1 TESSALONISENSE 5:12-22
1 TESSALONISENSE 5:12-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar. Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. Sorg dat niemand 'n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense. Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. Moenie profesieë geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is.
1 TESSALONISENSE 5:12-22 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, ons vra vir julle dat julle die leiers moet respekteer wat hard werk daar by julle. Want hulle lei julle soos die Here wil hê, en hulle leer vir julle van Hom. Julle moet julle leiers respekteer en baie lief wees vir hulle, want hulle doen belangrike werk. Julle moet só lewe dat daar vrede is tussen julle. Vriende, ons vra vir julle baie mooi, julle moet ernstig praat met die mense wat lui is. Julle moet die mense wat maklik moedeloos word, help en bemoedig. Julle moet die mense help wat nie sterk glo nie. Julle moet geduldig wees met almal. As iemand slegte dinge gedoen het aan jou, dan moet jy nie ook slegte dinge doen aan hom nie. Julle moet keer sodat niemand dit doen nie. Julle moet altyd goeie dinge probeer doen vir mekaar en vir al die mense. Julle moet altyd bly wees. Julle moenie ophou bid nie. Julle moet altyd dankbaar wees, dit maak nie saak wat gebeur nie. Dit is wat God wil hê julle moet doen omdat julle in Christus Jesus glo. Julle moenie keer wanneer die Heilige Gees werk nie. Dit beteken julle moenie 'n profeet stilmaak nie. Maar julle moet ook nie alles glo wat mense sê nie. Julle moet toets wat mense sê en kyk of dit regtig is wat God wil hê. Dan sal julle weet wat goed is. Bly weg van alles wat sleg is.
1 TESSALONISENSE 5:12-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAAR ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan; en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk. Hou vrede onder mekaar. En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal. Sorg dat niemand 'n ander kwaad vir kwaad vergeld nie; maar jaag altyd ná wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal. Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle. Blus die Gees nie uit nie. Verag die profesieë nie. Beproef alle dinge; behou die goeie. Onthou julle van elke vorm van kwaad.
1 TESSALONISENSE 5:12-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar ons vra julle, broers, om respek te betoon aan diegene wat ywerig onder julle werk, en julle in die Naam van die Here voorgaan en teregwys, en om, op grond van hulle werk, in liefde en met die hoogste agting teenoor hulle op te tree. Leef in vrede met mekaar. En ons moedig julle aan, broers, om die leeglêers aan te spreek; bemoedig die moedeloses; ondersteun die swakkes; wees geduldig teenoor almal. Sorg dat niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar streef altyd na wat goed is vir mekaar en vir alle mense. Wees altyd bly; bid sonder ophou; wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in •Christus Jesus. Moenie die Gees blus nie; moenie profesieë geringskat nie, maar ondersoek alle dinge; behou die goeie; vermy elke vorm van boosheid.
1 TESSALONISENSE 5:12-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ons smeek julle, broeders, om die wat onder julle arbei en oor julle in die Here is, te ken en julle te vermaan; En om hulle in liefde baie hoog te ag ter wille van hulle werk. En wees in vrede onder mekaar. Nou vermaan ons julle, broeders, waarsku die onregverdiges, troos die swaksinniges, ondersteun die swakkes, wees geduldig teenoor alle mense. Pas op dat niemand kwaad vir kwaad aan iemand vergeld nie; maar volg altyd wat goed is, onder mekaar sowel as vir alle mense. Wees altyd bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle. Blus die Gees nie uit nie. Verag profesieë nie. Beproef alle dinge; hou vas wat goed is. Weerhou van alle skyn van boosheid.
1 TESSALONISENSE 5:12-22 Die Boodskap (DB)
Broers en susters, ek wil julle mooi vra om groot respek vir al die leiers in die kerk te hê. Onthou, die Here het hulle aangestel om sy wil aan julle bekend te maak. As julle die spoor byster raak, moet hulle julle aanspreek, en as julle swaarkry, moet hulle julle vertroos. Wees baie lief vir hulle en sien op na hulle. Moet asseblief nie onder mekaar stry en baklei nie. Ek wil julle ook daaraan herinner dat julle ’n plig het teenoor ander Christene. Sê vir daardie mense wat moeilikheid in die kerk veroorsaak om dadelik daarmee op te hou. Praat Christene wie se geloof klein is moed in. Ondersteun die gelowiges wat nog nie mooi verstaan waaroor ons geloof gaan nie. Wees geduldig met almal met wie julle te doen kry. Sê vir ander gelowiges om nie wraak te neem nie. As iemand iets leliks aan hulle gedoen het, mag hulle nie iets leliks terugdoen nie. Sorg eerder dat julle van vroeg tot laat goeie dinge aan mekaar en aan ander mense buite die kerk doen. Wees altyd vol blydskap. Praat met die Here elke keer as julle die kans het. Moet nooit moeg word om te bid nie. Hy hoor! Wees heeltyd dankbaar teenoor God, wat ook al met julle gebeur. Dan stap julle op die pad wat God vir julle beplan het toe julle in Christus Jesus begin glo het. Moenie julle doof hou wanneer die Gees met julle praat nie. Luister fyn na sy stem. Moenie die profetiese boodskappe van ander oorhaastig van die tafel vee nie. Luister na alles wat hulle sê, maar wees versigtig. Stel vas of dit regtig van die Here af kom. Bêre al daardie boodskappe wat wel van God af kom in julle hart, en gaan doen dit, maar bly weg van boodskappe wat julle op die verkeerde pad kan lei.
1 TESSALONISENSE 5:12-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Broers en susters, ons vra julle om erkenning te gee aan die mense wat hard onder julle werk. Hulle is julle leiers in die Here se werk en hou julle op die regte pad. Ter wille van die taak wat hulle het, moet julle met liefde baie eerbied aan hulle betoon. Leef in vrede met mekaar. Broers en susters, ons druk julle dit op die hart: Wys die leeglêers tereg, praat die kleinmoediges moed in, ondersteun die swakkes, wees geduldig met almal. Kyk dat niemand weerwraak neem nie, maar streef eerder altyd die goeie na – vir mekaar en vir alle mense. Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle verwag omdat julle met Christus Jesus verenig is. Moenie die Gees uitblus nie. Moenie profesieë geringskat nie, maar ondersoek alles wat gesê word en behou wat goed is. Bly weg van elke vorm van kwaad.