2 KRONIEKE 5:2-14

2 KRONIEKE 5:2-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna het Salomo die leiers van Israel, die stamhoofde en die Israelitiese familiehoofde in Jerusalem bymekaargeroep om die verbondsark van die Here uit Sion, die Dawidstad, te laat uitbring. Al die manne van Israel het by die koning bymekaargekom op die feesdag in die sewende maand. Nadat al die leiers van Israel gekom het, het die Leviete die ark opgetel en die ark, die tent van ontmoeting en al die toebehore van die heiligdom wat in die tent was, gedra. Die Levitiese priesters het dit gedra. Koning Salomo en die hele gemeente van Israel wat saam met hom voor die ark was, het soveel kleinvee en beeste geoffer dat dit nie getel of bereken kon word nie. Toe het die priesters die verbondsark van die Here na sy plek toe gebring onder die vlerke van die gerubs in die binneste heiligdom van die tempel, dit is die Allerheiligste. Die gerubs se vlerke was oopgesprei oor die staanplek van die ark. Hulle het die ark en sy draaghoute aan die bokant bedek. Die draaghoute was so lank dat hulle punte by die ark verby gesteek het aan die voorkant van die binneste heiligdom, maar hulle kon nie van buite af gesien word nie. Hulle is vandag nog daar. Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horeb gemaak het toe die Here by die uittog van die Israeliete uit Egipte met hulle 'n verbond gesluit het. Al die aanwesige priesters het hulle gereinig, ongeag hulle diensbeurte. Toe die priesters uit die heiligdom uitkom, het die Levitiese sangers oos van die altaar reggestaan met simbale, harpe en liere. Hulle was almal daar: Asaf, Heman en Jedutun met hulle volgelinge en ampsgenote. Hulle het hulle linneklere aangehad, en by hulle was omtrent honderd en twintig priesters, trompetblasers. Presies gelyk, soos een man, het die trompetblasers en die sangers die lof en dank aan die Here laat weerklink. Die klank van trompette, simbale, allerhande instrumente en die loflied ter ere van die Here het opgeklink: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Op daardie oomblik het 'n wolk die huis van die Here gevul. Daarom kon die priesters nie vir diens aantree nie. Dit was die magtige teenwoordigheid van die Here wat die tempel van God gevul het.

2 KRONIEKE 5:2-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Salomo het toe die leiers van al die stamme en families van Israel opgeroep om in Jerusalem bymekaar te kom. Hulle moes die verbondsark van die HERE uit Sion, die Dawidstad, bring. Hulle het almal voor die koning bymekaargekom tydens die jaarlikse feesdag in die sewende maand. Toe al die leiers van Israel aangekom het, het die Leviete die ark opgetel en saam met die tent van ontmoeting, asook al die heilige toebehore daarvan, gedra. Die Levitiese priesters het dit alles na die tempel toe gebring. Koning Salomo en die hele volksvergadering van Israel wat by hom bymekaargekom het, het skape en beeste voor die ark geoffer. Dit was so baie dat dit nie getel kon word nie. Daarna het die priesters die verbondsark van die HERE na sy plek in die binneste heiligdom, die Allerheiligste, gebring en dit onder die gerubs neergesit. Die gerubs het hulle vlerke oor die plek van die ark gesprei en die ark met sy drahoute oordek. Hierdie drahoute was so lank dat hulle punte vanaf die tempel se hoofingang, die heilige plek, gesien kon word, maar nie van buite af nie. Dit is tot vandag toe steeds daar. Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horebberg daarin gesit het. Dit was toe die HERE ’n verbond met sy volk Israel gesluit het ná hulle uit Egipte vertrek het. Toe het die priesters die heiligdom verlaat. Al die priesters teenwoordig het hulleself gereinig, of hulle daardie dag aan diens was of nie. Die Leviete wat musikante was, Asaf, Heman, Jedutun, saam met hulle seuns en broers, het oos van die altaar gestaan. Hulle het fyn linneklere aangehad en op simbale, harpe en liere gespeel. By hulle was daar 120 priesters wat op trompette geblaas het. Die trompetspelers en sangers het saam as eenheid opgetree met lofsang en dank aan die HERE. Met begeleiding van trompette, simbale en ander instrumente, het hulle gesing en met hierdie woorde die HERE geprys: “Hy is goed! Sy troue liefde duur vir altyd!” Op daardie oomblik het ’n wolk die tempel van die HERE gevul. Die priesters kon nie hulle verpligtings nakom vanweë die wolk nie, want die heerlike teenwoordigheid van die HERE het die tempel van God gevul.

