is maar ydele woorde): Ek het raad en krag vir die oorlog. Op wie vertrou jy dan, dat jy teen My in opstand kom? Nou, kyk, jy vertrou op die staf van hierdie geknakte riet, op Egipte, waarop as iemand steun, dit in sy hand sal ingaan en dit deursteek; so is Farao, die koning van Egipte, met almal wat op hom vertrou. Maar as julle vir my sê: Ons vertrou op die HERE onse God, is dit nie Hy wie se hoogtes en wie se altare Hiskía afgeneem het en vir Juda en Jerusalem gesê het: Voor hierdie altaar in Jerusalem moet julle aanbid nie? Gee dan nou tog pand aan my heer die koning van Assirië, en ek sal vir jou twee duisend perde gee as jy van jou kant ruiters op hulle kan aansit. Hoe sal jy dan die aangesig van een owerste van die geringste dienaars van my heer afwend en jou vertroue op Egipte stel vir strydwaens en ruiters? Is ek nou sonder die HERE opgetrek teen hierdie plek om dit te verwoes? Die HERE het vir my gesê: Trek op teen hierdie land en vernietig dit. Toe sê Eljakim, die seun van Hilkía, en Sebna en Joag vir die rábsake: Spreek tog met u dienaars in Aram; want ons verstaan dit, en praat nie met ons in die Joodse taal voor die ore van die volk wat op die muur is nie. Maar die rábsake sê vir hulle: Het my heer my na jou heer en na jou gestuur om hierdie woorde te spreek? Het hy my nie gestuur na die manne wat op die muur sit, dat hulle hul eie mis kan eet en hul eie pis saam met jou kan drink nie? Daarop het Rabsake gestaan en met 'n groot stem in die Joodse taal uitgeroep en gespreek en gesê: Hoor die woord van die groot koning, die koning van Assirië! So sê die koning: Laat Hiskia julle nie mislei nie, want hy sal julle nie uit sy hand kan red nie. Laat Hiskia julle ook nie op die HERE laat vertrou deur te sê: Die HERE sal ons gewis verlos, en hierdie stad sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie. Luister nie na Hiskia nie, want so sê die koning van Assirië: Maak 'n ooreenkoms met my deur 'n geskenk, en gaan na my uit, en eet dan elkeen van sy wingerdstok en elkeen van sy vyeboom en drink julle elkeen die waters van sy put. Totdat Ek kom en julle wegneem na 'n land soos julle eie land, 'n land van koring en wyn, 'n land van brood en wingerde, 'n land van olyfolie en heuning, sodat julle kan lewe en nie sterwe nie; aan Hiskia as hy jou oorhaal deur te sê: Die HERE sal ons red. Het enige van die gode van die nasies sy hele land uit die hand van die koning van Assirië gered? Waar is die gode van Hamat en van Arpad? waar is die gode van Sefarvaim, Hena en Iwa? het hulle Samaria uit my hand gered? Wie is hulle onder al die gode van die lande wat hulle land uit my hand gered het, dat die HERE Jerusalem uit my hand sou red? Maar die volk het stilgebly en hom geen woord geantwoord nie, want die koning se bevel was: Antwoord hom nie. Toe het Eljakim, die seun van Hilkía, wat oor die huis was, en Sebna, die skrywer, en Joag, die seun van Asaf, die kanselier, met geskeurde klere na Hiskia gekom en hom die woorde van rábsake vertel.
