2 KORINTIËRS 13:1-13

2 KORINTIËRS 13:1-13 Bybel vir almal (ABA)

Dit is nou die derde maal dat ek na julle toe kom. En julle weet: Twee of drie getuies is genoeg. Daarom weet julle nou dat God julle genoeg gewaarsku het om reg te lewe. Ek het julle gewaarsku toe ek die tweede maal by julle was. En ek waarsku julle nou weer terwyl ek nie by julle is nie. Ek sê dit vir die mense wat daardie tyd probleme gemaak het, en ek sê dit ook vir al die ander mense wat ná daardie tyd probleme gemaak het: As ek weer na julle toe kom, dan sal ek nie vriendelik wees met die mense wat probleme maak nie. Julle wil hê ek moet bewys dat Christus vir my gebruik om met julle te praat. Die bewys is: Christus het self vir julle gewys dat Hy nie swak is nie. Hy het vir julle gewys dat Hy baie krag het. Ja, dit lyk miskien of Christus swak was omdat Hy gekruisig is. Maar Hy het weer begin lewe omdat Hy die krag van God gekry het. Daarom, dit lyk of ek en die ander mense wat vir Christus werk, ook swak is, maar ons lewe nou saam met Christus omdat God vir ons die krag gegee het. Julle sal dit sien wanneer ons weer by julle is. Julle is die mense wat moet seker maak dat julle in Christus glo. Julle moet julleself toets. Julle weet goed dat Jesus Christus in julle harte is. Maar julle moet oppas, miskien slaag julle nie die toets nie. Ek hoop dat julle sal sien dat ek en die ander mense wat saam met my werk, die toets slaag. Maar ons bid tot God dat julle nie iets verkeerd sal doen nie. Want dit is vir my en die ander werkers nie belangrik om reg te wees sodat ons vir julle kan straf nie, dit is vir ons belangrik dat julle die toets moet slaag. Dit maak nie saak as ons lyk soos mense wat nie die toets slaag nie. Maar julle moet weet: Ons kan nie iets doen wat teen die waarheid is nie. Ons kan net iets doen wat saam met die waarheid gaan. Daarom is ons bly wanneer ons swak is en wanneer julle sterk is. Ja, ons bid dat julle heeltemal sal lewe soos God wil hê julle moet lewe. Dit is hoekom ek hierdie dinge skryf terwyl ek nie by julle is nie. Dan sal ek nie kwaai wees wanneer ek weer by julle is nie. Want die Here het gesê ek mag kwaai wees sodat ek die gemeentes kan opbou, nie sodat ek hulle afbreek nie. My vriende, ek wil nog een ding vir julle sê: Julle moet bly wees, julle moet lewe soos die Here wil hê julle moet lewe, julle moet luister wanneer ons vir julle sê wat reg is, julle moet saamwerk met mekaar, julle moet in vrede lewe met mekaar. Dan sal die God van liefde en vrede by julle wees. Julle moet mekaar groet met 'n soen wat wys dat julle almal aan Christus behoort. Al die gelowiges stuur groete vir julle. Ek bid dat die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle almal, en dat julle almal lief sal wees vir mekaar soos God lief is vir julle. Ek bid ook dat die Heilige Gees by julle sal wees sodat julle almal aan mekaar sal behoort.

