1 TIMOTEUS 6:3-10

1 TIMOTEUS 6:3-10 Die Boodskap (DB)

Sê nou iemand wil julle meer oor die godsdiens leer, maar hy vertel net ’n klomp stories wat nie waar is nie. Dit is glad nie wat die Here Jesus Christus vir ons vertel en geleer het nie. Na so iemand moet jy nie eens luister nie. Hy self dink natuurlik hy weet baie, maar eintlik weet hy niks. Hy sal gewoonlik oor alles wil stry en ’n yslike argument begin oor wat ’n spesifieke woord nou juis beteken. Hierdie ongesonde houding van hom sal maak dat mense later vies raak vir mekaar. Hulle sal jaloers op mekaar word, lelike dinge van mekaar sê en mekaar so verdag maak. Hulle sal aanmekaar stry en baklei omdat hulle deurmekaar is. Hulle sal nie meer mooi kan dink nie en dan nie meer weet wat waar is nie. Hulle dink dat godsdiens eintlik daar is om geld mee te maak. Eintlik kán godsdiens ’n mens baie ryk maak. Aardse rykdom is nie so baie werd nie, want ons het sonder ’n sent in die wêreld gekom en eendag wanneer ons doodgaan, sal ons ook niks van die wêreldse rykdom kan saamvat nie. As ons genoeg het om te eet en darem klere het om aan te trek, moet ons meer as tevrede wees. Mense vir wie dit baie belangrik word om ryk te wees, kom gou in die moeilikheid. Hulle gierigheid maak dat hulle in die hande van Satan instap omdat hulle gedurig op allerhande maniere uitgelok word om verkeerde dinge te doen. Uiteindelik bly daar van hulle en al hulle begeertes niks oor nie en hulle beland in die hel. Om agter geld aan te hardloop laat jou in die kloue van allerhande slegte dinge inhardloop. Daar is party mense wat eers aan die kerk behoort het, maar toe so agter geld begin aanloop het dat hulle vandag nie eens meer ’n lid van die kerk is nie. Ons weet hoe sleg dit nou met hulle gaan. Hulle het die een probleem op die ander.