1 TESSALONISENSE 5:14-28

1 TESSALONISENSE 5:14-28 Bybel vir almal (ABA)

Vriende, ons vra vir julle baie mooi, julle moet ernstig praat met die mense wat lui is. Julle moet die mense wat maklik moedeloos word, help en bemoedig. Julle moet die mense help wat nie sterk glo nie. Julle moet geduldig wees met almal. As iemand slegte dinge gedoen het aan jou, dan moet jy nie ook slegte dinge doen aan hom nie. Julle moet keer sodat niemand dit doen nie. Julle moet altyd goeie dinge probeer doen vir mekaar en vir al die mense. Julle moet altyd bly wees. Julle moenie ophou bid nie. Julle moet altyd dankbaar wees, dit maak nie saak wat gebeur nie. Dit is wat God wil hê julle moet doen omdat julle in Christus Jesus glo. Julle moenie keer wanneer die Heilige Gees werk nie. Dit beteken julle moenie 'n profeet stilmaak nie. Maar julle moet ook nie alles glo wat mense sê nie. Julle moet toets wat mense sê en kyk of dit regtig is wat God wil hê. Dan sal julle weet wat goed is. Bly weg van alles wat sleg is. Ons bid dat God wat vrede gee, julle aan Hom sal wy sodat julle sal doen wat Hy wil hê. Ons bid ook dat wanneer ons Here Jesus Christus kom, julle heeltemal skoon sal wees, julle gees, julle hart en julle liggaam. Dan sal niemand julle kan beskuldig nie. God sal doen wat Hy belowe het, Hy het julle gekies en Hy sal dit doen. Vriende, julle moet asseblief ook vir ons bid. Groet al die gelowiges met 'n soen wat wys dat julle almal aan Christus behoort. Julle moet vir my belowe en die Here moet die getuie wees dat julle hierdie brief vir al die gelowiges sal lees sodat hulle dit kan hoor. Ek bid dat die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle.

1 TESSALONISENSE 5:14-28 Die Boodskap (DB)

Ek wil julle ook daaraan herinner dat julle ’n plig het teenoor ander Christene. Sê vir daardie mense wat moeilikheid in die kerk veroorsaak om dadelik daarmee op te hou. Praat Christene wie se geloof klein is moed in. Ondersteun die gelowiges wat nog nie mooi verstaan waaroor ons geloof gaan nie. Wees geduldig met almal met wie julle te doen kry. Sê vir ander gelowiges om nie wraak te neem nie. As iemand iets leliks aan hulle gedoen het, mag hulle nie iets leliks terugdoen nie. Sorg eerder dat julle van vroeg tot laat goeie dinge aan mekaar en aan ander mense buite die kerk doen. Wees altyd vol blydskap. Praat met die Here elke keer as julle die kans het. Moet nooit moeg word om te bid nie. Hy hoor! Wees heeltyd dankbaar teenoor God, wat ook al met julle gebeur. Dan stap julle op die pad wat God vir julle beplan het toe julle in Christus Jesus begin glo het. Moenie julle doof hou wanneer die Gees met julle praat nie. Luister fyn na sy stem. Moenie die profetiese boodskappe van ander oorhaastig van die tafel vee nie. Luister na alles wat hulle sê, maar wees versigtig. Stel vas of dit regtig van die Here af kom. Bêre al daardie boodskappe wat wel van God af kom in julle hart, en gaan doen dit, maar bly weg van boodskappe wat julle op die verkeerde pad kan lei. Ek bid dat God, wat vrede tussen ons en Hom gemaak het, julle lewe geheel en al vir Hom opsy sal sit. Mag Hy julle met alles binne-in julle oppas tot op daardie dag dat ons Here Jesus Christus weer kom. Mag Hy julle op ’n dag silwerskoon voor Christus laat staan, sonder ’n spikkeltjie sonde in julle lewe. Ek weet God sal my gebed verhoor, want Hy hou sy woord. Toe Hy julle sy kinders gemaak het, het Hy belowe dat Hy die hele tyd by julle sal wees tot op die heel laaste dag. My liewe broers en susters, sal julle asseblief ook vir my en my helpers bid? Julle moet mekaar vriendelik ontvang. Soen mekaar met ’n heilige soen as julle saamkom soos wat dit by Christene pas. En ek versoek julle baie ernstig in die Naam van die Here dat hierdie brief by julle byeenkomste aan al die gelowiges voorgelees word. Die oorvloedige goedheid van ons Here Jesus Christus is by julle, nou en vir altyd.

1 TESSALONISENSE 5:14-28

1 TESSALONISENSE 5:14-28 AFR831 TESSALONISENSE 5:14-28 AFR831 TESSALONISENSE 5:14-28 AFR831 TESSALONISENSE 5:14-28 AFR83