2 KORINTIËRS 11:1-3
2 KORINTIËRS 11:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Dit lyk nou miskien of ek 'n bietjie dom is, ek wil hê julle moet my vergewe. Ja, julle moet my vergewe. Ek is baie lief vir julle, soos God lief is vir julle. Ek is soos 'n pa wat belowe het dat sy dogter met 'n man sal trou wat die pa vir haar gekies het. Daardie man is Christus. Ek wil hê dat julle soos 'n maagd moet wees, ek wil julle vir Christus gee, julle moet net aan Hom behoort. Maar ek is bang dat iemand julle sal verlei sodat julle nie aanhou om aan Christus te dink nie. Want dan behoort julle nie net aan Hom nie. Dit is soos toe die slang vir Eva verlei het omdat hy so skelm was.
2 KORINTIËRS 11:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
AG, as julle my net 'n bietjie in my dwaasheid wou verdra! Verdra my tog maar! Want ek is jaloers oor julle met 'n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as 'n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.
2 KORINTIËRS 11:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nou wil ek hê julle moet 'n bietjie dwaasheid van my kant verdra! Ja, verdra my maar! Ek waak oor julle met 'n ywer wat van God kom, want julle is soos 'n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus. Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang.
2 KORINTIËRS 11:1-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As julle maar 'n klein bietjie dwaasheid van my sou kon verdra! Verdra my tog maar! Want ek is jaloers oor julle met 'n goddelike jaloesie, aangesien ek julle aan een Man, aan •Christus, verbind het, om julle as 'n rein maagd aan Hom aan te bied. Maar ek is bang dat, soos die slang vir Eva met sy geslepenheid mislei het, julle gedagtes dalk bederf kan raak, verwyderd van die opregte en reine toewyding aan Christus.
2 KORINTIËRS 11:1-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Sou julle tot God my dwaasheid 'n bietjie kon verdra, en my tog verdra. Want ek is jaloers oor julle met godvrugtige jaloersheid, want ek het jou aan een man verbind, om jou as 'n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne enigsins bedorwe sou word van die eenvoud wat in Christus is.
2 KORINTIËRS 11:1-3 Die Boodskap (DB)
Ek wil julle nou iets snaaks vra. Sal julle omgee as ek my vir ’n rukkie soos ’n dwaas gedra? Net so ’n paar oomblikke? Julle weet ek gee verskriklik baie om vir julle. Met ’n ywer wat van God af kom, wil ek julle oppas en beskerm. Ja, ek het as’t ware die verlowing tussen julle en Christus gereël. Daarom is dit ook my plig om julle eendag soos ’n bruid aan Christus af te gee. En ek wil julle soos ’n jongmeisie wat nog nie seksuele gemeenskap met ’n man gehad het nie, na haar bruidegom toe vat. Skoon en rein. Maar ek is regtig bang dat julle in dieselfde slaggat sal trap as Eva toe sy deur die slang verlei is. Ek is bekommerd dat julle gedagtes nie meer een honderd persent daarop gerig is om Christus opreg te dien nie.
2 KORINTIËRS 11:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek wil hê dat julle geduldig met my moet wees as ek ’n bietjie dwaasheid kwytraak. Verdra my tog maar, asseblief! Ek is jaloers oor julle eer, want julle is soos ’n jong meisie wat ek aan net een bruidegom toegesê het, en wat ek daarom vlekkeloos aan Christus wil oorhandig. Ek is tog bang dat julle gedagtes weggevoer sal word van julle opregte en suiwer toewyding aan Christus, net soos die slang Eva met sy listigheid verlei het.