2 KRONIEKE 28

28
Agas regeer in Juda
1Agas was twintig jaar oud toe hy koning geword het en het sestien jaar in Jerusalem regeer. Hy het nie gedoen wat reg was vir die Here soos sy voorvader Dawid gedoen het nie. 2Hy het eerder die voorbeeld van die konings van Israel gevolg en het beelde van die Baäls laat giet. 3Hy het in die Ben-Hinnomvallei offers gebring, en selfs van sy seuns laat verbrand. Dit was in navolging van die afskuwelike praktyke van die heidense nasies wat deur die Here voor die Israeliete uit die land verdryf is. 4Hy het offerandes en wierook op die hoogtes, op al die heuwels en onder elke groen boom gebring.
5Dit is waarom die Here sy God toegelaat het dat die koning van Aram vir Agas verslaan en ’n groot aantal van sy volk na Damaskus weggevoer het. God het hom ook oorgegee aan die koning van Israel, en hy het hom ’n groot neerlaag toegedien. 6Op ’n enkele dag het Peka seun van Remalja 120 000 van Juda se soldate doodgemaak omdat hulle die Here, die God van hulle voorouers, verlaat het. 7Toe het Sikri, ’n krygsman uit Efraim, vir Maäseja seun van die koning, Asrikam die paleisbestuurder en die onderkoning Elkana doodgemaak. 8Die leërs van Israel het 200 000 vroue, seuns en dogters van hulle bloedverwante uit Juda gevang en ook baie buit na Samaria toe saamgevat.
9Maar ’n profeet van die Here met die naam Oded was in Samaria toe die leër van Israel teruggekom het. Hy het hulle tegemoetgegaan en gesê: “Die Here, die God van julle voorouers, was kwaad vir Juda en het toegelaat dat julle hulle verslaan. Maar julle het te ver gegaan deur hulle sonder genade dood te maak en dit skrei ten hemel. 10En nou beplan julle om van hierdie mense uit Juda en Jerusalem slawe en slavinne te maak. Wat van julle eie sondes teen die Here julle God? 11Luister na my en stuur hierdie gevangenes terug, want hulle is julle bloedverwante. Pas op, want die oordeel van die Here het nou teen julle gedraai!”
12Toe het sommige van die leiers van die Efraimiete#28:12 Of Israel., Asarja seun van Joganan, Berekja seun van Mesillemot, Hiskia seun van Sallu, en Amasa seun van Gadlai, saamgestem en hulle het die manskappe gekonfronteer wat teruggekom het na die oorlog: 13“Julle kan nie die gevangenes hiernatoe bring nie!” het hulle gesê. “Ons kan nie bekostig om nog skuld by ons sondes te voeg nie. Ons skuld is reeds groot, en die toorn van die Here het alreeds teen Israel gedraai.”
14Die soldate het toe die gevangenes vrygelaat en die buit in die teenwoordigheid van al die leiers en die vergadering teruggegee. 15Toe het die vier gemelde persone vorentoe gekom en uit die buit klere gegee aan die gevangenes wat naak was. Hulle het klere en skoene, kos en water vir hulle gegee, en hulle wonde met olie behandel. Almal wat swak was, het hulle op donkies gelaai en die gevangenes na hulle eie land, na Jerigo die palmstad, tot by hulle eie mense weggebring. Daarna het hulle na Samaria toe teruggegaan.
Agas sluit die tempel
16Omtrent hierdie tyd het koning Agas van Juda die koning van Assirië se hulp gevra teen sy vyande. 17Die leërs van Edom het Juda weer binnegeval en gevangenes geneem. 18Die Filistyne het strooptogte uitgevoer op dorpe in die Laeveld van Juda en in die Negevwoestyn. Hulle het reeds Bet-Semes, Ajalon, Gederot, Soko met sy buitedorpies, Timna met sy buitedorpies, en Gimso met sy buitedorpies beset en daar gaan woon.
19Die Here was besig om Juda te verneder oor koning Agas van Juda#28:19 Grondteks Israel, maar die konteks dui op Juda., want hy het Juda aangemoedig om te sondig en was heeltemal ontrou aan die Here. 20Toe koning Tiglat-Pileser#28:20 Grondteks Tiglat-Pilneser, ’n variante naam vir Tiglat-Pileser. van Assirië daar aankom, het hy koning Agas onderdruk, in plaas daarvan om hom te help.
21Agas vat toe waardevolle voorwerpe uit die tempel van die Here, die koninklike paleis en uit die huise van sy amptenare en gee dit vir die koning van Assirië. Maar selfs dit het hom niks gehelp nie.
22Toe dit so sleg met hom gaan, het hy nog meer ontrou aan die Here geword. 23Hy het offers gebring aan die gode van Damaskus wat hom verslaan het, “want,” het hy gesê, “hierdie gode het die konings van Aram gehelp en sal my ook help as ek vir hulle offerandes bring.” Maar hulle was sy ondergang en ook dié van die hele Israel. 24Die koning het die voorwerpe uit die tempel van God weggeneem en dit stukkend geslaan. Hy het die deure van die Here se tempel gesluit. Hy het ook heidense altare op elke straathoek in Jerusalem opgerig. 25Verder het hy in al die dorpe van Juda heidense heiligdomme opgerig waar offers aan die afgode gebring kon word. Dit het die toorn van die Here, die God van sy voorouers, uitgetart.
26Die ander gebeurtenisse tydens Agas se regering en al sy dade, van begin tot einde, is opgeteken in Die boek van die konings van Juda en Israel. 27Toe koning Agas sterf, is hy in Jerusalem begrawe, maar nie in die koninklike begraafplaas nie. Sy seun Hiskia het hom opgevolg.

Tans Gekies:

2 KRONIEKE 28: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan