2 KRONIEKE 28:1-4
2 KRONIEKE 28:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Agas was 20 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 16 jaar lank koning in Jerusalem. Sy voorvader Dawid het dinge gedoen waarvan die Here hou, maar Agas het nie gedoen soos sy voorvader Dawid nie. Agas het verkeerd gelewe soos die konings van Israel en hy het ook beelde laat maak van die Baäls. Agas het ge-offer in die Ben-Hinnom-vallei en hy het sy seuns verbrand. Hy het dinge gedoen wat die Here gehaat het. Die volke wat voorheen in die land gewoon het, het dieselfde dinge gedoen, en die Here het hulle weggejaag sodat die Israeliete in die land kon woon. Agas het ge-offer en hy het wierook gebrand op die offer-plekke en op die heuwels en onder elke groen boom.
2 KRONIEKE 28:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
AGAS was twintig jaar oud toe hy koning geword het, en sestien jaar het hy in Jerusalem geregeer en nie gedoen wat reg was in die oë van die HERE soos sy vader Dawid nie. Maar hy het gewandel in die weë van die konings van Israel en selfs gegote beelde vir die Baäls gemaak. Hy het self ook offerrook in die dal van die seun van Hinnom laat opgaan en sy seuns met vuur verbrand, volgens die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdryf het. Hy het ook geoffer en rook laat opgaan op die hoogtes en op die heuwels en onder elke groen boom.
2 KRONIEKE 28:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Agas was twintig toe hy koning geword het, en hy het sestien jaar in Jerusalem geregeer. Hy het nie gedoen wat reg is in die oë van die Here soos sy voorvader Dawid nie. Hy het die pad geloop van die konings van Israel en hy het selfs beelde van die Baäls laat giet. Hy het in die Ben-Hinnomdal offerandes gebring en van sy kinders daar verbrand volgens die afskuwelike gebruik van die heidennasies wat deur die Here voor die Israeliete uit verdryf is. Hy het diereoffers en wierookoffers gebring op die hoogtes en op die rante en onder elke groot boom.
2 KRONIEKE 28:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Agas was twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sestien jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het nie gedoen wat reg is in die oë van die HERE soos sy voorvader Dawid nie. Hy het die paaie van die konings van Israel gevolg, en selfs gegote beelde gemaak vir die Baäls. Hy is die een wat offers verbrand het in die Ben-Hinnomdal, en sy seuns in die vuur verbrand het, soos die afstootlike gebruike was van die nasies wat die HERE voor die Israeliete uit verdryf het. Hy het geslag en offers verbrand by die offerhoogtes, op die heuwels en onder elke skaduryke boom.
2 KRONIEKE 28:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Agas was twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sestien jaar in Jerusalem geregeer; maar hy het nie gedoen wat reg was in die oë van die HERE soos sy vader Dawid nie. Want hy het in die weë van die konings van Israel gewandel en ook vir die Baäls gegote beelde gemaak. Verder het hy rook laat opgaan in die dal van die seun van Hinnom en sy kinders met vuur verbrand, volgens die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel verdryf het. Hy het ook geoffer en rook laat opgaan op die hoogtes en op die heuwels en onder elke groen boom.
2 KRONIEKE 28:1-4 Die Boodskap (DB)
Agas was twintig toe hy koning geword het. Hy het sestien jaar lank in Jerusalem regeer. Die Here was nie so tevrede met wat Agas gedoen het as met Dawid nie. Hy het dieselfde sondes gedoen as die konings van Israel. Agas het onder andere beelde van die Baäls gemaak wat die mense moes aanbid; offers vir vreemde gode gebring in die Ben-Hinnomdal; sy seuns met vuur verbrand as offers aan die gode, net soos die heidene vroeër gedoen het, en diere geoffer en wierook gebrand op al die ander nasies se godsdienstige plekke.
2 KRONIEKE 28:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Agas was twintig jaar oud toe hy koning geword het en het sestien jaar in Jerusalem regeer. Hy het nie gedoen wat reg was vir die HERE soos sy voorvader Dawid gedoen het nie. Hy het eerder die voorbeeld van die konings van Israel gevolg en het beelde van die Baäls laat giet. Hy het in die Ben-Hinnomvallei offers gebring, en selfs van sy seuns laat verbrand. Dit was in navolging van die afskuwelike praktyke van die heidense nasies wat deur die HERE voor die Israeliete uit die land verdryf is. Hy het offerandes en wierook op die hoogtes, op al die heuwels en onder elke groen boom gebring.