2 KRONIEKE 32:24-33

2 KRONIEKE 32:24-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Hy het tot die Here gebid, en die Here het met hom gepraat en met hom 'n wonder laat gebeur. Hiskia het egter nie dankbaarheid betoon vir dié weldaad nie. Hy het ingenome geword met homself, en dit het die toorn van die Here oor hom en oor Juda en Jerusalem gebring. Hy en die inwoners van Jerusalem het egter berou gekry oor die selfingenomenheid, en die toorn van die Here het toe nie in die tyd van Hiskia oor hulle gekom nie. Hiskia was ryk en het groot aansien geniet. Hy het vir hom skatkamers laat bou vir silwer, goud, edelstene, kosbare kruie, skilde en allerlei waardevolle goed. Hy het opslagplekke laat bou vir die koring, wyn en olie wat aan hom gelewer is, en krale en stalle vir sy beeste en kleinveekuddes. Hy het vir hom stede laat bou en het groot troppe kleinvee en grootvee gehad. God het hom 'n baie groot persoonlike besit laat opbou. Dit was Hiskia wat die boonste uitloop van die Gihonfontein afgesny en die water reguit na die westekant van die Dawidstad toe gelei het. Hy was voorspoedig met alles wat hy gedoen het. Maar toe die regeerders van Babel woordvoerders na hom toe gestuur het om navraag te doen oor die wonder wat in sy land gebeur het, het God hom verlaat. Dit was om hom te toets en hom sy eie hart te laat ken. Die ander verhale oor Hiskia en sy troue optrede is opgeteken in Die Gesig van die Profeet Jesaja seun van Amos en in Die Boek van die Konings van Juda en Israel. Hiskia is oorlede, en hy is begrawe teen die skuinste waar die grafte van die nakomelinge van Dawid is. Die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het aan hom eer bewys met sy dood. Sy seun Manasse het hom as koning opgevolg.

2 KRONIEKE 32:24-33 Bybel vir almal (ABA)

In daardie tyd het Hiskia baie siek geword, hy het amper gesterf. Hy het tot die Here gebid, en die Here het met hom gepraat. Die Here het 'n wonderwerk met Hiskia laat gebeur. Die Here was goed vir Hiskia, maar Hiskia het nie gedoen wat hy moes doen nie, hy was hoogmoedig. Daarom het die Here kwaad geword vir Hiskia en vir die mense van Juda en Jerusalem. Toe het Hiskia homself verneder en hy het opgehou om hoogmoedig te wees, hy en die mense van Jerusalem. Die Here het hulle nie gestraf terwyl Hiskia gelewe het nie, Hy het hulle later gestraf. Hiskia het baie ryk geword. Almal het hom gerespekteer. Hy het silwer en goud bymekaargemaak, en ook edelstene, speserye, skilde en alles wat hy wou hê. Hy het stoorkamers laat bou vir die koring en wyn en olyf-olie wat sy mense vir hom gebring het. Hy het ook blyplekke laat bou vir al sy diere, en skaapkrale vir die skape en bokke. Hy het stede laat bou en hy het groot troppe skape en bokke en beeste gehad. God het hom baie ryk laat word. Dit was hý, hierdie Hiskia, wat die water van die Gihon-fontein toegemaak het. Die water het by die bokant uitgekom, en Hiskia het die water reguit na die westekant van die Dawidstad laat vloei. Hiskia het geslaag met alles wat hy gedoen het. Die amptenare van Babel het boodskappers na Hiskia toe gestuur, hulle moes vir hom kom vra oor die wonderwerk in die land. God het toe vir Hiskia alleen gelos om hom te toets en om uit te vind wat hy dink. Die ander dinge wat met Hiskia gebeur het en hoe hy aangehou het om in die Here te glo, is geskryf in Die Dinge wat die Here vir die Profeet Jesaja seun van Amos gewys het. Dit is in die Boek van die Konings van Juda en Israel. Hiskia het gesterf, en hulle het hom begrawe by die grafte van die konings, waar 'n mens opgaan na die grafte van die nageslag van Dawid. Al die mense van Juda en Jerusalem het kom wys dat hulle hom gerespekteer het. Sy seun Manasse het koning geword ná hom.