2 KORINTIËRS 13:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DIT is die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan. Ek het dit vroeër gesê, en ek sê dit vooruit soos toe ek die tweede keer aanwesig was, en ek skrywe dit nou in my afwesigheid aan die wat vroeër gesondig het en aan al die ander, dat as ek weer kom, ek nie sal spaar nie, aangesien julle 'n bewys soek van Christus wat in my spreek, en Hy is teenoor julle nie swak nie, maar kragtig onder julle. Want al is Hy gekruisig uit swakheid, lewe Hy tog uit die krag van God. Want ons is ook swak in Hom, maar ons sal saam met Hom vir julle lewe deur die krag van God. Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie — as julle ten minste nie verwerplik is nie! Maar ek hoop dat julle sal insien dat ons nie verwerplik is nie. Ek bid God dat julle geen kwaad mag doen nie — nie dat ons beproef mag blyk nie, maar dat julle kan doen wat goed is, en ons as verwerplikes kan wees. Want ons kan niks doen teen die waarheid nie, maar wel vír die waarheid. Want ons is bly as ons swak is en julle sterk. En hierom bid ons ook, naamlik om julle volmaking. Daarom skryf ek dit in my afwesigheid om nie, as ek teenwoordig is, strengheid te gebruik nie, volgens die gesag wat die Here my gegee het om op te bou en nie om af te breek nie. Verder, broeders, wees bly; word volmaak; laat julle vermaan; wees eensgesind; hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees. Groet mekaar met 'n heilige kus. Al die heiliges groet julle. Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal! Amen.

2 KORINTIËRS 13:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit is nou die derde keer dat ek na julle toe kom. “Deur die getuienis van twee of drie getuies moet elke saak bewys word,” sê die Skrif. Aan dié wat vroeër gesondig het en aan al die ander het ek voorheen toe ek by julle was, gesê, en ek sê dit nou weer vooruit terwyl ek nie by julle is nie: As ek nou weer na julle toe kom, sal ek niks en niemand ontsien nie. Julle soek mos 'n bewys dat Christus deur my praat. Hy tree nie swak op teenoor julle nie, maar bewys sy krag onder julle, want al is Hy gekruisig in die swakheid van 'n mens, Hy leef uit die krag van God. En in Hom is ons ook swak, maar saam met Hom sal ons uit die krag van God lewe. Dit sal julle sien. Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie. Ek hoop dan julle weet dat ons wel die toets deurstaan het. Ons bid God dat julle niks verkeerds doen nie. Dit bid ons, nie dat dit as bewys moet dien dat óns die toets deurstaan het nie. Ons wil hê dat júlle die goeie doen, selfs al sou dit lyk asof ons die toets nie deurstaan het nie. Ons vermag niks teen die waarheid van God nie, maar wel alles vir die waarheid. Ons is dus bly as ons swak is, as julle maar sterk is. Ons bid ook vir julle geestelike volwassenheid. Daarom skryf ek hierdie dinge terwyl ek nog van julle af weg is, want wanneer ek kom, wil ek nie met die gesag wat die Here aan my gegee het, streng teen julle optree nie. Met dié gesag moet ek opbou, nie afbreek nie. Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees! Groet mekaar met die soen van Christelike broederskap. Almal wat aan die Here behoort, stuur vir julle groete. Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

2 KORINTIËRS 13:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. “In die mond van twee of drie getuies sal elke woord bevestig word.” Vir dié wat voorheen gesondig het, en ook vir al die ander, het ek dit tevore, toe ek die tweede keer daar was, gesê; en nou, in my afwesigheid, sê ek dit vooruit, dat wanneer ek kom, ek hulle nie weer sal ontsien nie. Julle soek immers 'n bewys dat dit •Christus is wat deur my praat. Hy is nie swak teenoor julle nie, maar is kragtig onder julle. Hy is weliswaar deur swakheid gekruisig, maar Hy leef deur die krag van God. So is ook ons swak in Hom, maar teenoor julle sal ons saam met Hom leef, uit die krag van God. Ondersoek julleself of julle in die geloof is; toets julleself. Ken julle julleself dan nie? Besef julle dan nie dat Jesus Christus in julle is nie? Tensy julle die toets nie deurstaan het nie. Maar ek hoop dat julle sal insien dat ons die toets wel deurstaan het. Ons bid wel tot God dat julle geen kwaad sal doen nie – nie om te wys dat ons die toets deurstaan het nie, maar sodat julle die goeie sal doen, selfs al sou dit lyk asof ons die toets nie deurstaan het nie. Ons is nie in staat om enigiets teen die waarheid te doen nie, maar wel vir die waarheid. Ons is bly wanneer ons swak is en julle sterk – en hiervoor bid ons, naamlik vir julle vervolmaking. Daarom skryf ek hierdie dinge in my afwesigheid, sodat wanneer ek by julle aanwesig is, ek nie streng hoef op te tree volgens die gesag wat die Here my gegee het nie – om op te bou, en nie om af te breek nie. Ten slotte, broers, wees altyd bly, streef na vervolmaking, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede – en die God van liefde en vrede sal met julle wees. Groet mekaar met 'n heilige soen. Al die •heiliges stuur vir julle groete. Die genade van die Here Jesus •Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met julle almal.

2 KORINTIËRS 13:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Dit is die derde keer dat ek na jou toe kom. In die mond van twee of drie getuies moet elke woord vasstaan. Ek het dit vir jou tevore vertel en vir jou die tweede keer voorspel asof ek teenwoordig was; en noudat ek afwesig is, skryf ek aan die wat tevore gesondig het, en aan al die ander, dat ek, as ek terugkom, nie sal spaar nie. Omdat julle 'n bewys soek van Christus wat in my spreek, wat vir julle nie swak is nie, maar kragtig is in julle. Want al is Hy deur swakheid gekruisig, leef Hy tog deur die krag van God. Want ons is ook swak in Hom, maar ons sal saam met Hom lewe deur die krag van God oor julle. Ondersoek julleself of julle in die geloof is; bewys jou eie self. Weet julle nie dat Jesus Christus in julle is as julle nie verwerplik is nie? Maar ek vertrou dat julle sal weet dat ons nie verwerplik is nie. Nou bid ek tot God dat julle geen kwaad doen nie; nie dat ons beproef moet voorkom nie, maar dat julle eerlik moet doen, al is ons soos verwerptes. Want ons kan niks teen die waarheid doen nie, maar vir die waarheid. Want ons is bly as ons swak is en julle sterk is; en dit wens ons ook, naamlik u volmaaktheid. Daarom skryf ek hierdie dinge terwyl ek afwesig is, sodat ek nie by teenwoordigheid skerpte sou gebruik nie, volgens die krag wat die Here my gegee het tot opbou en nie tot vernietiging nie. Ten slotte, broeders, totsiens. Wees volmaak, wees van goeie vertroosting, wees eensgesind, leef in vrede; en die God van liefde en vrede sal met julle wees. Groet mekaar met 'n heilige soen. Al die heiliges groet jou.

