1 KONINGS 22:19-24
1 KONINGS 22:19-24 Bybel vir almal (ABA)
Miga het toe weer gepraat: “Luister wat sê die Here. Ek het gesien die Here sit op sy troon en almal wat in die hemel is, staan by Hom, hulle staan regs en links langs Hom. En die Here het gesê: ‘Vir wie kan Ek stuur om vir Agab te bedrieg? Daardie een moet sê Agab moet na Ramot in Gilead gaan, Ek wil hê Agab moet daar sterf.’ “Almal wat in die hemel is, het daaroor met mekaar gepraat, en toe kom een van hulle en hy gaan staan voor die Here en hy sê: ‘Ek sal hom bedrieg.’ “Toe vra die Here vir hom: ‘Hoe sal jy dit doen?’ en hy sê: ‘Ek sal gaan en ek sal 'n leuengees word. Ek sal vir al die profete sê om leuens te vertel vir koning Agab.’ Die Here het gesê: ‘Jy sal hom bedrieg, jy sal dit regkry. Gaan doen dit.’ Koning, daarom moet jy dit weet: Die Here het 'n leuengees laat kom in die mond van al hierdie profete van jou. Maar weet jy wat die Here regtig gesê het? Die Here het gesê dit sal sleg gaan met jou.” Toe kom Sedekia seun van Kenaäna nader en hy slaan vir Miga op sy kakebeen en hy vra: “Dink jy die gees wat van die Here gekom het, het weggegaan van my om met jóú te praat?”
1 KONINGS 22:19-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Verder sê hy: Daarom, hoor die woord van die HERE: Ek het die HERE sien sit op sy troon terwyl al die hemelse leërskare by Hom staan, aan sy regter- en aan sy linkerhand. En die HERE het gesê: Wie sal Agab oorhaal, dat hy kan optrek en val by Ramot in Gílead? En die een het so gesê, en die ander weer so. Toe kom die gees vorentoe en gaan voor die aangesig van die HERE staan en sê: Ek sal hom oorhaal. En die HERE vra hom: Waarmee? En hy sê: Ek sal uitgaan en 'n leuengees word in die mond van al sy profete. En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so. En nou, kyk, die HERE het 'n leuengees in die mond van al hierdie profete van u gegee, en die HERE het onheil oor u gespreek. Daarop kom Sedekía, die seun van Kenáäna, nader en hy slaan Miga op die kakebeen en sê: Hoe dan het die Gees van die HERE van my af weggegaan om met jou te spreek?
1 KONINGS 22:19-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
En Miga praat verder: “Hoor die woord van die Here! Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan. En die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab so ver kry dat hy na Ramot in Gilead toe gaan en daar sneuwel?’ Die een het toe dit gesê en die ander dat, totdat die gees vorentoe kom en voor die Here gaan staan en gesê het: ‘Ek sal hom so ver kry.’ En toe die Here vir hom vra: ‘Hoe?’ sê die gees: ‘Ek sal uitgaan en 'n leuengees word in die mond van al sy profete.’ Toe sê die Here: ‘Jy sal hom so ver kry. Gaan doen dit, jy sal dit regkry.’ So het die Here 'n leuengees in die mond van al hierdie profete van u laat kom, maar die Here het in werklikheid vir u 'n ramp aangekondig.” Toe kom Sedekia seun van Kenaäna nader en hy slaan vir Miga op die kakebeen en sê: “Met watter pad is die Gees van die Here van my af weg om met jou te praat?”