2 KONINGS 18:13-37 Die Boodskap (DB)
Gedurende die veertiende jaar wat Hiskia regeer het, het koning Sanherib van Assirië Juda binnegeval en al die versterkte stede ingeneem. Hiskia het dadelik ’n boodskap na die Assiriese koning in Lagis gestuur. Hy het vir Sanherib gesê: “Ek was verkeerd. Trek tog u leër terug en watter boete u my ook al oplê, sal ek betaal.” Sanherib het toe byna tien ton silwer en ’n ton goud van hom geëis. Hiskia het al die silwer gevat wat hy in die tempel en die paleis se stoorkamers kon kry. Om genoeg goud te kry moes hy die goud afhaal wat hy self nog aan die deure en kosyne van die tempel vasgeslaan het. Hy het toe al die silwer en goud aan die koning van Assirië besorg. Daarna het die Assiriese koning tog die hoof van sy leër en twee baie hoë amptenare met ’n leërafdeling van Lagis af na Hiskia in Jerusalem gestuur. Die Assiriese afvaardiging het by die watervoor gestop wat water na die boonste dam bring. Dit is naby die pad na die stuk veld waar hulle materiaal gebleik het. Hulle het koning Hiskia laat roep, maar hy het drie amptenare gestuur om met hulle te onderhandel. Die drie was: Eljakim, Gilkija se seun wat hoof van die paleishuishouding was; Sebna, die staatsekretaris, en Joag, Asaf se seun, die staatshistorikus. Die hoofgesant van die Assiriese koning het die volgende boodskap aan Hiskia gestuur: “Luister na die groot koning van Assirië se boodskap: Op wie vertrou jy miskien dat jy so selfversekerd is? Dink jy dalk jou woorde is ’n antwoord op my militêre strategie en krag? Op wie steun jy dat jy dit waag om teen my in opstand te kom? “Dink jy Egipte gaan jou teen my help? Egipte is net so min werd soos ’n geknakte riet wat ’n mens as kierie probeer gebruik. As jy op hom druk, steek hy deur jou hand. Die koning van Egipte het al sy vriende nog altyd in die steek gelaat. “Of dink julle dalk by julleself: ‘Ons vertrou op die Here, ons God’? Julle spot seker! Hiskia het Hom mos beledig en al sy altare en heilige plekke afgebreek. Toe het Hiskia self beveel: ‘Almal in Juda mag die Here net by die heiligdom in Jerusalem kom aanbid.’ “Kom ons maak ’n weddenskap! My baas, die koning van Assirië, sal vir jou 2 000 perde gee, as jy 2 000 ruiters het om hulle te ry. Jy sal met jou weermaggie nie eers teen die swakste afdeling van die Assiriese leër kan veg nie. Selfs al hoop jy dat Egipte se ruiters en strydwaens jou sal kom help, sal julle niks kan uitrig nie. “Dink jy miskien ons het jou land sonder die Here se leiding aangeval? Hy het self vir ons gesê: ‘Gaan val hulle aan en vernietig die land!’” Eljakim, Sebna en Joag het by die Assiriese gesant gepleit: “Praat asseblief Aramees met ons, want ons verstaan dit. Moenie Hebreeus praat nie, want ons mense op die mure sal hoor wat u vir ons sê.” Die hoofgesant het geantwoord: “Dink julle my koning het ons gestuur om net met julle of julle koning te praat? Hy wil hê almal in Jerusalem moet die boodskap hoor. As julle nie oorgee nie, gaan ons julle stad beleër. Die mense van Jerusalem gaan nog so honger en dors word dat hulle hulle eie ontlasting gaan eet en hulle eie water gaan drink!” Die Assiriese hoofgesant het toe baie hard in Hebreeus vir die mense van Jerusalem geskree: “Luister na die groot koning van Assirië se boodskap. Hy sê: Moenie na Hiskia luister nie! Hy sal julle nooit teen my kan beskerm nie. Moet hom ook nie vertrou as hy sê nie: ‘Die Here sal ons red! Hy sal nie toelaat dat die Assiriese koning die stad verower nie.’ “Moenie na Hiskia luister nie! Die koning van Assirië bied die volgende voorwaardes vir vrede aan: Maak die hekke oop en kom uit die stad uit. Dan sal ek elkeen toelaat om vrugte uit sy eie tuin te eet en water uit sy eie put te drink. Daarna sal julle na ’n ander land geneem word wat goed met Juda vergelyk. Daar sal graan en druiwe wees vir kos en wyn, met olywe en heuning. Dit is ’n land van oorvloed. Kies om te bly lewe, anders gaan ek julle doodmaak! “Moenie na Hiskia luister as hy julle mislei deur te sê: ‘Die Here sal ons red!’ nie. Het die gode van enige ander land al ooit hulle mense van die koning van Assirië gered? Dink maar aan die gode van Hamat en Arpad, of die gode van Sefarwajim, Hena of Awwa. Wie kon Samaria teen my beskerm? Noem vir my een enkele god wat sy land teen my mag kon beskerm. Hoe kan julle dan dink dat die Here Jerusalem teen my sal kan beskerm?” Die soldate het net stilgebly, want Hiskia het hulle beveel om die Assiriërs glad nie te antwoord nie. Die Judese onderhandelaars Eljakim, Sebna en Joag was baie ontsteld. Hulle het hulle klere geskeur en na Hiskia toe gegaan om vir hom te vertel wat die Assiriese hoofgesant alles gesê het.