2 KRONIEKE 32:24-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

IN dié dae het Jehiskía dodelik siek geword, maar hy het tot die HERE gebid, en Hy het met hom gespreek en hom 'n wonderteken gegee. Maar Jehiskía het die weldaad wat aan hom bewys is, nie vergeld nie; want sy hart het hoogmoedig geword. Daarom was daar 'n toorn oor hom en oor Juda en Jerusalem. Maar Jehiskía het hom verootmoedig in die hoogmoedigheid van sy hart, hy en die inwoners van Jerusalem, sodat die toorn van die HERE nie oor hulle gekom het in die dae van Jehiskía nie. En Jehiskía het buitengewoon baie rykdom en eer besit en vir hom skatkamers gemaak vir silwer en goud en edelgesteentes en vir speserye en skilde en allerhande kosbare voorwerpe; ook pakhuise vir die opbrings van koring en mos en olie; en stalle vir allerhande soorte vee en krale vir die troppe vee. Ook het hy vir hom stede aangelê; verder was daar besittings van kleinvee en beeste in menigte, want God het hom baie goed gegee. Dieselfde Jehiskía het ook die boonste uitloop van die water van die Gihon toegestop en dit gelei na onder toe, westelik na die stad van Dawid. En Jehiskía was voorspoedig in al sy werk. So ook in die geval van die gesante van die vorste van Babel — wat na hom gestuur het om ondersoek te doen na die wonderteken wat in die land gebeur het — het God hom net verlaat om hom op die proef te stel, om te weet alles wat in sy hart was. En die verdere geskiedenis van Jehiskía en sy vrome dade, kyk, dit is beskrywe in die Gesig van die profeet Jesaja, die seun van Amos, in die Boek van die konings van Juda en Israel. En Jehiskía het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe teen die hoogte van die grafte van die seuns van Dawid; en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het hom eer bewys by sy dood; en sy seun Manasse het in sy plek koning geword.

2 KRONIEKE 32:24-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Hy het tot die Here gebid, en die Here het met hom gepraat en met hom 'n wonder laat gebeur. Hiskia het egter nie dankbaarheid betoon vir dié weldaad nie. Hy het ingenome geword met homself, en dit het die toorn van die Here oor hom en oor Juda en Jerusalem gebring. Hy en die inwoners van Jerusalem het egter berou gekry oor die selfingenomenheid, en die toorn van die Here het toe nie in die tyd van Hiskia oor hulle gekom nie. Hiskia was ryk en het groot aansien geniet. Hy het vir hom skatkamers laat bou vir silwer, goud, edelstene, kosbare kruie, skilde en allerlei waardevolle goed. Hy het opslagplekke laat bou vir die koring, wyn en olie wat aan hom gelewer is, en krale en stalle vir sy beeste en kleinveekuddes. Hy het vir hom stede laat bou en het groot troppe kleinvee en grootvee gehad. God het hom 'n baie groot persoonlike besit laat opbou. Dit was Hiskia wat die boonste uitloop van die Gihonfontein afgesny en die water reguit na die westekant van die Dawidstad toe gelei het. Hy was voorspoedig met alles wat hy gedoen het. Maar toe die regeerders van Babel woordvoerders na hom toe gestuur het om navraag te doen oor die wonder wat in sy land gebeur het, het God hom verlaat. Dit was om hom te toets en hom sy eie hart te laat ken. Die ander verhale oor Hiskia en sy troue optrede is opgeteken in Die Gesig van die Profeet Jesaja seun van Amos en in Die Boek van die Konings van Juda en Israel. Hiskia is oorlede, en hy is begrawe teen die skuinste waar die grafte van die nakomelinge van Dawid is. Die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het aan hom eer bewys met sy dood. Sy seun Manasse het hom as koning opgevolg.

