1 TIMOTEUS 2:3-8
1 TIMOTEUS 2:3-8 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer julle só bid, dan is dit reg. God, ons Redder, wil dit so hê. God wil graag al die mense red en Hy wil hê dat hulle moet weet wat die waarheid is. Die waarheid is: Daar is net één God en daar is net één Persoon wat God en die mense bymekaar kan bring, dit is die mens Christus Jesus. Hy het sy lewe gegee en Hy het gesterf om al die mense vry te maak. So het Hy gewys dat die regte tyd gekom het. Daarom het Christus Jesus my gekies en aangestel om die goeie boodskap te bring vir die mense wat nie Jode is nie, en om 'n apostel te wees. Ek lieg nie as ek dit sê nie, ek praat die waarheid. Ek moet ook vir húlle die waarheid leer en ek moet vir hulle leer wat dit beteken om in Christus te glo. Ek wil hê die mans wat hulleself aan die Here wy, moet tot die Here bid. Hulle moet hulle hande ophou na die hemel en hulle moet bid op elke plek waar hulle bymekaarkom. Hulle moenie vir mekaar kwaad word en stry nie.
1 TIMOTEUS 2:3-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as 'n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd, waartoe ek aangestel is as 'n prediker en apostel — ek sê die waarheid in Christus, ek lieg nie — 'n leraar van die heidene in geloof en waarheid. Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis.
1 TIMOTEUS 2:3-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as 'n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God. Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as 'n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid. Ek praat die waarheid, ek lieg nie. Ek wil dus hê dat die mans by elke plek van samekoms met 'n skoon gewete hande in gebed tot God moet ophef, vry van onmin en twis.
1 TIMOTEUS 2:3-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense: die mens •Christus Jesus, wat Homself as losprys vir almal gegee het, tot getuienis op die bestemde tyd. Hiervoor is ek aangestel as prediker en •apostel – ek praat die waarheid, ek lieg nie – as leermeester om die heidene in geloof en waarheid te onderrig. Ek verwag van die mans dat hulle op elke plek sal bid, met heilige hande omhoog, sonder woede en rusie.
1 TIMOTEUS 2:3-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want dit is goed en welgevallig in die oë van God, ons Verlosser; wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus; wat Homself as 'n losprys vir almal gegee het om op die regte tyd getuig te word. Waartoe ek aangestel is as 'n prediker en 'n apostel (ek spreek die waarheid in Christus en lieg nie;) 'n leraar van die heidene in geloof en waarheid. Ek wil dus dat die mense oral moet bid en heilige hande ophef, sonder toorn en twyfel.
1 TIMOTEUS 2:3-8 Die Boodskap (DB)
So hoort dit en so hou God, wat ons gered het, daarvan. God wil hê alle mense moet na Hom toe kom en by Hom leer wat waar is. Daar is mos net een God en daar is net een Mens wat ons kan help om by God uit te kom, en dit is Christus Jesus. Hy het die prys betaal wat nodig was sodat ons saak met God weer reg kon wees; ja, Hy het Homself daarvoor gegee. Op die regte tyd het Hy gewys dat God mense graag by Hom wil hê. Juis daarom het God my aangestel om vir al die mense wat nog nie van Hom gehoor het nie, die waarheid te gaan vertel oor sy Seun Jesus sodat hulle ook in Hom kan glo. Julle kan dit gerus maar glo, want ek sal nie vir julle lieg nie. As julle saambid, wil ek hê dat julle met oorgawe moet bid. Verwag ook dat die Here julle gebede sal beantwoord, mits julle nie kwaad is vir mekaar of oor alles stry en baklei nie.
1 TIMOTEUS 2:3-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, want Hy wil dat almal verlos word en die waarheid verstaan. Want daar is net een God en een Middelaar wat God en mens kan versoen. Hy is die mens Christus Jesus. Hy het sy lewe gegee om vryheid vir elkeen te koop. Dit is die boodskap wat God aan die wêreld gegee het op die bestemde tyd. En ek is gekies – dit is die absolute waarheid – as ’n prediker en apostel om die nie-Joodse nasies te onderrig in geloof en waarheid. Waar julle ook al vergader, wil ek hê mans moet bid met hulle hande opgehef na God, vry van woede en twis.