2 KRONIEKE 5:2-14 Bybel vir almal (ABA)

Daarna het Salomo al die leiers van Israel in Jerusalem laat bymekaarkom, die stamhoofde en die familiehoofde van die Israeliete. Hy wou die verbondskis van die Here uit die Dawidstad, uit Sion, laat bring. Al die manne van Israel het by die koning bymekaargekom vir die fees, die fees in die sewende maand. Al die leiers van Israel het gekom, en die Leviete het die kis gedra. Hulle het die kis gebring, en ook die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het en al die gewyde gereedskap wat in die tent was. Die priesters en die Leviete het dit gedoen. Koning Salomo en die hele volksvergadering van die Israeliete wat saam met hom was, was voor die kis, en hulle het so baie skape en bokke ge-offer dat niemand dit kon tel nie. Die priesters het die verbondskis van die Here na sy plek gebring in die binneste kamer van die tempel. Dit was die hoog-gewyde plek onder die gerubs se vlerke. Die gerubs se vlerke was oop oor die plek waar die kis gestaan het, die gerubs het die kis en sy dra-houte toegemaak. Die dra-houte van die kis was so lank dat 'n mens hulle punte kon sien as hy voor die binneste kamer gestaan het, maar 'n mens kon die punte nie sien as hy buite gestaan het nie. Die dra-houte is nou nog daar. Daar was niks in die kis nie, net die twee plat klippe wat Moses in die kis gesit het by Horeb-berg. Hy het dit gedoen toe die Here met die Israeliete 'n verbond gemaak het nadat hulle uit Egipte gekom het. Al die priesters wat daar was, het hulleself gewy, ook die priesters wat nie daardie dag moes werk nie. Toe die priesters uit die tempel kom, was die Leviete wat moes sing, gereed. Hulle was: Asaf, Heman en Jedutun, hulle seuns en hulle broers. Hulle het wit linne-klere aangehad en hulle het simbale, harpe en liere gehad. Hulle het oos van die altaar gestaan. Daar was ook 120 priesters wat trompette geblaas het. Die priesters wat trompette geblaas het en die mense wat gesing het, het saam begin om die Here te prys en vir Hom dankie te sê. Die priesters het die trompette geblaas en die simbale en die ander musiek-instrumente gespeel. Hulle het die Here geprys en hulle het gesing “Want Hy is goed, ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.” Toe het 'n wolk die tempel toegemaak. Die priesters kon nie hulle werk doen nie omdat die wolk daar was. Die lig wat om die Koning, die Here, is, het in die hele tempel geskyn.

2 KRONIEKE 5:2-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Salomo het die oudstes van Israel en al die stamhoofde, die familie-owerstes van die kinders van Israel, in Jerusalem bymekaar laat kom om die verbondsark van die HERE uit die stad van Dawid, dit is Sion, opwaarts te bring. En al die manne van Israel het by die koning saamgekom op die fees, dit was die sewende maand. Toe al die oudstes van Israel daar kom, het die Leviete die ark opgeneem en die ark en die tent van samekoms met al die heilige voorwerpe wat in die tent was, gebring; die Levitiese priesters het dit opwaarts gebring. En toe koning Salomo en die hele vergadering van Israel wat by hom byeen was, voor die ark staan, het hulle kleinvee en beeste geoffer wat vanweë die menigte nie getel of bereken kon word nie. Verder het die priesters die verbondsark van die HERE na sy plek in die binneste vertrek van die huis, in die Allerheiligste, gebring, onder die vlerke van die gérubs in. Die gérubs het naamlik die vlerke uitgesprei gehou oor die plek van die ark, sodat die gérubs die ark en sy draaghoute van bo af bedek het. En die draaghoute was so lank, dat die punte van die draaghoute, uit die ark uitgaande, vlak voor die binneste vertrek gesien kon word, maar verder buitentoe was hulle nie sigbaar nie; en dit is daar tot vandag toe. Daar was niks in die ark nie as net die twee tafels wat Moses by Horeb ingesit het, toe die HERE 'n verbond met die kinders van Israel gesluit het by hulle uittog uit Egipte. En toe die priesters uit die heiligdom uitgaan — want al die priesters wat aanwesig was, het hulle geheilig sonder om die afdelings in aanmerking te neem — terwyl die Levitiese sangers almal saam, Asaf, Heman, Jedútun met hulle seuns en hulle broers, in linne gekleed, met simbale en harpe en siters oostelik van die altaar staan, en saam met hulle omtrent honderd-en-twintig priesters wat op die trompette blaas; en toe die trompetblasers en die sangers almal saam eenstemmig begin om die HERE te prys en te loof, en net toe hulle die stem verhef met die trompette en met die simbale en met die musiekinstrumente, en met: Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! — is die huis, die huis van die HERE, vervul met 'n wolk. En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van God vervul.

