1 SAMUEL 23:14-18
1 SAMUEL 23:14-18 Bybel vir almal (ABA)
Dawid het in die woestyn gaan bly in plekke in die berge waar mense nie maklik kan kom nie. Hy het ook gaan bly op die berg in die Sif-woestyn. Saul het aangehou om te soek na Dawid, maar Saul het nie vir Dawid gevang nie, God het vir Dawid beskerm. Dawid het geweet dat Saul wil kom om hom dood te maak, en hy het in die Sif-woestyn by die stad Goresa gebly. Saul se seun Jonatan het gereedgemaak en hy het na Dawid toe gegaan by Goresa. Jonatan het vir Dawid kom sê: “God sal aanhou om vir jou te help. Jy moenie bekommerd wees nie. My pa sal jou nie vang nie. Jy sal koning word oor Israel, en ek sal jou belangrikste amptenaar wees. My pa Saul weet ook dat dit so sal wees.” Jonatan en Dawid het weer 'n ooreenkoms gemaak, en die Here was die getuie. Dawid het by Goresa gebly, en Jonatan het teruggegaan na sy huis.
1 SAMUEL 23:14-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Dawid het gebly in die woestyn, in die bergvestings, ook op die gebergte in die woestyn Sif; en Saul het hom aldae gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie. Maar Dawid het bemerk dat Saul uittrek om sy lewe te soek. Dawid was naamlik in die woestyn Sif, in Hores. Daarop het Jónatan, die seun van Saul, hom klaargemaak en na Dawid in Hores gegaan. En hy het hom bemoedig in God en vir hom gesê: Vrees nie, want die hand van Saul, my vader, sal jou nie vind nie, maar jy sal koning word oor Israel, en ek sal die tweede onder jou wees; en my vader Saul weet dit ook goed. Toe sluit hulle twee 'n verbond voor die aangesig van die HERE; en Dawid het in Hores gebly, maar Jónatan het na sy huis gegaan.
1 SAMUEL 23:14-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna het Dawid in die woestyn in bergskuilings gaan woon. Hy het in die berge in die Sifwoestyn gewoon. Saul het hom die hele tyd gesoek, maar God het hom nie in Saul se mag oorgegee nie. Toe Dawid besef dat Saul steeds daarop uit is om hom dood te maak, is hy na Goresa toe in die Sifwoestyn. Jonatan seun van Saul het toe klaargemaak en na Dawid toe in Goresa gegaan en hom bemoedig in sy vertroue op God. Hy het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, want my pa sal jou nie in die hande kry nie. Jy sal koning word oor Israel, en ek sal onder jou staan. Selfs my pa weet dat dit so is.” Hulle twee het toe 'n verbond voor die Here gesluit. Dawid het in Goresa gebly, en Jonatan het huis toe gegaan.
1 SAMUEL 23:14-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dawid het in die woestyn, in die bergskuilings, gebly. Daarna het hy in die berggebied van die woestyn van Sif gaan bly. Saul het hom die hele tyd gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie. Dawid het besef dat Saul uitgetrek het om sy lewe te neem. Terwyl Dawid in Goresa was, in die woestyn van Sif, het Jonatan, Saul se seun, gereedgemaak en na Dawid in Goresa gegaan. Hy het hom in die Naam van God bemoedig en vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, want Saul, my pa, sal jou nie in die hande kry nie. Jy is die een wat koning sal word oor Israel, en ek self sal tweede in bevel wees. Selfs my pa, Saul, weet dat dit so is.” Nadat hulle twee voor die HERE 'n ooreenkoms gesluit het, het Dawid in Goresa gebly, en Jonatan het na sy huis teruggegaan.
1 SAMUEL 23:14-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Dawid het in die woestyn in vestings gebly en op 'n berg in die woestyn Sif gebly. En Saul het hom elke dag gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie. En Dawid het gesien dat Saul uitgegaan het om sy lewe te soek, en Dawid was in die woestyn Sif, in 'n bos. En Jónatan, die seun van Saul, het opgestaan en na Dawid in die bos gegaan en sy hand in God versterk. En hy sê vir hom: Moenie vrees nie, want die hand van my vader Saul sal jou nie vind nie; en jy sal koning wees oor Israel, en Ek sal naas jou wees; en dit weet ook my vader Saul. En hulle twee het 'n verbond voor die aangesig van die HERE gesluit, en Dawid het in die bos gebly, en Jónatan het na sy huis gegaan.
1 SAMUEL 23:14-18 Die Boodskap (DB)
Dawid het in veilige plekke in die veld en in die berge van die Sifwoestyn gaan bly. Saul het dae lank na hom gesoek, maar God het nie vir Dawid aan hom oorgegee nie. Dawid het gesien dat Saul daarop uit was om hom dood te maak. Toe Dawid in die Sifwoestyn in Goresa was, het Jonatan, Saul se seun, na hom toe gekom. Jonatan het vir Dawid gesê om sterk te wees en op God te vertrou. Hy het gesê: “Moenie bang wees nie. My pa sal jou nie in die hande kry nie. Jý is die een wat koning oor Israel gaan word. Ek sal onder jou wees. My pa weet dit sal so wees.” Hulle twee het by ’n altaar van die Here ’n ooreenkoms met mekaar gemaak. Jonatan is daarna huis toe, maar Dawid het in Goresa gebly.
1 SAMUEL 23:14-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dawid het in bergskuilings in die woestyn en in die heuwelagtige landstreek van Sif gaan bly. Saul het hom gedurig gesoek, maar God het nie toegelaat dat Saul hom vang nie. Dawid het besef dat Saul hom nog steeds wou doodmaak; daarom is hy na Goresa toe in die woestyn van Sif. Jonatan het daar na hom toe gekom en hom bemoedig om op God te vertrou. “Moenie bang wees nie,” verseker Jonatan hom. “My pa sal jou nie vang nie. Jy sal koning van Israel word en ek sal onder jou dien. My pa weet dit baie goed.” Die twee het toe hulle ooreenkoms opnuut met ’n eed voor die HERE bevestig. Daarna is Jonatan terug huis toe, terwyl Dawid verder in Goresa gebly het.