2 KORINTIËRS 2:5-17
2 KORINTIËRS 2:5-17 Bybel vir almal (ABA)
Die persoon in julle gemeente wat probleme gemaak het, het nie regtig vir my hartseer gemaak nie. Daardie persoon het vir júlle almal hartseer gemaak. Nee, ek praat verkeerd, hy het amper vir almal hartseer gemaak. Die meeste mense in die gemeente was kwaad vir daardie persoon, daarom het hy nou genoeg straf gekry. Dit sal beter wees as julle hom nou vergewe en hom bemoedig, sodat die straf en die hartseer nie te veel word vir hom nie. Daarom vra ek mooi vir julle om lief te wees vir hom. Dit is ook hoekom ek vir julle geskryf het. Ek wou weet of julle goeie gelowiges is, of julle luister na alles wat ek vir julle geleer het. As julle iemand vergewe wat iets verkeerd gedoen het, dan vergewe ek hom ook. Dit was nie so belangrik dat ék daardie persoon moes vergewe nie, maar toe ek hom vergewe het, het ek dit gedoen om vir julle te leer hoe julle saam met ander mense moet lewe. Ek het dit ook gedoen omdat ek vir Christus werk. Julle moet onthou, die Satan mag ons nie verkeerd laat besluit met sy skelm planne nie. Ons weet watter planne hy altyd het. Hy wil ons keer sodat ons nie reg lewe nie. Toe ek in die stad Troas gekom het, was die Here by my, sodat ek die goeie boodskap oor Christus maklik kon preek. Maar ek was baie bekommerd omdat ek nie vir Titus daar gekry het nie. Titus is my vriend wat saam met my werk vir die Here. Daarom het ek die mense van Troas gegroet en na die provinsie Masedonië gegaan. Ons moet vir God dankie sê, Hy wys altyd vir almal dat ons aan Christus behoort en dat Christus die Koning is wat sy vyande oorwin het. God gebruik ons sodat mense oral vir Christus kan leer ken. Dit is soos wanneer 'n mens iets ruik. God red party mense en party mense gaan verlore. Wanneer ons die boodskap oor Christus preek, dan is dit soos wanneer die mense iets ruik. Die boodskap ruik baie sleg vir die mense wat verlore gaan, dit ruik soos iets wat dood is. Maar die boodskap ruik baie lekker vir die ander mense, want God red hulle, en die boodskap bring lewe. Ja, dit is baie moeilik vir 'n mens om God se boodskap te bring. Want ons is nie soos baie ander mense wat die boodskap van God bring om geld te kry nie. Nee, wanneer ons preek, dan is ons eerlik. Want God het ons gestuur, ons weet dat Hy ons altyd kan sien, en ons behoort aan Christus.
2 KORINTIËRS 2:5-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar as iemand droefheid veroorsaak het, dan het hy my nie bedroef nie, maar — ek wil nie oordryf nie — min of meer julle almal. Vir so iemand is daardie bestraffing deur die meerderheid genoeg; sodat julle daarenteen hom liewer moet vergewe en vertroos, dat so iemand nie miskien deur al te groot droefheid verteer word nie. Daarom vermaan ek julle om die liefde aan hom te bevestig. Want daarom het ek ook geskrywe om julle beproefdheid te weet, of julle in alles gehoorsaam is. Aan wie julle iets vergewe, vergeef ek ook; want wie ek ook vergeef het — as ek iets vergeef het — dit was om julle ontwil voor die aangesig van Christus, sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is met sy planne nie onbekend nie. Maar toe ek in Troas gekom het om die evangelie van Christus te verkondig, hoewel 'n deur vir my in die Here geopen was, het ek geen rus vir my gees gehad nie, omdat ek my broeder Titus nie aangetref het nie; maar ek het van hulle afskeid geneem en na Macedónië vertrek. MAAR God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei. Want ons is 'n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste 'n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste 'n reuk van die lewe tot die lewe. En wie is tot hierdie dinge bekwaam? Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as uit opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.