2 KRONIEKE 5:2-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarna het Salomo die oudstes van Israel, al die stamhoofde, die leiers van die families van die Israeliete, in Jerusalem laat byeenkom om die •verbondsark van die HERE vanuit die •Stad van Dawid, dit is Sion, op te dra. Al die manne van Israel het toe by die koning byeengekom in die feestyd, dit is die sewende maand. Toe al die oudstes van Israel aangekom het, het die priesters die ark opgetel. Hulle het die ark, die Tent van Ontmoeting en al die heilige voorwerpe wat in die tent was, na bo gedra – die Levitiese priesters het dit gedra. Koning Salomo en die hele volksvergadering van Israel, dié wat by hom saamgetrek het en saam met hom voor die ark was, het kleinvee en beeste geoffer wat vanweë hulle hoeveelheid nie getel of bereken kon word nie. Die priesters het die verbondsark van die HERE na sy plek geneem, na die heiligdom van die •tempel, na die •Allerheiligste, onder die vlerke van die gerubs. Die gerubs het hulle vlerke uitgesprei oor die plek van die ark. Die gerubs het die ark en sy draaghoute van bo af beskut. Die draaghoute was lank, en die punte van die draaghoute was sigbaar uit die heilige deel aan die voorkant van die heiligdom. Van buite af was dit egter nie sigbaar nie. Hulle is daar tot vandag toe. Daar was niks in die ark nie, behalwe die twee kliptafels wat Moses daarin geplaas het op Horeb, toe die HERE met die Israeliete 'n verbond gesluit het tydens hulle uittog uit Egipte. En toe die priesters uit die heiligdom gekom het – ja, al die priesters wat daar was, het hulleself geheilig, want die diensbeurte van afdelings het nie gegeld nie, ook die Levitiese sangers, hulle almal, Asaf, Heman en Jedoetoen, hulle nakomelinge en stamgenote, wat in linneklere gereed gestaan het aan die oostekant van die altaar met simbale, harpe en liere, en saam met hulle honderd-en-twintig priesters wat trompette blaas – het die trompetblasers en die sangers soos een man ingeval om die HERE met een stem te loof en te dank. Net toe hulle, onder begeleiding van trompette, simbale en ander musiekinstrumente, hulle stemme verhef en die HERE begin loof met “Want Hy is goed, ja, vir ewig duur sy troue liefde,” is die tempel, die huis van die HERE, gevul met 'n wolk. Die priesters kon vanweë die wolk nie bly staan om hulle dienswerk te doen nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van God gevul.

