2 KONINGS 17:6-7
2 KONINGS 17:6-7 Bybel vir almal (ABA)
In die negende jaar nadat Hosea koning geword het, het die koning van Assirië die stad Samaria oorwin, en hy het die mense van Israel gevang en weggevat na Assirië. Daar het hy hulle laat woon in die stad Galag, by die Gabor-rivier in die land Gosan, en in die stede van Medië. Dit het gebeur omdat die mense van Israel sonde gedoen het teen hulle God die Here, die God wat vir hulle uit Egipte laat kom het en wat hulle vrygemaak het van die farao, die koning van Egipte. Die Israeliete het ander gode gedien
2 KONINGS 17:6-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
In die negende jaar van Hoséa het die koning van Assirië Samaría ingeneem en Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat woon in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië. Want die kinders van Israel het gesondig teen die HERE hulle God wat hulle uit Egipteland onder die hand van Farao uit, die koning van Egipte, laat optrek het; en hulle het ander gode gevrees
2 KONINGS 17:6-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die negende regeringsjaar van Hosea het die koning van Assirië Samaria ingeneem en het hy die Israeliete na Assirië toe weggevoer. Sommige het hy in die stad Galag gevestig, ander aan die Gaborrivier in Gosan, en in die stede van Medië. Dit het gebeur omdat die Israeliete gesondig het teen die Here hulle God wat hulle uit Egipte laat wegtrek het, onder die mag uit van die farao, koning van Egipte. Maar hulle het ander gode vereer
2 KONINGS 17:6-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die negende regeringsjaar van Hosea het die koning van Assirië Samaria ingeneem en Israel weggevoer na Assirië. Hy het hulle in Galag en aan die Gabor, 'n rivier in Gosan, en ook in dorpe van Medië, laat woon. Dit het gebeur omdat die Israeliete gesondig het teen die HERE hulle God wat hulle uit Egipteland laat optrek het, onder die hand van die farao, die koning van Egipte, uit. Hulle het vir ander gode ontsag gehad
2 KONINGS 17:6-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In die negende jaar van Hoséa het die koning van Assirië Samaria ingeneem en Israel na Assirië weggevoer en hulle in Hala en in Habor by die rivier van Gosan en in die stede van die Meders geplaas. Want so het die kinders van Israel gesondig teen die HERE hulle God wat hulle uit Egipteland laat optrek het, onder die hand van Farao, die koning van Egipte, en ander gode gevrees het
2 KONINGS 17:6-7 Die Boodskap (DB)
In die negende jaar wat Hosea regeer het, het die Assiriese koning Samaria ingeneem. Hy het die mense van Israel na Assirië geneem en hulle in die stad Galag, langs die Gaborrivier in Gosan, en in die stede van die Mediërs hervestig. Die ramp het Israel getref omdat hulle téén die wil van die Here hulle God opgetree het. Hy het hulle vrygemaak toe hulle in Egipte deur die farao onderdruk is, maar hulle het ander gode aanbid.
2 KONINGS 17:6-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die negende jaar van koning Hosea se bewind het die koning van Assirië Samaria ingeneem en die inwoners in ballingskap na Assirië toe weggevoer. Hulle is in kolonies in Galag, aan die Gaborrivier in Gosan, en in die stede van Medië hervestig. Hierdie ramp het oor die Israeliete gekom omdat hulle ander gode vereer het. Sodoende het hulle gesondig teen die HERE hulle God wat hulle uit Egipte bevry het uit die mag van Farao, die koning van Egipte. Hulle het ander gode gedien.