Maar as iemand droefheid veroorsaak het, is dit nie vir my wat hy bedroef het nie, maar, sonder om te oordryf, in 'n mate julle almal. Vir so iemand is hierdie teregwysing deur die meerderheid genoeg. Gevolglik moet julle hom in plaas daarvan eerder vergewe en bemoedig, sodat iemand soos hy nie dalk deur oormatige droefheid verteer word nie. Daarom vermaan ek julle ernstig om julle liefde aan hom te herbevestig. Want vir dié doel het ek ook geskryf: om julle betroubaarheid te leer ken, of julle in elke opsig gehoorsaam is. En vir hom wat julle iets vergeef, vergeef ek ook. Wat ek inderdaad vergeef het – as ek iets vergeef het – was ter wille van julle, voor die aangesig van •Christus, sodat Satan nie die oorhand oor ons kry nie. Ons is immers nie onbekend met sy planne nie. Toe ek in Troas aangekom het om die evangelie van Christus te verkondig, en die Here reeds 'n deur vir my oopgemaak het, kon ek nogtans geen gemoedsrus kry nie, omdat ek my broer Titus nie daar aangetref het nie. Daarom het ek toe van hulle afskeid geneem en na Macedonië vertrek. Maar dank aan God, wat ons altyd deur •Christus in sy triomftog meevoer, en die geur van sy kennis op elke plek deur ons versprei. Want ons is 'n aangename geur van Christus aan God, vir dié wat verlos word, én vir dié wat verlore gaan – vir laasgenoemde 'n reuk vanuit die dood tot die dood, vir eersgenoemde 'n geur vanuit die lewe tot die lewe. En wie is hiertoe bekwaam? Ons is nie soos so baie ander wat smous met die woord van God nie; maar ons praat in opregtheid, asof vanuit God, voor God, en dit in Christus.
Lees 2 Korinthiërs 2
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 Korinthiërs 2:5-17
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's