2 KORINTIËRS 13:1-13 Die Boodskap (DB)

My derde besoek aan julle is voor die deur. Luister daarom mooi na wat ek nou vir julle sê; dan sal alles goed verloop wanneer ek daar opdaag. Kyk, die Bybel sê twee of drie getuies is nodig om in ’n saak te getuig voordat ’n hof enige uitspraak daaroor lewer. Wat wil ek hierdeur vir julle sê? Wel, onthou julle hoe ek tydens my tweede besoek die klomp sondaars daar tussen julle vasgevat het? Nou sê ek weer vir julle hier kort voor my derde besoek dat ek net mooi niks daarvan hou dat party van julle aanhou sondig nie. Hou dadelik op daarmee, of dra die gevolge! Party van julle soek mos die een of ander bewys dat Christus ook deur my praat. Wel, daar wag ’n groot verrassing op julle. Hy gaan hierdie keer wanneer ek by julle is, met groot krag onder julle werk, nie met swakheid nie. Natuurlik was Christus vroeër weerloos en swak toe Hy aan die kruis gehang en daar gesterf het. Maar daardie tyd is vir altyd verby. Christus lewe nou uit die groot krag van God. Natuurlik is ek ook maar swak, al is ek ’n volgeling van Christus. Maar moenie dat dit julle mislei nie. Wanneer ek daar na julle toe kom, sal julle sien dat God se groot krag deur my werk wanneer Christus my daar tussen julle gebruik. Nou wil ek ernstig met julle praat: gaan kyk ’n slag deeglik na julle eie lewe. Glo julle nog? Is Christus regtig in julle? As julle dié toets nie slaag nie, wag daar groot probleme op julle. Terwyl julle julle eie geloof onder die vergrootglas plaas, hoop ek julle sal agterkom dat ek hierdie toets al lankal geslaag het. Ek bid ernstig tot God dat julle niks verkeerds sal doen nie. Want dis regtig nie so belangrik wat julle van my geloof dink nie. Julle kan maar sê ek is nie ’n Christen nie, solank julle net doen wat God wil hê. Dis al wat saak maak. Maar julle kan daarvan seker wees dat ek nooit in die pad van die waarheid staan nie. Inteendeel. Ek doen my bes sodat die waarheid nog meer mense kan bereik. Ek gee nie om om swaar te kry nie, solank julle net sterk is in julle geloof. Dan loop my hart oor van blydskap. Daarom bid ek dat julle geloof regtig sal begin groei. Ek skryf al hierdie dinge terwyl ek nog nie daar by julle is nie. Dan hoef ek nie later, wanneer ek in Korinte aankom, met julle te raas en te baklei nie. Die Here het my immers aangestel om mense se geloof op te bou, nie om dit af te breek nie. Ten slotte: julle lewe moet altyd vol blydskap wees. Lewe presies net soos God vir julle sê. Luister na alles wat ek vir julle gesê het. Wees eensgesind. En lewe asseblief in vrede met mekaar. Ons wonderlike God wat sy liefde oor ons almal uitgestort het en aan ons sy vrede gee, sal altyd by julle wees. Groet mekaar hartlik, soos dit by broers en susters in die Here pas. Almal wat aan die Here behoort, stuur ook vir julle groete. Die goedheid van die Here Jesus Christus, die oorvloedige liefde van God en die kragtige teenwoordigheid van die Heilige Gees is by julle almal. Amen.

2 KORINTIËRS 13:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit is die derde keer dat ek nou na julle toe kom. “In die mond van twee of drie getuies staan elke woord vas.” Ek het dit vroeër gesê toe ek julle die tweede keer besoek het, en ek herhaal dit nou weer terwyl ek nog afwesig is – ek sê dit vir dié wat al vroeër sonde gedoen het, en ook vir die ander: As ek nou weer kom, sal ek niemand ontsien nie. Julle soek mos ’n bewys dat Christus deur my praat. In werklikheid is Hy nie swak nie, maar betoon Hy Hom kragtig teenoor julle, want al is Hy gekruisig in menslike swakheid, leef Hy uit die krag van God. Want ons is swak saam met Hom, maar ons sal ook saam met Hom uit die krag van God lewe. Dit sal duidelik blyk wanneer ons by julle is. Ondersoek julleself of julle in ’n egte geloofsverhouding met Christus staan. Toets julleself. As julle nie daarvan oortuig is dat Christus in julle woon nie, het julle die toets nie geslaag nie. Ek hoop julle besef dat ons wel die toets geslaag het. Ons bid tot God dat julle niks slegs sal doen nie. Ons bid dit, nie om daarmee bewys te lewer dat ons die toets geslaag het nie. Ons bid dat julle die goeie sal doen, selfs al sou dit lyk of ons die toets nie geslaag het nie. Want ons vermag niks teen die waarheid nie, maar net ten gunste van die waarheid. Ons is maar te bly wanneer ons swak is, solank julle maar net sterk is. Waarvoor ons bid, is dat julle julle geestelik sal regruk. Ek skryf hierdie dinge terwyl ek nog afwesig is sodat wanneer ek by julle is, ek nie nodig sal hê om met die gesag wat die Here aan my gegee het – om op te bou en nie om af te breek nie – streng teenoor julle op te tree nie. Verder, broers en susters, wees bly, ruk julle reg, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle bly! Groet mekaar met die soen van Christelike liefde. Al God se mense stuur aan julle groete. Mag die genade van die Here Jesus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees met julle almal wees.