2 KONINGS 18:1-8
2 KONINGS 18:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die derde jaar van koning Hosea seun van Ela se bewind in Israel het Hiskia seun van Agas koning van Juda geword. Hy was 25 toe hy koning geword het en het 29 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Abi dogter van Sagaria. Hy het gedoen wat reg was vir die HERE, net soos sy voorvader Dawid gedoen het. Hy het die heidense hoogtes verwyder, die heilige klippilare stukkend geslaan en die Asjerapale afgekap. Hy het ook die bronsslang wat Moses gemaak het, stukkend geslaan omdat die Israeliete dit tot op daardie stadium met brandoffers vereer het. Die bronsslang is Negustan genoem. Hiskia het op die HERE, die God van Israel, vertrou. Daar was nie ’n koning in Juda soos hy nie, nie vóór hom of ná hom nie. Hy het in alles getrou gebly aan die HERE sonder dat hy afgedwaal het. Hy het al die gebooie wat die HERE vir Moses gegee het, gehoorsaam. Die HERE was met Hiskia en hy was suksesvol in alles wat hy gedoen het. Hy het teen die koning van Assirië in opstand gekom en was nie meer aan hom onderdanig nie. Hy het ook die Filistyne verslaan, of dit buitepos was of vestingstad, en hulle tot so ver as Gasa en sy grondgebied onderwerp.
2 KONINGS 18:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Hiskia seun van koning Agas van Juda het koning geword in die derde jaar nadat Hosea seun van Ela koning van Israel geword het. Hiskia was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 29 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Abi dogter van Sagaria. Hiskia het dinge gedoen waarvan die Here hou, soos sy voorvader Dawid ook gedoen het. Dit is hy wat die offer-plekke laat afbreek het. Hy het die klip-pale stukkend gebreek en die gewyde pale afgekap. Hy het ook die brons slang stukkend laat slaan wat Moses in die woestyn gemaak het, want die Israeliete het nog altyd vir die slang wierook gebrand. Hulle het die slang “Negustan” genoem. Hiskia het geglo dat die Here, die God van Israel, sal doen wat Hy gesê het. Daar was voor die tyd van Hiskia en ná sy tyd nie nog 'n koning van Juda soos Hiskia nie. Hy het aangehou om die Here te dien, hy het nie opgehou om dit te doen nie en hy was gehoorsaam aan die wette wat die Here vir Moses gegee het. Die Here was by Hiskia, en dit het goed gegaan met alles wat hy gedoen het. Hiskia het opstandig geword teen die koning van Assirië en hy het opgehou doen wat die koning van Assirië wou hê. Hiskia het die Filistyne oorwin tot by die stad Gasa en die plekke daar naby, hy het elke stad oorwin.
2 KONINGS 18:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in die derde jaar van Hoséa, die seun van Ela, die koning van Israel, het Hiskía, die seun van Agas, die koning van Juda, koning geword. Vyf-en-twintig jaar was hy oud toe hy koning geword het, en negen-en-twintig jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Abi, 'n dogter van Sagaría. En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE net soos sy vader Dawid gedoen het. Hy het die hoogtes afgeskaf en die klippilare verbreek en die heilige boomstamme omgekap en die koperslang wat Moses gemaak het, stukkend gestamp, omdat die kinders van Israel tot op dié dae daarvoor offerrook laat opgaan het; en hy het dit Nehústan genoem. Hy het op die HERE, die God van Israel, vertrou, sodat onder al die konings van Juda ná hom en die wat voor hom gewees het, niemand soos hy was nie. Ja, hy het die HERE aangehang sonder om van Hom af te wyk en sy gebooie onderhou wat die HERE Moses beveel het. En die HERE was met hom; waar hy ook heen uittrek, was hy voorspoedig; en hy het in opstand gekom teen die koning van Assirië en hom nie gedien nie. Hy het die Filistyne verslaan tot by Gasa en sy grondgebied, van wagtoring af tot versterkte stad.
2 KONINGS 18:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die derde regeringsjaar van koning Hosea van Israel, seun van Ela, het Hiskia seun van koning Agas van Juda op die troon gekom. Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Abi, 'n dogter van Sagaria. Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg. Hiskia het die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. Hy het ook die koperslang wat destyds deur Moses gemaak is, laat stukkend slaan, want tot nou toe het die Israeliete die koperslang met offers vereer. Die slang is Negustan genoem. Hiskia het op die Here die God van Israel vertrou. Nie een van al die konings van Juda voor of na Hiskia was soos hy nie. Hy was getrou aan die Here en het nie van Hom af weggedraai nie. Hiskia was gehoorsaam aan die gebooie wat die Here aan Moses gegee het. Die Here was by Hiskia, en Hiskia was voorspoedig in alles wat hy onderneem het. Hy het in opstand gekom teen die koning van Assirië en was nie meer aan hom onderdanig nie. Hy het die Filistyne verslaan en hulle teruggedryf, wagpos vir wagpos, vestingstad vir vestingstad, tot by Gasa en die gebied daar rondom.