2 KORINTIËRS 2:5-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
As iemand droefheid veroorsaak het, is dit nie vir my wat hy hartseer maak nie, maar vir julle almal, of, om nie te oordryf nie, ten minste 'n deel van julle. Vir so iemand is die bestraffing deur die meerderheid swaar genoeg. Nou moet julle so iemand liewer vergewe en bemoedig, anders kan hy so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor. Daarom vra ek julle: Bewys liefde aan hom. Toe ek geskryf het, was dit juis om te wete te kom of julle aan my getrou gebly het en in alles gehoorsaam is. As julle hom iets vergewe, vergewe ek hom ook. Wat my betref, as ek iets moes vergewe, het ek dit klaar gedoen om julle ontwil. Daarvan is Christus my getuie. Die Satan moet nie die oorhand oor ons kry nie. Ons ken sy planne maar alte goed. Toe ek in Troas gekom het om die evangelie van Christus daar te verkondig, het die Here die deure vir my wyd oopgemaak. Tog het ek nie gemoedsrus gehad nie, omdat ek my broer Titus nie daar gekry het nie. Daarom het ek van die mense daar afskeid geneem en Masedonië toe vertrek. Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos 'n aangename geur. Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan. Vir dié wat verlore gaan, is dit 'n doodsreuk wat dood bring; vir dié wat gered word, is dit 'n lewensgeur wat lewe wek. En wie is tot sulke dinge in staat? Ons, omdat ons nie is soos baie ander wat geld maak uit die woord van God nie. Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God.
2 KORINTIËRS 2:5-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar as iemand droefheid veroorsaak het, is dit nie vir my wat hy bedroef het nie, maar, sonder om te oordryf, in 'n mate julle almal. Vir so iemand is hierdie teregwysing deur die meerderheid genoeg. Gevolglik moet julle hom in plaas daarvan eerder vergewe en bemoedig, sodat iemand soos hy nie dalk deur oormatige droefheid verteer word nie. Daarom vermaan ek julle ernstig om julle liefde aan hom te herbevestig. Want vir dié doel het ek ook geskryf: om julle betroubaarheid te leer ken, of julle in elke opsig gehoorsaam is. En vir hom wat julle iets vergeef, vergeef ek ook. Wat ek inderdaad vergeef het – as ek iets vergeef het – was ter wille van julle, voor die aangesig van •Christus, sodat Satan nie die oorhand oor ons kry nie. Ons is immers nie onbekend met sy planne nie. Toe ek in Troas aangekom het om die evangelie van Christus te verkondig, en die Here reeds 'n deur vir my oopgemaak het, kon ek nogtans geen gemoedsrus kry nie, omdat ek my broer Titus nie daar aangetref het nie. Daarom het ek toe van hulle afskeid geneem en na Macedonië vertrek. Maar dank aan God, wat ons altyd deur •Christus in sy triomftog meevoer, en die geur van sy kennis op elke plek deur ons versprei. Want ons is 'n aangename geur van Christus aan God, vir dié wat verlos word, én vir dié wat verlore gaan – vir laasgenoemde 'n reuk vanuit die dood tot die dood, vir eersgenoemde 'n geur vanuit die lewe tot die lewe. En wie is hiertoe bekwaam? Ons is nie soos so baie ander wat smous met die woord van God nie; maar ons praat in opregtheid, asof vanuit God, voor God, en dit in Christus.
2 KORINTIËRS 2:5-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar as iemand droefheid veroorsaak het, het hy my nie bedroef nie, maar ten dele, sodat ek julle nie almal kan aankla nie. Vir so 'n man is hierdie straf, wat baie opgelê is, genoeg. Sodat julle hom teendeel liewer moet vergewe en hom vertroos, sodat so iemand nie miskien deur groot droefheid verswelg word nie. Daarom smeek ek julle dat julle jul liefde vir hom moet bevestig. Want hiervoor het ek ook geskrywe, dat ek die bewys van julle kan weet of julle in alles gehoorsaam is. Aan wie julle enigiets vergewe, vergewe ek ook; want as ek iets vergewe het, aan wie ek dit vergewe het, het ek dit ter wille van julle vergewe in die persoon van Christus; Sodat Satan ons nie bevoordeel nie, want ons is nie onkundig oor sy planne nie. Verder, toe ek in Troas gekom het om die evangelie van Christus te verkondig, en 'n deur van die Here vir my oopgemaak is, Ek het geen rus in my gees gehad nie, omdat ek my broer Titus nie gevind het nie; maar ek het van hulle afskeid geneem en daarvandaan na Macedónië gegaan. Maar God sy dank, wat ons altyd laat triomfeer in Christus en die reuk van sy kennis deur ons op elke plek openbaar maak. Want ons is vir God 'n lieflike geur van Christus, in die wat gered word en in die wat verlore gaan. Vir hom is ons die reuk van die dood tot die dood; en vir die ander die reuk van die lewe tot die lewe. En wie is genoeg vir hierdie dinge? Want ons is nie soveel wat die woord van God verderf nie, maar as uit opregtheid, maar soos uit God, spreek ons voor God in Christus.
