2 Konings 18:1-8

2 Konings 18:1-8 AFR20

In die derde regeringsjaar van Hosea, seun van Ela, die koning van Israel, het Hiskia, seun van Agas, die koning van Juda, koning geword. Hy was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het nege-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Abi, dogter van Sagaria. Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die HERE, net soos sy voorvader Dawid gedoen het. Hy is die een wat die offerhoogtes verwyder het, die gedenkstene stukkend gebreek en die asjera afgekap het. Hy het die koperslang wat Moses gemaak het, verbrysel, want tot in daardie tyd het die Israeliete daarvoor offers verbrand. Die mense het dit Negustan genoem. Op die HERE, die God van Israel, het hy vertrou. Ná hom was daar onder al die konings van Juda niemand soos hy nie, ook niemand onder dié wat voor hom daar was nie. Hy het aan die HERE vasgehou en nie van Hom weggedraai nie. Hy het sy gebooie, dit wat die HERE Moses beveel het, nagekom. Die HERE was met hom. In al die veldtogte wat hy onderneem het, het hy sukses behaal. Hy het teen die koning van Assirië in opstand gekom en was nie meer aan hom onderdanig nie. Dit is hy wat die Filistyne verslaan het – van wagtoring tot versterkte stad, so ver as Gasa en die grondgebied daaromheen.