2 KONINGS 18:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die derde regeringsjaar van Hosea, seun van Ela, die koning van Israel, het Hiskia, seun van Agas, die koning van Juda, koning geword. Hy was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het nege-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Abi, dogter van Sagaria. Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die HERE, net soos sy voorvader Dawid gedoen het. Hy is die een wat die offerhoogtes verwyder het, die gedenkstene stukkend gebreek en die asjera afgekap het. Hy het die koperslang wat Moses gemaak het, verbrysel, want tot in daardie tyd het die Israeliete daarvoor offers verbrand. Die mense het dit Negustan genoem. Op die HERE, die God van Israel, het hy vertrou. Ná hom was daar onder al die konings van Juda niemand soos hy nie, ook niemand onder dié wat voor hom daar was nie. Hy het aan die HERE vasgehou en nie van Hom weggedraai nie. Hy het sy gebooie, dit wat die HERE Moses beveel het, nagekom. Die HERE was met hom. In al die veldtogte wat hy onderneem het, het hy sukses behaal. Hy het teen die koning van Assirië in opstand gekom en was nie meer aan hom onderdanig nie. Dit is hy wat die Filistyne verslaan het – van wagtoring tot versterkte stad, so ver as Gasa en die grondgebied daaromheen.
2 KONINGS 18:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die derde jaar van Hoséa, seun van Ela, die koning van Israel, het Hiskía, die seun van Agas, die koning van Juda, koning geword. Vyf en twintig jaar was hy oud toe hy koning geword het; en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. En die naam van sy moeder was Abi, die dogter van Sagaria. En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE, net soos sy vader Dawid gedoen het. Hy het die hoogtes verwyder en die beelde verbreek en die bosse afgekap en die koperslang wat Moses gemaak het, stukkend geslaan, want tot op daardie dae het die kinders van Israel daarvoor rook laat opgaan, en hy het dit Nehustan genoem. Hy het op die HERE, die God van Israel, vertrou; sodat ná hom niemand soos hy was onder al die konings van Juda en ook al die wat voor hom was nie. Want hy het die HERE aangehang en nie van Hom afgewyk nie, maar sy gebooie onderhou wat die HERE Moses beveel het. En die HERE was met hom; en hy was voorspoedig oral waar hy uitgetrek het, en hy het in opstand gekom teen die koning van Assirië en hom nie gedien nie. Hy het die Filistyne verslaan, tot by Gasa en sy grense, van die wagtoring af tot by die omheinde stad.
2 KONINGS 18:1-8 Die Boodskap (DB)
In die derde jaar wat koning Hosea seun van Ela in Israel regeer het, het Hiskia, die seun van Agas, koning in Juda geword. Hiskia was 25 toe hy koning geword het en hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Abi, ’n dogter van Sagaria. Die Here was net so tevrede met sy optrede as wat Hy met koning Dawid was. Hiskia het: die heidense heiligdomme verwoes; die klippilare omgegooi en gebreek; die Asjerastompe uitmekaargeslaan; die bronsslang, wat Moses nog gemaak het, vernietig. Dit was nodig om die slang tot niet te maak omdat die Israeliete dit as ’n afgod begin vereer het deur offers daarvoor te bring. Hulle het die bronsslang Negustan genoem. Hiskia het die Here, Israel se God, vertrou. Daar was nie vóór hom of ná hom so ’n koning in Juda soos hy nie. Hy was baie lojaal aan die Here en het getrou al die wette nagekom wat die Here aan Moses gegee het. Die Here het Hiskia ook bygestaan sodat hy suksesvol was in alles wat hy aangepak het. Hy het teen die koning van Assirië in opstand gekom en geweier om aan hom belasting te betaal. Hy het ook teen die Filistyne geveg en hulle verslaan. Hiskia het Gasa met sy hele gebied ingeneem: van die kleinste buitepos tot die grootste ommuurde stad.
2 KONINGS 18:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die derde jaar van koning Hosea seun van Ela se bewind in Israel het Hiskia seun van Agas koning van Juda geword. Hy was 25 toe hy koning geword het en het 29 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Abi dogter van Sagaria. Hy het gedoen wat reg was vir die HERE, net soos sy voorvader Dawid gedoen het. Hy het die heidense hoogtes verwyder, die heilige klippilare stukkend geslaan en die Asjerapale afgekap. Hy het ook die bronsslang wat Moses gemaak het, stukkend geslaan omdat die Israeliete dit tot op daardie stadium met brandoffers vereer het. Die bronsslang is Negustan genoem. Hiskia het op die HERE, die God van Israel, vertrou. Daar was nie ’n koning in Juda soos hy nie, nie vóór hom of ná hom nie. Hy het in alles getrou gebly aan die HERE sonder dat hy afgedwaal het. Hy het al die gebooie wat die HERE vir Moses gegee het, gehoorsaam. Die HERE was met Hiskia en hy was suksesvol in alles wat hy gedoen het. Hy het teen die koning van Assirië in opstand gekom en was nie meer aan hom onderdanig nie. Hy het ook die Filistyne verslaan, of dit buitepos was of vestingstad, en hulle tot so ver as Gasa en sy grondgebied onderwerp.