2 KRONIEKE 32:24-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In daardie dae het Hiskia tot die dood toe siek geword. Toe hy tot die HERE gebid het, het Hy hom geantwoord en vir hom 'n teken gegee. Omdat Hiskia se hart egter hoogmoedig geraak het, het hy nie in ooreenstemming met die weldaad teenoor hom gereageer nie. Toe het 'n oordeel uit toorn teen hom en teen Juda en Jerusalem losgebreek. Maar Hiskia het hom verootmoedig oor die hoogmoed van sy hart, hy en die inwoners van Jerusalem, sodat die oordeel uit toorn van die HERE in die dae van Hiskia nie teen hulle voortgeduur het nie. Hiskia het baie groot rykdom en eer verwerf, en skatkamers vir silwer, goud, edelstene, speserye, kleinskilde en allerlei kosbaarhede vir hom opgerig, asook voorraadkamers vir die opbrengs van koring, •nuwe wyn en olie, en stalle vir elke soort grootvee, en stalle vir kleinvee. Hy het vir hom dorpe aangelê en 'n groot hoeveelheid kleinvee en beeste verkry – ja, God het vir hom besonder baie besittings gegee. Dit was Hiskia wat die boonste uitloop van die water van die Gihon bedek en dit ondergronds direk wes na die Stad van Dawid gelei het. Hiskia was suksesvol in alles wat hy aangepak het. Dit was ook so met die gesante van die •hoë amptenare van Babel, wat na hom gestuur is om ondersoek te doen na die teken wat daar in die land was. God het hom verlaat om hom te toets, om te weet wat alles in sy hart aangaan. Die verdere geskiedenis van Hiskia en sy dade van trou, kyk, dit is opgeteken in die openbaring van die profeet Jesaja, seun van Amos, in die boekrol van die konings van Juda en Israel. Hiskia het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom begrawe teen die skuinste by die grafte van die nageslag van Dawid. Die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het besondere eer aan hom bewys met sy dood. Sy seun Manasse het in sy plek koning geword.

2 KRONIEKE 32:24-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In daardie dae was Hiskia siek tot die dood toe en hy het tot die HERE gebid; en hy het met hom gespreek, en hy het hom 'n teken gegee. Maar Hiskía het nie weer vergeld volgens die weldaad wat aan hom gedoen is nie; want sy hart was verhewe; daarom was daar toorn oor hom en oor Juda en Jerusalem. Maar Hiskia het hom verneder weens die trots van sy hart, hy sowel as die inwoners van Jerusalem, sodat die toorn van die HERE nie oor hulle gekom het in die dae van Hiskía nie. En Hiskía het buitengewoon baie rykdom en eer gehad, en hy het vir hom skatkamers gemaak vir silwer en goud en vir edelgesteentes en vir speserye en vir skilde en vir allerhande kosbare juwele; Ook voorraadkamers vir die opbrings van koring en wyn en olie; en stalletjies vir allerhande diere, en hokke vir kleinvee. Verder het hy vir hom stede voorsien en besittings van kleinvee en beeste in menigte, want God het hom baie besit gegee. Hierdie selfde Hiskia het ook die boonste waterloop van Gihon toegemaak en dit reguit afgebring na die westekant van die stad van Dawid. En Hiskia was voorspoedig in al sy werke. Maar in die saak van die gesante van die vorste van Babel, wat na hom gestuur het om die wonder wat in die land gebeur het, te raadpleeg, het God hom verlaat om hom op die proef te stel, sodat hy alles kon weet wat in sy hart was. En die verdere geskiedenis van Hiskía en sy goedheid, kyk, dit is beskrywe in die gesig van die profeet Jesaja, die seun van Amos, en in die Boek van die konings van Juda en Israel. En Hiskía het ontslaap met sy vaders, en hulle het hom begrawe in die hoof van die grafte van die seuns van Dawid; en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het hom by sy dood geëer. En sy seun Manasse het in sy plek geregeer.

