2 Kronieke 32:24-33

2 Kronieke 32:24-33 AFR20

In daardie dae het Hiskia tot die dood toe siek geword. Toe hy tot die HERE gebid het, het Hy hom geantwoord en vir hom 'n teken gegee. Omdat Hiskia se hart egter hoogmoedig geraak het, het hy nie in ooreenstemming met die weldaad teenoor hom gereageer nie. Toe het 'n oordeel uit toorn teen hom en teen Juda en Jerusalem losgebreek. Maar Hiskia het hom verootmoedig oor die hoogmoed van sy hart, hy en die inwoners van Jerusalem, sodat die oordeel uit toorn van die HERE in die dae van Hiskia nie teen hulle voortgeduur het nie. Hiskia het baie groot rykdom en eer verwerf, en skatkamers vir silwer, goud, edelstene, speserye, kleinskilde en allerlei kosbaarhede vir hom opgerig, asook voorraadkamers vir die opbrengs van koring, •nuwe wyn en olie, en stalle vir elke soort grootvee, en stalle vir kleinvee. Hy het vir hom dorpe aangelê en 'n groot hoeveelheid kleinvee en beeste verkry – ja, God het vir hom besonder baie besittings gegee. Dit was Hiskia wat die boonste uitloop van die water van die Gihon bedek en dit ondergronds direk wes na die Stad van Dawid gelei het. Hiskia was suksesvol in alles wat hy aangepak het. Dit was ook so met die gesante van die •hoë amptenare van Babel, wat na hom gestuur is om ondersoek te doen na die teken wat daar in die land was. God het hom verlaat om hom te toets, om te weet wat alles in sy hart aangaan. Die verdere geskiedenis van Hiskia en sy dade van trou, kyk, dit is opgeteken in die openbaring van die profeet Jesaja, seun van Amos, in die boekrol van die konings van Juda en Israel. Hiskia het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom begrawe teen die skuinste by die grafte van die nageslag van Dawid. Die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het besondere eer aan hom bewys met sy dood. Sy seun Manasse het in sy plek koning geword.