2 KONINGS 18:13-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die veertiende jaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië gekom en al die vestingstede van Juda aangeval en verower. Koning Hiskia stuur toe ’n boodskap aan die koning van Assirië in Lakis: “Ek het verkeerd gedoen. Ek sal betaal watter bedrag u eis, as u maar net die aanval sal staak.” Die koning van Assirië eis toe ’n boete van meer as tien ton silwer en omtrent een ton goud van koning Hiskia van Juda. Hy het al die silwer wat in die tempel van die HERE en in die skatkamers van die paleis te vind was, gebruik om die boete te betaal. Hy het selfs op daardie tydstip die goud wat hy self aan die deure en die kosyne van die HERE se tempel aangebring het, afgestroop en dit alles aan die Assiriese koning gegee. Nogtans het die koning van Assirië sy hoofbevelvoerder, sy hoofamptenaar en sy hoofadjudant met ’n groot leër vanuit Lakis gestuur na koning Hiskia in Jerusalem. Hulle het tot by Jerusalem opgeruk en stelling ingeneem by die kanaal van die boonste dam, naby die pad na die Bleikveld toe. Hulle roep toe na koning Hiskia, maar die koning stuur die volgende beamptes na hulle toe: die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf. Die hoofadjudant van die Assiriese koning stuur toe hierdie boodskap aan koning Hiskia: “Dit is wat die groot koning van Assirië sê: Waarop vertrou jy dat jy so hoopvol is? Dink jy dat blote woorde weerstand kan bied teen militêre strategie en krag? Op wie vertrou jy dat jy teen my in opstand kom? Is dit op Egipte? Egipte is ’n versplinterde riet wat onder jou gewig breek en ’n gat deur jou hand steek. Dit is wat die farao van Egipte doen met almal wat op hom staatmaak! “Maar dalk sal julle sê: ‘Ons vertrou op die HERE ons God!’ Is Hy dan nie die Een vir wie koning Hiskia beledig het nie? Dis mos al sy hoogtes en altare wat Hiskia afgebreek het en beveel het: ‘Elkeen in Juda moet net by hierdie altaar in Jerusalem aanbid!’ “Ek sal jou sê! My meester, die koning van Assirië, sal ’n ooreenkoms met jou aangaan: As jy 2 000 ruiters kan voorsien, sal ek jou 2 000 perde gee om op te ry. Hoe sal jy weerstand kan bied teen een afdeling, die swakste van my heer se troepe, selfs met die hulp van Egipte se strydwaens en perderuiters? Wat meer is, dink jy ons het jou land binnegeval sonder die goedkeuring van die HERE? Die HERE self het vir ons gesê: ‘Trek op en verwoes die land!’” Toe sê Eljakim seun van Gilkija, Sebna en Joag vir die hoofadjudant: “Asseblief, praat met ons in Aramees, want ons verstaan dit goed. Moenie in Judees praat nie, want die verdedigers op die muur sal dit verstaan.” Maar die hoofadjudant antwoord: “Dink julle my koning het my net na julle en julle koning toe gestuur met hierdie boodskap? Nee, die manskappe op die muur moet dit hoor, want hulle sal net soos julle hulle eie ontlasting eet en hulle eie urine drink!” Toe gaan staan hy en skree hard in Judees: “Luister na die boodskap van die groot koning van Assirië! Dit is wat die koning sê: Moenie toelaat dat koning Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie uit my mag red nie. Moenie dat hy julle oorreed om op die HERE te vertrou deur te sê: ‘Die HERE sal ons beslis red! Hy sal nie toelaat dat hierdie stad in die mag van die koning van Assirië oorgegee word nie.’ “Moenie na Hiskia luister nie! Dit is wat die koning van Assirië sê: Maak vrede met my en kom oor na my toe. Dan sal ek toelaat dat elkeen van sy eie wingerdstok en vyeboom eet en uit sy eie put water drink. Dan sal ek kom en julle na ’n ander land soos hierdie een van julle neem. Dis ’n land met koring en wyn, kos en wingerde, olyfbome en heuning. Kies nou die lewe in plaas van die dood! “Moenie na Hiskia luister wanneer hy sê ‘Die HERE sal ons red!’ nie. Het die gode van enige ander nasie ooit hulle mense uit die mag van die koning van Assirië gered? Waar is die gode van Hamat en Arpad? En waar is die gode van Sefarwajim, Hena en Awwa? Het enige gode Samaria uit my mag gered? Watter god van enige nasie was in staat om sy land uit my mag te red? Noem net één! Wat laat julle dink dat die HERE vir Jerusalem sal red?” Maar die manskappe het stilgebly en hom nie geantwoord nie, want koning Hiskia het hulle beveel om nie te praat nie. Toe het die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf teruggegaan na Hiskia toe. Hulle het hulle klere geskeur en hom vertel wat die Assiriese stafhoof gesê het.