2 Kronieke 5:2-14

2 Kronieke 5:2-14 AFR20

Daarna het Salomo die oudstes van Israel, al die stamhoofde, die leiers van die families van die Israeliete, in Jerusalem laat byeenkom om die •verbondsark van die HERE vanuit die •Stad van Dawid, dit is Sion, op te dra. Al die manne van Israel het toe by die koning byeengekom in die feestyd, dit is die sewende maand. Toe al die oudstes van Israel aangekom het, het die priesters die ark opgetel. Hulle het die ark, die Tent van Ontmoeting en al die heilige voorwerpe wat in die tent was, na bo gedra – die Levitiese priesters het dit gedra. Koning Salomo en die hele volksvergadering van Israel, dié wat by hom saamgetrek het en saam met hom voor die ark was, het kleinvee en beeste geoffer wat vanweë hulle hoeveelheid nie getel of bereken kon word nie. Die priesters het die verbondsark van die HERE na sy plek geneem, na die heiligdom van die •tempel, na die •Allerheiligste, onder die vlerke van die gerubs. Die gerubs het hulle vlerke uitgesprei oor die plek van die ark. Die gerubs het die ark en sy draaghoute van bo af beskut. Die draaghoute was lank, en die punte van die draaghoute was sigbaar uit die heilige deel aan die voorkant van die heiligdom. Van buite af was dit egter nie sigbaar nie. Hulle is daar tot vandag toe. Daar was niks in die ark nie, behalwe die twee kliptafels wat Moses daarin geplaas het op Horeb, toe die HERE met die Israeliete 'n verbond gesluit het tydens hulle uittog uit Egipte. En toe die priesters uit die heiligdom gekom het – ja, al die priesters wat daar was, het hulleself geheilig, want die diensbeurte van afdelings het nie gegeld nie, ook die Levitiese sangers, hulle almal, Asaf, Heman en Jedoetoen, hulle nakomelinge en stamgenote, wat in linneklere gereed gestaan het aan die oostekant van die altaar met simbale, harpe en liere, en saam met hulle honderd-en-twintig priesters wat trompette blaas – het die trompetblasers en die sangers soos een man ingeval om die HERE met een stem te loof en te dank. Net toe hulle, onder begeleiding van trompette, simbale en ander musiekinstrumente, hulle stemme verhef en die HERE begin loof met “Want Hy is goed, ja, vir ewig duur sy troue liefde,” is die tempel, die huis van die HERE, gevul met 'n wolk. Die priesters kon vanweë die wolk nie bly staan om hulle dienswerk te doen nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van God gevul.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Kronieke 5:2-14