2 KRONIEKE 5:2-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe het Salomo die oudstes van Israel en al die hoofde van die stamme, die familiehoofde van die kinders van Israel, in Jerusalem laat bymekaarkom om die verbondsark van die HERE uit die stad van Dawid te bring wat dit is. Sion. Daarom het al die manne van Israel by die koning vergader op die fees wat in die sewende maand was. En al die oudstes van Israel het gekom; en die Leviete het die ark opgeneem. En hulle het die ark en die tent van samekoms en al die heilige voorwerpe wat in die tabernakel was, opgebring, dit het die priesters en die Leviete opgebring. Ook koning Salomo en die hele vergadering van Israel wat by hom voor die ark vergader het, het skape en beeste geoffer wat vanweë die menigte nie getel of getel kon word nie. En die priesters het die verbondsark van die HERE ingebring na sy plek, in die binnehuis van die huis, in die Allerheiligste, onder die vlerke van die gérubs; Want die gérubs het hulle vlerke oor die plek van die ark uitgesprei, en die gérubs het die ark en sy draaghoute bo oordek. En hulle het die draaghoute van die ark uitgetrek, sodat die punte van die draaghoute van die ark voor die binneste vertrek gesien was; maar hulle is nie buite gesien nie. En daar is dit tot vandag toe. Daar was niks in die ark nie, behalwe die twee tafels wat Moses by Horeb daarin gesit het toe die HERE 'n verbond gesluit het met die kinders van Israel toe hulle uit Egipte uitgetrek het. En dit het gebeur toe die priesters uit die heiligdom uitgegaan het, want al die priesters wat aanwesig was, was geheilig en het toe nie gewag nie. Ook die Leviete wat die sangers was, almal van Asaf, van Heman, van Jedutun, met hulle seuns en hulle broers, bekleed met wit linne, met simbale en harpe en siters, het aan die oostekant van die altaar gestaan en saam met hulle honderd en twintig priesters wat op trompette blaas: En toe die trompetspelers en die sangers een was, het hulle een geluid gemaak om die HERE te loof en te loof; en toe hulle hul stem verhef het met die trompette en simbale en die musiekinstrumente, en die HERE geprys en gesê het: Want Hy is goed; want sy goedertierenheid is tot in ewigheid, dat toe die huis gevul is met 'n wolk, die huis van die HERE; Sodat die priesters vanweë die wolk nie kon staan om te dien nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van God vervul.

2 KRONIEKE 5:2-14 Die Boodskap (DB)

Salomo het toe al die familiehoofde van Israel in Jerusalem byeengeroep. Die doel was om die ark van die verbond van die Here uit Sion, die Stad van Dawid, na die tempel toe te neem. Almal het op die feesdag, wat in die sewende maand geval het, by die koning bymekaargekom. Toe al die leiers van Israel daar bymekaar was, het die Leviete die ark opgetel. Hulle het die ark en die tent waar die Here aanbid is en al die heilige voorwerpe wat by die tent gehoort het, saamgebring. Die Levitiese priesters het dit na die tempel toe opgedra. Koning Salomo en die hele gemeenskap wat saam met hom voor die ark bymekaar was, het skape en beeste begin offer. Hulle het soveel diere geoffer dat ’n mens nie kon byhou om te tel nie. Die priesters het toe die ark in die Allerheiligste plek in die tempel ingebring en dit onder die vlerke van die gerubs neergesit. Die gerubs se vlerke was só uitgesprei dat hulle die hele ark, met draaghoute en al, bedek het. Die draaghoute was so lank dat ’n mens hulle van die ingang van die Heilige vertrek af kon sien, maar nie van buite af nie. Dit is nog steeds so. Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horeb daarin gesit het. Hy het dit gedoen toe die Here ’n ooreenkoms met Israel aangegaan het, nadat hulle uit Egipte vertrek het. Die priesters het toe die Heilige plek verlaat. Al die priesters, of dit dié dag hulle diensbeurt was of nie, het hulleself gereinig soos wat die Here se voorskrifte bepaal. Al die Levitiese sangers, dit is al die groepe van Asaf, Heman en Jedutun, het hulle linneklere aangehad. Hulle het oos van die altaar reggestaan met simbale, harpe en liere, en daar was omtrent 120 priesters met trompette by hulle. Die trompetspelers en sangers het saam die Here geprys en gedank. Met die begeleiding van trompette, simbale en ander instrumente, het hulle hard begin sing en die Here met die volgende woorde geloof: “Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Net toe het ’n wolk die tempel van die Here heeltemal volgemaak. Die priesters kon nie met hulle werk aangaan nie, want die Here se heerlikheid was binne-in die tempel.