1 TESSALONISENSE 5:14-18
1 TESSALONISENSE 5:14-18 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, ons vra vir julle baie mooi, julle moet ernstig praat met die mense wat lui is. Julle moet die mense wat maklik moedeloos word, help en bemoedig. Julle moet die mense help wat nie sterk glo nie. Julle moet geduldig wees met almal. As iemand slegte dinge gedoen het aan jou, dan moet jy nie ook slegte dinge doen aan hom nie. Julle moet keer sodat niemand dit doen nie. Julle moet altyd goeie dinge probeer doen vir mekaar en vir al die mense. Julle moet altyd bly wees. Julle moenie ophou bid nie. Julle moet altyd dankbaar wees, dit maak nie saak wat gebeur nie. Dit is wat God wil hê julle moet doen omdat julle in Christus Jesus glo.
1 TESSALONISENSE 5:14-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal. Sorg dat niemand 'n ander kwaad vir kwaad vergeld nie; maar jaag altyd ná wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal. Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.
1 TESSALONISENSE 5:14-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. Sorg dat niemand 'n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense. Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.
1 TESSALONISENSE 5:14-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En ons moedig julle aan, broers, om die leeglêers aan te spreek; bemoedig die moedeloses; ondersteun die swakkes; wees geduldig teenoor almal. Sorg dat niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar streef altyd na wat goed is vir mekaar en vir alle mense. Wees altyd bly; bid sonder ophou; wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in •Christus Jesus.
1 TESSALONISENSE 5:14-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Nou vermaan ons julle, broeders, waarsku die onregverdiges, troos die swaksinniges, ondersteun die swakkes, wees geduldig teenoor alle mense. Pas op dat niemand kwaad vir kwaad aan iemand vergeld nie; maar volg altyd wat goed is, onder mekaar sowel as vir alle mense. Wees altyd bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.
1 TESSALONISENSE 5:14-18 Die Boodskap (DB)
Ek wil julle ook daaraan herinner dat julle ’n plig het teenoor ander Christene. Sê vir daardie mense wat moeilikheid in die kerk veroorsaak om dadelik daarmee op te hou. Praat Christene wie se geloof klein is moed in. Ondersteun die gelowiges wat nog nie mooi verstaan waaroor ons geloof gaan nie. Wees geduldig met almal met wie julle te doen kry. Sê vir ander gelowiges om nie wraak te neem nie. As iemand iets leliks aan hulle gedoen het, mag hulle nie iets leliks terugdoen nie. Sorg eerder dat julle van vroeg tot laat goeie dinge aan mekaar en aan ander mense buite die kerk doen. Wees altyd vol blydskap. Praat met die Here elke keer as julle die kans het. Moet nooit moeg word om te bid nie. Hy hoor! Wees heeltyd dankbaar teenoor God, wat ook al met julle gebeur. Dan stap julle op die pad wat God vir julle beplan het toe julle in Christus Jesus begin glo het.
1 TESSALONISENSE 5:14-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Broers en susters, ons druk julle dit op die hart: Wys die leeglêers tereg, praat die kleinmoediges moed in, ondersteun die swakkes, wees geduldig met almal. Kyk dat niemand weerwraak neem nie, maar streef eerder altyd die goeie na – vir mekaar en vir alle mense. Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle verwag omdat julle met Christus Jesus verenig is.