2 KORINTIËRS 2:5-17 Die Boodskap (DB)
Ek moet ook met julle praat oor daardie man wat al die ongelukkigheid in julle kerk veroorsaak het. Hy het my voor almal beledig toe ek laas by julle was. Gelukkig het dit my nie omgekrap nie. Ek weet egter dat dit julle almal ontstel het - wel, ten minste die meeste van julle. Maar moenie julle verder bekommer nie. Dié man het al klaar sy straf ontvang. Julle het hom mos kwaai oor sy optrede aangespreek. Nou moet julle ophou om vir hom kwaad te wees. Vergewe hom en wys vir hom dat julle vir hom omgee. Die arme man voel al sleg genoeg oor sy sonde. Hou op om hom nog verder te ontstel, anders gee hy later heeltemal moed op. Ek het my vorige brief aan julle geskryf om te sien of julle hierdie toets kan slaag. Ek wou sien of julle regtig sal doen wat God van julle verwag. As julle bereid is om op God se pad te stap deur hierdie man te vergewe, sal ek dit ook doen. Eintlik het ek dit al klaar om julle onthalwe gedoen. Regtig. Ek jok nie. Christus weet dit. As ons hierdie man nie vergewe nie, speel ons so reg in Satan se hand. ’n Bakleiery onder gelowiges pas hom baie goed. Hy probeer sy bes om dit reg te kry, soos ons almal weet. Toe ek in Troas aangekom het om die goeie nuus oor Christus aan die mense daar mee te deel, het die Here vir my ’n groot deur oopgemaak. Troas se inwoners het die evangelie met albei hande aangegryp. Tog was ek baie omgekrap omdat my getroue helper Titus nog nie daar was nie. Hy moes my daar ontmoet het om vir my te kom sê hoe julle op my vorige brief gereageer het. Ek het toe maar besluit om Masedonië toe te gaan om te kyk of ek hom daar kon raakloop. Ons moet vir God opreg dankie sê, want Hy vat ons oral met Hom saam in sy groot oorwinningstog deur die wêreld. Op elke plek waar ons kom, gebruik God ons. Ons is soos ’n aangename geur wat ander mense van Christus bewus maak. Ons versprei die wonderlike aroma van Christus tot eer van God. Almal wat met ons te doen het, weet daarvan: dié wat in Hom glo, en ook dié wat op pad is na die dood toe. Vir mense wat nie in Christus glo nie, gee ons ’n doodsreuk af. Maar vir mense wat die goeie nuus glo, gee ons die heerlike geur van lewe af. Natuurlik is dit ’n groot verantwoordelikheid om Christus se aroma in hierdie wêreld te wees. Ek weet dat ek sy aroma is. “Hoe?” vra julle. Want ek probeer nie geld maak uit die woord van God soos party ander mense nie. Ek is eerlik en opreg. Omdat ek deur God self aangestel is en aan Christus behoort, kom alles wat ek sê van God af. Niks wat ek doen, steek ek ooit vir God weg nie.
2 KORINTIËRS 2:5-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As iemand hartseer veroorsaak het, is dit nie net ek wat hartseer is nie, maar julle almal, of ten minste sommige van julle. Vir só ’n persoon is hierdie bestraffing deur die meerderheid genoeg. Nou is dit die tyd om só ’n persoon eerder te vergewe en by te staan, anders kan hy deur te veel berou verteer word. Daarom smeek ek julle: Bewys liefde aan hom. Dit is juis hieroor dat ek geskryf het – om kennis te neem van julle getrouheid en of julle in alles gehoorsaam die pad bly loop. As julle hom iets vergewe, vergewe ek hom ook. Want as ek iets het om te vergewe, het ek dit reeds gedoen ter wille van julle, in die teenwoordigheid van Christus. Die bedoeling is dat ons nie deur Satan uitoorlê word nie! Sy planne is mos nie aan ons onbekend nie! Toe ek in Troas aangekom het om die Goeie Nuus van Christus te preek, is ’n deur vir my deur die Here oopgemaak. Tog kon ek net nie tot rus kom nie omdat ek my broer Titus nie daar kon vind nie. Daarom het ek van die mense afskeid geneem en na Masedonië vertrek. Ek is dankbaar teenoor God wat ons, omdat ons aan Christus verbind is, altyd saamneem in sy triomftog. Deur ons versprei Hy die aangename geur van sy kennis op elke plek. Ons is die welriekende geur wat deur Christus vir God opstyg, onder dié wat verlos word sowel as onder dié wat verlore gaan. Vir sommige is dit ’n doodsreuk tot die dood; vir ander is dit ’n lewensgeur wat lewe bring. Wie is tot hierdie taak in staat? Ons is wel, want ons is nie soos baie mense wat smous met die woord van God nie. Omdat ons aan Christus verbind is, preek ons die woord met suiwer bedoelings – ’n woord wat van God self af kom, en waaroor ons aan Hom rekenskap moet gee.