2 KRONIEKE 32:24-33 Die Boodskap (DB)

Hiskia het in dié tyd ernstig siek geword. Hy het tot die Here gebid. Sy gebed is verhoor en hy het gesond geword. Maar Hiskia het nie reg gemaak nadat die Here hierdie groot guns aan hom bewys het nie. Hy was vol van homself. Daarom het die Here kwaad geword vir hom en vir Juda en Jerusalem. Hiskia het toe erken dat hy hoogmoedig geword het en die inwoners van Jerusalem het hulleself verneder. Daarom het die Here se wraak hulle nie in Hiskia se tyd getref nie. Hiskia was baie ryk. Almal het groot respek vir hom gehad. Hy het skatkamers vir sy silwer, goud en juwele laat bou, ook vir speserye, skilde en ander waardevolle items. Daarby het hy stoorkamers vir sy deel van die graanoes, die nuwe wyn en olyfolie gebou. Hy het ook krale en stalle vir sy beeste en troppe kleinvee gebou. Hy het ook stede gebou en reusetroppe kleinvee en beeste besit. Die Here het hom baie ryk gemaak. Hiskia het die boonste oog van die Gihonfontein toegemaak en die water deur ’n tonnel na die westekant van die Dawidstad gelei. Hy het baie goed gevaar met al die projekte wat hy aangepak het, maar toe ’n Babiloniese afvaardiging by hom kom om hom uit te vra oor die ongewone dinge wat in die land gebeur het, het die Here hom verlaat om hom te toets en vas te stel wat in sy hart aangaan. Die res van Hiskia se geskiedenis en sy toewyding aan die Here is in Die Visioen van die Profeet Jesaja, Amos se seun en in Die Geskiedenis van die Konings van Juda en Israel opgeskryf. Na sy dood is Hiskia in die boonste deel van die koninklike begraafplaas begrawe. Die hele Juda en Jerusalem het by sy dood aan hom eer betoon. Sy seun Manasse het hom opgevolg.

2 KRONIEKE 32:24-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ongeveer hierdie tyd het Hiskia dodelik siek geword. Hy het tot die HERE gebid, en God het hom gesond gemaak en ’n wonderteken gegee. Maar Hiskia het nie toepaslik geantwoord op die goedheid wat aan hom bewys is nie en het trots geword. Daarom het die toorn van die HERE hom, Juda en Jerusalem getref. Toe het Hiskia berou gehad oor sy trots en so ook die inwoners van Jerusalem. Die HERE se toorn het toe nie tydens Hiskia se regering oor hulle gekom nie. Hiskia was baie ryk en hoog in aansien. Hy moes addisionele skatkamers bou vir al sy silwer, goud, waardevolle stene, speserye en skilde, asook verskeie ander waardevolle items. Hy het ook baie stoorkamers vir sy graan, nuwe wyn en olyfolie gebou en ook baie stalle vir sy beeste, en krale vir sy troppe skape en bokke gemaak. Daarby het hy baie dorpe gebou en groot troppe kleinvee en grootvee gehad, want God het hom baie rykdom gegee. Hy het die boonste uitloop van die Gihonfontein afgesny en die water gelei deur ’n tonnel na die westekant van die Dawidstad. Hy was suksesvol in alles wat hy gedoen het. Maar toe die gesante van Babilonië kom om navraag te doen na die merkwaardige gebeurtenisse wat in die land gebeur het, het God Hom van Hiskia onttrek om hom te toets sodat hy self kon weet wat regtig in sy hart was. Die ander gebeurtenisse tydens die regering van Hiskia en sy dade van toewyding is opgeteken in Die visioen van die profeet Jesaja seun van Amos, wat deel vorm van Die boek van die konings van Juda en Israel. Toe Hiskia sterf, is hy begrawe in die boonste deel van die koninklike begraafplaas. Met sy dood het die hele Juda en Jerusalem hom eer bewys. Sy seun Manasse het in sy plek koning geword.