1 KONINGS 22:19-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar Miga het gesê: “Daarom, hoor die woord van die HERE! Ek het die HERE sien sit op sy troon, met die hele hemelse leër wat by Hom staan, aan sy regter- en aan sy linkerkant. Toe sê die HERE, ‘Wie sal Agab mislei, sodat hy optrek en val by Ramot in Gilead?’ Die een het dit voorgestel en die ander dat. 'n Gees tree toe na vore, gaan staan voor die HERE en sê, ‘Ek is die een wat hom sal mislei.’ Toe vra die HERE vir hom, ‘Hoe?’ Hy het geantwoord, ‘Ek sal uitgaan en 'n leuengees wees in die mond van al sy profete.’ Daarop sê die HERE, ‘Jy sal hom mislei en ook slaag. Gaan maak so!’ Daarom, kyk, die HERE het 'n leuengees geplaas in die mond van al hierdie profete van u. Die HERE self het onheil teen u gelas.” Daarop het Sedekia, seun van Kenaäna, na vore gekom; hy het Miga op die wang geslaan en gesê: “Nou waar het die Gees van die HERE dan van my af na jou oorgegaan om met jou te praat?”
1 KONINGS 22:19-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy sê: Hoor dan die woord van die HERE: Ek het die HERE sien sit op sy troon en die hele leër van die hemel staan by hom aan sy regter- en aan sy linkerhand. Toe sê die HERE: Wie sal Agab oorhaal, dat hy kan optrek en val by Ramot in Gílead? En een het op hierdie manier gesê, en 'n ander het op daardie manier gesê. En 'n gees het uitgegaan en voor die aangesig van die HERE gaan staan en gesê: Ek sal hom oorhaal. Toe sê die HERE vir hom: Waarmee? En hy sê: Ek sal uitgaan en 'n leuengees wees in die mond van al sy profete. En hy sê: Jy moet hom oortuig en ook oorwin; gaan uit en doen so. Nou dan, kyk, die HERE het 'n leuengees in die mond van al hierdie profete van jou gegee, en die HERE het kwaad oor jou gespreek. Maar Sedekía, die seun van Kenaäna, het nader gekom en Miga op die wang geslaan en gesê: Watter pad het die Gees van die HERE van my af gegaan om met jou te spreek?
1 KONINGS 22:19-24 Die Boodskap (DB)
Miga het voortgegaan en gesê: “Hoor wat sê die Here verder: Ek het die Here in die hemel op sy troon sien sit. Rondom Hom was hemelwesens. Toe het die Here gevra: ‘Wie sal Agab gaan mislei sodat hy teen Ramot in Gilead sal optrek om daar doodgemaak te word?’ En die hemelwesens het onder mekaar gepraat. Een van hulle het toe vir die Here gesê: ‘Ek sal gaan en Agab mislei.’ ‘Hoe sal jy dit doen?’ het die Here gevra. ‘Ek sal maak dat al Agab se profete leuens vertel.’ ‘Goed dan,’ het die Here gesê. ‘Gaan mislei hom. En doen dit deeglik.’” Miga het nog ’n laaste woord vir die koning gesê: “Sien u, alles het toe so gebeur. Die Here het gemaak dat al hierdie profete vir u gelieg het. En dit terwyl die Here u ondergang beplan.” Sedekia die seun van Kenaäna het Miga op sy kakebeen geslaan en gesê: “Van wanneer af het die Here se Gees my verlaat om deur jou te praat?”
1 KONINGS 22:19-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Miga het voortgegaan: “Luister wat die HERE sê. Ek het die HERE gesien waar Hy op sy troon sit met die hemelse leërmag weerskante van Hom. Die HERE het gesê: ‘Wie sal vir Agab gaan oortuig om teen Ramot-Gilead oorlog te maak sodat hy daar kan omkom?’ Hulle het hiernatoe en daarnatoe gepraat. Uiteindelik het die leuengees voor die HERE gaan staan en gesê: ‘Ek sal dit doen!’ “‘Hoe sal jy dit doen?’ vra die HERE vir hom. “Die gees het geantwoord: ‘Ek sal gaan en al Agab se profete oortuig om leuens te vertel.’ “‘Jy sal slaag,’ sê die HERE. ‘Gaan voort en doen dit.’ “U sien, die HERE het ’n leuengees in die monde van die koning se profete gelê omdat die HERE ’n ramp vir jou bepaal het.” Toe gaan Sedekia seun van Kenaäna na Miga toe en slaan hom, deur die gesig. “Hoe het die HERE se gees dan by my verbygegaan om met jou te praat?” vra hy.